Vrae van lesers
◼ Mag iemand wat sy lewe aan Jehovah God toewy tereg daarvan praat as ’n gelofte?
Mense wat die ware God liefkry en besluit om hom heelhartig te dien, moet hulle lewe aan Jehovah toewy en dan gedoop word, Hoewel die Bybel nie die woord “gelofte” in verband met Christentoewyding gebruik nie, lyk dit nie asof daar enige beswaar daarteen is nie,
Aid to Bible Understanding verduidelik dat ’n gelofte volgens die Skrif “’n plegtige belofte is om die een of ander daad te verrig, die een of ander offer of gawe te bring, of om die een of ander diens of toestand te betree; ’n plegtige verklaring, hetsy positief of negatief”. Sommige geloftes in die Bybelverslag behels ’n verbintenis aan ’n bepaalde handelwyse mits God eers iets gedoen het. Numeri 21:2 vertel byvoorbeeld: “Daarop het Israel aan die HERE ’n gelofte gedoen en gesê: As U hierdie volk heeltemal in my hand gee, sal ek hulle stede met die banvloek tref” (Genesis 28:20-22; Rigters 11:30-39). ’n Christen se toewyding van sy lewe aan God is beslis nie so ’n voorwaardelike gelofte nie. Hy sê nie, as ’t ware: ‘Jehovah, as u my nou gelukkig en voorspoedig maak en my die ewige lewe in die nuwe stelsel waarborg, belowe ek om u my hele lewe lank te dien’ nie,
Die Bybel dui aan dat sommige geloftes nie op versoek gedoen is nie. Wilson’s Old Testament Word Studies sê van die betrokke Hebreeuse woord: “[na·daŕ] om ’n gelofte te doen, d.i. om vrywillig te beloof om iets te gee of te doen; die hoofgedagte is opsysetting”. ’n Mens lê gevolglik vrywillig ’n gelofte aan God af. Kan ons dus redeneer dat om ’n toegewyde, gedoopte dissipel van Jesus te word nie ’n gelofte is nie, want God vereis nou toewyding van almal wat Sy goedkeuring wil hê?a
Die feit dat Jehovah sekere vereistes het vir diegene wat sy vriende wil wees, beteken egter nie dat geen persoonlike keuse by die saak betrokke is nie. Moses het aan die Israeliete gesê: “Die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag.” (Deuteronomium 30:19, 20; Psalm 15:1-5; vergelyk Josua 24:15; 1 Konings 18:21.) Dink terug aan Jesus se woorde: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele” (Mattheüs 11:28, 29). Is dit ’n arbitrêre vereiste? Of is dit ’n uitnodiging wat vir ’n vrywillige reaksie toelaat?
Jesus is in ’n nasie gebore wat aan God toegewy was; baie aspekte van sy lewe en dood is deur profesie vooraf bepaal; en God het vir Jesus ’n liggaam berei wat geoffer moes word. Maar tog word Christus se vrywillige besluit om hom vir spesiale diens aan te bied weerspieël in sy woorde: “Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom—in die boekrol is dit van My geskrywe—om u wil te doen, o God” (Hebreërs 10:5-10), Op soortgelyke wyse moet elkeen persoonlik besluit om ’n toegewyde, gedoopte Christen te word,
Christene besef boonop vandag dat die gebruik van ’n woord soos “gelofte” nie net tot sy Bybelse betekenis beperk word nie. Jehovah se Getuies gebruik reeds geruime tyd “huweliksgeloftes” in huwelike wat in hulle Koninkryksale voltrek word.b Dit is in ooreenstemming met die algemene betekenis van “gelofte”, soos in hierdie definisie: “Plegtige belofte, onderneming, veral teenoor God.”—Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, 1985, bladsy 260.
Dit is dus blykbaar nie nodig om die gebruik van die woord “gelofte” te beperk nie. Iemand wat besluit om God te dien meen dalk dat sy onvoorwaardelike toewyding vir hom op ’n persoonlike gelofte—’n toewydingsgelofte—neerkom. Hy ‘beloof plegtig of onderneem om iets te doen’, en dit is wat ’n gelofte is. In hierdie geval is dit om sy lewe te gebruik om Jehovah te dien en Sy wil getrou na te kom. Dit moet vir daardie persoon ’n saak van erns wees. Dit moet wees soos in die geval van die psalmis, wat met verwysing na sy geloftes gesê het: “Wat sal ek die HERE vergeld vir al sy weldade aan my? Ek sal die beker van verlossinge opneem en die Naam van die HERE aanroep. My geloftes sal ek aan die HERE betaal.”—Psalm 116:12-14; kyk ook Psalm 50:14.
[Voetnote]
a Dit was die standpunt wat deur The Watchtower van 1 Oktober 1973, bladsy 607, ingeneem is.
b Gedurende ’n trouplegtigheid lê die bruid en bruidegom ’n gelofte aan mekaar af, maar hulle doen dit ook voor getuies en God se aangesig.