Onthou jy?
Het jy sorgvuldig aandag gegee aan onlangse nommers van Die Wagtoring? Dan sal jy waarskynlik die volgende onthou:
◻ Waarom moet ’n Christen nie Kersfees vier nie?
Een rede is dat Kersfees sy oorsprong in die heidense SaturnaIieë, die Romeinse fees ter ere van die landbougod Saturnus, het. God se Woord sê: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie” (2 Korinthiërs 6:14-17). ’n Christen kan nie van ongelowiges afgesonder wees as hy steeds ’n fees met ’n heidense oorsprong vier nie.—15/12, bladsy 6.
◻ Wat is die Christelike Jubilee?
Dit is ’n bevryding wat in verband staan met “die waarheid” wat mense kan vrymaak van “die wet van die sonde en die dood”. Jesus Christus, “die Seun”, is die middelpunt van hierdie waarheid (Johannes 8:31-36; Romeine 8:1, 2, 21).—1/1, bladsy 21.
◻ Wanneer word die Christelike Jubilee gevier?
Op Pinkster 33 G.J, het diegene wat tot hemelse lewe geroep is die Christelike Jubilee begin vier. Die gelowige mensdom wat ewige lewe op die aarde sal geniet, sal gedurende die Millennium ’n grootse Christelike Jubilee ondervind wanneer alle spore van erfsonde en onvolmaaktheid uitgewis sal wees.—1/1, bladsye 21, 22, 27.
◻ Waarom het Jehovah se Getuies nie skole vir kinders in Asië en elders nie?
In die lig van wat die Bybel sê, moet Jehovah se Getuies hoofsaaklik besig wees met hulle opdrag om die lewensbelangrike boodskap oor God se Koninkryk te verkondig (Mattheüs 24:14; 28:19). Hulle is nie onbewus van menselyding en ongeregtighede in die huidige stelsel nie, en hulle help wanneer hulle kan. Nogtans besef hulle dat die ware oplossing nie by mense lê nie, maar in die verlossing wat God se Koninkryk binnekort sal bring (Psalm 146:3-10).—15/1, bladsy 7.
◻ Watter fasette van geloof word deur die voorbeelde van Abel, Henog, Noag, Abraham en Moses na vore gebring?
Geloof soos dié van Abel vergroot ons waardering vir Jesus se offer. Ware geloof help ons om moedig te wees, soos Henog. Soos in die geval van Noag beweeg geloof ons om God se instruksies uit te voer. Abraham se geloof bring die nodigheid by ons tuis om God te gehoorsaam en op sy beloftes te vertrou. Ons moet onsself vlekkeloos van die wêreld bewaar en lojaal by God se volk staan, soos Moses se voorbeeld toon.—15/1, bladsy 20.
◻ Hoe kan weetgierigheid òf ’n seën òf ’n vloek wees?
Gesonde weetgierigheid oor ons Skepper, sy wil en sy voornemens kan uiters bevredigend en voordelig wees en vreugde en verkwikking in ons lewens verskaf. Daarenteen kan onbeheerste nuuskierigheid ons in ’n moeras van bespiegeling en menseteorieë inlok en ware geloof en godvrugtige toewyding ondermyn.—1/2, bladsy 29.
◻ Wat het Jesus bedoel toe hy gebid het: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan”? (Mattheüs 26:39).
Jesus was besorg oor die aantyging van laster wat hy besef het na hom geslinger sou word. Dit was die ergste misdaad waaraan ’n Jood hom skuldig kon maak. Dit kon derhalwe lyk asof sy dood onder daardie omstandighede sy hemelse Vader oneer sou aandoen.—15/2, bladsy 13.
◻ Wat is die verstandige weg om in te slaan as ’n mens lyding of beproewing moet verduur?
Die beste is om geduldig te wees, hoopvol op God te wag vir verligting en nader aan Hom te kom. Dit sal dit vir jou makliker maak om ander soortgelyke ondervindinge in die lewe te beleef sonder om hoop te laat vaar (Klaagliedere 3:25-31).—15/2, bladsy 24.
◻ Wie is “die twaalf stamme van Israel” waarvan Jesus in Lukas 22:28-30 praat?
Hulle verteenwoordig al die nasies van die mensdom wat deur Christus en sy 144 000 onderpriesters geoordeel sal word in verband met ’n herlewing van alles wat Jehovah hom voorgeneem het vir hierdie aarde (Mattheüs 19:28).—1/3, bladsy 28.
◻ Wat word bedoel met goddelike vrede, en hoe kan dit verkry word?
Goddelike vrede is ’n kalmte van verstand en hart, ’n innerlike rustigheid, ongeag wat gebeur (Psalm 4:9, NW). Dit kan slegs spruit uit ’n goedgekeurde verhouding met God, wat moontlik gemaak word deur die losprysofferande van Christus Jesus (Kolossense 1:19, 20).—15/3, bladsye 11, 14, 15.
◻ Watter hulpe het ons vandag om God intiem te leer ken?
Ons het die Bybel sowel as die perspektief van eeue se vervulling van Bybelprofesieë. Ons het ook die Evangelieverslae oor Jesus Christus se lewe, werke en woorde, van wie Paulus geskryf het: “In hom [Christus] woon die hele volheid van die goddelike hoedanigheid liggaamlik” (Kolossense 2:9, NW).—1/4, bladsy 6.