‘Toegewy aan die grote God Jehovah vir ewig’
IN APRIL 1935 het ’n welbekende Amerikaanse bedienaar en spreker Hawaii besoek. Dit was vir Jehovah se Getuies, wat toe net 12 getel het, van besondere belang, aangesien hierdie welbekende spreker Joseph F. Rutherford, die tweede president van die Wagtoringgenootskap, was. Die toespraak “Wie sal die wêreld regeer?” het die inkomende wêreldheerskappy van God se Koninkryk bespreek. Dit is in ’n plaaslike hoërskoolsaal gehou en het baie publisiteit geniet.
Sedert hulle hedendaagse begin is God se naam en sy Koninkryk die tema van Jehovah se Getuies se predikingswerk. Dit is dus vir almal wat die persoonlike naam van die almagtige God, Jehovah, waardeer en gebruik van belang dat die Hawaiïese ekwivalent, lehova, algemeen deur vroeë Hawaiïese aanbidders gebruik is. Een van die eerste kerke wat deur die Christendom se geestelikes in Hawaii gebou is, die klipkerk by Kawaiahao in Honolulu, se hoeksteen is in 1839 gelê. Die volgende woorde is op hierdie toewydingsteen geskryf: “Aan lehova ons God vir ewig en altyd.”
Sedert 1935, toe regter Rutherford Hawaii besoek het, het die werk van Jehovah se Getuies aldaar toegeneem van net 12 bedrywige Getuies tot meer as 5 400 vandag. Hulle is waarlik ‘toegewy aan die grote God Jehovah vir ewig’.