Is gehoorsaamheid altyd gepas?
“HET jy gehoor wat ek sê?” skreeu Moeder vir klein Jannie toe hy by die deur uitloop. Nee, sy is nie besig om Jannie se gehoor te toets nie. Sy maak seker dat hy haar sal gehoorsaam en op die regte tyd tuis sal wees.
Trouens, om te luister en te gehoorsaam hou noue verband met mekaar. Dit is derhalwe nie verbasend nie dat die woorde wat in die oorspronklike tale van die Bybel gehoorsaamheid aandui met luister verband hou. Maar tot wie moet ons ons oor neig? Moet ons enigiemand wat dit eis, gehoorsaam? En is gehoorsaamheid altyd gepas?
Wanneer gehoorsaamheid gepas is
Gehoorsaamheid aan ons Skepper, Jehovah God, is altyd gepas. As ons Maker en die Bron van die lewe het hy eerste aanspraak op die gehoorsaamheid van sy skepsele (Psalm 95:6, 7). As die Oppersoewerein dra Jehovah ook sy gesag op aan ander wat aan sy standaarde voldoen, en dit maak ons gehoorsaamheid aan hulle gepas. Jesus Christus is die vernaamste van hierdie gemagtigdes. Sedert 1914 het hy die God-aangestelde Koning van die hemelse Koninkryk geword “sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien” (Daniël 7:13, 14, NAV). Verder het Jesus, as Hoof van die Christengemeente, gesag aan ander daarin gegee, wat ons gehoorsaamheid aan sulke onderherders gepas maak.—Hebreërs 13:17.
Jehovah het ook riglyne opgeteken oor die kwessie van gehoorsaamheid in die gesinskring. Kinders word vermaan om ‘hul ouers in die Here gehoorsaam te wees’, en vrouens word aangesê om ‘aan hulle eie mans onderdanig te wees soos aan die Here’ (Efesiërs 5:21–6:3). Christene word selfs daaraan herinner “om onderdanig te wees aan owerhede en magte, om gehoorsaam te wees” (Titus 3:1). Maar moet ons op al hierdie terreine absolute gehoorsaamheid betoon? Is dit altyd gepas?
Wanneer gehoorsaamheid nie gepas is nie
Dit kan natuurlik rampspoedig wees as ons luister na diegene wat nie met gesag van Jehovah toevertrou is nie. Die eerste man, Adam, het na die stem van Eva “geluister” en het saam met haar van die boom van die kennis van goed en kwaad geëet (Genesis 3:17). Wat was die gevolg? “Baie [het] deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword” (Romeine 5:19, NAV). Wat ’n noodlottige gevolg omdat daar na die verkeerde persoon geluister is.
Is dit egter altyd gepas om te luister na diegene aan wie gesagsposisies toevertrou is? Nie as hulle probeer om hulle gesag op ’n goddelose manier te gebruik nie. In ooreenstemming met die beginsel van gehoorsaamheid aan “julle here na die vlees”, sal ons byvoorbeeld aan ons werkgewers gehoorsaam wees. Maar sê nou hulle beveel ons om iets te doen wat strydig met die wette van die almagtige God is. Wat dan? Wat Paulus volgende gesê het, toon duidelik hoe ons moet optree: “Nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar soos diensknegte van Christus wat die wil van God van harte doen” (Efesiërs 6:5, 6). By ’n ander geleentheid het Petrus en die ander apostels gesê: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”—Handelinge 5:29.
Dieselfde beginsel is in die gesin van toepassing. ’n Man wat nie goddelike vereistes waardeer nie, is dalk nie ten gunste daarvan as sy vrou graag gereeld Christenvergaderinge wil bywoon nie. Veronderstel hy oefen druk op haar uit en gebruik selfs geweld, soos party mans al gedoen het, om te verhinder dat sy Christenvergaderinge bywoon. Wat moet sy doen? As sy sou toegee, kan sy haar eie geestelikheid sowel as dié van haar gesin in gevaar stel en die hoop op die ewige lewe verloor. Sou dit nie beter wees om Jehovah te gehoorsaam in die besef dat geen mens, nie eens haar man nie, met die mag beklee is om die bevel op te hef ‘dat ons ons onderlinge byeenkoms nie moet versuim nie’?—Hebreërs 10:25.
Mijoko se man het beweer dat sy sy geld “verkwis” deur vergaderinge by te woon, iets wat nie sy goedkeuring weggedra het nie. Hy het uiteindelik opgehou om vir Mijoko huishougeld te gee, en sy moes die afstand na die Koninkryksaal te voet aflê, ’n hele uur se loop.
Het sy moed opgegee? Nee. Sy het Jehovah in gebed genader en haar situasie ontleed. Mijoko, wat die rede vir haar man se teenstand besef het, het besluit om ’n werk as koerantafleweraar te aanvaar. Haar man het hiertoe ingestem op voorwaarde dat sy die helfte van haar verdienste aan hom sou gee.
Sy het weer gebid dat, as dit Jehovah se wil is, sy ’n nabygeleë roete moes kry. Dit duur gewoonlik ’n jaar of meer om te kry wat ’n mens wil hê. Maar verbasend genoeg is Mijoko binne ses weke ’n roete baie na aan haar huis aangebied. Aangespoor deur die gedagte dat Jehovah haar gebede verhoor het, het sy elke oggend van 4:30 tot 6:00 gewerk. Toe haar man dit sien, het sy gesindheid geleidelik verander en het hy tegemoetkomend geword. As jy, net soos Mijoko, wat gereeld as ’n hulppionier dien jou situasie oorweeg en ontleed, daaroor bid en dan positief optree, sal jy vind dat dit Jehovah se seën meebring.
Daar kan natuurlik spesiale redes wees waarom ’n ongelowige man sy vrou vra om ’n Christenvergadering te mis. Hy kan dit doen sonder om haar aanbidding van en diens aan Jehovah God te probeer ondermyn. As ’n Christin die betrokke beginsels verstaan, sal dit haar help om ooreenkomstig haar spesifieke omstandighede die regte besluit te neem.
Kom ons voer sake een stap verder. Sê nou haar man sê dat sy nie hulle kinders na Christenvergaderinge mag neem nie. Wat dan? Sy weet natuurlik dat haar man die hoof van die gesin bly al erken hy nie die hoofskap van Christus nie (1 Korinthiërs 11:3). En nogtans dra sy die geestelike welsyn van die kinders, asook haar eie begeerte om aan Jehovah gehoorsaam te wees, op die hart. Dit is gewis ’n toets van haar geloof om haar verpligtinge op al hierdie gebiede na te kom. Dit sal sekerlik help as sy tot Jehovah om wysheid en goeie oordeel bid (Jakobus 1:5; Filippense 4:6, 7). As sy taktvol met haar man redeneer en op innemende wyse praat deur ’n sagmoedige en stille gees te openbaar, kan dit ook help om die netelige probleem op te los.—Kolossense 4:6; 1 Petrus 3:1-5.
’n Christin in Jamato, Japan, het voor so ’n situasie te staan gekom toe haar man haar verbied het om hulle drie kinders na die vergaderinge te neem. Wat kon sy doen? Sy het haar kinders ywerig by die huis onderrig, en toe hulle oud genoeg was om hulle eie besluite te neem, het elkeen ’n standpunt vir Jehovah ingeneem en vergaderinge begin bywoon. Die man was woedend en het hulle almal die huis belet.
Die vrou het ’n werk gekry en tydelik in ’n suster se woonstel gaan woon. Maar sy het sake nie daar gelaat nie. Sy het teruggegaan om haar man se huis skoon te maak en sy maaltye voor te berei. Die man het hulle uiteindelik, na ongeveer ’n maand, laat terugkom en hulle nie meer teëgestaan nie. Wat ’n beloning vir haar getroue leefwyse!
“Beproef die geïnspireerde uitinge”
Wat van die gesag in die Christengemeente? Aangesien diegene in verantwoordelike posisies deur die werking van die heilige gees aangestel word en hulle hul raad en vermaning op die Woord van God baseer, kan ons seker wees dat gehoorsaamheid aan behoorlik ingestelde gesag in die Christengemeente gepas is (Handelinge 20:28; Hebreërs 13:17). Maar dit beteken nie dat ons sulke gesag gehoorsaam sonder dat ons behoorlik oorweeg wat gesê word nie. Waarom nie?
Die apostel Johannes het hierdie raad gegee: “Glo nie elke geïnspireerde uiting nie, maar beproef die gen̈spireerde uitinge om te sien of hulle uit God voortspruit” (1 Johannes 4:1, NW). Dit beteken nie dat ons alles wat ander vir ons sê, moet wantrou nie. Ons moet eerder Paulus se woorde in Galasiërs 1:8 in gedagte hou: “Al sou ons of ’n engel uit die hemel ’n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ’n vervloeking wees!”
Verskil die informasie voor ons van wat “die getroue en verstandige dienskneg” ons geleer het? Probeer die persoon wat die boodskap verkondig Jehovah se naam vereer, of probeer hy homself verhoog? Strook die informasie met al die leerstellings in die Bybel? Dit is vrae wat ons sal help om enigiets wat verdag klink te “beproef”. Ons word vermaan: “Vergewis julle van alles, hou vas aan dit wat voortreflik is.”—Mattheüs 24:45; 1 Thessalonicense 5:21, NW.
’n Interessante, toepaslike geval is dié van rigter Gideon. Gideon het, om hom daarvan te vergewis dat Jehovah met hom sou wees, ’n toets voorgestel: “Ek sal die wolvlies op die dorsvloer neerlê”, het hy vir Jehovah gesê. “As daar net op die vlies dou is, terwyl die grond oral droog is, dan sal ek weet dat U deur my hand Israel wil verlos.” Toe Jehovah dit presies so laat gebeur het, wou Gideon verdere versekering hê: “Laat dit op die vlies alleen droog wees terwyl daar op die grond oral dou is.”—Rigters 6:37-39.
Was Gideon te versigtig of wantrouig? Waarskynlik nie, want Jehovah het sy versoek albei kere aanvaar en gedoen net soos hy gevra het. Gideon wou seker maak dat sy posisie gepas was. Omdat hy nie God se geskrewe Woord gehad het soos ons nie, was dit ’n uiters doeltreffende manier waarop Gideon hom daarvan kon “vergewis”. Maar nadat hy die versekering ontvang het, was hy streng gehoorsaam aan die bevele van Jehovah, hoewel dit uit ’n menslike oogpunt na ’n selfmoordpoging sou lyk om 300 man teen ’n vyandelike mag van 135 000 te laat optrek (Rigters 7:7; 8:10). Toon ons dieselfde gesindheid deur die Woord van God na te speur om te sien wat Jehovah se wil werklik is en dan daarby te bly?
Die verstandigste keuse
Jehovah verwag nie dat ons blinde gehoorsaamheid betoon nie. Hy wil nie die soort gehoorsaamheid van ons hê wat ’n afrigter met ’n toom of ’n sweep van ’n dier kry nie. Dit is hoekom hy vir Dawid gesê het: “Wees nie soos ’n perd, soos ’n muilesel wat geen verstand het nie, wat ’n mens moet tem met toom en teuel . . . nie” (Psalm 32:9). Jehovah het ons eerder denkvermoë en onderskeidingsvermoë geskenk sodat ons op grond van begrip kan besluit om hom te gehoorsaam.
In Japannees beteken die woord kiku (om te hoor) nie net om te luister en gehoorsaam te wees nie, maar ook om te beoordeel of iets goed of sleg is. Wanneer iemand met ons praat, is dit goed om op hierdie manier te luister sodat wanneer ons gehoorsaam is, ons dit nie net deur blote goedgelowigheid nie maar uit vrye wil doen. Wanneer ons hemelse Vader, Jehovah God, spreek, hetsy deur sy Woord, die Bybel, of deur sy aardse organisasie, is dit des te belangriker dat ons luister en hom gehoorsaam en sodoende bewys dat ons gehoorsame aanbidders is wat nie die liefdevolle vermaning veronagsaam nie: “Het jy gehoor wat ek sê?”
[Prent op bladsy 29]
Na wie moet ek luister?
[Prent op bladsy 31]
Gideon het vasgestel wat Jehovah se wil is en hom gehoorsaam