Wees bly saam met Gilead se 82ste klas
“ONS is nie skynchristene nie. Ons is eenvoudig bly om hier te wees.” Op Sondag, 1 Maart, het die voorsitter met hierdie woorde ’n spesiale daglange vergadering in die Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies in die stad Jersey geopen. Buite het dit hard gereën. Binne het die gradeplegtigheid vir 24 studente van die 82ste klas van Gilead plaasgevind. Voorsitter Theodore Jaracz van die Bestuursliggaam het na die studente se stralende gesigte gekyk en gesê: “Dit is duidelik dat hulle gretig en vreugdevol oor hulle vooruitsigte is. Aangesien die Bybel sê: ‘Wees bly met die wat bly is’, is ek seker dat ons almal soos hulle voel!” Die applous ná hierdie woorde het getoon dat al 4 557 aanwesiges saamgestem het.
Die eerste spreker op die program was John Barr, ook ’n lid van die Bestuursliggaam. Hy het heelwat uit Psalm 104 aangehaal en getoon dat Jehovah nie net alles, lewend en nie-lewend, geskape het nie, maar ook ’n plek vir elke skepping geskep het. Hy het verder gesê: “Wanneer julle nou na julle toewysing gaan, moet julle dink: ‘Jehovah het my hier geplaas.’ Moet dit nooit vergeet nie.”
Die volgende spreker was ’n lid van die Watchtower Farms-komitee, John Stuefloten. Hy het die studente aan die volgende herinner: “Die spreuk sê: ‘Deel mee aan die wyse, en hy sal nog wyser word’” (Spreuke 9:9). Die studente het oor ’n tydperk van vyf maande ryk, geestelike voedsel ontvang. Hulle het ongetwyfeld by hierdie gradeplegtigheid geestelik versadig gevoel. “Maar”, het die spreker gesê, “julle het skaars begin!” Hy het die studente aangespoor om aan te hou groei in hulle wysheid en barmhartigheid sodat hulle ander beter kan help.—Spreuke 3:27.
George Gangas van die Bestuursliggaam het vervolgens met ’n paar goed gekose woorde oor geluk gepraat. Hy het die gegradueerdes daaraan herinner dat hulle die “gelukkige God” dien en het gesê: “Julle sal geluk smaak in julle buitelandse toewysings.” Waarom? “Omdat Jehovah julle uitstuur om mense uit gevangenskap te verlos.”
George Couch van die Bethelkomitee in Brooklyn het oor angs gepraat. Hy het erken dat die studente weet wat angs is. Die uitdagings van hul koms na Gilead, hul verblyf in die Brooklynse Bethel en die predikingswerk in die stad New York het alles ’n mate van angs veroorsaak. Nou is die studente besorg oor hulle sendingtoewysings. Maar redelike angs is nie ’n vyand nie. “Angs kan ons aanspoor om ons bes te lewer”, het hy verduidelik, en hy het die studente aangemoedig om op Jehovah te vertrou en hulle in hul toewysings in te span.
Skoolinstrukteur Jack Redford was die volgende spreker. Hy het teen ongegronde kritiek gewaarsku. Hy het Bybelse voorbeelde gemeld van haastige oordele wat later probleme veroorsaak het en het toe Jesus se woorde aangehaal: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie” (Mattheüs 7:1). Die 82ste klas verteenwoordig ’n God van liefde. Die studente word na hulle toewysings gestuur om simpatiek te wees, nie krities nie.
Gileadinstrukteur Ulysses Glass het die Bybelspreuk aangehaal: ‘Die wedloop is nie vir die vinniges en die oorlog nie vir die helde nie’ (Prediker 9:11). Die uiteinde van ’n saak hang nie altyd van ons natuurlike vermoëns af nie. In sendingwerk gaan dit in die meeste gevalle om geloof en gewilligheid om ’n uitdaging te aanvaar. Die spreker het die 82ste klas geprys vir hulle bestendigheid, betroubaarheid en beginselvastheid. Sulke eienskappe sal hulle goed te pas kom.
Die laaste spreker die oggend, die president van die Wagtoringgenootskap, Frederick Franz, het gesê dat die graduering van die 82ste klas die geloof geregverdig het van diegene wat die skool in die donker dae van die Tweede Wêreldoorlog begin het. Hy het die naam Gilead bespreek en het verduidelik dat dit ’n Bybelse woord is wat “Hoop getuienis” beteken. (Vergelyk Genesis 31:43-53.) Gileadsendelinge wat getrou in hulle toewysings bly, dien as ’n hoop getuienis. Hulle is ’n lewende getuienis van die waarheid.
Die studente het toe hulle diplomas ontvang, en die oggend is afgesluit met die voorlesing van ’n bedankingsbrief van die 82ste klas. Die studente het gemeld dat ‘die seën van Jehovah ’n mens ryk maak’. Met die oog daarop het hulle gesê: “Jehovah het ons laat voel soos die 24 rykste mense op aarde!”—Spreuke 10:22.
In die middag, ná ’n verkorte Wagtoring-studie, het die studente ’n genotvolle program gelewer. Dit is afgesluit met woorde van hartgrondige waardering aan hulle ouers, wie se onselfsugtigheid en ondersteuning hulle kinders in staat gestel het om weg te gaan en sendelinge te word.
Ná die studenteprogram is ’n tydige drama aangebied, en die voorsitter, Theodore Jaracz, het vervolgens ’n paar slotopmerkings gemaak. En wat ’n verrassing het die Genootskap tog vir daardie slot opsygesit! Die spreker het aangekondig dat die Genootskap binnekort ’n nuwe skool gaan open, die Bedieningsopleidingskool, om aanvanklik net ongetroude ouere manne en bedieningsknegte op te lei. Almal het aandagtig geluister toe die voorsitter een van die vereistes vir bywoning van die nuwe skool aangekondig het: gewilligheid “om te dien waar hulp ook al in die wêreldwye veld nodig is”.
Die nuus oor hierdie nuwe skool is met geesdriftige applous ontvang. (Die volgende artikel bevat meer besonderhede hieroor.) Die program is met ’n lied en dankgebed aan Jehovah afgesluit. Almal het toe in die bewolkte New Jersey-aand uitgegaan. Daar was nog tekens van reën, maar min mense het omgegee. Almal was steeds saam met die 82ste gegradueerde Gileadklas bly.
[Prent op bladsy 27]
Gegradueerdes van die 82ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead
In die lys hieronder word die rye van voor na agter genommer en word die name van links na regs aangegee.
(1) Gish, L.; Evans, E.; Dean, S.; Hanson, R.; Suomalainen, A.; DuBose, D.
(2) Wallenberg, P.; Wallenburg, M.; Bauer, O.; Suomalainen, H.; Taylor, B.; DiStefano, G.
(3) Scott, K.; Evans, M.; Taylor, A., Jr.; Lindby, J.; Hanson, C.; Holmkvist, M.
(4) Sampson, T.; Gish, T.; Ball, D.; DuBose, J.; Dean, T.; Scott, D.