’n Kykie na die Bahama-eilande—deur die oë van ’n reisende bedienaar
DIE Bahama-eilande. Daar was ’n tyd toe daardie woorde drome by my opgeroep het van hoe ek op pragtige sandstrande lê onder kokospalms wat saggies in die wind wieg of in kristalhelder turkooiskleurige water swem. Vir die duisende vakansiegangers wat die Bahama-eilande elke maand besoek, het sulke gesigte werklikheid geword. En geen wonder nie, want die klimaat op hierdie tropiese eilande is aangenaam, met ’n gemiddelde temperatuur van 21 grade Celsius in die winter en 29 grade Celsius in die somer!
Nou beteken die Bahama-eilande egter vir my veel meer as net die genieting van die hitte van die tropiese son as vakansieganger. Dit is my toewysing as ’n reisende bedienaar van Jehovah se Getuies. Kom saam met my en sien die Bahama-eilande deur my oë.
Die Buite-eilande
Slegs ongeveer 20 van die 700 eilande en eilandjies word bewoon, en die meeste Bahamane woon in die hoofstad Nassau op die eiland New Providence. Nassau is bekend as ’n aanloophawe vir oseaantoerskepe en het verskeie groot hotelle vir vakansiegangers. Jy het moontlik al in een van hulle gebly. Maar het jy deur die ander eilande getoer?
Baie Bahamane woon op die Buite-eilande, wat ook die Familie-eilande heet. Hulle lê rondom Nassau, en die verste een is meer as 480 kilometer ver. Op ’n paar van hierdie Buite-eilande kan jy al die moderne geriewe van Nassau geniet, maar ander is nie so ontwikkeld nie. Sommige het byvoorbeeld nie elektrisiteit of lopende water nie. Op ander kan jy nog sien hoe mense in hulle grasdakkombuise kos oor houtvure kook of mielies in handmeule maal.
Hoe ek reis
Al die Buite-eilande kan per boot of vliegtuig vanuit Nassau bereik word, maar hulle afgeleënheid kan ’n uitdaging bied aan persone met ’n beroep soos myne. Volgens ’n prosedure wat ooreenkom met dié van die eerste-eeuse Christene besoek ’n reisende bedienaar, of kringopsiener, gemeentes en groepies van Jehovah se Getuies om hulle geestelik te versterk en te bemoedig.—Handelinge 15:36; 16:4, 5.
Ek onthou ’n groep van slegs drie Getuies wat ek op een van die Buite-eilande moes besoek. Hierdie groep is meer as drie jaar tevore laas deur ’n kringopsiener besoek. Ek het uit Nassau aan hulle geskryf en hulle van die datum van my besoek verwittig. Maar toe ek per boot aankom, was daar geen Getuie op die dok om my te verwelkom nie. Ek het dus verneem of enigiemand my kon help om een van die Getuies te vind. Ek is na ’n sekere vrou verwys, en toe ek my as die kringopsiener voorstel, het sy so opgewonde geraak dat sy weggehardloop het om vir die ander Getuies van my koms te vertel. Sy het my net daar met my bagasie laat staan. Daardie Getuies het nooit my brief gekry nie, en hulle was verbaas en verheug oor my besoek.
Die terugreis na Nassau was op ’n klein vrag-en-posboot. Die reis het meer as 30 uur deur onstuimige seë geduur, maar die tyd het vinnig verbygegaan, ten minste vir my. Ek het die geleentheid aangegryp om vir party van die passasiers te preek. ’n Ruk later het een van die bemanningslede begin om die Bybel te bestudeer, en hy woon nou die vergaderinge van een van die gemeentes in Nassau by.
’n Ander manier om die Buite-eilande te besoek, is per vliegtuig. Maar slegs klein vliegtuie kan op sommige van die eilande se landingstroke neerstryk. Dit is gewoonlik heeltemal veilig, maar soms is daar skrikwekkende ondervindings. Eenkeer het ek baie senuweeagtig geword toe ek gesien het hoe rook die stuurkajuit van die vliegtuig vul toe dit opstyg. Die vliegtuig het dadelik omgedraai na die landingstrook. Die oorsaak van die rook? ’n Knaagdier se nes wat in die verhittings-en-lugtoevoerpyp langs die enjin gebou was!
Wat van die mense?
Terwyl ek deur die Buite-eilande gereis het, het ek baie mense teëgekom wat Bybellektuur wou hê. Maar sommige kan selfs nie eens die lae prys van die lektuur bekostig nie. Op een buitengewoon warm dag het vyf van ons byvoorbeeld op ’n afgeleë eiland gepreek toe ek ’n vrou teëgekom het wat groot belangstelling getoon het in die boek My boek met Bybelverhale. Sy het geen geld gehad om daarvoor te betaal nie, maar in haar yskas was daar net wat ons nodig gehad het—vyf blikkies koeldrank. Ons het die boek vir haar koeldrank verruil, en dit het almal gelukkig gemaak.
Die Bahamane het ’n groot liefde vir die Bybel. Dit maak dit aangenaam om die “evangelie” van Jehovah se Koninkryk aan hulle te verkondig (Mattheüs 24:14). Wanneer jy ’n huis besoek, sal jy die huisbewoner dikwels aantref waar hy die Bybel lees. By een huis wat ek besoek het, het die moeder trots haar driejarige dogtertjie die name van al 66 boeke van die Bybel in die regte volgorde laat opsê.
Die afgelope paar jaar het die bewoners van die Buite-eilande dit geniet om skyfievertonings oor Bybelonderwerpe te sien wat deur die Wagtoringgenootskap voorberei is. Op een eiland was daar geen saal beskikbaar nie, en daarom het ons reëlings getref om die skyfies buite teen ’n pas geverfde wit muur langs ’n voedselwinkeltjie te vertoon. Omtrent 60 mense het kom kyk—sommige het gestaan, ander het gesit.
By ’n ander geleentheid het 120 mense bymekaargekom. Hulle het die skyfieprogram so geniet dat niemand geloop het toe die ligte aangeskakel is nie. Ek het onthou dat ek nog ’n stel skyfies oor ’n ander Bybelonderwerp saamgebring het. Die ligte is dus weer afgeskakel en die tweede stel is vertoon—tot die blydskap van die skare.
Soms kan probleme ontstaan. Op een eiland het ’n groep mense in die plaaslike skool bymekaargekom om ons skyfieprogram te sien. Toe ek die projektor aanskakel, het die gloeilamp uitgebrand. Ek het nie nog ’n gloeilamp vir die projektor gehad nie, en daar was nie een op hierdie Buite-eiland beskikbaar nie. Dis onnodig om te sê dat die skare teleurgesteld was. Maar deur die projektor gou uitmekaar te haal en ’n paar verstellings te maak, kon ek ’n gewone gloeilamp as ’n redelike maar ietwat dowwer plaasvervanger gebruik. Die gehoor het nie omgegee nie. Hulle het die program desondanks geniet.
Tarantulas, muskiete en “gebraaide katte”
As ’n mens die Buite-eilande gereeld besoek, moet jy ’n paar aanpassings maak weens die tropiese toestande. Ek onthou die eerste keer toe ek ’n tarantula gesien het. Die spinnekop het oor die vloer geloop en het so groot soos my hand gelyk! Ek het versteen gestaan—doodbang. Ek is dankbaar dat die huisbewoner my te hulp gekom het. Met een vinnige kap van sy kapmes is daar van die “vyand” ontslae geraak. Die huisbewoner was ’n 82-jarige man. Hy het tevore sy vrou se pogings om Jehovah te dien bitterlik teëgestaan. Maar mettertyd het hy begin om die vergaderinge by die Koninkryksaal by te woon en die Bybel saam met haar te bestudeer.
Vanweë die warm weer kan muskiete ’n probleem wees. Daar is soms so baie van hulle dat een reg in jou mond kan invlieg terwyl jy praat. Talle ander wesens is natuurlik ’n lus vir die oog, soos die pragtige pienk flaminke wat te midde van hulle natuurlike habitat—welige tropiese plante en vrugtebome—woon.
Kennismaking met die plaaslike kosse kan ’n openbaring wees. Op een eiland het ek iets gesien wat soos ’n lemoenboom vol sappige vrugte gelyk het. Ek het vir die vrou van die huis gevra of ek een of twee van haar lemoene kon pluk. Sy het my gewaarsku. Dit was nie lemoene nie, maar bitterlemoene. Maar ek kon van hulle pluk, het sy gesê. Wel, ek het gemeen dat ek ’n lemoen ken wanneer ek een sien. Ek het dus ’n lekker grote gepluk en daarin gebyt. Watter skok tog! My mond het saamgetrek. Die vrug was baie suur, soos ’n suurlemoen. Die vrou het gelag, maar ek het geleer dat hoewel die vrug van die bitterlemoenboom soos ’n lemoen lyk dit beslis nie soos een proe nie!
Ek was myns insiens besig om mooi by die eilandlewe aan te pas totdat ek onlangs na een van die eilande gereis het. Ek het by ’n bejaarde wewenaar tuisgegaan en die gemeente bedien. Toe ons die eerste oggend opstaan, het hy my genooi om ontbyt saam met hom te nuttig. My mond het begin water—totdat hy gemeld het wat ons gaan eet. “Gebraaide katte”! Toe ek die kombuis binnegegaan en op die punt gestaan het om die aanbod van die hand te wys, het ek gesien dat hy besig was om pannekoek te bak. “Waar is die ‘gebraaide katte’?” het ek gevra. Hy het na die pannekoeke gewys. Ek het ’n sug van verligting geslaak, en ons het albei uitgebars van die lag. Hy het gedog ek weet dat pannekoeke op daardie eiland gebraaide katte genoem word.
Die beloninge van reis
Omdat sommige van die eilande so afgeleë is, bestaan daar ’n groot behoefte aan meer bedienaars om te help om die evangelie van God se Koninkryk te verkondig. Dit is nie net die Engelssprekende mense van die Bahama-eilande wat bereik moet word nie, maar ook die Haïtiese immigrante wat Frans praat.
Werk as ’n reisende opsiener in die Bahama-eilande is ’n opwindende uitdaging wat enkele aanpassings verg. Maar daar is ook groot beloninge. Een is die onbeskryflike vreugde om te sien hoe mense op die Bybelse boodskap reageer. Nog een is die heerlike voorreg om die verspreide gemeentes en afgesonderde groepe geestelik te verkwik.
Hier in die Bahama-eilande put ons genot uit die prag van strande met skitterende pienk en wit sand en die bekorende koraalriwwe wat asemrowend mooi met vis versier is. Maar ons is veral verheug oor wat nou hier en rondom die aardbol plaasvind. As Jehovah se Getuies sien ons hoe Psalm 97:1 vervul word. Dit sê: “Die HERE is Koning; laat die aarde juig; laat baie eilande bly wees.”—Soos vertel deur Anthony Reed.
[Lokteks op bladsy 27]
Ek het baie senuweeagtig geword toe ek gesien het hoe rook die stuurkajuit van die vliegtuig vul toe dit opstyg
[Lokteks op bladsy 28]
Die Bahamane het ’n groot liefde vir die Bybel. Dit maak dit aangenaam om die “evangelie” van Jehovah se Koninkryk aan hulle te verkondig
[Lokteks op bladsy 28]
Ek onthou die eerste keer toe ek ’n tarantula gesien het. Dit het oor die vloer geloop en het so groot soos my hand gelyk!
[Lokteks op bladsy 29]
Ek het vir hom gevra: “Waar is die ‘gebraaide katte’?”
[Kaart/Prent op bladsy 26]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
FLORIDA
BAHAMA-EILANDE
ATLANTIESE OSEAAN