Die maatskaplike bediening—hoe dit mense raak
OMSTREEKS die tyd van die Pasga (Maart-April) in 32 G.J. het Jesus Christus meer as 5 000 manne, vroue en kinders met net vyf garsbrode en twee vissies gevoed (Mattheüs 14:14-21; Johannes 6:1-13). Die mense het besef watter groot potensiaal Jesus gehad het en wou hom koning maak. Hulle het moontlik gemeen dat hy hulle van die Romeinse juk sou bevry en hulle lewenslot sou verbeter. Wat was Jesus se reaksie?
Pleks van aan die eise van die skare te voldoen, het Jesus “weer weggegaan na die berg, Hy alleen” (Johannes 6:15). Maar daardie skare het nie maklik tou opgegooi nie. Hulle het weer die volgende dag na hom toe gekom. Jesus het gesien dat hulle ’n bybedoeling het en het vir hulle gesê: “Julle soek My nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het.” Toe het hy bygevoeg: “Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe.”—Johannes 6:25-27.
Wat kan ons uit hierdie verhaal leer? Dit toon onder meer dat dit maklik is om mense met materiële voordele te lok. Maar om opregte waardering vir geestelike dinge—dinge van blywende waarde—op te bou, is iets heeltemal anders. Vandag is die neiging om dinge uit ’n suiwer materialistiese oogpunt te beskou selfs groter.
Die maatskaplike bediening is baie aanloklik
In die oë van die mense van die ontwikkelingslande verteenwoordig die vooruitstrewende Westerse nasies al die geleenthede en materiële voordele wat ’n mens kan begeer—geleenthede wat nie in hulle eie land beskikbaar is nie. Die voorspoed word beny, die lewenstyl word nagevolg. Die geleentheid vir verdere geleerdheid word aan feitlik elke leerling voorgehou as ’n paspoort tot vooruitgang en sukses. In die lig hiervan is dit nie moeilik om te verstaan waarom die maatskaplike programme van die buitelandse kerke in hierdie lande so sterk byval vind nie. Maar wat is die resultate?
In die Ooste het die bereidwilligheid van die mense om feitlik enige vereiste van die kerke na te kom sodat hulle geskenke of aalmoese kan ontvang byvoorbeeld gelei tot die spotnaam “ryschristene”. Die jammerste van alles is natuurlik dat wanneer sulke steun of hulp gestaak word die belangstelling van die mense ook verdwyn. Baie van die ryschristene verdwyn eenvoudig van die toneel af. Onder die Kantonese is daar gevolglik ’n spreuk wat min of meer soos volg vertaal kan word: “God het die wêreld lief, maar die wêreld het poeiermelk lief.”
Hoewel die meeste kerkgroepe nie meer noodlenigingsprogramme het nie, behalwe miskien gedurende ’n ramp, het die gebeure van die verlede ’n blywende uitwerking gehad. Vir talle Oosterlinge het kerke sinoniem geword met liefdadigheidsorganisasies, en die enigste rede vir kerkbywoning is om te ontvang, nie te gee nie. Hulle sien geen nodigheid om ’n persoonlike opoffering vir die kerk te maak nie. Hierdie gesindheid blyk byvoorbeeld uit hulle teësinnigheid om ’n bydrae te gee vir Bybellektuur, want volgens hulle moet iets wat deur ’n kerk uitgegee word gratis wees.
Dat die kerk as ’n middel tot ’n doel gebruik word, kan die duidelikste op die gebied van die onderwys gesien word. In baie ontwikkelingslande word ’n Westerse soort geleerdheid beskou as ’n gewisse manier om roem en sukses te behaal. Een bron het beweer dat toe Indië onafhanklikheid van Brittanje verkry het 85 persent van daardie land se parlementslede “Christelike skole” bygewoon het. En volgens Confuciaanse ideale in die Verre Ooste is goeie geleerdheid een van die hoogste lewensdoelwitte. Talle beskou natuurlik die kerkskole, wat gewoonlik Westerse metodes en standaarde gebruik, as ’n middel om vooruitgang te maak. En in die hoop om hulle kinders in een van die kerk se skole en miskien later oorsee te kry, gaan talle Oosterse ouers, wat normaalweg die tradisionele godsdienste volg, self gelate kerk toe en spoor hulle hulle kinders aan om ook te gaan.
Wat is die vrugte?
In vergelyking met die kerke tuis is die sendingkerke se bywoningsyfer gewoonlik goed. Talle mense kom so in aanraking met kerkleerstellings en die een of ander begrip van Christelikheid. Maar het hierdie blootstelling hulle gehelp om die Bybel en die boodskap daarin te verstaan? Het dit hulle werklik Christene gemaak, dit wil sê, volgelinge van Jesus Christus?
Kyk byvoorbeeld na Kuo Tung, die jong man wat vroeër gemeld is. Toe hy gevra is of hy nou, nadat hy ’n ruk lank kerk toe gegaan het, in God glo, het hy geantwoord: “Nee. Bewyse dat God bestaan, is nooit bespreek nie.” Trouens, hy het erken dat hy nie seker was of enige van sy vriende in ’n persoonlike God glo nie, hoewel hulle saam met hom kerk toe gegaan het. Hy het gesê dat hulle saamgegaan het bloot vir die geleentheid om Engels te leer.
’n Ander jong man, wat in die Verenigde State op universiteit was, het huis toe gekom vir ’n vakansie. Toe een van Jehovah se Getuies hom besoek het, het hy gevra of die Getuies hulle vergaderinge in Engels hou. Waarom? “Sodat my Engels nie verroes nie”, het hy gesê. Toe daar vir hom gesê is dat die vergaderinge in die plaaslike taal gehou word sodat almal geestelik daarby baat kan vind, het die jong man gesê dat hy sou gaan waar Engelse vergaderinge twee keer per week gehou word.
Selfs diegene wat kerklidmate geword het en gedoop is, het weinig verandering in hulle uitkyk getoon. Talle van hulle hou nog aan hulle vorige opvattinge of gebruike vas, dikwels met die goedkeuring, indien nie ook met die seën nie, van hulle kerk. In China word Rooms-Katolieke byvoorbeeld toegelaat om hulle vooroueraanbidding voort te sit, hoewel dit elders verbode is. Plate wat om die seën van die deurgod smeek, word dikwels in deuropenings van “Christelike” huise gesien. En in Okinawa word diereafbeeldings van plaaslike gode op die dakhoeke geplaas om die gesin te beskerm.
Wat van diegene wat by die kerkprogramme baat gevind het? Dit is nie ongewoon om hulle, in hulle nuutgevonde finansiële en materiële veiligheid, te hoor sê dat die oplossing vir vandag se probleme in vertroue op jouself lê nie. Die gevolg is dat baie van hulle hulle of heeltemal onttrek het aan die kerk of op ’n goeie afstand bly.
Sendelinge van die kerke het talle uitstekende geleenthede gehad om die mense te onderrig in wat die Bybel leer. Maar pleks van hulle te leer om ag te slaan op Jesus se vermaning om “eers die koninkryk van God en sy geregtigheid [te soek], en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word”, het hulle die klem op “hierdie dinge” geplaas (Mattheüs 6:33). Deur middel van hulle maatskaplike programme het hulle baie gedoen om mense op fisiese, mediese en opvoedkundige gebied te help, maar die voordele is hoofsaaklik van ’n wêreldlike aard. Omdat dit geen geestelike uitkyk bied nie, dien sulke programme dikwels net as ’n aansporing om meer wêreldlike voordele na te streef.
Die kerke het oorspronklik gekom om die evangelie te verkondig. Maar in baie gevalle het dit gelei tot die bevordering van die Westerse, materialistiese lewenswyse. Ja, hulle het baie bekeerlinge gemaak. Maar soos ons gesien het, is baie van hulle op die ou end meer wêrelds en materialisties as ooit. In Jesus se dag het hy van die godsdiensleiers gesê: “Julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom ’n kind van die hel, twee maal erger as julle self” (Mattheüs 23:15). In hierdie sin het die Christendom se poging om die evangelie deur maatskaplike programme te verkondig geboemerang. Dit het ver te kort geskiet aan die groot opdrag wat Jesus Christus gegee het: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”—Mattheüs 28:19.