Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 7/15 bl. 26-27
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah maak dit vir jou moontlik om vry te wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
  • Jehovah se Jubilee—’n tyd om ons te verheug
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Die Christelike Jubilee bereik sy hoogtepunt in die Millennium
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 7/15 bl. 26-27

Vrae van lesers

Wat word voorafgeskadu deur die reëling van die Jubeljaar wat in die 25ste hoofstuk van Levitikus gemeld word?

Die Mosaïese Wet het bepaal dat daar “in die sewende jaar . . . ’n sabbat van volkome rus vir die land [moet] wees”. Aangaande daardie jaar is die Israeliete beveel: “Jou land mag jy nie besaai nie en jou wingerd mag jy nie snoei nie. Wat van jou oes opslaan van korrels wat geval het, mag jy nie afoes nie, en die druiwe van jou ongesnoeide wingerdstok mag jy nie insamel nie. Daar moet ’n jaar van volkome rus vir die land wees” (Levitikus 25:4, 5). Elke sewende jaar moes dus ’n Sabbatsjaar vir die land wees. En elke 50ste jaar, die jaar ná die sewende Sabbatsjaar, moes ’n Jubeljaar wees. Wat moes in daardie jaar gebeur?

Jehovah het deur Moses vir Israel gesê: “Julle moet die vyftigste jaar heilig en vrylating in die land uitroep vir al sy inwoners. Dit moet vir julle ’n Jubeljaar word, en elkeen van julle moet na sy besitting terugkeer en elkeen van julle moet na sy familie terugkeer. ’n Jubeljaar moet daardie vyftigste jaar vir julle word. Julle mag nie saad saai nie, en ook nie oes wat in die land opslaan van korrels wat geval het nie, en ook nie die druiwe van sy ongesnoeide wingerdstokke insamel nie” (Levitikus 25:10, 11). ’n Jubeljaar het vir die land ’n tweede opeenvolgende Sabbatsjaar beteken. Maar vir die inwoners daarvan het dit vrylating gebring. Enige Jode wat as slawe verkoop is, moes vrygelaat word. Die erfgrond wat iemand dalk verplig was om te verkoop, moes aan sy familie terugbesorg word. Die Jubeljaar moes ’n jaar van herstel en vrylating vir eertydse Israel wees. Wat beeld dit vir Christene af?

Die opstand van die eerste man, Adam, het die mensdom in slawerny aan sonde verkoop. God se voorsiening om die mensdom uit die greep van sonde te bevry, is die losprysoffer van Jesus Christus (Matteus 20:28; Johannes 3:16; 1 Johannes 2:1, 2).a Wanneer word Christene vrygemaak van die wet van sonde? Die apostel Paulus het aan gesalfde Christene gesê: “Die wet van daardie gees wat lewe in eenheid met Christus Jesus gee, het jou vrygemaak van die wet van die sonde en van die dood” (Romeine 8:2). Diegene met die hoop op hemelse lewe ontvang hierdie vryheid wanneer hulle met die heilige gees gesalf word. Hoewel hulle liggame vleeslik en onvolmaak is, verklaar God hulle regverdig en neem hy hulle aan as sy geestelike kinders (Romeine 3:24; 8:16, 17). Vir die gesalfdes as ’n groep het die Christelike Jubeljaar op Pinkster 33 G.J. begin.

Wat van die “ander skape”, wat die vooruitsig het om vir ewig op die aarde te lewe? (Johannes 10:16). Vir die ander skape sal die Duisendjarige Heerskappy van Christus ’n tyd van herstel en vrylating wees. Gedurende hierdie Duisendjarige Jubileum sal Jesus die voordele van sy losprysoffer ten behoewe van die gelowige mensdom aanwend en die gevolge van sonde ongedaan maak (Openbaring 21:3, 4). Teen die einde van Christus se Duisendjarige Heerskappy sal die mensdom menslike volmaaktheid bereik en geheel en al vry wees van oorgeërfde sonde en die dood (Romeine 8:21). Dit sal die einde van die Christelike Jubeljaar beteken.

[Voetnoot]

a Trouens, Jesus is gestuur “om uit te roep dat dié wat gevange geneem is, vrygelaat sal word” (Jesaja 61:1-7; Lukas 4:16-21). Hy het ’n geestelike vrylating aangekondig.

[Prent op bladsy 26]

Die Duisendjarige Jubileum—’n tyd van herstel en vrylating vir die “ander skape”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel