Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 3/15 bl. 15-20
  • Hoe jy goddelike vrede in groter mate kan geniet

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe jy goddelike vrede in groter mate kan geniet
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Moet jy aan enige van hierdie sake aandag skenk?
  • Jaag voortdurend vrede na
  • Goddelike vrede vir die wat deur Jehovah geleer word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Hoe vrede op aarde kan kom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Laat “die vrede van God” jou hart bewaar
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • ‘Soek vrede en jaag dit na’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 3/15 bl. 15-20

Hoe jy goddelike vrede in groter mate kan geniet

“Ag, as jy maar na my gebooie geluister het, dan sou jou vrede gewees het soos ’n rivier en jou geregtigheid soos die golwe van die see.”—JESAJA 48:18.

1. Wat is nodig indien ons vrede in die volste mate moontlik wil ondervind?

DIEGENE wat gereeld deelneem aan gemeentelike studie van die Bybel aan die hand van hierdie tydskrif besef die waarde van die vrede wat God gee, en hulle wil daardie vrede hê. Die meeste geniet dit ongetwyfeld wel. Maar nie almal ondervind dit in die mate wat hulle kan nie. Waarom nie? Jehovah sê oor diegene wat goddelike vrede sou geniet: “Ek is die HERE jou God, wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan. Ag, as jy maar na my gebooie geluister het, dan sou jou vrede gewees het soos ’n rivier en jou geregtigheid soos die golwe van die see.”—Jesaja 48:17, 18.

2. (a) Wat word met “luister” bedoel? (b) Na hoeveel van God se gebooie moet ons luister? (1 Johannes 5:3).

2 Dit spreek vanself dat enigeen baat kan vind by vergaderinge waar ons die Bybel bespreek. Maar net diegene wat na Jehovah se gebooie luister deur dit persoonlik toe te pas en na te leef, geniet waarlik goddelike vrede. Is daar gebiede waarop jy dit in ruimer mate moet doen? (2 Petrus 1:2). Dit is nie genoeg dat ons op ’n paar van God se vereistes ag slaan maar dan dié wat vir ons ongerieflik of moeiliker is, ontduik nie. Toe die Duiwel probeer het om Jesus Christus tot sy selfsugtige denkwyse oor te haal, het Jesus ferm geantwoord: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.”—Mattheüs 4:4.

3. Watter aspekte van ons lewe moet in harmonie met Jehovah se weë gebring word as ons waarlik oorvloedige vrede wil hê?

3 God se gebooie raak elke aspek van ons lewe. Dit raak ten eerste ons verhouding met Jehovah. Verder beïnvloed dit ons beskouing van sy sigbare organisasie en die Christelike bediening, die manier waarop ons ons gesinslede behandel, en ons optrede teenoor mense van die wêreld. Diegene wat in al hierdie sake waarlik na Jehovah se gebooie luister, word met groot vrede geseën. Laat ons ’n paar dinge ondersoek wat ons kan help om self daardie vrede te ondervind.

Moet jy aan enige van hierdie sake aandag skenk?

4. (a) Waarom beteken die feit dat ons die Bybel bestudeer of na die Koninkryksaal gaan nie noodwendig dat ons vrede met God geniet nie? (b) Wat behels dit om geloof in Jesus Christus te beoefen? (Johannes 3:36).

4 Het jy onlangs die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin bestudeer? Of gaan jy miskien al ’n aantal maande of selfs jare met die plaaslike gemeente om? Dan het jy ongetwyfeld die vreugde gesmaak om kennis van God se voornemens te verkry. Maar die feit dat iemand ’n tuisbybelstudie geniet of daarin behae skep om na die Koninkryksaal te gaan, bewys nie dat hy ’n vreedsame verhouding met God het nie. Ons is almal in sonde gebore, en vrede met God is slegs deur Jesus Christus vir ons moontlik (Jesaja 53:5; Handelinge 10:36). Ons verkry nie daardie vrede deur bloot passief aan Jesus te glo nie. Ons moet besef dat ons persoonlik die losprys nodig het, moet geloof beoefen in die waarde van Jesus se offer en moet dan bewys lewer van daardie geloof deur sy gebooie te gehoorsaam (Jakobus 2:26). Een van die gebooie wat Jesus gegee het toe hy op aarde was, was dat voornemende dissipels van hom in water gedoop moet word (Mattheüs 28:19). Is jy al gedoop om jou toewyding aan Jehovah deur Jesus Christus te simboliseer?

5. Waarom is toewyding en doop so belangrik as ons vrede met God wil geniet?

5 Is daar iets in jou lewe wat jou verhinder om gedoop te word? As jy weet dat daar is, of as jy in die loop van jou studie agterkom dat dit die geval is, moet jy nie versuim om die saak reg te stel nie. Onthou dat enige gesindheid of handelwyse wat iemand verhinder om gedoop te word ook verhinder dat hy vrede met God geniet. Tree sonder versuim op terwyl daar nog tyd is. Soos 1 Petrus 3:21 toon, moet diegene wat ’n goeie gewete van Jehovah God ontvang hulle eers aan hom toewy op grond van geloof in Christus se offerande, dan gedoop word om daardie toewyding te simboliseer en God se wil doen. Sodoende verkry hulle die vrede wat gepaard gaan met ’n goeie gewete omdat hulle ’n goedgekeurde verhouding voor God het; dit is op geen ander manier moontlik nie. Maar dit is natuurlik net ’n begin.

6. Waarom hou ons gesindheid teenoor gemeentelike vergaderinge met ons genieting van vrede verband?

6 Dink vervolgens aan jou bywoning van gemeentelike vergaderinge en jou deelname aan sulke vergaderinge waar jy kan. Het hierdie vergaderinge ’n plek in jou lewe wat jy nie deur die wêreld of deur ander persoonlike bedrywighede laat verdring nie? Berei jy vir die vergaderinge voor en ag jy dit ’n voorreg om daaraan deel te neem? Hierdie dinge hou ook regstreeks verband met ’n mens se genieting van vrede. Waarom? Omdat God se gees met sy vergaderde volk is, en vrede is ’n vrug van daardie gees (Galasiërs 5:22). Dit is by hierdie vergaderinge dat ons gehelp word om Jehovah se vereistes te verstaan, en ons het dit nodig as ons wil doen wat hom welgevallig is. Hier leer ons ook hoe om vrede te bevorder in ons verhoudinge met ons medemens—in die gemeente, by die huis, by die skool en by die werk. Ons vergaderinge is een van die vernaamste maniere waarop Jehovah ons leer, en, soos die Skrif toon, dit is die wat deur Jehovah geleer word wat oorvloedige vrede geniet.—Jesaja 54:13.

7. Wat moet ons doen omtrent die dinge wat by ons vergaderinge bespreek word?

7 ’n Nou verwante punt wat aandag verdien, is die progressiewe toepassing in ons eie lewe van die dinge wat ons leer. Ons wil nie soos daardie Israeliete wees van wie Jehovah gesê het dat hulle ‘altyddeur hoor, maar nie verstaan nie’ (Jesaja 6:9). En wil ons soos diegene wees wat deur Jehovah aan Esegiël beskryf is—mense wat na Jehovah se profeet sou luister maar nie sou doen wat hy sê nie, omdat hulle liewer hulle onrein of materialistiese begeertes wou bevredig? (Esegiël 33:31, 32). Diegene wat in ons dag by Jehovah se huis sou byeenkom en sy goedkeuring sou verkry, word daarenteen beskryf as persone wat sê: “Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE en na die huis van die God van Jakob, dat ‘Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel” (Miga 4:2). As ons waarlik ter harte neem wat ons by die vergaderinge leer, as ons by elke vergadering minstens een gedagte uitsonder wat ons persoonlik nodig het en ons dan dáárop toelê, gaan ons ’n vredevolle vrug maai. Dit is soos Jesus in Lukas 11:28 gesê het: “Salig is hulle wat die woord van God hoor en dit bewaar.”

8. Hoe vind ons persoonlik daarby baat wanneer ons aan die veldbediening deelneem in die volste mate wat ons omstandighede toelaat?

8 Een van die dinge wat by ons vergaderinge beklemtoon word, is die belangrikheid daarvan om ’n volle aandeel in die verkondiging van God se Koninkryk te hê en ander te help om dissipels te word (Mattheüs 24:14; 28:19). Hoe prominent is hierdie werk in jou lewe? As ons waarlik ag gegee het op wat Jehovah deur sy Woord en deur middel van sy organisasie vir ons sê, weet ons dat dit die belangrikste werk is wat vandag op aarde gedoen word (Openbaring 14:6, 7). En dit is ’n alom bekende feit dat diegene wat in die voltydse diens is—sowel as die wat, hoewel hulle nie pioniers kan wees nie, waarlik ywerig is in die bediening—diegene onder ons is wat by uitstek gelukkig is. Die vrede wat hulle geniet, is nie soos ’n blote druppel water nie, maar word, soos Jehovah gesê het, “soos ’n rivier” (Jesaja 48:18). Is dit wat jy ondervind? Ons kan almal.

9. Wat kan ons help om ons Godgegewe vrede te bewaar selfs wanneer ons ernstige probleme ondervind?

9 Die toepassing van al hierdie raad maak ons egter nie immuun teen die probleme van die lewe in die teenswoordige stelsel nie. Maar hoe moeilik ’n situasie ook al is, God verseker ons van sy liefdevolle hulp as ons ons tot hom wend (1 Petrus 5:6, 7). Het ons geleer om Jehovah se hulp en leiding te vra in alles wat ons doen, hom vryelik in die gebed te nader en, nadat ons alles in ons vermoë gedoen het om moeilike situasies die hoof te bied, ons sorge op Jehovah te werp en die saak met vertroue in sy hande te laat? (Spreuke 3:5, 6; Psalm 55:23). In Filippense 4:6, 7 word ons hartlik aangespoor: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.” Wat ’n wonderlike reëling is dit tog nie! Het jy geleer om ten volle baat te vind by die vrede van God wat op hierdie manier moontlik gemaak word?

Jaag voortdurend vrede na

10. Wat moet ons nog doen nadat ons vrede nagejaag het?

10 As ons eers sulke vrede het, durf ons dit nie as iets vanselfsprekends beskou nie. Groot inspanning is nodig om dit te bewaar. Eerste Petrus 3:10, 11 sê derhalwe: “Wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, . . . moet vrede soek en dit najaag.” As iemand ’n doel nagestreef en dit bereik het, sou hy dwaas wees as hy daardie doel agterna versmaai. Nadat ons vrede nagejaag en verkry het, moet ons waak teen dinge wat dit kan ontwrig. En dis nie al nie; ons moet aktief die dinge najaag wat vrede in die hand werk.

11. (a) Watter gesindheid kan ons verhouding met Jehovah in gevaar stel? (b) Wanneer moet ons God om hulp vra in verband met versoekinge? (Mattheüs 6:13).

11 As ons vrede met God verkry het deur die kanaal wat hy voorsien het, moet ons oppas dat ons nie daardie verhouding ontwrig deur weer sonde te begin beoefen nie. Ons is natuurlik almal onvolmaak, en daarom sondig ons almal. Maar dit is gevaarlik wanneer iemand gesindhede en dade probeer goedpraat wat deur God veroordeel word. Ons kan nie bloot ons skouers ophaal en sê: “Dis nou maar eenmaal hoe ek is” nie (Romeine 6:16, 17). Ons moet berou hê oor ons sondes pleks van dit goed te praat, en dan moet ons God smeek om ons te vergewe op grond van ons geloof in Jesus se offerande. Ons moet ook leer om God om hulp te vra voor ons sondig, in plaas van alleen te probeer stry, uiteindelik te swig en dan om vergifnis te smeek. Met God se hulp kan ons ons beklee met “die nuwe persoonlikheid wat na God se wil geskape is in ware regverdigheid en lojaliteit”.—Efesiërs 4:20-24, NW.

12. (a) Watter ander verhoudinge moet aandag kry indien ons vrede wil geniet? (b) Wat word in hierdie verband van ons vereis?

12 Die genieting van vrede behels natuurlik ook ons verhoudinge met ander. Ware Christene dien God as deel van ’n organisasie; hulle vorm ’n “broederskap” (1 Petrus 2:17). Soos Jesus van sy volgelinge voorspel het, toon hulle uitsonderlike liefde onder mekaar (Johannes 13:35). Maar nie een van hulle is volmaak nie. Vanweë ons eie onvolmaaktheid en dié van ander moet ons dalk ernstig oor sekere situasies bid en ons daarop toelê om probleme op te los. Hebreërs 12:14 spoor ons aan: “Jaag die vrede na met almal.” En in ons verhoudinge met ons Christenbroers en -susters het ons ’n spesiale verpligting om altyddeur vrede na te jaag. Eerste Thessalonicense 5:13 sê reguit: “Hou vrede onder mekaar.” Dit beteken nie bloot dat ons nie kwaad vir kwaad vergeld nie, maar ook dat ons daadwerklik vrede bevorder deur die eerste stap te doen om die vrede te herstel en bereid te wees om toegewings te maak ter wille van die vrede.—Efesiërs 4:1-3.

13. (a) Wat kan ons doen om vrede met ongelowiges te bevorder, maar hoe toon ons dat vrede met God die voorkeur kry? (b) Hoe is dit vir ons moontlik om vrede te hê wanneer daar beroering rondom ons is?

13 Buite die gemeente is nie almal egter bereid om vredeliewend te wees nie. Daarom vermaan Romeine 12:18 realisties: “As dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” Maar ons pogings om die vrede te bevorder, sluit nie kompromisse ten opsigte van Jehovah se regverdige vereistes in nie. Ons sal miskien sekere dinge op ander tye doen, maar ons weet dat dit onverstandig sal wees om van gemeentelike vergaderinge weg te bly of ons deelname aan die veldbediening te staak omdat ons die vrede met ons huweliksmaat of familielede wil bewaar. En ons weet dat Jehovah dit nie sal goedkeur as ons saam met ons kollegas of skoolmaats aan goddelose gebruike meedoen om hulle goedkeuring te verkry nie. Ons besef dat ware vrede slegs behoort aan die wat allereers vrede met God geniet, die wat Jehovah se wet liefhet en in sy weë wandel. Dit is daardie vrede waaraan ons die hoogste waarde heg (Psalm 119:165). Ja, rondom ons is daar miskien beroering. Ongelowiges twis en baklei moontlik met mekaar; hulle kan ons selfs beledig weens ons geloof. Maar ons weet hoe God se Woord ons geleer het om ons te gedra. As ons altyd in harmonie met Jehovah se regverdige weë wandel, word ons nie beroof van die heel belangrikste vrede nie.—Vergelyk Psalm 46:2, 3.

14. Wat maak dit vir ons moontlik om innerlike kalmte en ’n positiewe beskouing te behou selfs wanneer ons self verdrukking ondervind?

14 Die aand voor sy dood het Jesus vir sy getroue apostels gesê: “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin” (Johannes 16:33). Ja, ons ondervind verdrukking. As Christene ondergaan ons allerlei vervolging. Ons word veronreg, en talle ly aan ernstige siektes. Maar goddelike vrede gee ons krag om al hierdie dinge te deurstaan. Omdat ons deur Jehovah geleer word, weet ons waarom Christene vervolg word. Daar bestaan by ons geen twyfel oor waarom daar onreg is en waarom ons siektes opdoen nie. Ons weet ook wat die toekoms inhou. Ons weet dat verlossing wis en seker is danksy Jesus se getroue lewenswandel en sy offerdood. Bowendien weet ons dat ons, ongeag die probleme waarmee ons nou te kampe het, God in die gebed kan nader met die vertroue dat hy liefdevol vir ons omgee en ons deur middel van sy gees sal onderskraag.—Romeine 8:38, 39.

15. Waarom is die vrede wat deur Christus moontlik gemaak word nie soos die vrede wat die wêreld bied nie?

15 Jesus het gepas in Johannes 14:27 gesê: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.” Dit is beslis waar—die wêreld het niks soos die vrede wat God deur Jesus Christus gee nie. Dit help ons om sterk te wees wanneer ons situasies teëkom wat ander heeltemal moedeloos sal maak.

16. (a) Watter vooruitsig is daar vir diegene wat nou opregte waardering toon vir die vrede wat God gee? (b) Hoe kan ons toon dat ons daardie vrede hoog aanslaan?

16 Wat ’n wonderlike toekoms wag daar tog op almal wat nou die vrede aanneem wat van God kom en wat dit die vername plek in hulle lewe gee wat dit verdien! Die wêreld wat in vyandskap met God verkeer, sal eersdaags nie meer bestaan nie. Die ganse skepping sal mettertyd in volkome vrede verenig word deur die regverdige vereistes van die Universele Soewerein. Mag ons dankbaarheid vir hierdie wonderlike vooruitsig ons beweeg om nou in volle harmonie daarmee op te tree. Mag ons almal noukeurig na Jehovah se onderrig luister en sy gebooie deeglik in ons hart inskerp sodat ons waarlik sy weë liefhet en doen wat hy vereis. Soos Spreuke 3:1, 2 sê: “My seun, vergeet my onderwysing nie, en laat jou hart my gebooie bewaar; want dit sal lengte van dae en jare van lewe en vrede vir jou vermeerder.”

Hersieningsvrae

◻ Wat is volgens Jesaja 48:18 nodig as ons oorvloedige vrede wil geniet?

◻ Wat moet ons doen as ons goddelike vrede in groter mate wil ondervind?

◻ Wat word van ons verwag sodat ons vrede met ons broers en susters bewaar?

◻ Hoe kan ons vrede geniet selfs wanneer ons deur ongelowiges omring word?

[Prent op bladsy 16]

Doop

[Prente op bladsy 17]

Gereelde vergaderingbywoning

Toepassing van wat ons leer

[Prente op bladsy 18]

Volle deelname aan: die veldbediening

Werp sorge op Jehovah

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel