Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 3/15 bl. 4-7
  • Gebede wat verhoor word

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gebede wat verhoor word
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Is alle gebede aanneemlik?
  • Die Bybel verduidelik:
  • Gebede word beslis verhoor
  • Kom nader aan God deur gebed
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Wie se gebede word verhoor?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Luister God na jou gebede?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Wie se gebede word verhoor?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 3/15 bl. 4-7

Gebede wat verhoor word

DIE begeerte om met een of ander hoër mag te kommunikeer is so oud soos die mens self. Sekere eertydse Egiptiese graverings het byvoorbeeld gebede daarop. Party daarvan het ’n god om beskerming gevra, terwyl ander betuigings van lof of van vertroue in die godheid was tot wie dit gerig is. Onder die Grieke wat in die agtste eeu v.G.J. gelewe het, was gesange sowel as poëtiese en seremoniële gebede iets algemeens. In Romeinse gebede moes sorg aan die dag gelê word wanneer ’n bepaalde god aangespreek is, aangesien talle godhede destyds aanbid is.

Gebed is tot vandag toe ’n algemene kenmerk van die wêreld se vernaamste godsdienste. Boeddhiste, Hindoes, Jode, Moslems en diegene wat sê dat hulle Christene is, is welbekend vir die feit dat hulle dikwels bid. Hoewel gebed algemeen in die 20ste-eeuse godsdiens is, verwar die ontsaglike verskeidenheid gebedsmetodes en -vorme talle wat wil hê dat hulle gebede verhoor moet word.

Is alle gebede aanneemlik?

Sal sommer enige gebed, aangesien gebed baie vorme aanneem, doeltreffend wees? Sommige meen dat dit nie juis saak maak watter gebedsvorm gebruik word nie, solank die persoon wat bid opreg is en “glo”. Wat dink jy? Met die oog op die uiteenlopende beskouings oor hierdie saak is dit nodig dat ons verder as mensebeskouings gaan en ons tot ’n hoër bron van geopenbaarde informasie wend.

Die antwoorde op die volgende bladsye is op so ’n bron, die Heilige Bybel, gebaseer. Dit toon dat nie net enige gebed goed genoeg sal wees as ’n individu verwag dat sy gebed aangehoor en verhoor moet word nie.

Die Bybel verduidelik:

Tot wie gebede gerig moet word

Waarom sommige gebede nie verhoor word nie

Wat in gebede gevra mag word

Watter rol speel die individu wat bid?

Geloof, en nie net ’n opregte mening dat God bestaan en gebede kan aanhoor nie, is ’n hoofvereiste (Hebreërs 11:6). Sulke geloof word getoon as ’n mens streef om in ooreenstemming met God se regverdige beginsels te leef wat in die Bybel uiteengesit is. Jesus het hierdie punt in sy Bergpredikasie benadruk: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.”—Mattheüs 7:21.

Die Hebreeuse profeet Jesaja het ’n voorbeeld gegee van diegene wie se gebede nie verhoor sal word nie en geskryf: “Ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek [Jehovah God] nie: julle hande is vol bloed” (Jesaja 1:15). Daarom kan geeneen wat nie respek vir die heiligheid van die lewe het nie, verwag dat sy gebede verhoor sal word nie, ongeag hoe dikwels en vurig by bid.

Waarom word sommige “gelowiges” se gebede dikwels nie verhoor nie?

Geloof alleen is nie voldoende as ons God wil behaag en wil hê dat hy ons gebede moet verhoor nie. Selfs ’n liggelowige persoon kan beweer dat hy glo. Wáre geloof moet gebaseer wees op juiste kennis, wat alleen deur ’n studie van die Bybel verkry kan word. Daarbenewens moet oortuiging en geloof bewys word deur die werke wat daardeur voortgebring word. “Soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.”—Jakobus 2:26.

’n Ware gelowige moet God elke dag in aanmerking neem en nie net sy toevlug tot gebed neem wanneer hy voor ’n noodsituasie te staan kom nie. Hy sal ook geloofsdade verrig, regte werke wat onder meer behels dat hy met ander oor sy geloof in God en Sy bestaan sal praat.

Watter vorm moet gebed aanneem?

Gebed moet nie ’n blote rite wees nie en moet ewemin uit ’n boek afgelees word; ook moet gebed nie herhaalde uitdrukkings bevat asof herhaling dit doeltreffender maak nie. En gebed moet nie “opgevoer” word om ’n vertoon te maak of ander te beïndruk nie. Jesus het hierdie goeie raad gegee oor die vorm wat ons gebede moet aanneem en oor wat ons moet vermy: “Wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid, om deur die mense gesien te word. . . . As julle bid, gebruik nie ’n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hulle baie woorde verhoor sal word.”—Mattheüs 6:5-7.

Geen spesifieke liggaamshouding is ’n voorvereiste vir ons gebede om verhoor te word nie. Die een wat bid, moet egter nederigheid en eerbied openbaar in sy liggaamshouding sowel as in die woorde wat hy in sy gebed gebruik.

Tot wie moet gebede gerig word?

Die Bybelboek Hebreërs praat van ’n persoon wat “tot God nader” (Hebreërs 11:6, NAV). Wie is hierdie God? Daar is net een almagtige God, hoewel daar talle mensgemaakte en valse gode is (1 Korinthiërs 8:5, 6). Die almagtige God van die Bybel se naam is Jehovah (Psalm 83:18, NW). Aangesien hy die Skepper van alle dinge is, moet gebede slegs tot hom gerig word. Jesus Christus het sy volgelinge duidelik geleer om te bid: “Onse Vader wat in die hemele is” (Mattheüs 6:9). Nee, Jesus het sy dissipels nie geleer om tot hom, tot sy moeder Maria of tot enige ander persoon te bid nie. Maar God vereis nou dat ons sy Seun se posisie erken en al ons gebede in Jesus se naam doen. Daarom het Christus vir sy volgelinge gesê: “Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”—Johannes 14:6.

As ons wil hê dat ons gebede vir God aanneemlik moet wees, moet ons dit dus tot Jehovah God deur sy Seun, Jesus Christus, rig. Met ander woorde, hulle moet in Jesus se naam tot God gerig word.

Wat mag in gebede gevra word?

“Ongeag wat ons vra ooreenkomstig sy wil, hy [God] hoor ons.” Hierdie skynbaar ongelooflike waarborg is in 1 Johannes 5:14 (NW) opgeteken. Maar het jy die voorwaarde opgemerk—“ooreenkomstig sy wil”? Ja, ’n vername rede waarom talle gebede nie verhoor word nie, is omdat die een wat bid nie vooraf probeer vasstel het wat God se wil is nie.—Spreuke 3:5-7.

Jesus het sy dissipels ’n nuttige rigsnoer of voorbeeld gegee in die vorm van ’n gebed wat vandag algemeen as die “Onse Vader” bekend staan (Mattheüs 6:9-13). Hoewel dit ook nie soos ’n rite opgesê moet word nie, sit dit wel die regte prioriteite uiteen. God se naam en voorneme geniet die voorkeur. Daarna volg materiële behoeftes, vergifnis en verlossing uit versoeking deur die Bose. Die uitdrukking “onse Vader” kan die persoon wat bid, help om sy gebede en sy gedagtes uit te brei om nie alleen sy gesin en familie in te sluit nie, maar ook ander wat streef om hulle Skepper te behaag.—Handelinge 17:26, 27.

Hoe lank moet gebede wees?

Die Bybel skryf geen spesifieke lengte vir gebede voor nie. Hulle kan bale kort wees of selfs stilswyend gedoen word (Nehemia 2:4, NAV; 1 Samuel 1:12, 13). Daarenteen kan gebede taamlik lank wees. Jesus het by een geleentheid “die hele nag deurgebring in gebed tot God”. Dit was blykbaar om goddelike hulp te vra met die uitkiesing van sy 12 apostels (Lukas 6:12, NAV). Die lengte van aanneemlike gebede sal dus wissel na gelang van behoeftes.

Gebede word beslis verhoor

Die Bybel is vol verslae van gebede wat deur die groot “Hoorder van die gebed”, Jehovah God, verhoor is (Psalm 65:3). Die “gebedstoets” in die dae van die profeet Elia, wat in 1 Konings hoofstuk 18 opgeteken is, is ’n uitstekende voorbeeld. In die eerste eeu het Jesus se dissipels hierdie oombliklike verhoring van gebed ondervind: “Toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.”—Handelinge 4:23-31.

Onder die talle ondervindings wat die uitgewers van hierdie tydskrif ontvang het, is dié van manne en vroue van alle ouderdomme wat gevoel het dat hulle ’n krisis bereik het. Die uitkoms het hulle oortuig dat hulle gebede aangehoor en verhoor is.

Ter toeligting: ’n Jong man wat in ’n afgeleë Switserse bergdorpie naby die Italiaanse grens woon, sê: “My magteloosheid om ’n oplossing [vir die lewensprobleme] te vind, was so ooglopend dat ek net wou sterf. . . . Ek het die enigste ding gedoen waaraan ek kon dink. Ek het gebid: ‘O onbekende God, u moet tog bestaan, en u is tog ’n God van liefde. Help my! Ek kan nie meer voortgaan nie—help my om die waarheid te vind.’” ’n Paar dae later het ’n jong egpaar, Jehovah se Getuies, hierdie man besoek. ’n Bybelstudie is gereël, en hy is nou ’n gedoopte getuie van Jehovah.

’n Geregistreerde verpleegster wat weens haar man se promiskuïteit en hulle uiteindelike skeiding ’n ongelukkige lewe gelei het, was baie godsdienstig. Op ’n dag het sy wanhopig gebid en God gesmeek om haar te laat weet of hy ’n voorneme het wat die moeite werd is. Daardie selfde middag het Jehovah se Getuies tydens hulle predikingswerk van huis tot huis by haar deur aangeklop. Sy het hulle ingenooi, baie vrae gestel en was verheug om Skriftuurlike antwoorde te ontvang. Mettertyd het die verpleegster self ’n verkondiger van die “goeie nuus” geword en ’n Bybelstudie gehou.—Mattheüs 24:14, NW.

Een van Jehovah se Getuies was besig om Die Wagtoring in sy motor te lees toe iemand hom skielik om sy nek gryp. Hy het vurig tot Jehovah God gebid. Die aanvaller het verstar, en sy greep het verslap. Die Getuie het die motor aangesit, die man vaarwel gesê en hom soos ’n standbeeld in die middel van die pad agtergelaat.

In die wêreld van toenemende skeptisisme en twyfel kan liefhebbers van God en die waarheid moed skep uit die vasstaande versekering dat gebede aangehoor word as dit tot Jehovah God en deur die regte kanaal gerig word, en ook op die regte manier en met die regte geestes- en hartsgesindheid gedoen word. Die almagtige God sal nie alleen na sulke gebede luister nie, maar hy sal hulle ongetwyfeld ooreenkomstig sy goddelike wil en op sy gekose tyd verhoor.

[Venster op bladsy 4]

Gebedsvorme

’n Kort oorsig oor verskeie gebedsvorme wat vandag gebruik word, sal insiggewend wees.

In Hindoeïsme word daar dikwels ’n basiese gebed gebruik wat hulde aan ’n gekose god of godin bring, waarvan daar na mening ongeveer 330 000 000 is wat in sowat 10 000 tempels aanbid word. In die meeste gevalle is Hindoe-gebede egter omslagtig, en dit kan twee vorme aanneem—òf meditasie (dhyana) òf lofspraak (stotra). Baie waarde word daaraan geheg dat gebede hardop gesê word.

In Chinese Boeddhiste- en Taoïstiese kloosters word gebede gereeld drie maal per dag gedoen (soggens vroeg, smiddags en saans). Hierdie gebede word saam met die gelui van ’n klokkie opgesê. Boeddhistemonnike dra ’n string van 108 krale om hulle met hulle gebede te help. Sommige oningewydes gebruik ook hierdie bidsnoermetode om die aantal kere wat gebede gedoen word te tel.

Vroom Moslems beskou die daaglikse gebed (salat) as die belangrikste deel van hulle aanbidding. Dit moet vyf keer per dag herhaal word terwyl die gesig na Mekka in Saoedi-Arabië gekeer is.

Joodse gebede sluit dié in wat regstreeks uit die Bybel geneem is, soos die psalms. Ander gebede sluit dié in wat deur verskeie rabbi’s bygevoeg is.

Onder voorgewende Christene is daar ’n groot verskeidenheid gebede en gebedsvorme. Hulle wissel van gebede wat met ’n bidsnoer in die hand herhaal word tot gedrukte gebede, asook dié wat uit ’n paar woorde bestaan en uit die vuis uit gesê word.

[Prent op bladsy 7]

Jesus se gebede is verhoor. Joune kan ook

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel