Kom alle profesieë van God?
“GOD moet . . . voorgestel word as te groot en te universeel om Hom tot net een godsdiens, een weg of, trouens, net een volk te beperk.” So het ’n filosoof in The Guardian, ’n Nigeriese koerant, geskryf. Hy meen dat God die tradisionele godsdienste van Afrika juis vir die situasie in Afrika geopenbaar het en gee te kenne dat ander groot godsdienste in die lewe geroep is om by plaaslike omstandighede te pas.
Tradisionaliste beskou die Christelike godsdiens as ’n Europese godsdiens en tradisionele waarsêers as ware profete. ’n Brief aan die Nigeriese Daily Times het gesê: “Die almagtige God openbaar hom op verskillende tye aan verskillende volke . . . Die wyse manne van die wêreld sê dat die Opperwese Hom tans in Afrika openbaar.” Sommige verwag selfs dat ’n profeet soortgelyk aan Jesus en, volgens sommige, Mohammed, uit Afrika sal kom.
Hierdie beskouings laat vrae soos die volgende ontstaan: Kom alle profesieë van God? Het hy die verskillende godsdiensbegrippe wat die wêreld verdeel, geopenbaar? Het hy verskillende godsdiensvereistes vir verskillende rasse? Of is daar ware en valse profete, en ware en valse godsdienste? Wat is ware profesie werklik, en wat is die doel daarvan?
Wat is profesie?
Webster’s Ninth New Collegiate Dictionary definieer profesie as “die geïnspireerde verklaring van goddelike wil en voorneme 2: die geïnspireerde mededeling van ’n profeet 3: ’n voorspelling van iets toekomstigs”. Hierdie definisies toon dat profesieë verskeie bronne kan hê.
In sy verdediging van tradisionele godsdienste praat ’n universiteitsprofessor in die godsdienswetenskap, E. Bolaji Idowu, van “die veelsydige begrip van God in Afrika”. Sy boek African Traditional Religion verduidelik dat “die klem en aard [van hierdie begrip] gewoonlik aan die sosiologiese struktuur en klimaat ontleen word”. Hy sê byvoorbeeld dat “hoewel God in die grootste deel van Afrika as manlik beskou word daar wel plekke is [veral in matriargale gemeenskappe] waar hy as vroulik beskou word”. Kan sulke plaaslike en teenstrydige idees deur God geïnspireer wees? Professor Idowu erken dat “daar niks is wat . . . enige . . . ras in Afrika daarvan weerhou om sy eie begrip van God te ontwikkel nie”. Dit toon dat sulke godsdiensbegrippe uit mense-idees en -waarneming in plaas van uit goddelike openbaring voortspruit.—Vergelyk Romeine 1:19-23.
Tradisionele waarsêers en orakels openbaar nie die ware God se persoonlikheid of sy wil en voorneme nie. Hulle gaan in op die taboes en ritusse wat deur verskeie plaaslike “gode” vereis word. Hulle voorspellings berus op mistiese kennis en waarsêery. Daarom is sulke profesieë nie geïnspireerde verklarings van die goddelike wil nie. Die almagtige God wat ware profesie inspireer, is nie die bron daarvan nie.—2 Petrus 1:20, 21; Deuteronomium 13:1-5; 18:20-22.
Wat is dan die bron van sulke voorspellings? Lees asseblief die volgende artikel vir die antwoord op hierdie vraag en die ander vrae wat vroeër in hierdie bespreking geopper is.