Jehovah se Getuies in die sendingveld
SENDELINGE van Jehovah se Getuies in Asië en elders word dikwels gevra: “Waarom gee julle nie Engelse klasse soos die ander sendelinge nie?” “Het julle skole waarheen ek my kinders kan stuur of hospitale vir siekes?” Die antwoord is natuurlik nee. Maar waarom nie? Trouens, wat is die oogmerk van die Getuies? En wat het hulle vir die mense in hierdie lande gedoen?
Verskil in beskouings
Dit ly geen twyfel nie dat die sendelinge van die Christendom baie bekeerlinge gewerf het deur middel van die maatskaplike dienste wat hulle lewer. Maar aangesien sulke werke hoofsaaklik daarop gemik is om in die mense se materiële behoeftes pleks van hulle geestelike behoeftes te voorsien, het hierdie sendelinge nie daarin geslaag om ware dissipels van Jesus Christus te maak nie (Mattheüs 7:22, 23; 28:19). Nog belangriker, hulle kon nie ’n blywende oplossing bied vir die maatskaplike euwels wat hulle probeer bestry nie.
By Jehovah se Getuies gaan dit andersyds om die belangriker opdrag om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig (Mattheüs 24:14). Dit is nie omdat hulle nie bewus is van of besorg is oor al die menselyding en ongeregtighede wat hulle sien nie. Dit is eerder omdat hulle besef dat die enigste oplossing vir hierdie ernstige probleme nie by mense lê nie, maar by God se Koninkryk.—Psalm 146:3-10.
Dit is presies wat Jesus en sy dissipels in die eerste eeu verkondig het. “Ek moet . . . die evangelie van die koninkryk van God bring”, het Jesus gesê, “want daarvoor is Ek gestuur” (Lukas 4:43). Jesus het God se Koninkryk verkondig as die enigste volkome oplossing, want hy het geweet dat die wêreld se probleme te groot was vir die mens om dit alleen die hoof te bied. Hoewel Jesus talle wondergenesings verrig het, het hy sy dissipels aangespoor: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” —Mattheüs 6:33.
Toe Jesus later sy dissipels uitgestuur het, het hy eers vir hulle gesê: “Gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom.” Toe het hy bygevoeg: “Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit” (Mattheüs 10:7, 8). Dit toon wat die voorkeur onder hedendaagse dissipels van Jesus Christus moet geniet. Hulle belangrikste oogmerk moet ook die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk wees, buite en behalwe filantropiese werke. Dit is wat sendelinge van Jehovah se Getuies probeer doen.
Hulle voorsien in mense se geestelike behoeftes
As ’n groep Christene is Jehovah se Getuies besig met ’n ontsaglike vrywilligerprogram om mense die Bybel te leer. As verkondigers van die goeie nuus wil hulle ander help om baat te vind by die Bybel se wysheid en raad, nou sowel as in die toekoms (Psalm 68:12). Waarom is dit die geval?
Die Getuies besef dat, wanneer mense gehelp word om die Bybel se raad te verstaan en te volg, hulle beter toegerus is om die probleme en druk van die lewe die hoof te bied. Hulle verkry enersyds die morele krag om te breek met verslawende en liggaamlik nadelige gewoontes soos rook, strawwe drinkery, dwelmmisbruik, swak higiëne, dobbel en seksuele promiskuïteit. Die Bybelwaarheid help hulle andersyds om hulle gedagtes te vernuwe, en dit gee hulle ’n doel in die lewe en ’n realistiese hoop vir die toekoms.
Deur die hoogste vorm van opvoeding—opvoeding uit God se Woord, die Bybel—te voorsien, dra Jehovah se Getuies dus regstreeks daartoe by om die sedelike en liggaamlike gesondheid van die gemeenskap waarin hulle woon en preek te verbeter. Dit word dikwels opgemerk deur ander wat hulle objektief waargeneem het. Dr. Bryan Wilson van die Oxfordse Universiteit, wat die bedrywighede van Jehovah se Getuies in Afrika bestudeer het, het byvoorbeeld in ’n brief aan die Times van Londen gesê:
“Jehovah se Getuies is hardwerkend en dikwels pligsgetrouer en ondernemender as die deursneepersoon onder hulle medeburgers. Hulle leiers skerp dit by hulle in om hulle belasting stiptelik te betaal, hulle van geweld te onthou en om nie aanstoot te gee nie. Hulle is ordelik, eerlik en bedaard. Hulle waardes het ’n baie belangrike rol gespeel in die ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling van die Westerse gemeenskap, en dit sou nie ’n oordrywing wees om te sê dat Jehovah se Getuies van die eerlikste en vlytigste burgers van Afrikalande is nie.”
In soortgelyke woorde het ’n ander waarnemer in Suid-Amerika die volgende in ’n koeranthoofartikel gesê:
“Die Jehovasgetuies is hardwerkende, eerlike, Godvresende mense. Hulle is konserwatief en tradisievas, en hulle godsdiens is op die leerstellings van die Bybel gebaseer.”
Hoewel Jehovah se Getuies nie die klem lê op wat algemeen die maatskaplike evangelie genoem word nie, bevorder hulle dus daadwerklik die belange van die gemeenskap deur ander te help om hulle lewens in ooreenstemming met die hoë standaarde van die Bybel te bring (Romeine 12:1, 2). Van allergrootste belang is dat hulle die mense oral ook help om verby die ongeregtighede en ongelykhede van hierdie vinnig verslegtende stelsel te kyk na die nuwe stelsel wat God binnekort gaan oprig.—Openbaring 21:5.
[Prente op bladsy 8, 9]
Oplossings vir maatskaplike euwels deur God se Koninkryk
Lees die volgende tekste in jou eie Bybel en put vertroosting uit God se beloftes om vandag se probleme en maatskaplike euwels op die volgende gebiede uit die weg te ruim:
Gesondheid Jesaja 33:24; 35:5, 6; Openbaring 21:4
Onderwys Jesaja 11:9; Habakuk 2:14
Werk Jesaja 65:21-23
Voedsel Psalm 67:7; 72:16; Jesaja 25:6
Geregtigheid Jesaja 11:3-5; 32:1, 2