“Skatte deur ’n valse tong is ’n verwaaide asem”
DEESDAE word leuens en bedrog dikwels as geoorloofde—en besonder geslaagde—saketaktiek beskou. Dit was die geval in Bybeltye. Die psalmis Asaf het geskryf van diegene wat ‘die rykdom vermeerder’, klaarblyklik deur middel van knoeiery. Dit kan lyk of sulke persone “altyd onbesorg” is vanweë die rykdom wat hulle valsheid hulle besorg het.—Psalm 73:8, 12.
Christene moet vandag egter nie ‘vuil gewin liefhê’ nie en nie van verdagte of oneerlike sakesette gebruik maak nie (1 Petrus 5:2). Spreuke 21:6 waarsku: “Die verwerwing van skatte deur ’n valse tong is ’n verwaaide asem—dodelike valstrikke [“in die geval van diegene wat die dood soek”, NW].” Ja, enige “skatte” wat deur leuens en bedrog verkry word, sal stellig net so tydelik wees soos ’n “asem”, net so kortstondig soos ’n damp. “Skatte deur goddeloosheid verwerf, bring [op die lange duur] geen voordeel nie” (Spreuke 10:2). Die leuenaar “soek” in werklikheid “die dood” deur ’n dodelike weg te bewandel. Sy lewe kan ontydig beëindig word wanneer sy valse sette op hom terugslaan. (Vergelyk Ester 7:10.) Of sy lewe sal op die laatste op God se oordeelsdag uitgedoof word.