Maak dit saak hoe jy aanbid?
DIE klein Afrika-dorpie bak in die middagson. Vanuit ’n nabygeleë vallei kan ’n wilde getrommel, gesing en vreugdevolle handegeklap gehoor word. Maar dit is geensins ’n sosiale geleentheid nie. Dit is tradisionele aanbidding in Afrika. Hierdie klanke ding egter mee met die kakofonie van stemme wat van ’n nabygeleë charismatiese kerk af kom. Daar doen ekstatiese aanbidders wonderdadige “genesings” en praat hulle in tale. Aan die ander kant van die dorp is daar weer ’n ander soort aanbidding. Die helder stem van ’n muezzin roep mede-Moslemaanbidders op tot gebed.
Ja, ’n groot verskeidenheid godsdienste kan in baie Afrika-stede en -dorpe gesien word. Afrikane was geslagte lank tevrede om hulle eie godsdienstradisies te volg. Maar toe het die Christendom se sendelinge, ná die leërs van verskillende Europese nasies, gekom en genadeloos probeer om almal—en selfs hulle name—te “verchristelik”.
Wat was die gevolg? ’n Soort godsdiens wat tradisionele godsdiensopvattings en -gebruike uit Afrika met ingevoerde godsdienste vermeng het. Tot vandag toe gebruik baie “Christen”-aanbidders tradisionele gelukbringers en amulette. Die feit bly egter staan dat die Christendom se sendelinge ’n uiters verwronge beeld van die ware Christelike godsdiens geskep het, en hulle het ’n erfenis van verbittering agtergelaat. Hulle is grotendeels daarvoor verantwoordelik dat party Afrikane vandag so bevooroordeeld teenoor die Bybel is.
Talle vorme van die “Christelike godsdiens” word nietemin deur baie beoefen. In onlangse jare het charismatiese godsdiensgroepe veral gewild geword; kerke wat geloofsgenesing doen, het oral hulle verskyning gemaak. Een koerantrubriekskryfster het die aantrekkingskrag van hierdie kerke beskryf deur te sê dat ‘Afrikane se konsep van godsdiens hoofsaaklik utilitêr van aard is. In die Afrikaan se oë moet godsdiens direkte materiële bevrediging aan die menslike bestaan kan verskaf. Met ander woorde, vir die Afrikaan wat glo dat geestelike media in feitlik alle situasies noodsaaklik is, voldoen die manier waarop geestelike kerke [oftewel kerke wat geloofsgenesing doen] te werk gaan aan die vereistes van sy lewenswyse.’ Maar ongelukkig is baie charismatiese kerke klaarblyklik net gestig om geld te maak.
Vandag is daar meer as 6 000 godsdienssektes wat in Afrika bedrywig is. Dalk het jy al gevoel dat al hierdie godsdienste en sektes die sleutel tot redding het. Maar die eintlike vraag is: Hoe voel God daaroor?
Is alle godsdienste vir God aanvaarbaar?
Die Skepper van die heelal sou ons tog sekerlik nie sonder riglyne in hierdie verband gelaat het nie (Amos 3:7; Handelinge 17:26, 27). En daar is oorweldigende bewyse dat Goddelike riglyne in die Bybel te vinde is. Nee, die Bybel is nie, soos sommige dit noem, die wit man se boek nie. Om die waarheid te sê, geen mens—swart of wit—kan hom die eer daarvoor toe-eien nie. “Die hele Skrif is deur God ingegee”, sê 2 Timotheüs 3:16. Die Bybel se betroubare, praktiese leringe, sy eeue-oue bestaan, sy behoud ten spyte van bose aanvalle, sy akkurate profesieë en sy ongeëwenaarde wêreldwye verspreiding—dit is alles duidelike bewyse van sy Goddelike outeurskap.
Wat leer daardie boek ons? Om maar een ding te noem, dit vertel ons dat daar net een “waaragtige God” is (Johannes 17:3). Aangesien dit die geval is, hoe kan daar dan waarheid in alle godsdienste wees? Verskil godsdiensgroepe nie met mekaar selfs wat die identiteit en die wese van God betref nie? Die Bybelskrywer Jakobus het gepraat van “reine en ware godsdiens” (Jakobus 1:27, Today’s English Version). As dit nodig is om ware godsdiens te identifiseer, dan moet daar ook verkeerde of valse godsdiens wees. Dit is in stryd met die idee dat alle godsdienste net verskillende maniere is om tot God te nader.
Die Skepper se standaarde vir aanbidding
Wat is die regte manier om God te aanbid? Die Bybel leer ons dat ware aanbidding op juiste kennis gegrond is. Die groot profeet Jesus Christus het eenkeer vir ’n Samaritaanse vrou gesê: “Julle aanbid wat julle nie weet nie” (Johannes 4:22). Is dit dalk met jou ook die geval? Is jy geleer dat die almagtige God ’n persoonlike naam, Jehovah, het? (Psalm 83:18, NW). Weet jy wat sy voornemens met die mens en die aarde is? (Mattheüs 6:9, 10; Efesiërs 1:9, 10; 3:11). Bied jou godsdiens jou ’n realistiese hoop op ’n beter toekoms? En kan jy, as jy jou as ’n Christen beskou, jou oortuiging uit die Skrif verduidelik, of is dit bloot iets wat jy oorgeërf het en nog nooit eintlik ondersoek het nie?
As jy nog nie juiste kennis opgedoen het nie, kan jy dit verkry deur ’n studie van God se Woord, die Bybel, te maak. Jehovah God verwag van sy ware aanbidders om vertroud te wees met wat daardie Heilige Boek leer. Wat meer is, hy verwag dat hulle dit in hulle lewe sal toepas. Ons gesindheid moet soos dié van die psalmis wees, wat gesê het: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad” (Psalm 119:105). In watter mate het jou godsdiens jou gehelp om die Bybel te ken en te verstaan?
Nog ’n belangrike aspek van ware aanbidding is geloof in Jesus Christus, nie net as ’n groot profeet nie maar as God se eniggebore Seun. Die Skrif toon duidelik dat Jesus “die Leidsman tot die lewe” is (Handelinge 3:15; 4:12). Baie sê dat hulle geloof in Jesus het, maar die vraag is: Hoe eg is hulle geloof? Ware geloof in Christus vereis dat ons sy bevele gehoorsaam. God self het ons aangespoor om dit te doen toe hy gesê het: “Dit is my geliefde Seun, luister na Hom!” (Markus 9:7). Ware aanbidders streef derhalwe daarna om Jesus se voetstappe so noukeurig as moontlik na te volg (1 Petrus 2:21, vgl. NW). Een manier waarop hulle dit doen, is om aan die openbare predikingswerk deel te neem wat hy van stapel gestuur het (Mattheüs 4:17; 10:5-7). Spoor jou godsdiens jou aan om persoonlik aan hierdie werk deel te neem?
Liefde is ook ’n vereiste van ware aanbidding. Jehovah God word beskryf as die verpersoonliking van liefde, en Jesus het vir sy volgelinge gesê dat hulle uitgeken sou word aan die liefde wat hulle teenoor mekaar betoon (Johannes 13:34, 35; 1 Johannes 4:8). Moet die wêreld dan nie feitlik deurtrek wees van liefde as ’n mens in ag neem dat daar vandag etlike miljoene mense is wat beweer dat hulle Christene is nie? Maar in werklikheid is ons wêreld uiters liefdeloos. Oorloë het gedurende hierdie eeu alleen miljoene lewens geëis. Misdaad en geweld bly toeneem. Vra jou dus af: ‘Sou die wêreld ’n liefdevoller plek gewees het as almal aan my godsdiens behoort het?’
Laastens toon die Bybel dat ware aanbidders afgeskeie moet bly van die wêreld wat God nie ken nie. Toe God die eertydse nasie Israel as die bewaarder van ware aanbidding afgeskei het, het hy sy volk gewaarsku teen noue omgang met die verdorwe nasies om hulle (Deuteronomium 7:1-6). In Johannes 17:16 het Christus Jesus eweneens aangaande sy volgelinge gesê: “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.” Ware aanbidders van God het niks te doen met die politiek, die onsedelikheid, die hebsugtige kommersialisme of enige godonterende filosofieë nie (Johannes 18:36; 1 Johannes 2:15-17). Hulle gehoorsaam die bevel in Romeine 12:2: “Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie.” Is dit wat jou godsdiens jou aanspoor om te doen?
Hulp is beskikbaar
Ja, die manier waarop jy aanbid, maak werklik vir God saak. Wat hom betref, is daar net een ware godsdiens (Efesiërs 4:4-6). Ons kort bespreking het ’n paar van die belangrike Bybelleringe aangeroer. Waarom stel jy jou dit nie ten doel om meer te wete te kom nie?
Ongeag wat jou godsdiensagtergrond is, Jehovah se Getuies kan jou in hierdie verband help. Hulle is wêreldwyd bekend vir hulle intensiewe Bybelonderrigtingswerk. Hulle is daartoe verbind om mense van alle rasse en godsdiensagtergronde te help om ’n dieper begrip van die Bybel te verkry (Spreuke 2:1-6). Hulle publiseer deeglik nagevorste Bybellektuur.a Trouens, hulle sal selfs kosteloos na jou huis toe kom om jou persoonlik uit die Bybel te leer. Miljoene mense regoor die wêreld vind tans by hierdie Bybelonderrigtingsprogram baat. Waarom oorweeg jy dit nie om dit ook te doen nie? Trouens, dit is noodsaaklik dat jy dit doen, want dit maak werklik saak hoe jy aanbid.
[Voetnoot]
a Een van hierdie publikasies is Die mensdom se soeke na God, wat in 1990 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee is. Baie mense het baat gevind by die intelligente en vakkundige bespreking van die wêreld se vernaamste godsdienste.
[Prent op bladsy 5]
Die Christendom se sendelinge het ’n uiters verwronge beeld van die ware Christelike godsdiens geskep
[Prent op bladsy 5]
Talle charismatiese kerke is net daarop uit om geld te maak
[Prent op bladsy 6]
Geloof in Jesus is ’n noodsaaklike deel van ware aanbidding
[Prent op bladsy 7]
Jehovah se Getuies help miljoene deur middel van gratis tuisbybelstudies om juiste kennis op te doen