Vrae van lesers
Waarom verskil die nommeringstelsel in die boek Psalms in verskillende Bybelvertalings?
Die eerste volledige Bybel met hoofstuk- en versverdeling was ’n Franse vertaling wat in 1553 deur Robert Estienne uitgegee is. Maar die boek Psalms het blykbaar lank voor dié tyd al verdelings gehad, aangesien dit ’n versameling van afsonderlike psalms, of liedere, is wat deur ’n aantal mense gekomponeer is.
Jehovah het Dawid blykbaar aanvanklik beveel om ’n versameling psalms saam te stel vir gebruik in openbare aanbidding (1 Kronieke 15:16-24). Daar word algemeen aangeneem dat Esra, ’n priester en “’n vaardige kopiïs”, later verantwoordelik was vir die samestelling van die hele boek Psalms in sy uiteindelike vorm (Esra 7:6). Dit beteken dan dat die boek Psalms uit afsonderlike psalms bestaan het toe dit saamgestel is.
In ’n toespraak wat die apostel Paulus op sy eerste sendingreis in die sinagoge in Antiogië (Pisidië) gegee het, het hy uit die boek Psalms aangehaal en gesê: “Net soos daar in die tweede psalm geskrywe staan: ‘Jy is my seun, ek het vandag jou Vader geword’” (Handelinge 13:33). In hedendaagse Bybels verskyn hierdie woorde steeds in die tweede psalm, vers 7. Baie van die psalms in verskillende Bybelvertalings is egter verskillend genommer. Dit is omdat party vertalings op die Hebreeuse Masoretiese teks gebaseer is, terwyl ander op die Griekse Septuagint gebaseer is, ’n vertaling van die Hebreeuse teks wat in die tweede eeu v.G.J. voltooi is. Byvoorbeeld, die Latynse Vulgaat, waaruit baie Katolieke Bybels vertaal is, gebruik die nommeringstelsel van die Septuagint, terwyl die Nuwe Wêreld-vertaling en ander dié van die Hebreeuse teks volg.
Wat is die spesifieke verskille? Die Hebreeuse teks het altesaam 150 psalms. Die Septuagint kombineer egter Psalm 9 en 10 sowel as Psalm 114 en 115. Verder verdeel dit Psalm 116 en 147 elk in twee psalms. Hoewel die aantal psalms dieselfde bly, is die nommers van Psalm 10 tot Psalm 146 in die Septuagint een laer as in die Hebreeuse teks. Die bekende Psalm 23 is dus Psalm 22 in die Douay Version, wat die nommeringstelsel van die Latynse Vulgaat volg, wat op sy beurt die Septuagint volg.
Laastens verskil die versnommers van party psalms ook in die verskillende vertalings. Waarom? Omdat party vertalings “die Joodse gebruik [volg] om die opskrif as die eerste vers te beskou”, sê McClintock en Strong se Cyclopedia, maar ander doen dit nie. Trouens, as die titel of opskrif lank is, word dit dikwels as twee verse getel, en die getal verse in die psalm vermeerder dienooreenkomstig.