Gebed op die berg Hiei—’n Deurbraak vir wêreldvrede?
SAL gebed wêreldvrede bring? “Gebed alleen sal nie vrede bring nie. Dit is nie só eenvoudig nie”, het Gijoen Soegitani, ’n organiseerder van ’n bidsaamtrek wat in Augustus 1987 in Japan gehou is, gesê. “Maar ek dink ook nie dat vrede sonder gebed verwesenlik sal word nie.” Sy beskouing was tipies van dié van sowat 500 Japannese en 24 oorsese afgevaardigdes na 1987 se Godsdiensleiersbyeenkoms wat in Kioto, Japan, gehou is.
Die Boeddhistiese Tendai-sekte het hierdie bidsaamtrek voorgestaan as ’n voortsetting van die een wat in 1986 in Assisi (Italië) gehou is en gereël dat dit met die 1 200-jarige herdenking van die inwyding van die Enrjakoeji-tempel op die berg Hiei sou saamval. Boeddhiste, naamchristene, Confuciane, Hindoes, Islamiete, Jode, Sikhs en Sjintoïste het beurte gemaak om gebede op die berg te doen. Was die saamtrek werklik ’n deurbraak vir wêreldvrede?
’n “Blommerangskikking”-saamtrek
“Die leiersbyeenkoms is ’n godsdienstige blommerangskiking”, het Etai Jamada, die hoofpriester van die Tendai-sekte en die erevoorsitter, gesê. “Nie een van die blomme verloor sy eie vorm en geur nie.” Hy het bedoel dat die godsdienste, solank hulle in hulle begeerte na wêreldvrede verenig is, hulle eie teenstrydige oortuigings kan behou, soos afsonderlike blomme in een rangskikking.
Die Katolieke Kerk was een van die prominente “blomme” by die samekoms en is deur kardinaal Francis Arinze van die Vatikaanse Sekretariaat vir die Nie-Christene, verteenwoordig. Arinze het die pous se boodskap gelees wat gesê het dat “vrede nie sonder gebed bewerkstellig kan word nie en [dat] hoewel oorloë deur ’n paar mense ontketen kan word vrede die samewerking en solidariteit van almal vereis”.—Mainichi Daily News, 5 Augustus 1987, bladsy 12.
Hoe magtig is die God tot wie hulle bid as die hoop op wêreldvrede “die samewerking en solidariteit van almal vereis”? Die afgevaardigdes het om vrede gebid, maar hulle glo dat mensepogings dit tot stand sal bring. Hulle bidsaamtrek was daarop gemik om, soos ’n versierende blommerangskikking, ’n pragtige vertoon van hulle eie pogings te wees.
’n Blommerangskikking is pragtig om na te kyk, maar sodra die spesiale geleentheid verby is, verlep die wortellose blomme en verloor hulle hul skoonheid. Die individuele prag van elke blom en die glorie van die rangskikking gaan gou tot niet. En die blomme is nie bedoel om vrugte te dra nie. Was hierdie leiersbyeenkoms ook ’n “blommerangskikking” wat geen vrugte voortbring nie?
Die godsdiensleiers wat daaraan deelgeneem het, was self nie tevrede met die resultate nie. “Hulle sou graag meer spesifiek wou wees oor watter maatreëls die godsdienste in die toekoms moet neem, maar hulle het gesê dat daar nie genoeg tyd vir sulke besprekings was nie”, berig die Asahi Evening News. So ’n afloop is egter verwag. “Ons oogmerk”, het Takaaki Kobajashi, een van die organiseerders van die leiersbyeenkoms, gesê, “is om na elke godsdiens se voorstelle te luister oor die beste maniere om vrede te verkry. Die sleutelreël is dat elke deelnemer sonder kommentaar, antwoord of bespreking na die ander se menings moet luister.” Hulle poging by die bidsaamtrek het net die aanhoor van ander behels en nie optrede nie. Die saamtrek het gevolglik “gefaal om ’n duidelike agenda vir die verwesenliking van die leiersbyeenkoms se oogmerke uiteen te sit”.
Sou ware Christene daar gewees het?
Persone wat streef om Jesus Christus na te volg, wonder dalk: ‘Moet ’n Christen aan so ’n bidsaamtrek deelneem?’ Die feit dat dit gehou is op die berg Hiei, die heilige berg van ’n Boeddhistesekte, is stof tot nadenke. Kan jy jou voorstel dat Jesus Christus ’n Boeddhistiese heilige berg sou opklim om ’n gebed om vrede te doen?
Die apostel Paulus het Jesus Christus se volgelinge vermaan: “Moenie in dieselfde [“’n ongelyke”, NW] juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Belial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? . . . Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem.”—2 Korinthiërs 6:14-17.
Sal dit nie daarop neerkom dat ’n Christen ‘in ’n ongelyke juk trek’ as hy by ’n interkerklike saamtrek op ’n Boeddhistiese heilige berg gebede doen nie? Beteken dit dan dat ware Christene nie om vrede moet bid nie? Hoegenaamd nie!
Gebed om vrede
In sy profesie aangaande “die einde van die dae” het die profeet Jesaja gepraat van talle wat sou sê: “Kom laat ons optrek na die berg van [Jehovah]”; nie na die Boeddhisteberg Hiei nie. “Die berg van Jehovah” simboliseer die ware aanbidding van die God van die Bybel. Wat is die gevolg as ons na daardie berg ‘optrek’? Wel, Jehovah sal ons ‘sy weë leer en ons sal in sy paaie wandel’, het Jesaja gesê! “Hy [Jehovah] sal oordeel tussen die nasies”, het die profeet bygevoeg. Dit sal tot wêreldvrede lei, want Jesaja het voorspel dat ware aanbidders “van hul swaarde pikke [sal] smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie”.—Jesaja 2:2-4, vgl. NW.
Hierdie toestand heers reeds onder Jehovah se Getuies en sal binnekort die hele aarde oordek. Maar hoe? Jehovah God, nie die mens nie, sal blywende vrede deur middel van sy Koninkryk bring. Dit sal alle vredesverstoorders van die aarde afvee en ’n paradysaarde inlui (Openbaring 11:15, 18). Anders as die woorde wat gespreek is by ’n godsdiensleiersbyeenkoms wat soos ’n indrukwekkende maar vrugtelose “blommerangskikking” was, keer Jehovah se woord nooit leeg na hom terug nie.—Jesaja 55:11.
Waarom moet ons dan om vrede bid as God dit ondanks mensepogings tot stand gaan bring? Wanneer ons bid dat God se Koninkryk moet kom, spreek ons ons eie hunkering na vrede uit en toon ons ons geloof in God se manier om dit op die aarde tot stand te bring (Mattheüs 6:9, 10). Of ons die vrede wat God gaan bring, sal belewe al dan nie, hang daarvan af of ons ‘op Jehovah hoop’ of nie. Kom dus na “die berg van Jehovah”, en bid saam om die ware vrede wat hy belowe het!-Psalm 37:9, 11, NW.
[Prent op bladsy 8]
’n Blommerangskikking is pragtig om na te kyk, maar dit is nie bedoel om vrug te dra nie
[Prent op bladsy 9]
Die berg Hiei, die heilige berg van die Boeddhistiese Tendai-sekte, waar die bidsaamtrek gehou is