Jehovah bou ’n huis
SATERDAG, 21 Maart 1987, was ’n dag wat die personeel van die Wagtoringgenootskap se Suid-Afrikaanse tak nooit sal vergeet nie. Dit was ’n geskiedkundige geleentheid. Die nuwe kompleks by Roodekrans is toegewy—die hoogtepunt van ses jaar se harde werk. Maar die eer kom Jehovah toe. Soos Salomo dit gestel het: “As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou.”—Psalm 127:1.
Laat ons kortliks die groei van Jehovah se Getuies in Suid-Afrika nagaan. In 1902 het die eerste twee plaaslike inwoners begin om die Genootskap se publikasies te bestudeer en om vir ander te getuig. In 1910 het broer Russell Will Johnston opgedra om ’n eenman-takkantoor in Durban te open. Die daaropvolgende jaar is een van die eerste Swart gemeentes in naburige Ndwedwe gestig. Gedurende die kritieke jaar van 1914 is die eerste byeenkoms in Durban gehou, met ’n opkoms van 50. Die tak is in 1923 na Kaapstad verskuif, en die daaropvolgende jaar is ’n eenvoudige pers in gebruik geneem. Die tak is in 1933 na ’n groter perseel verskuif, maar daar was geen Bethelhuis nie.
Nog ’n belangrike verskuiwing het in 1952 plaasgevind, na Elandsfontein—ongeveer 1 500 kilometer noord van Kaapstad en sowat 20 kilometer oos van Johannesburg. Dit was die eerste van die geboue in Suid-Afrika wat deur die Genootskap self ontwerp is, en dit het dus genoeg ruimte vir drukwerk sowel as ’n Bethelhuis, of woonplek, gehad. Intussen is die Koninkrykswerk oopgestel in verskeie lande wat onder toesig van die Suid-Afrikaanse tak was. Die tak moes dus in 1959, daarna in 1971 en weer in 1978 vergroot word. Toe was daar geen plek vir verdere uitbreiding op daardie perseel nie.
Die oorspronklike twee verkondigers in Suid-Afrika het tot ongeveer 28 000 toegeneem. Dit was tyd om ’n nuwe plek te soek, wat ’n lang soektog behels het. Uiteindelik is ’n geskikte plaas van 87 hektaar te Roodekrans gevind, wat ongeveer 60 kilometer van Elandsfontein af is. Jehovah se leiding en hulp was baie duidelik toe hierdie pragtige plek gevind en gekoop is.
Hoe struikelblokke uit die weg geruim is
Maar ernstige probleme moes oorkom word. Die boukoste het ontsaglik gelyk, en spesiale permitte was nodig om ’n fabriek, kantore en ’n woongebou in ’n dorpsgebied te bou. Sake is verder bemoeilik omdat dit wenslik was dat Swart Getuies wat vertalers is hier woon. Dit het gelyk asof die struikelblokke wonderbaarlik uit die weg geruim word, wat bewys gelewer het dat Jehovah die huis gebou het. ’n Ernstige gebrek aan ambagsmanne was nog ’n probleem. Maar vrywilligerwerkers het die verskillende ambagte gou geleer. Dit het susters ingesluit. Een opsiener het gesê: “Verfynde jong meisies wat nie op ’n bouperseel hoort nie, het bedrewe teëllêers geword. Ek het nog nooit beter werk gesien nie.”
Konstruksiewerk het eers stadig gevorder. Toe het vrywilligerwerkers na Roodekrans gestroom—Swartmense, Blankes, Kleurlinge en Indiërs. Broers het selfs van ander lande, soos Nieu-Seeland en die Verenigde State, gekom. Dit was baie ongewoon in Suid-Afrika. Een vrywilligerwerker het gesê: “Dit is pragtig om te sien hoe broers en susters saamwerk, verskillende nasionaliteite en rasse van verskillende agtergronde.” Baie het goeie betrekkings opgegee of lang vakansies geneem om met die bouwerk by Roodekrans te help. Onder hulle was ervare ambagsmanne, ’n argitek, ’n ingenieur, bekwame tekenaars en voormanne. Heelwat duur masjinerie is aan die Genootskap geskenk of geleen.
Wat van die ontsaglike koste? Die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies het ’n groot lening voorsien, en plaaslike Getuies van alle rasse en alle ouderdomme het milddadig bygedra. ’n Dogtertjie van ses het geskryf: “Ek het hierdie geld gespaar om ’n pop te koop, maar ek stuur dit nou aan julle. Ek hoop julle kan Roodekrans met hierdie geld klaarmaak. Wanneer ek groot is, wil ek ook Roodekrans toe gaan en daar werk.” ’n Vyfjarige Indiërseuntjie het sy sakgeld van die vorige ses maande bygedra!
Oor naweke het honderde ander Getuies gekom om in hierdie belangrike projek te deel. Ander vrywilligerwerkers het daagliks gekom en moes dikwels hiervoor groot opofferings en baie moeite doen. Besoekers wat nie Getuies is nie, het hulle koppe in ongeloof geskud toe hulle die groot, entoesiastiese ondersteuning gesien het. Baie mense wat in die omgewing woon, is diep beïndruk. Plaaslike handelsfirmas het meegeding om sake met Roodekrans te doen, en hulle verteenwoordigers het dikwels opmerkings gemaak oor die atmosfeer van vrede en eenheid.
’n Indrukwekkende gebou in ’n pragtige omgewing
Kliprante aan die suidelike kant van die konstruksieterrein kyk uit op ’n mooi vallei en spruit. Hoewel die eiendom naby ’n mooi voorstad geleë is, is daar nog diere, soos tarentale en hase. Witkruisarende en jakkalse lê ook dikwels besoek af. Die woongebou, wat langs die onderste hange van die heuwel oor sowat 360 meter strek, is met rooi bakstene gebou. Dit het drie verdiepings met pragtige uitsigte. In die middel is ’n gedeelte met diensfasiliteite soos ’n eetsaal, ’n kombuis, ’n wassery en ’n sieke-afdeling. Die kantoorgebou en ’n groot drukkery, wat ongeveer so groot soos Noag se ark is, is ’n hanetreetjie daarvandaan. Dit is waar die groot TKS-vierkleurrubberdrukpers geïnstalleer is.
Aan die westekant van die woongebou is ’n gebied wat vir boerdery gebruik word en ’n groot skuur, wat tydens die bouery as ’n eetsaal en kombuis gebruik is. Landerye met gras en lusern verskaf voer vir ’n kudde melkkoeie. Daar is honderde proteastruike op die heuwels agter die woongebou. Behalwe die hoë bloekombome wat reeds hier was, is talle jong bome, kleurryke blombeddings en groot grasperke aangeplant.
Die toewydingsprogram
’n Skare van ongeveer 4 000 het Saterdagmiddag, 21 Maart 1987, in ’n oop ruimte naby die woongebou vir die toewyding byeengekom. ’n Tydelike verhoog wat op die heuwels uitgekyk het, het die indruk van ’n amfiteater geskep. Die voorsitter, broer R. F. Stow, het onderskragende boodskappe uit 17 lande gelees. Die roerendste hiervan was van Maud Johnston, die vrou van die eerste takopsiener in Durban. Op 92-jarige ouderdom dien sy steeds in die Australiese Bethel.
P. J. Wentzel, opsiener van die Diensafdeling, was die eerste spreker, en hy het’n kort opsomming oor die geskiedenis van die Koninkrykswerk in Suid-Afrika gegee. Hy het die bywoningsyfer van 50 by die eerste byeenkoms in 1914 met die bywoningsyfer van 99 000 by die streekbyeenkomste van 1986 vergelyk. Daarna het J. R. Kikot, die fabrieksopsiener, die druk van lektuur in baie tale en die werk van meer as 50 vertalers beskryf. Hy het ook gemeld dat ’n groot TKS-pers, ’n geskenk van die Japannese tak, in 1979 geïnstalleer is, maar dat dit drukwerk in slegs twee kleure gedoen het. Onlangs is twee ekstra eenhede, ook ’n geskenk van Japan, aan die pers toegevoeg. Gevolglik is Die Wagtoring van 1 April 1987 tot almal se vreugde in volle kleur gedruk.
C. F. Muller, die koördineerder van die Takkomitee, het verduidelik hoe Jehovah gehelp het om die bouterrein, die fondse, die deskundiges en die geskoolde werkers te voorsien. God se gees het ook pragtige eensgesindheid onder die verskillende rasse voortgebring. Hoewel dit in een stadium onmoontlik gelyk het om ’n fabriek te bou in ’n gebied wat hoofsaaklik as ’n woongebied beskou is en om Swartmense daar te laat woon, het Jehovah die weg geopen, en hy was dus die ware Meesterbouer!
Die volgende spreker was Carey Barber, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies. Sy puik toespraak was gebaseer op Jesaja 65:17-19 wat voorspel hoe Jehovah se volk ‘bly sal wees en vir ewig sal juig’. Die spreker het verduidelik dat “juig” beteken “om van vreugde op te spring”, en dat dit die hoogste vorm van geluk is. Dit was gewis ’n baie gelukkige dag vir alle aanwesiges. Die toewydingstoespraak is deur Milton Henschel, ook van die Bestuursliggaam, gehou. Hy het ’n spesiale gebed tot Jehovah gerig, en Hom gedank vir die voorsiening van die gebou, wat toe aan Hom toegewy is.
Die daaropvolgende dag het 28 250 Getuies en belangstellendes by die Randse Stadion, Johannesburg, byeengekom waar hulle ’n kort opsomming van die program by Roodekrans gehoor het. In ’n toespraak wat in Zulu vertaal is, het broer Henschel getoon hoe Jehovah se Getuies, onder leiding van Jehovah en Jesus, oral seëvierend is en “’n aangename geur van Christus” en ander Bybelkennis versprei (2 Korinthiërs 2:14-17). Hy het afgesluit met talle bemoedigende ondervindinge wat die groot gehoor verheug het.
Gedurende die volgende paar dae is soortgelyke byeenkomste in Durban en Kaapstad gehou. Dit was geleenthede wat nooit deur Jehovah se Getuies in Suid-Afrika vergeet sal word nie. Die Bethelgesin by Roodekrans sal die toewyding van hulle nuwe huis gewis nog lank onthou. In die lig van die feit dat meer as 40 000 Getuies tans in Suid-Afrika bedrywig is, pleks van die 28 000 toe werk by Roodekrans begin het, voorsien die ‘huis wat Jehovah gebou het’ in ’n dringende en lewensbelangrike behoefte.