Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 6/1 bl. 28-30
  • ’n Nuwe skool begin!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Nuwe skool begin!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Buitengewone vermeerdering
  • Die Bedieningsopleidingskool
  • Vooruitgang is nodig
  • Sendelinge bevorder wêreldwye uitbreiding
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Die opleiding van Koninkryksbedienaars
    God se Koninkryk regeer!
  • ’n Skool waarvan die gegradueerdes mense wêreldwyd bevoordeel
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Die Bedieningsopleidingskool—’n Groot deur wat tot bedrywigheid lei
    Ons Koninkryksbediening—2004
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 6/1 bl. 28-30

’n Nuwe skool begin!

Hierdie artikel bevat die hoofinhoud van die voorsitter se slotopmerkings by die graduering van die 82ste Gileadklas.

SEDERT die stigting van die Wagtoring-Bybelskool Gilead in Februarie 1943 is meer as 6 000 toegewyde bedienaars van Jehovah se Getuies vir sendingwerk opgelei. Gedurende die meer as 40 jaar wat hierdie sendelinge uitgestuur is, is ’n deeglike getuienis aangaande die Koninkryk in talle lande gegee. Wanneer God se volk terugkyk op wat Jehovah tot stand gebring het, is hulle sekerlik verheug om die vervulling van ’n merkwaardige profesie te sien.

In Jesaja hoofstuk 49, vers 9-12, het die profeet die bevryding voorspel van regskape persone wat as godsdiensgevangenes in “Babilon die Grote” aangehou word. Jehovah se bevel is deur sy gesalfde knegklas op aarde uitgedra: “Sê aan die gevangenes: Gaan uit! aan hulle wat in duisternis is: Kom te voorskyn! By die paaie sal hulle wei . . . Hulle sal geen honger en geen dors hê nie, en die woestyngloed en die son sal hulle nie steek nie; want hulle Ontfermer sal hulle lei en hulle saggies aanbring na die fonteine van water . . . Kyk, hulle . . . kom van ver.” Was daar ’n reaksie? Beslis! Honderdduisende opregte persone het uit alle rigtings gekom en sodoende getoon dat hulle na die waarheid honger, dat hulle deur God se Woord gevoed en verlig wil word asook smag na geestelike bevryding van “Babilon die Grote” (Openbaring 17:5, vgl. NW). Hulle is nou in die aardse ryk van sy Koninkryksorganisasie en voed hulleself met ’n oorvloed van geestelike voedsel.

Buitengewone vermeerdering

In die middel-veertigerjare was lande in Latyns-Amerika en die Karibiese gebied van die eerstes waarheen Gilead-sendelinge gestuur is. Daar was baie min verkondigers in hierdie plekke, en dit was werklik ’n uitdaging om ’n deeglike Koninkryksgetuienis te gee. Porto Rico het byvoorbeeld in 1944 net 25 verkondigers gehad. In Costa Rica was daar 181. Mexiko het in 1944 2 431 verkondigers gehad toe die eerste Gileadgegradueerdes daar aangekom het. Maar namate mense wat na die waarheid gehonger het uit godsdienstige duisternis gekom en getoon het dat hulle God se Koninkryk soek, het hulle ywerig gepreek en het sommige die pionierdiens betree. Mans het na posisies van verantwoordelikheid gestreef. Die gevolg? Vandag is daar 21 943 bedrywige bedienaars in Porto Rico, vier keer meer as die aantal bedrywige verkondigers wat in 1947 in die 12 lande van die Karibiese gebied gerapporteer het. Costa Rica het nou meer verkondigers as wat daar 40 jaar gelede in die hele Sentraal-Amerika was. In Januarie vanjaar het Mexiko ’n nuwe hoogtepunt van meer as 206 000 verkondigers gerapporteer—ongeveer die verkondigertal in die hele wêreld 40 jaar gelede.

In Suid-Amerika was die situasie soortgelyk. Toe sendelinge in 1947 na Argentinië gestuur is, was daar 790 verkondigers. Vandag is daar 63 613 bedrywige bedienaars, 26 keer meer as wat 40 jaar gelede in die 12 lande in Suid-Amerika gepreek het. En wat van Brasilië? Toe die eerste sendelinge in 1945 soontoe gestuur is, het net 394 verkondigers die predikingswerk gedoen. Maar hulle het volhard, en daar is nou meer as 200 000 verkondigers in Brasilië. Dit is oor die 80 keer meer as wat in 1947 in die hele Suid-Amerika bedrywig was. Verslae uit ander lande op daardie kontinent toon ook buitengewone vermeerdering.

Ons sien ook wonderlike bewys van Jehovah se seën in die Verre-Ooste, waar die bevrydende boodskap van Koninkrykswaarheid duisende in staat gestel het om uit die duisternis te kom. Toe die eerste sendelinge in 1949 na Japan gestuur is, het ’n handvol verkondigers—agt—gerapporteer. In die agt Asiatiese lande wat 40 jaar gelede gerapporteer het, was daar altesaam 475 bedrywige bedienaars. Vandag is daar 116 272 in Japan alleen.

In die Stille Suidsee was daar tot in 1959 net twee takkantore. Met die hulp van verkondigers wat uit Australië gekom het om te dien waar hulp nodig was, en danksy die inspanning van ander gemeenteverkondigers en ’n paar sendelinge, is die goeie nuus aan duisende mense op verskeie eilande verkondig. Daar is nou ses ander takkantore in daardie deel van die veld.

Die geskiedenis van Afrika se ontwikkeling is ook opwindend. Die 17 lande wat in 1947 gerapporteer het, het altesaam 24 896 verkondigers gehad. Maar sendelinge het gehelp om die goeie nuus vinnig te versprei, en honderdduisende het weldra getoon dat hulle Jehovah en sy geregtigheid soek. Vandag is daar in Nigerië alleen ongeveer 130 000 Getuies wat die Koninkryksboodskap ywerig verkondig.

Jehovah se bevrydende Woord van waarheid doen ongetwyfeld wat hom behaag. Dit is voorspoedig in alles waartoe hy dit stuur (Jesaja 55:10, 11). Daardie selfde Woord verseker ons dat Jehovah, noudat so ’n groot oes ingesamel word, nog opgeleide herders sal verwek. (Vergelyk Jeremia 23:4.) Die Bestuursliggaam is ten volle bewus van die toenemende behoefte aan bekwame manne om na verantwoordelikhede in die veld en in die verskeie takkantore van die Genootskap om te sien. Stappe is gedoen om in hierdie behoefte te voorsien.

Die Bedieningsopleidingskool

Julle gegradueerdes van die 82ste Gileadklas, en almal wat by hierdie baie opbouende geleentheid teenwoordig is, sal bly wees om te weet dat ’n nuwe skool in die noordelike herfs van 1987 geopen gaan word. Hierdie Bedieningsopleidingskool, soos dit bekend sal staan, sal ’n deel van die Wagtoring-Bybelskool Gilead wees, en broers van party ander lande sal dit dus kan bywoon. Die eerste klas sal na verwagting omstreeks 1 Oktober vanjaar begin in die stad Pittsburgh, Pennsylvanië, VSA, die eerste sentrum van die Genootskap se vroeë ontwikkeling. Na afloop van die eerste klas, sal ander klasse by gereelde tussenpose in verskillende dele van die Verenigde State gehou word.

Diegene wat hulle laat inskryf, moet aan bepaalde Skriftuurlike vereistes voldoen. Ongetroude ouere manne en ongetroude bedieningsknegte wat goeie gesondheid geniet, sal aanvanklik opgelei word. As party pioniers is, is dit des te beter. Diegene wat na die skool genooi word, moet bereid wees om ná hulle opleiding te dien waar hulp ook al in die wêreldwye veld nodig is. Dit sal dieselfde gees as dié van Jesaja verg, wat hom gewillig aangebied en gesê het: “Hier is ek, stuur my” (Jesaja 6:8). Julle gegradueerdes van hierdie 82ste klas kan, saam met sendelinge wat reeds in meer as honderd lande dien, daarna uitsien dat ander opgeleide broers mettertyd skouer aan skouer saam met julle sal werk.

’n Splinternuwe leerplan is vir die Bedieningsopleidingskool voorberei. Die skool word gestig vir die opleiding van bekwame broers wat ’n mate van organisatoriese ondervinding as ouere manne of bedieningsknegte in die gemeente gehad het.

Vooruitgang is nodig

Na die Pinksterfeesdag in 33 G.J. het die Christengemeente die goeie nuus baie ywerig in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria en toe later tot aan die uiterste van die aarde verkondig (Handelinge 1:8). Omstreeks 60 G.J. het die apostel Paulus, wat die leiding geneem het in die predikingswerk onder die nasies, die volgende aan die Kolossense geskryf: “Julle het reeds van hierdie hoop gehoor deur die verkondiging van die waarheid van daardie goeie nuus wat julle bereik het, soos dit in die hele wêreld vrug dra en toeneem.” Toe het hy bygevoeg dat daardie medegelowiges ‘hulle nie moet laat afbring van die hoop van die evangelie, wat hulle gehoor het en wat in die hele skepping onder die hemel verkondig is nie’.—Kolossense 1:5, 6, 23, NW.

In ’n betreklik kort tyd het die vroeë Christene die goeie nuus wyd en syd verkondig. Jehovah het die vermeerdering gegee, en die dissipels het grootliks vermeerder. Nog bekwame manne was derhalwe nodig om in die gemeente te onderrig en die kudde te lei. Een van die jong opsieners aan wie sulke verantwoordelikheid opgedra is, was Timotheüs. Wat het die apostel Paulus Timotheüs aangespoor om te doen? Sy opleiding moes nie verslap nie: “As jy hierdie dinge aan die broeders voorhou, sal jy ’n goeie dienaar van Jesus Christus wees terwyl jy jouself voed met die woorde van die geloof en van die goeie leer waarvan jy ’n navolger geword het . . . Oefen jou [met godvrugtige toegewydheid as jou doel]” (1 Timotheüs 4:6-8, vgl, NW), Dit sou baie belangriker wees as om hom toe te lê op die een of ander persoonlike belangstelling of strewe, waaronder selfs liggaamlike oefening. Timotheüs moes aan homself en aan sy leer aandag gee om sy bediening te kon vervul.

Julle gegradueerdes van hierdie Gileadklas het opleiding vir julle sendingwerk ontvang. Julle het voortreflike geestelike gawes ontvang van opsieners wat bekwaam is om te onderrig. Nou wag daar nog ’n puik onderrigtingsprogram op bekwame manne wat reeds na sekere gemeenteverantwoordelikhede omsien. Hulle sal opgelei word met godvrugtige toegewydheid as hul doel, en dit sal hulle help om die regte perspektief te behou en hulle toerus om aandag te gee aan wat Paulus voorts aan Timotheüs geskryf het: “Laat niemand jou jonkheid verag nie, maar wees ’n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, . . . in geloof, in reinheid. . . . [Hou aan] met voorlesing, vermaning en lering. Wees vlytig in hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees.”—1 Timotheüs 4:12, 13, 15.

Soos Timotheüs moet die broers wat vandag gemeenteverantwoordelikhede het, met inbegrip van jonger manne, besef dat dit ’n gepaste en dringende tyd is om hulle vooruitgang te laat blyk. Sodoende sal hulle opregte bewys lewer dat hulle aan goddelike standaarde voldoen en dat hulle werklik na geestelike belange wil omsien en derhalwe bevoeg is om verdere diensvoorregte te ontvang.—Filippense 2:20, 21.

Met die oog op die behoefte wat in hierdie stadium van die vervulling van die goddelike voorneme bestaan, is dit ’n voorreg om deur Jehovah op enige plek in sy organisasie gebruik te word. Hoe dankbaar is ons tog dat hy, ons Groot Herder, en Jesus Christus, die Goeie Herder, hierdie nuwe, tydige organisatoriese voorsiening, die Bedieningsopleidingskool, voorsien het!

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel