Onthou jy?
Het jy die onlangse nommers van Die Wagtoring van praktiese waarde gevind? Toets dan gerus jou geheue met die volgende:
◻ Waarom was Timotheüs so ’n goeie voorbeeld vir jongmense om te volg?
Timotheüs het ’n sogenaamd normale lewe tuis prysgegee om ’n betroubare, getroue metgesel van Paulus te word. Hy het deur dik en dun by Paulus gebly, hom in die predikingswerk ondersteun en was bereid om te dien waar hy ook al toegewys is (Filippense 2:19, 20).—15/8, bladsy 14.
◻ Wat is die vereistes vir doop?
Die doopkandidaat moet verstaan wat by die saak betrokke is. Hy moet waarlik begeer om Jehovah te dien omdat hy Hom liefhet. Hy toon dit deur God se morele vereistes na te kom en sy geloof aan ander te verkondig. Hy moet hom ook in die gebed persoonlik aan Jehovah toewy.—15/8, bladsy 16.
◻ Waarom is dit verkeerd om by spiritisme betrokke te raak?
Betrokkenheid by spiritisme kom daarop neer dat ’n mens liefhet wat Jehovah haat (Spreuke 6:16-19). Trouens, dit is soos om Jehovah te verwerp en party te kies vir God se aartsvyand en sy ondersteuners.—1/9, bladsy 5.
◻ Wat is die “gedenkboek” waarvan Maleagi 3:16 praat?
God let sedert Abel se tyd op diegene van die losbare mensdom wat werd is om vir die ewige lewe onthou te word, asof hy huIle name in ’n boek neerskryf. Hierdie “gedenkboek” is dieselfde as “die boek van die lewe” (Openbaring 3:5; 17:8; Mattheüs 23:35).—1/9, bladsy 29.
◻ Wat maak ’n ware vriend so kosbaar?
Jy kan jou altyd tot ’n ware vriend wend om hulp, raad, troos en hartlike kameraadskap.—15/9, bladsye 3, 4.
◻ Wat is die dodelike “lug” van hierdie wêreld?
Dit is die algemene gees, of oorheersende gesindheid van selfsug en ongehoorsaamheid, wat weerspieël word deur mense wat van God vervreemd is (Efesiërs 2:2; 1 Korinthiërs 2:12).—15/9, bladsy 11.
◻ Wat moet ’n godsdiens doen om van praktiese waarde te wees?
Dit moet goeie vrugte oplewer. Dit moet beter mense voortbring. Dit moet kan verduidelik waarom toestande op aarde vandag is soos dit is. En dit moet in mense se verstand en hart ’n vaste hoop vir die toekoms inprent (Mattheüs 7:17-20).—1/10, bladsy 7.
◻ Wat het die Hervorming nie tot stand gebring nie?
Sommige vroeë hervormers het illusies gekoester om na Bybelse standaarde, na die suiwer Christelike godsdiens, terug te keer. Hierdie illusie is nooit verwesenlik nie. Met verloop van tyd het grondleerstellings van Protestantse kerke, hetsy staatskerke of andersins, grootliks met die leerstellings van die Rooms-Katolieke Kerk begin ooreenkom.—1/10, bladsy 25.
◻ Wat het tot God se veroordeling van Moses en Aäron na die voorval by Kades-Barnea aanleiding gegee?
Psalm 106:32, 33 gee ons insig in hierdie voorval en toon dat Moses met bitterheid opgetree het en dat hy ‘onverskillig met sy lippe gepraat het’. Hy het met toornige woorde die aandag op homself en Aäron gevestig eerder as op Jehovah, wat werklik op wonderdadige wyse water kon voorsien. Op hierdie manier het Moses versuim om ‘God voor die oë van die volk te heilig’ (Numeri 27:12-14).—15/10, bladsy 31.
◻ Aan watter verhewe doel het God se Wet wat aan Israel gegee is, beantwoord?
Die Wet is aan Israel gegee om die nasie fisies, geestelik, verstandelik en sedelik rein te hou.—1/11, bladsy 12.
◻ Wat is party hulpmiddele wat ’n ongetroude persoon kan help om kuis te bly?
Bid dikwels om God se gees en sy hulp om die vrugte daarvan aan die dag te lê. Peins oor die raad in God se Woord en pas dit toe. Vermy pornografie en onsedelike vermaak. Let op jou omgang. Vermy vuil taal en vuil grappe geheel en al.—15/11, bladsy 20.
◻ Watter belangrike verskille is daar tussen die genesings wat in die Bybel opgeteken is en dié deur hedendaagse geloofsgenesers?
Jesus en sy dissipels het nooit geld vir hulle genesings gevra nie. Genesings in Bybelse tye is oombliklik of binne ’n kort tydjie gedoen.—1/12, bladsye 4, 5.
◻ Wat is party van die voordele wat dit inhou as ’n mens hardop sing in ware aanbidding?
Ons persoonlike betrokkenheid by openbare aanbidding word sterker. Sang lewer ’n goeie getuienis vir nuwelinge. Bowenal bring dit groter lof aan Jehovah.—1/12, bladsy 27.