Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 3/15 bl. 24-25
  • Gelukkige God, gelukkige volk!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gelukkige God, gelukkige volk!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah die Verlosser
  • ‘Bedevaartsliedere’
  • Die lofwaardige God
  • Loof Jah!
  • Bybelboek nommer 19—Psalms
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Glanspunte uit die Vyfde Boek van Psalms
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Geïnspireerde liedere wat vertroos en onderrig
    Die Bybel—Wat is die boodskap daarin?
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 3/15 bl. 24-25

Bybelglanspunte Psalm 107 tot 150

Gelukkige God, gelukkige volk!

Geluk is ’n doelwit wat die meeste mense nooit bereik nie. Vir ’n klein groepie ander is geluk egter ’n lewenswyse. Wat is hulle sleutel daartoe? Ware aanbidding! Die Psalms oortuig ons dat Jehovah ’n gelukkige God is, en daarom kan ons gelukkig wees as ons hom aanbid. Vir bewys hiervan kan ons na die Vyfde Boek van die Psalms, dit wil sê, Psalm 107 tot 150, kyk.

Jehovah die Verlosser

Lees asseblief Psalm 107 tot 119. Die gebed van die Jode om verlossing uit Babiloniëse gevangenskap word verhoor, en “die verlostes van die HERE” vier die terugkeer met liedere (Psalm 107). Toe Dawid vroeër verlos is, het hy ‘psalmgesing’ voor God en Sy goedheid en liefde verkondig (Psalm 108, 109). Dit sou met Jehovah se krag wees dat Dawid se Here, naamlik Jesus Christus, God se vyande sou onderwerp (Psalm 110). Jehovah het nie net Sy volk gered nie, maar hy seën die opregte wat Hom vrees (Psalm 111, 112). Na hulle verlossing uit Babilon het die Jode die Hallel-psalms, of lofliedere, by die groot jaarlikse feeste gesing (Psalm 113–118). Die 119de Psalm is die langste, en in net 2 van sy 176 verse word daar nie van die woord of wet van God gepraat nie.

◆ 107:27—Hoe is ‘hulle wysheid verwar’?

Net soos matrose wat deur ’n vernietigende storm oorval is, was die Jode se wysheid tevergeefs gedurende hulle gevangenskap in BabiIon; alle mensemetodes om hulle te verlos, het misluk. Maar deur hulle te midde van hierdie stormagtige situasie tot Jehovah te wend, is hulle verlos. Hy het die simboliese storm laat bedaar en hulle na ’n veilige “hawe”—die land Juda—gelei.—Psalm 107:30.

◆ 110:3 (NW)—Wat is die betekenis van die uitdrukking “jong manne net soos doudruppels”?

Dou word geassosieer met seën, vrugbaarheid en oorvloed (Genesis 27:28). Doudruppels is ook sag, verkwikkend, leweonderhoudend en talryk. Op die dag van die Messiaanse Koning se krygsmag bied sy onderdane hulle vinnig, blymoedig en in sulke groot getalle aan dat hulle met doudruppels vergelyk kan word. Net soos verkwikkende doudruppels dien talle jong manne en vroue God en hulle mede-aanbidders vandag dwarsdeur Jehovah se organisasie.

◆ 116:3—Wat is die “bande van die dood”?

Dit het gelyk asof die dood die psalmis so styf vasgebind het met onbreekbare bande dat dit onmoontlik was om weg te kom. Bande wat styf om ledemate vasgebind is, veroorsaak skerp pyn, of smarte, en die Griekse Septuaginta-vertaling gee die Hebreeuse woord vir “bande” met “smarte” weer. Toe Jesus Christus gesterf het, was hy gevolglik in die verlammende greep, of smarte, van die dood. Toe Jehovah Jesus opgewek het, het Hy dus “die smarte van die dood ontbind”.—Handelinge 2:24.

◆ 119:83—In watter sin was die psalmis “soos ’n leersak”?

Terwyl die psalmis op Jehovah gewag het om hom te vertroos, het hy soos ’n leersak geword wat opgehang is terwyl dit nie gebruik word nie. As gevolg van die rook in ’n tent of ’n huis sonder ’n skoorsteen sou hierdie soort sak geleidelik donker word, uitdroog en verskrompel. Dit is in werklikheid wat met die psalmis gebeur het deur die toedoen van vervolgers (Vers 84). Sy benoudheid het waarskynlik geblyk uit sy somber gelaat en verrimpelde gesig, en sy hele liggaam is dalk so geaffekteer dat dit van sy vog verloor het. (Vergelyk Psalm 32:4.) Hy het dus moontlik so nutteloos soos ’n verdorde leersak gevoel wat ander opsy gegooi het as iets wat ongeskik is om vloeistof te hou. Hy het nogtans nie ‘God se insettinge vergeet nie’.

◆ 119:119—Hoe ruim God die goddeloses weg “soos skuim”?

Die skuim wat op gesmelte metaal of in die smeltoond vorm, is ’n nuttelose afvalproduk, iets onsuiwers wat weggegooi word. ’n Smelter skei dus metaal soos goud of silwer van die “skuim”. Jehovah beskou eweneens die goddeloses slegs geskik vir die slakhoop en ruim hulle weg deur huIle te skei van waardevolle mense wat sy guns wegdra.—Vergelyk Esegiël 22:17-22.

Les vir ons: Net soos die Jode van die ou tyd wag Jehovah se Getuies vandag op verlossing—hierdie keer deur die Armageddonstorm (Openbaring 16:14, 16). Op God se vasgestelde tyd sal hierdie stelsel deur hierdie groot oorlog weggevee word. Diegene wat nie op Jehovah staatmaak vir verlossing nie, sal heeltemal hulpeloos wees terwyl hulle deur die golwe van hierdie groot vernietiging rondgeslinger word. Die oorlewendes sal egter “die HERE loof om sy goedertierenheid”. In hierdie laaste dae kan Jesus se gesalfde volgelinge sowel as die “groot menigte” gevolglik hulle volle vertroue in Jehovah stel.—Psalm 107:31; Openbaring 7:9.

‘Bedevaartsliedere’

Lees Psalm 120 tot 134. Hierdie 15 psalms word bedevaartsliedere of “opgangsliedere” (NW) genoem. Geleerdes stem nie saam oor die presiese betekenis van ‘opgange’ nie, maar hierdie psalms is moontlik deur die Israeliete gesing terwyl hulle na die verhewe stad Jerusalem opgegaan het vir hulle drie jaarlikse feeste.—Psalm 122:1.

◆ 120:4—Wat was hierdie “skerp pyle” en “gloeiende kole”?

’n Lasterlike tong kan net so verwoestend wees soos ’n wapen of ’n brand (Spreuke 12:18; Jakobus 3:6). Ter vergelding sorg Jehovah dat die lasterlike tong die swye opgelê word deur ’n kryger se pyle. Dit is interessant dat kole van die besembos baie warm is, en dit dui die intensiteit aan van die goddelike oordeel aan “die bedrieglike tong”.—Psalm 120:2, 3.

◆ 131:2—Hoe word die siel soos “’n gespeende kind”?

Voordat ’n baba gespeen is, smag hy na sy moeder sodat sy begeerte na voedsel bevredig kan word. En ’n gespeende kind vind bevrediging, veiligheid en troos in sy moeder se arms. Omdat die psalmis tevrede was om ’n nederige weg te bewandel (vers 1), het dit vir hom gevoel asof hy “tot bedaring gebring en stilgemaak” is soos ’n gespeende kind in sy moeder se arms. As ’n mens nederig op Jehovah wag en sy wil doen, het dit veiligheid en ryke seëninge tot gevolg.

Les vir ons: Hoewel Jehovah sy volk uit onheil kan red, beskerm hy hulle nie teen alle teenspoed nie. Trouens, dit was teenspoed wat die digters hierdie psalms laat skryf het. God sal egter nie “toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie”, maar hy sal “ook die uitkoms gee” (1 Korinthiërs 10:13). Jehovah beskerm ons wel teen geestelike ondergang. Hy kan sake so bestier dat die onheil self nie meer bestaan nie of hy kan ons versterk sodat ons die druk kan weerstaan. Te dien einde is die eenheid wat ons by ons Christenvergaderinge geniet kalmerend en nuttig.—Psalm 133:1-3.

Die lofwaardige God

Lees Psalm 135 tot 145. In teenstelling met afgode wie se makers net soos hulle word, is Jehovah die lofwaardige God en Verlosser (Psalm 135, 136). Selfs terwyl sy volk in Babilon was, het hulle nie die ‘Sionsliedere’ vergeet nie (Psalm 137). Dawid sê dat ‘konings Jehovah sal loof’ en is verheug oor die wonderlike wyse waarop hy gemaak is (Psalm 138, 139). Hy bid om God se beskerming en loof Sy goedheid in die wete dat slegs ’n goeie verhouding met Jehovah ware geluk verskaf.—Psalm 140–145.

◆ 138:2 (NW)—Hoe het God sy woord bo sy naam groot gemaak?

Wanneer Jehovah iets op grond van sy naam sê, verwag ons baie by wyse van vervulling. Maar hy oortref altyd ons verwagtinge, sodat die verwesenliking verreweg beter is as wat ons verwag het. God maak sy “woord” groot deur die vervulling daarvan wonderliker te maak as wat ons verwag.

◆ 139:9—Wat word bedoel met “die vleuels van die dageraad”?

Hierdie uitdrukking beskryf die lig van die dageraad wat, asof met wieke, vinnig van oos na wes oor die hemel versprei. AI sou Dawid “die vleuels van die dageraad” neem en die westelikste dele bereik, sou hy daar nog steeds onder Jehovah se sorg en beheer wees.—Psalm 139:10; vergelyk Amos 9:2, 3.

◆ 141:3—Waarom wou Dawid ‘’n wag voor die deur van sy lippe’ hê?

Dawid het geweet watter skade die tong kan aanrig en hoe onvolmaakte mense in die versoeking kom om onbesonne dinge te sê, veral wanneer hulle kwaad is. Moses was die sagmoedigste man op aarde, en tog het hy met sy tong gesondig in die geval van die waters van Meriba (Numeri 12:3; 20:9-13). ’n Mens moet dus jou lippe beheer om krenkende woorde te vermy en ’n goeie hart te bewaar.—Jakobus 3:5-12.

◆ 142:7, NW—Waarom het Dawid gedink dat sy siel in ’n “gevangenis” of “’n kerker” (NW) is?

Hy het heeltemal alleen met sy probleme gevoel, asof hy in ’n donker, gevaarlike kerker is, waar niemand hom verstaan nie en almal van hom geskei is. Wanneer ons soortgelyke gevoelens ondervind en dink dat ons “regterhand” onbeskut is, kan ons met vertroue tot Jehovah om hulp roep.—Psalm 142:3-7, vgl. NW.

Les vir ons: In Psalm 139 het Dawid sy behae uitgedruk in God se vermoë om hom te “deurvors” en hom en sy weë te “ken”. Dawid het nie probeer om weg te kom nie, maar hy wou hom graag in groter mate aan Jehovah se leiding en beheer onderwerp, Hy het geweet dat God hom altyd dopgehou het. Die wete weerhou ’n mens nie net daarvan om te sondig nie, maar bied jou ook die allergrootste troos. Die feit dat Jehovah ons dade sien, ons probleme verstaan en altyd gereed is om ons te help, wek ’n innige gevoel van veiligheid en vrede, wat noodsaaklik is vir ons geluk.

Loof Jah!

Lees Psalm 146 tot 150. Hierdie psalms neem die tema van die hele boek Psalms op—“Halleluja!” of “Loof Jah!” (NW). Hulle begin en eindig almal met hierdie heerlike woorde. Dit bereik ’n wonderlike crescendo in die 150ste Psalm, wat ’n beroep op die hele skepping doen om ‘Jehovah te loof’!

◆ Psalm 146:3—Waarom moet ons nie op menseleiers vertrou nie?

Menseleiers is sterflik, Hulle kan nòg hulself nòg diegene wat op hulle vertrou, red. Vertroue op menseleiers word gevolglik ondermyn deur die dood wat op almal wag. Maar “welgeluksalig is hy . . . wie se hoop is op [Jehovah] sy God” (Psalm 146:5, 6, vgl. NW). Die psalmis was bewus van ’n behoefte aan voortrefliker leiding as wat mense kan gee.

◆ 148:4—Wat is die “waters wat bo die hemele is”?

Die psalmis het klaarblyklik die waterhoudende wolke bokant die aarde bedoel wat hulself van tyd tot tyd ledig in die vorm van reën, wat uiteindelik na die oseane terugvloei. Hierdie kringloop is onontbeerlik vir lewe, en die blote bestaan daarvan strek die Skepper tot eer. Aangesien die atmosferiese uitspansel tussen die aarde en die wolke hemele genoem kan word, het die psalmis van die wolke gepraat as die “waters wat bo die hemele is”.

Die Psalms maak hierdie waarheid vanselfsprekend: Om waarlik gelukkig te wees, moet ons ’n goeie verhouding met Jehovah hê. Die hele doel van God se volk en die doel van ons bestaan kan gevolglik opgesom word deur die psalmis se slotuitroep: “Laat alles wat asem het, die HERE loof! Halleluja!”—Psalm 150:6.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel