Insig in die nuus
Wie is die ketters?
“In die Bybel lees ons dat God Drie-enig is”, het professor Johan Heyns, geestelike leier van Suid-Afrika se Nederduits Gereformeerde Kerk, in die koerant Naweek-Volksblad van 15 November 1986 geskryf. Die professor sê voorts van diegene wat redeneer dat God nie drie en ook een kan wees nie: “Die Christelike Kerk [het] gesê dat hulle ’n valse leer verkondig, en daarom is hulle dan ook deur die kerk as ketters veroordeel.”
Maar waar word die woord Drie-eenheid in die Bybel aangetref? Professor Heyns het nie gesê nie. Dit is nie verbasend nie, want soos The New Encyclopædia Britannica verduidelik: “Nòg die woord Drie-eenheid nòg die uitdruklike leerstelling kom in die Nuwe Testament voor, en Jesus en sy volgelinge het ook nie bedoel om die Sjema [Joodse geloofsbelydenis] in die Ou Testament, ‘Hoor, Israel, die Here onse God is ’n enige Here’ te weerspreek nie (Deut. 6:4).” Hoe het die Drie-eenheidsleerstelling gewild geword as dit nie deur Jesus en sy apostels geleer is en nie spesifiek in die Bybel gemeld word nie? Hoewel die Britannica beweer dat die grondslag van die leerstelling wel in die “Nuwe Testament” voorkom, erken dit dat ‘die leerstelling geleidelik oor etlike eeue heen en deur middel van talle geskille ontstaan het’ en dat “die leerstuk van die Drie-eenheid” teen die einde van die vierde eeu “wesenlik die vorm aangeneem [het] wat dit sedertdien behou het”.
As diegene wat weier om te glo dat God drie in een is ketters is, wat dan van Jesus Christus self? Hy het die bogenoemde woorde van Deuteronomium 6:4 herhaal: “Die Here, onse God, is ’n enige Here” (Markus 12:29). Jesus het ook gesê: ‘My Vader is groter as Ek’ (Johannes 14:28). Wie is dus die ketters? Diegene wat bly by wat Jesus geleer het of diegene wat vashou aan ’n leerstelling wat eeue na sy dood ontstaan het?—Vergelyk 1 Korinthiërs 4:6 (NW) met 2 Johannes 9.
“Vestingstad”
“Sydney is vandag ’n stad wat beleër is”, het ’n hoofartikel in The Sun-Herald, ’n koerant van Sydney, Australië, begin. “Die woongebiede is vestings wat gegrendel en van nagslotte voorsien is en elektronies bewaak word. Die nagtreine is beskadig, met graffiti ontsier en onheilspellend leeg. Die strate word saans al hoe gevaarliker.”
Hoewel die bogenoemde ’n onrusbarende beskrywing van talle groot stede oor die hele wêreld kan wees, veroorsaak dit groot kommer onder Australiërs. Maar Bybelstudente is nie verbaas dat wetteloosheid toeneem nie. Waarom nie? Omdat hulle Jesus se profetiese woorde oor toestande van ons tyd onthou. Jesus het gesê: “Omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Mattheüs 24:12). En hoewel die hoofartikel in The Sun-Herald dit betreur dat ’n sluier van vrees oor die sogenaamde Gelukkige Land se gelukkigste stad hang, sal “geluk” nie wetteloosheid beëindig nie. Psalm 5:5 verseker ons dat Jehovah “nie ’n God [is] wat behae het in goddeloosheid nie; die kwaaddoener sal by U nie vertoef nie”.
Dodelike ironie
Die Bybel beveel Christene om ‘hulle van bloed te onthou’ (Handelinge 15:29). Jehovah se Getuies glo dat hierdie Skriftuurlike verbod van toepassing is op die eet van bloed sowel as op bloedoortappings. Vigs, ’n dodelike siekte wat die liggaam se immuniteitstelsel aanval, kan weens bloedoortappings opgedoen word. In ’n geval van hartseer ironie is ’n beenmurgoorplanting op ’n ses maande oue baba gedoen wat gebore is met ’n seldsame en dodelike immuniteitsgebreksiekte wat as retikulêre disgenese bekend staan. Die behandeling het bloedoortappings ingesluit. Dit wou voorkom asof die oorplanting suksesvol was, totdat dokters uitgevind het dat die oortappings die baba ’n ander dodelike siekte gegee het. “Buiten een ding gaan dit goed met die pasiënt wat nou 2 1/2 jaar oud is”, berig Physician’s Weekly. “Na die oorplanting is die kind bloedplaatjies gegee voordat toetse vir (die Vigs-virus) verpligtend geword het, en hy het nou Vigs.”