Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 1/15 bl. 10-15
  • So ’n groot wolk van getuies!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • So ’n groot wolk van getuies!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat geloof is
  • Geloof en die “ou wêreld”
  • Geloof onder die aartsvaders ná die vloed
  • Geloof laat ons God eerste stel
  • “Wandel deur geloof, nie deur aanskouing nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Beoefen geloof wat op die waarheid gegrond is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Hoe sterk is jou geloof?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Beoefen geloof op grond van God se beloftes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 1/15 bl. 10-15

So ’n groot wolk van getuies!

“Terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons . . . met volharding die wedloop loop wat voor ons lê.”—HEBREËRS 12:1.

1, 2. (a) Watter figuurlike agtergrond het Paulus moontlik in gedagte gehad toe hy aan Hebreeuse Christene geskryf het? (b) Waarom het Hebreeuse medegelowiges vaste geloof nodig gehad?

STEL jou voor dat jy ’n hardloper in ’n stadion is. Jy beur vorentoe en span al jou kragte in terwyl jou oë op die doelwit gevestig is. Maar wat van die waarnemers? Hulle was ook almal seëvierende hardlopers! Hulle was nie bloot toeskouers nie, maar daadwerklike getuies in woord sowel as daad.

2 Die apostel Paulus het moontlik so ’n figuurlike agtergrond in gedagte gehad toe hy aan Hebreeuse Christene geskryf het (c. 61 G.J.). Hulle het vaste geloof nodig gehad (Hebreërs 10:32-39). Dit was slegs deur geloof dat hulle kon ag slaan op Jesus se waarskuwing om te vlug toe Jerusalem (in 66 G.J.) deur leërs omsingeld was ’n paar jaar voordat die Romeine dit (in 70 G.J.) vernietig het. Geloof sou hulle ook onderskraag wanneer hulle “vervolg word ter wille van die geregtigheid”.—Mattheüs 5:10; Lukas 21:20-24.

3. Wat is “die sonde wat ons so maklik omring” in Hebreërs 12:1, en watter wedloop word Christene aangespoor om met volharding te loop?

3 Nadat Paulus voorchristelike geloofsdade (in Hebreërs hoofstuk 11) hersien het, het hy vermaan: “Daarom dan, terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las [wat ons geestelik kan hinder] aflê en die sonde [gebrek aan geloof] wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop [om die ewige lewe] loop wat voor ons lê” (Hebreërs 12:1). Paulus se hersiening van daadwerklike geloof bring verskeie aspekte daarvan op die voorgrond en sal ons help, hetsy ons gesalfde Christene is wat die wedloop om onsterflikheid in die hemel loop of deel is van die “groot menigte” met die doelwit om die ewige lewe op ’n paradysaarde te kry (Openbaring 7:4-10; Lukas 23:43; Romeine 8:16, 17). Maar wat is geloof presies? Wat is sommige fasette van hierdie geestelike juweel? En hoe sal ons optree as ons geloof het? Terwyl jy antwoorde op sulke vrae soek, moet jy asseblief die gesiteerde verse in Hebreërs hoofstuk 11 en 12 gedurende privaat en gemeentelike studie lees.

Wat geloof is

4. Wat is geloof?

4 Paulus het eers geloof gedefinieer. (Lees Hebreërs 11:1-3.) Geloof is ten dele “’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop”. Die persoon met geloof het ’n waarborg dat alles wat God beloof so te sê vervul is. Geloof is ook “’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie”. Die oortuigende bewys van onsigbare werklikhede is so sterk dat daar gesê word dat geloof gelykstaande met daardie getuienis is.

5. Wat verstaan ons deur geloof?

5 Deur geloof het “die mense van die ou tyd getuienis ontvang” dat hulle God behaag het. En “deur die geloof verstaan ons dat die wêreld [“die stelsels”, NW]”—die aarde, die son, die maan en die sterre—“deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie”. Ons is daarvan oortuig dat Jehovah die Skepper van sulke dinge is al kan ons hom nie sien nie omdat hy ’n onsigbare Gees is.—Genesis 1:1; Johannes 4:24; Romeine 1:20.

Geloof en die “ou wêreld”

6. Waarom het Abel “’n vaste vertroue” gehad dat Jehovah se profetiese woorde oor die ‘saad van die vrou’ bewaarheid sou word?

6 Een van die talle fasette van geloof is bewustheid van die behoefte aan ’n sondoffer. (Lees Hebreërs 11:4.) In die “ou wêreld” het Abel, die tweede seun van die eerste mensepaar, Adam en Eva, geloof in ’n bloedoffer getoon (2 Petrus 2:5). Abel het ongetwyfeld die dodelike uitwerking van oorgeërfde sonde in homself waargeneem (Genesis 2:16, 17; 3:6, 7; Romeine 5:12). Hy het klaarblyklik ook die vervulling gesien van God se bevel wat vir Adam moeitevolle arbeid en vir Eva baie pyn tydens swangerskap meegebring het (Genesis 3:16-19). Abel het gevolglik die “vaste vertroue” gehad dat ander dinge wat Jehovah gesê het, bewaarheid sou word. Dit het die profetiese woorde aan die aartsbedrieër Satan ingesluit toe God vir die slang gesê het: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.”—Genesis 3:15.

7. (a) Hoe het Abel getoon dat hy bewus was van die behoefte aan ’n sondoffer? (b) Hoe het God ‘oor Abel se gawes getuienis gegee’?

7 Abel het geloof in die beloofde Saad getoon deur ’n diereoffer aan God te bring wat sinnebeeldig die plek van Abel se eie lewe kon inneem. Maar sy ongelowige ouer broer Kain het bloedlose groente geoffer. As ’n moordenaar het Kain daarna Abel se bloed vergiet (Genesis 4:1-8). Maar Abel het gesterf in die wete dat Jehovah hom regverdig beskou “omdat God oor sy gawes getuienis gegee het”. Hoe? Deur Abel se offer wat in geloof gebring is, aan te neem. ‘Hoewel Abel gesterf het, spreek hy nog’ vanweë sy geloof en goddelike goedkeuring, waarvan die Geinspireerde Verslag steeds getuig. Hy het besef dat ’n sondoffer nodig is. Stel jy geloof in Jesus Christus se verreweg betekenisvoller losprysoffer?—1 Johannes 2:1, 2; 3:23.

8. (a) Wat leer ons omtrent geloof uit Henog se moedige getuieniswerk? (b) Hoe is Henog “weggeneem om die dood nie te sien nie”?

8 Geloof sal ons beweeg om God se boodskap vrymoedig te spreek. (Lees Hebreërs 11:5, 6.) Jehovah se vroeë getuie Henog het die goddelike voltrekking van oordeel aan die goddelose moedig voorspel (Judas 14, 15). Henog se vyande het ongetwyfeld probeer om hom om die lewe te bring, maar God het “hom weggeneem” sodat hy nie die doodsangs ervaar het nie (Genesis 5:24). Maar eers “het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het”. Hoe so? “Deur die geloof is Henog weggeneem [“oorgebring”, NW] om die dood nie te sien nie.” Paulus is eweneens oorgebring of “weggeruk . . . in die Paradys”, en het klaarblyklik ’n gesig gehad van die toekomstige geestelike paradys van die Christelike gemeente (2 Korinthiërs 12:1-4). Henog het dus blykbaar ’n gesig geniet van die komende aardse Paradys toe Jehovah hom laat ontslaap het, veilig uit die bereik van vyandelike hande. Om God te behaag, moet ons, net soos Henog, God se boodskap vrymoedig spreek (Handelinge 4:29-31). Ons moet ook glo dat God bestaan en “’n beloner is van die wat Hom soek”.

9. Hoe het Noag se handelwyse getoon dat die noukeurige uitvoering van God se instruksies nog ’n faset van geloof is?

9 Nog ’n faset van geloof is om God se instruksies noukeurig uit te voer. (Lees Hebreërs 11:7.) In geloof het Noag gedoen “net soos God hom beveel het” (Genesis 6:22; 7:16). Noag het “’n goddelike waarskuwing ontvang . . . aangaande wat nog nie gesien was nie” en Jehovah se verklaring geglo dat daar ’n aardwye vloed sou wees. In geloof en met eerbiedige vrees vir God het Noag “die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin”. Deur gehoorsaamheid en regverdige dade het hy aldus die ongelowige wêreld veroordeel weens dié se bose werke en getoon dat dit vernietiging verdien.—Genesis 6:13-22.

10. Vir watter ander werk het Noag tyd ingeruim, al was hy besig om die ark te bou?

10 Noag was ook een van Jehovah se getuies daar hy ’n “prediker van geregtigheid” was (2 Petrus 2:5). Hoewel hy besig was om die ark te bou, het hy tyd ingeruim om te preek, net soos Jehovah se Getuies vandag doen. Noag het inderdaad vrymoedig gespreek as ’n herout van God se waarskuwing aan daardie antediluviane, maar hulle het “daar geen ag op geslaan . . . nie totdat die sondvloed gekom en almal weggevoer het”.—Mattheüs 24:36-39, Katolieke Nuwe Testament.

Geloof onder die aartsvaders ná die vloed

11. (a) Hoe het Abraham getoon dat geloof volkome vertroue in Jehovah se beloftes insluit? (b) Watter “stad” het Abraham in geloof verwag?

11 Geloof sluit volkome vertroue in Jehovah se beloftes in. (Lees Hebreërs 11:8-12.) Deur geloof het Abraham (Abram) God se bevel gehoorsaam en Ur van die Chaldeërs verlaat, ’n stad wat baie materiële voordele gebied het. Hy het Jehovah se belofte geglo dat “al die geslagte van die aarde” hulself deur hom sou seën en dat sy saad ’n land sou ontvang (Genesis 12:1-9; 15:18-21). Abraham se seun Isak en kleinseun Jakob was “mede-erfgename van dieselfde belofte”. Deur geloof het Abraham “as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ’n vreemde land”. Hy het uitgesien na “die stad . . . wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is”. Ja, Abraham het God se hemelse Koninkryk verwag waaronder hy tot die lewe op aarde opgewek sou word. Beklee die Koninkryk so ’n belangrike plek in jou lewe?—Mattheüs 6:33.

12. Wat het gebeur omdat Sara geloof in Jehovah se beloftes gehad het?

12 Die vroue van die Godvresende aartsvaders het ook geloof in Jehovah se beloftes gestel. Deur geloof het Abraham se vrou Sara, wat tot om en by die ouderdom van 90 onvrugbaar en “oor die leeftyd was”, byvoorbeeld die krag ontvang “om bevrug te word . . . omdat sy Hom [God] getrou geag het wat dit beloof het”. Mettertyd het Sara die lewe aan Isak geskenk. Uit 100-jarige Abraham, so te sê “’n gestorwene” wat voortplanting betref, is daar dus eindelik “kinders soos sterre van die hemel in menigte” gebore.—Genesis 17:15-17; 18:11; 21:1-7.

13, 14, (a) Hoe het Abraham, Isak en Jakob gereageer ‘al het hulle nie die vervulling van die beloftes verkry nie’? (b) Hoe kan ons baat vind by ’n bespreking van die aartsvaders se lojaliteit teenoor Jehovah al sien ons ook nie die onmiddellike vervulling van sy beloftes nie?

13 Geloof sal ons lojaal aan Jehovah laat bly selfs al sien ons nie die onmiddellike vervulling van sy beloftes nie. (Lees Hebreërs 11:13-16.) Die getroue aartsvaders het almal gesterf sonder om die volledige vervulling van God se beloftes aan hulle te sien. Maar “hulle het [die beloofde dinge] uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was”. Ja, hulle het hulle lewens tot aan die einde in geloof gelei, want geslagte het verbygegaan voordat die Beloofde Land die besitting van Abraham se nageslag geword het.

14 Die feit dat God se beloftes nie in hulle lewe vervul is nie, het Abraham, Isak en Jakob nie verbitter of afvallig laat word nie. Hulle het Jehovah nie die rug toegekeer, na Ur teruggekeer en in wêreldse bedrywighede opgegaan nie. (Vergelyk Johannes 17:16; 2 Timotheüs 4:10; Jakobus 1:27; 1 Johannes 2:15-17.) Nee, daardie aartsvaders het “verlang” na ’n plek wat beter was as Ur, naamlik “’n hemelse”. Daarom is Jehovah ‘nie skaam om hulle God genoem te word nie’. Hulle het hulle geloof in die Allerhoogste tot die dood toe behou en sal binnekort opgewek word tot die lewe op aarde, deel van die domein van die “stad”, die Messiaanse Koninkryk wat God vir hulle berei het. Maar wat van jou? Selfs al “wandel” jy jare lank “in die waarheid”, en het jy oud geword in Jehovah se diens, moet jy jou vertroue in sy beloofde nuwe stelsel behou (3 Johannes 4; 2 Petrus 3:11-13). Watter beloning sal jy en die getroue aartsvaders tog vir sulke geloof ontvang!

15. (a) Wat het Abraham in staat gestel om Isak so te sê as offer te bring? (b) Hoe moet die gebeurtenis waarby Abraham en Isak betrokke was ons geloof raak? (c) Wat is profeties deur daardie gebeurtenis afgeskadu?

15 Onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan God is ’n onontbeerlike faset van geloof. (Lees Hebreërs 11:17-19.) Omdat Abraham Jehovah onvoorwaardelik gehoorsaam het, het hy Isak, sy “eniggeborene”—die enigste een wat hy ooit by Sara gehad het—so goed as “geoffer”. Hoe kon Abraham dit doen? Omdat hy “gereken [het] dat God mag het om [Isak] selfs uit die dode op te wek”, indien nodig, om die belofte van afstammelinge deur hom te vervul. Die mes in Abraham se hand sou Isak se lewe in ’n oomblik beëindig het, maar ’n engel se stem het dit voorkom. Abraham het Isak gevolglik “om so te spreek” uit die dood terug ontvang. Ons moet eweneens beweeg word om God in geloof te gehoorsaam selfs as ons lewe of dié van ons kinders op die spel staan (1 Johannes 5:3). Dit is ook opmerkenswaardig dat Abraham en Isak destyds profeties afgeskadu het hoe Jehovah God sy eniggebore Seun, Jesus Christus, as ’n losprys sou voorsien sodat diegene met geloof in hom die ewige lewe kan hê.—Genesis 22:1-19; Johannes 3:16.

16. Watter voorbeeld het die aartsvaders gestel waar dit kom by ons kinders en geloof in God se beloftes?

16 As ons geloof het, sal ons ons afstammelinge help om hulle hoop te stel op wat God vir die toekoms beloof. (Lees Hebreërs 11:20-22.) Hoewel Jehovah se beloftes nie volledig in die lewe van die aartsvaders vervul is nie, was hulle geloof so sterk dat hulle hierdie beloftes as ’n gekoesterde erfenis aan hulle kinders oorgedra het. Gevolglik “het Isak vir Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms” en het sterwende Jakob Josef se seuns Efraim en Manasse geseën. Omdat Josef self die sterk geloof gehad het dat die Israeliete Egipte sou verlaat en na die beloofde land sou gaan, het hy sy broers laat sweer dat hulle sy gebeente sou saamneem wanneer hulle vertrek (Genesis 27:27-29, 38-40; 48:8-22; 50:24-26). Help jy jou gesin om vergelykbare geloof te verkry in wat Jehovah beloof het?

Geloof laat ons God eerste stel

17. Hoe het Moses se ouers in geloof gehandel?

17 Geloof maak Jehovah en sy volk vir ons belangriker as enigiets wat die wêreld kan aanbied. (Lees Hebreërs 11:23-26.) Die Israeliete was slawe wat bevryding uit Egiptiese slawerny nodig gehad het toe Moses se ouers in geloof gehandel het. ‘Hulle het nie die gebod van die koning’ dat Hebreeuse seuntjies by geboorte om die lewe gebring moes word, ‘gevrees nie’. Hulle het Moses eerder drie maande lank weggesteek en hom eindelik in ’n papirusmandjie tussen die riete aan die oewer van die Nylrivier gesit. Nadat Farao se dogter hom gevind het, is hy “as haar seun grootgemaak”. Maar Moses is eers gesoog en geestelik opgelei in die huis van sy vader en moeder, Amram en Jogebed. As lid van Farao se huis is hy toe “opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars” en het hy “magtig in woorde en dade” geword, magtig in geestes- en fisiese vermoëns.—Handelinge 7:20-22; Exodus 2:1-10; 6:19.

18. Watter standpunt het Moses vanweë sy geloof ten opsigte van Jehovah se aanbidding ingeneem?

18 Die Egiptiese opleiding en die materiële praal van die koningshuis het Moses nie Jehovah se aanbidding die rug laat toekeer en ’n afvallige laat word nie. “Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het”, eerder “geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word”, ’n weg wat geïmpliseer is toe hy ’n Hebreeuse broer verdedig het (Exodus 2:11, 12). Moses het verkies om “liewer sleg behandel te word saam met die volk van God [Israelitiese mede-aanbidders van Jehovah] as om ’n tyd lank die genot van die sonde te hê”. Sal jy, indien jy ’n gedoopte kneg van Jehovah is wat ’n deeglike agtergrond van behoorlike geestelike opleiding het, Moses se voorbeeld volg en vasstaan vir ware aanbidding?

19. (a) Hoe is dit duidelik dat Moses Jehovah en Sy volk eerste gestel het? (b) Na watter beloning het Moses uitgesien?

19 Moses het sy lot met Jehovah se volk ingewerp omdat hy “die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte”. Moses het waarskynlik ‘die smaad om ’n eertydse tipe van Christus, of God se Gesalfde, te wees groter rykdom as Egipte se skatte geag’. As lid van die koningshuis kon hy rykdom en roem in Egipte geniet het. Maar hy het geloof beoefen en “uitgesien na die beloning”—die ewige lewe deur die opstanding op aarde in God se beloofde nuwe stelsel.

20. Wat omtrent Moses se ondervinding toon dat geloof ons onverskrokke maak as Jehovah se knegte?

20 Geloof maak ons onverskrokke omdat ons vertrou op Jehovah as ’n verlosser. (Lees Hebreërs 11:27-29.) Nadat Farao verneem het dat Moses ’n Egiptenaar gedood het, het hy probeer om Moses om die lewe te bring. “Maar Moses het van Farao af weggevlug en in die land Midian gaan woon” (Exodus 2:11-15). Paulus sinspeel dus blykbaar op die Hebreërs se latere Uittog uit Egipte wanneer hy sê: “Deur die geloof het hy [Moses] Egipte verlaat sonder om die toorn van die koning [wat hom met die dood gedreig het omdat hy God ten behoewe van Israel verteenwoordig het] te vrees, want hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien” (Exodus 10:28, 29). Hoewel Moses God nooit werklik gesien het nie, was Jehovah se handelinge met hom so wesenlik dat hy opgetree het asof hy wel “die Onsienlike” gesien het (Exodus 33:20). Is jou verhouding met Jehovah so sterk?—Psalm 37:5; Spreuke 16:3.

21. Wat het “deur die geloof” plaasgevind in verband met Israel se vertrek uit Egipte?

21 “Deur die geloof” het Moses net voor Israel se vertrek uit Egipte “die pasga gehou en die besprenkeling van die bloed, sodat die verderwer hulle [die Israeliete se] eersgeborenes nie sou aanraak nie”. Ja, dit het geloof geverg om die Pasga te hou in die oortuiging dat Israel se eersgebore seuns gespaar sou word terwyl dié van die Egiptenaars sou sterf, en hierdie geloof is beloon (Exodus 12:1-39). En “deur die geloof het hulle [die volk Israel] die Rooi See deurgegaan soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars, toe hulle dit probeer, verdrink het”. Watter wonderlike verlosser was God tog nie! En as gevolg van hierdie verlossing het die Israeliete “die HERE gevrees en geglo in die HERE en aan Moses, sy kneg”.—Exodus 14:21-31.

22. Watter vrae in verband met geloof moet nog bespreek word?

22 Die geloof van Moses en die aartsvaders is voorwaar ’n voorbeeld vir Jehovah se Getuies van vandag. Maar wat het gebeur toe God verder met Abraham se afstammelinge as ’n teokraties georganiseerde nasie gehandel het? Wat kan ons uit verdere geloofsdade in vervloë tye leer?

Hoe sou jy antwoord?

◻ Wat is geloof?

◻ Wat leer Henog se voorbeeld ons oor geloof?

◻ Hoe het Godvresende aartsvaders getoon dat geloof volkome vertroue in Jehovah se beloftes insluit?

◻ Watter optrede deur Abraham toon dat onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan God ’n noodsaaklike aspek van geloof is?

◻ Watter dade van Moses toon dat geloof beteken dat ons Jehovah en Sy volk belangriker ag as enigiets wat die wêreld kan aanbied?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel