Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 1/15 bl. 3-6
  • Praat hulle werklik met die dode?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Praat hulle werklik met die dode?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat het in Saul se geval gebeur?
  • Is dit werklik moontlik?
  • Maar wat is die bron?
  • Is dit nodig om met die dode te praat?
  • Kan jy met die dode praat?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Kan die dooies die lewendes help?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Spiritisme
    Ontwaak!—2014
  • Kan die dooies die lewendes help?
    Ontwaak!—2012
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 1/15 bl. 3-6

Praat hulle werklik met die dode?

SOKKERSPANNE in Brasilië wend hulle soms tot mediums. Waarom? Hulle wil raad inwin uit vrees dat ’n teenspan dalk sal wen. Volgens een koerant “word miljoene mense grootliks beïnvloed deur die geleentheid om regstreeks met die bonatuurlike te kommunikeer ten einde oplossings vir allerhande probleme te kry”. In sommige lande raadpleeg hooggeplaaste politici, kunstenaars en sakemanne die geeste gereeld. In ’n poging om genesing of ’n oplossing vir ’n finansiële probleem te verkry, probeer talle om die dode te raadpleeg, wat veronderstel is om meer kennis te hê.

Maar is dit geoorloof om met die dode te probeer praat? Is dit werklik moontlik? En is daar enige gevare aan verbonde? Jy sal dalk verbaas wees om te sien wat die Bybel sê.

Wat het in Saul se geval gebeur?

Beskou hierdie ware ondervinding wat in die Bybel opgeteken is: Koning Saul van eertydse Israel het uit vrees vir die vyandelike Filistyne ’n medium in Endor opgesoek. Hy het haar gevra om met die afgestorwe profeet Samuel in verbinding te tree. Toe Saul haar beskrywing van ’n ou man met ’n mantel hoor, het hy aangeneem dat hierdie gedaante Samuel is. En wat was die boodskap? Israel sou in die hand van die Filistyne gegee word, en Saul en sy seuns sou die volgende dag by “Samuel” wees, ’n aanduiding dat hulle in die geveg teen die Filistyne sou sneuwel (1 Samuel 28:4-19). Is dit wat gebeur het?

Nie juis nie. Saul is ernstig gewond in die geveg teen die Filistyne, maar hy het selfmoord gepleeg (1 Samuel 31:1-4). En in stryd met die voorspelling wat te kenne gegee het dat al Saul se seuns saam met hom sou sterf, het sy seun Isboset hom oorleef.

Maar was dit hoegenaamd geoorloof om die dode te raadpleeg? Nee, dit was nie. Die Skrif sê vir ons: “Saul het gesterwe weens ontrou . . . en ook omdat hy die gees van ’n afgestorwene om inligting gevra het” (1 Kronieke 10:13). Kan ons iets hieruit leer? Ja. Saul het gesterf omdat hy ’n medium gevra het om die dode te raadpleeg. Waarom? Want hy het sodoende God se duidelike wet veronagsaam: “Daar mag niemand by jou gevind word . . . wat ’n gees van ’n afgestorwene vra of ’n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ’n gruwel” (Deuteronomium 18:10-12). Waarom is die raadpleging van die dode vir God ’n gruwel? Alvorens ons daardie vraag beantwoord, kan ons vra:

Is dit werklik moontlik?

Die dode moet in werklikheid lewend wees voordat iemand met hulle kan praat. Hulle moet ’n onsterflike siel hê. Maar die Bybel sê: “Die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword” (Genesis 2:7). Die mens self is dus ’n siel. Hy het nie ’n onsterflike siel wat na die dood van die liggaam voortleef nie. Trouens, die Skrif sê: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4). God se woord sê boonop: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie . . . Daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk [“Sjeool”, NW]”, die gemeenskaplike graf van die mensdom, nie (Prediker 9:5, 10).

Die dode beskik dus hoegenaamd nie oor meer kennis nie, maar is onbewus. Dit is derhalwe onmoontlik om met hulle te praat. Gehoorsaamheid aan God se wet wat ons verbied om die dode te raadpleeg, beskerm ons dus teen misleiding. Tog toon koning Saul se ondervinding dat boodskappe uit die geesteryk moontlik is.

Maar wat is die bron?

Vir eers is diegene wat voorgee dat hulle met die dode in verbinding tree dikwels bedrieërs. The World Book Encyclopedia deel ons mee: “Daar is bewys dat mediums mense by séances bedrieg om te glo dat geeste met die lewendes kan kommunikeer. Wetenskaplikes bied verklarings vir baie dinge wat by séances plaasvind. Party mediums is byvoorbeeld buiksprekers. Sommige gebruik handlangers en verskeie soorte kultoerusting. Ander gebruik hipnose. Talle mense wat séances bywoon, wil baie graag met ’n afgestorwe dierbare in verbinding tree. Hierdie begeerte kan hulle laat glo dat enige boodskap wat deur die medium oorgedra word uit die geesteryk kom.”

Maar moet ons net uit hierdie oogpunt daaraan dink? Nee, want getrouheid aan God se verbod op die raadpleging van die dode beskerm ons ook in ’n baie belangriker opsig. Boodskappe kom wel uit die geesteryk, maar die bron daarvan is magtige skepsele wat daarop uit is om die mensdom te mislei. Die Bybel identifiseer hulle as “bose geeste”—Satan die Duiwel en ongehoorsame engele wat demone genoem word (Efesiërs 6:12). Toe koning Saul die medium in Endor besoek het, was dit ’n demon wat die afgestorwe profeet Samuel verpersoonlik het.

Die geval van Saul toon dat die demone niks heilsaams het om oor te dra nie, en hulle gewaande hulp is kortstondig. Hulle is leuenaars, soos hulle heerser, die Duiwel (Markus 3:22; Johannes 8:44). Die voormalige Britse navorser van spiritistiese verskynsels, sir Arthur Conan Doyle, het in hierdie verband geskryf: “Ons het ongelukkig te doen met volslae, koelbloedige leuens aan die kant van bose of moedswillige wesens wat met rede begaaf is. Ek reken dat elkeen wat hierdie saak ondersoek het voorbeelde teëgekom het van opsetlike bedrog wat af en toe onder goeie en ware kommunikasies verseil raak” (The New Revelation, bladsy 72). Jy wil natuurlik nie mislei word nie, wil jy?

Dink nou hieroor na: Die geskiedenis vertel ons van die slawehandel en die lyding wat daarmee gepaard gegaan het. Sou enigiemand sulke ontbering en vernedering gewillig aanvaar? Natuurlik nie. Waarom sal ons dan toelaat dat ons die slawe van bose geeste word? Hulle versin nie alleen leuens nie, maar hulle beroof mense ook van hulle vryheid en kan hulle selfs tot geweldpleging en moord beweeg. Nege-en-twintigjarige José van Pernambuco, Brasilië, het byvoorbeeld gesê dat ‘’n gees in hom ingevaar en hom geforseer het om sy jaaroue dogtertjie dood te maak’. Ja, betrokkenheid by bose geeste kan tot sulke slawerny lei. En net soos bedroefde slawe in die verlede na vryheid gesmag het, behoort diegene wat vandag slawe van die demone is ook vry te wil wees. Een manier waarop ons hierdie vryheid kan verkry, is deur nié mediums te raadpleeg of met die dode te probeer praat nie. Trouens . . .

Is dit nodig om met die dode te praat?

Nee, want ons is nie sonder hulp nie. Ons kan, soos kinders wat hulle vader vertrou, die hemelse Vader wat behae daarin skep om die regskapenes te help vrylik om hulp vra (Lukas 11:9-13). God se profeet Jesaja het geskryf: “As hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel—moet ’n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word? Tot die wet en tot die getuienis!”—Jesaja 8:19, 20.

Ja, ons het ’n vaste grondslag van vertroue in Jehovah God as ons sy wil doen en weier om enige kontak met bose geeste te hê. Die Christendissipel Jakobus het geskryf: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jakobus 4:7). ’n Man wat 28 jaar lank spiritisme beoefen het, het die volgende gesê nadat hy die Bybel saam met Jehovah se Getuies bestudeer het: “Moet nooit bang wees vir wat die Duiwel aan diegene kan doen wat spiritistiese gebruike laat vaar nie, maar vertrou eerder op Jehovah God.”

As ons ons verstand met die waarheid uit God se Woord vul en daarvolgens handel, sal ons ‘die volle geestelike wapenrusting van God kan aantrek’ sodat ons ‘teen die liste van die duiwel staande kan bly’ en sal ons nie slawe van bose geeste wees nie (Efesiërs 6:11). Gereelde gebed tot Jehovah is ook ’n kragtige beskerming teen demonmolestasie.—Spreuke 18:10.

Hoe vertroostend is dit tog om die waarheid aangaande die toestand van die dode te ken! Die dood is soos ’n diep slaap (Johannes 11:11). En Jesus Christus het die versekering gegee dat daar ’n opstanding van die dode sal wees.—Johannes 5:28, 29.

Een man wat vroeër ’n spiritis was, het saam met sy vrou en kinders uit die Skrif geleer dat niemand met die dode, of met iemand wat hulle verpersoonlik, hoef te probeer praat nie. Soos hierdie gesin en talle ander oor die hele wêreld kan jy ook geestelike vryheid geniet (Johannes 8:32). Leer die waarheid aangaande die dode en God se voorneme met die mensdom. Dan kan jy uitsien na Jehovah se nuwe stelsel, waar jy met verrese dierbares kan praat en die ewige lewe onder vreedsame toestande kan geniet.—Jesaja 25:8.

[Prent op bladsy 4]

Wie het werklik gepraat toe koning Saul om ’n boodskap van die afgestorwe profeet Samuel gevra het?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel