Koninkryksverkondigers berig
Jehovah het hulle onversetlike standpunt vir Sy wet geseën
IN ’N Midde-Oosterse land was ’n vader besig om ’n pap band langs die pad reg te maak toe ’n motor sy vierjarige seuntjie getref en weggejaag het. Die vader het, terwyl die beseerde kind op die moeder se skoot gelê het, na die naaste hospitaal gejaag waar hy na ’n ander hospitaal 25 kilometer verder gestuur is. Die dokter se diagnose was dat die seun inwendig bloei en dat hy ’n operasie en ’n bloedoortapping nodig het. Agt ander dokters het saamgestem. Die ouers, wat God se wet teen bloedoortappings ken, het geweier. “Jy het net vyf minute om te besluit anders sal ons nie aan jou kind raak nie selfs al stem jy later in tot ’n bloedoortapping”, het die dokter gedreig. Intussen het die kind se maag steeds geswel en het dit ’n gevaar geword.
Die vader se vleeslike broer, wat nie in die waarheid is nie, het druk op die vader uitgeoefen om ’n bloedoortapping toe te laat. Hy het selfs gesê: “Beskou asseblief hierdie seun nie as joune nie, maar as myne. Aangesien jou gewete jou kwel, sal ek die verantwoordelikheid daarvoor sowel as die hospitaalonkoste dra sodat die kind die nodige bloed kan kry. Dit is jou enigste seun.” Dit was moeilik om die druk te verduur, maar die ouers het onversetlik by hulle besluit gebly.
Hulle het die seuntjie geneem en na ’n sekere hospitaal gaan soek, maar hulle het verdwaal. Hulle het toevallig die bordjie van ’n ander hospitaal gesien en daarheen gegaan hoewel dit nie die een was waarna hulle gesoek het nie. Nadat hy die seuntjie gesien het, het die dokter gesê: “Die swelling van die kind se maag is nie noodwendig ’n teken van inwendige bloeding nie. Laat die knapie slaap, en môre sal ons die nodige toetse doen om uit te vind.” Die toetse het getoon dat daar geen bloeding was nie, maar dat die swelling as gevolg van die ongeluk voorgekom het. ’n Operasie was nie nodig nie. Trouens, die dokter het gesê dat ’n operasie baie gevaarlik kon gewees het. “Ons dank Jehovah”, het die ouers gese, “dat ons seun veilig is en dat Hy ons na die regte hospitaal en die regte dokter gelei het.”
Wat was, tien jaar later, die gevolg van hierdie situasie? Die vader vertel: “My vleeslike broer wat in die hospitaal druk op my uitgeoefen het, het ons standpunt begin insien en Jehovah se leiding in hierdie geval gesien. Dit het sy belangstelling gewek in die waarheid, wat hy aanvaar het, en hy is nou gedoop en dien as ’n ouere man in die gemeente. Sy vrou en kinders dien Jehovah ywerig saam met hom. My twee ander broers en hulle gesinne is ook in die waarheid, en een van hulle is ’n bedieningskneg. My vader en moeder is onlangs gedoop ondanks hulle ouderdom. Hoewel dit dus ’n vreeslike ondervinding vir my en my vrou was, het ongeveer 30 lede van my familie die waarheid as gevolg daarvan aanvaar; sommige is reeds gedoop en dien as ouere manne en bedieningsknegte. Ander beplan om hulle te laat doop. My seun, wat nou 14 jaar oud is, is ’n gesonde, ywerige verkondiger, en hy sien daarna uit om gedoop te word. Hoe dankbaar is ek en my vrou dat Jehovah ons gehelp het om die regte besluit ooreenkomstig sy wet in Handelinge 15:29 te neem”!
[Prent op bladsy 27]
“Onthou [julle] van afgodsoffers en van bloed”