Die ‘verkondiging van die evangelie’ deur maatskaplike werk
KUO TUNG, ’n jong Boeddhis van Hongkong, het universiteitsopleiding ontvang. Hsiu Ying, ’n moeder in Taiwan, het broodnodige behandeling vir haar seun se kritieke siekte bekom. Wat het hierdie twee oënskynlik nie-verwante gebeure met mekaar gemeen?
Universiteitsopleiding sou normaalweg vir Kuo Tung buite die kwessie gewees het. Maar deur die kerk waarvan hy ’n lidmaat is, is geleenthede vir hom oopgestel. Die ingewikkelde mediese prosedure wat Hsiu Ying se seun nodig gehad het, was insgelyks net beskikbaar by die kerkhospitaal in haar omgewing. Deur haar bande met die kerk is die probleem insgelyks opgelos.
Kuo Tung en Hsiu Ying se verhaal is geensins buitengewoon nie. Duisende mense in ontwikkelingslande word gelok na skole, hospitale, weeshuise en ander maatskaplike instellings wat deur kerke beheer word. So het hulle groot materiële voordele verkry. En deur by die kerk aan te sluit, het talle van hulle terselfdertyd die kerk se lidmaatskap vergroot.
’n Gebruik met ’n lang geskiedenis
Kerkskole en -hospitale is natuurlik nie iets nuuts nie. Trouens, sedert die vroeë dae toe sendelinge uitgestuur is na wat party vyandelike heidenlande genoem het, is skole en hospitale beskou as die doeltreffendste manier om nuwe gebiede te open en die vertroue en vriendskap van die plaaslike bevolking te wen.
Waar dit die situasie in Indië in die vroeë 19de eeu beskryf, sê die boek Nineteen Centuries of Missions (1899) byvoorbeeld: “Die sendelinge is nie net ywerig besig met evangelistiese werk nie, maar hulle pogings op opvoedkundige, mediese en zenana-gebied behaal ook duidelik welslae.” Die gevolg? “Elke sending het dagskole, vak- en openbare skole, ’n hoërskool of kollege, en in feitlik elke geval, ’n teologiese kweekskool.”
Die boek sê voorts oor die rol van mediese werk in die “sendingbedryf”: “Die geneesheer is altyd welkom, en die verligting van liggaamlike lyding wat hy bied, boesem nie net vertroue in die geneesheer in nie, maar word dikwels gevolg deur geloof in die godsdiens wat hy verkondig. As gevolg van die mediese behandeling word hele dorpies dikwels gelei om afgodediens te versaak en Christelike onderrig te ontvang.”
Wat in Indië gebeur het, het ook in ander lande in die Verre Ooste, Suid-Amerika en Afrika plaasgevind. Die gedagte om die evangelie deur maatskaplike werk te verkondig, het ingang gevind. Europese en Amerikaanse sendinggenootskappe, Katoliek sowel as Protestant, het werkers in hierdie gebiede uitgestuur en hulle sendingstasies tesame met hulle skole, hospitale en ander instellings opgerig. Hierdie strategie het dikwels soveel van die plaaslike mense gelok dat sulke maatskaplike werk weldra ’n integrerende deel van die kerke se oorsese sendingwerk geword het.
Deur die jare heen het hierdie instellings wat deur kerke beheer is, gegroei sodat hulle ’n baie belangrike plek in die plaaslike gemeenskappe beklee. Hulle skole en universiteite is dikwels die mees gesiene en gesogte instansies vir hoër onderwys. Hulle hospitale is gewoonlik die bes toegeruste en modernste. En in talle gebiede waar regerings onder oorweldigende maatskaplike probleme gebuk gaan, word hulle verwelkom, indien nie ook geëer nie.
Daar bestaan geen twyfel dat die betrokke gemeenskappe grootliks baat gevind het by die dienste wat deur sulke programme voorsien word nie. Kerkbeheerde skole en universiteite het letterlik duisende leerlinge en studente van ’n opvoeding voorsien wat hulle andersins moontlik nie sou kon ontvang nie. Sulke hospitale en gesondheidsdienste het verligting gebring vir tallose mense in afgeleë en onontwikkelde gebiede. Die filantropiese werk van Albert Schweitzer en “Moeder” Teresa is byvoorbeeld internasionaal bekend en hulle albei het die Nobel-vredesprys gewen.
’n Mens moet andersyds vra: Het die maatskaplike evangelie werklik aan sy doel beantwoord? Het dit ware Christene gemaak van diegene wat by die liefdadigheid baat gevind het? Het dit aan die mense ware geloof en hoop gebied? Nog belangriker, ons moet vra: Is dit wat Jesus in gedagte gehad het toe hy sy volgelinge beveel het om ‘die evangelie in die hele wêreld te verkondig’?—Mattheüs 24:14.