Vrae van lesers
▪ Waarom het Dawid wetende Ahimeleg die hoëpriester in gevaar gestel, iets wat tot die priester se dood gelei het, soos Dawid in 1 Samuel 22:22 bely het?
Eerste Samuel 22:22 (NAV) toon in werklikheid nie dat Dawid vooraf geweet het dat sy optrede Ahimeleg se dood tot gevolg sou hê nie. Die vers lui: “Dawid het vir Abjatar [die seun van Ahimeleg] gesê: ‘Ek het daardie dag toe Doëg die Edomiet daar was, geweet dat hy [Doëg] beslis alles vir Saul sou vertel. Ek het die lewe van jou hele familie in gevaar gestel.’”
Toe Dawid van woedende koning Saul af gevlug het, het hy na Nob gegaan waar hoëpriester Ahimeleg was. Dawid het nie die presiese rede waarom hy Jerusalem verlaat het, verstrek nie, moontlik omdat hy bang was dat die hoëpriester verplig sou voel om die koning te verwittig waar Dawid hom bevind. Maar sy teenwoordigheid in Nob is opgemerk. Die Edomiet genaamd Doëg het Dawid gesien en later vir toornige Saul daarvan vertel.
Daar is egter niks in die verhaal wat bewys dat Dawid vooraf van Doëg se teenwoordigheid bewus was nie. Doëg was “dieselfde dag” daar, “opgesluit . . . voor die aangesig van die HERE” (1 Samuel 21:7). Dawid was waarskynlik verbaas, selfs geskok, dat die beginsellose Doëg hom by Ahimeleg gesien het. Maar gedane sake het geen keer nie. Dawid kon dit nie verander nie en hy kon ook nie die verskriklike gevolge voorkom wat Saul se toorn vir die hoëpriester en talle ander priesters, asook vroue, kinders en diere in Nob meegebring het nie.—1 Samuel 22:9-19.
Let, hiermee in gedagte, weer op Dawid se hartseer woorde aan Abjatar, wat die slagting ontkom het: “Ek het daardie dag toe Doëg die Edomiet daar was, geweet dat hy . . .” Ons kan begryp dat wat Dawid probeer sê het, was: ‘Ek het daardie dag, onmiddellik toe ek besef het dat Doëg my saam met Ahimeleg gesien het, geweet dat hy . . .’ Maar dit was te laat. Doëg was onverwags daar en het Dawid se kontak met die hoëpriester waargeneem. Dawid het dus dadelik die gevolgtrekking gemaak dat Doëg vir Saul daarvan sou vertel. Dit is waarom Dawid later teenoor Abjatar erken het dat hy in ’n mate skuldig gevoel het, selfs al het Dawid net onregstreeks tot die gevolglike slagting bygedra. Hy het Abjatar aangespoor om by hom te bly, want Dawid het op Jehovah se leiding en beskerming vertrou.—1 Samuel 22:22, 23.
▪ Is dit gepas dat twee of drie broers saam ’n persoon tydens Christelike doop onderdompel?
Gewoonlik is net een manlike bedienaar nodig om iemand te doop.
Hoewel die Bybel nie ’n reglement van orde vir Christelike doop uiteensit nie, kan ons uit die Bybelse verslag leer. Jesus se waterdoop is besonder leersaam.
Die Bybel berig: “Toe het Jesus van Galilea na die Jordaan, na Johannes [die Doper] gekom om deur hom gedoop te word” (Mattheüs 3:13). Let op dat dit sê “deur hom”, nie deur hulle nie. Die Evangelieverhale bevat geen aanduiding dat enigiemand Johannes gehelp het om Jesus te doop nie. Trouens, daar was klaarblyklik geen waarnemers by daardie doop nie, want dit was aanvanklik net Johannes wat Jesus geïdentifiseer het as “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Johannes 1: 29, 33, 34). Jesus se doop stel gevolglik die voorbeeld van algehele onderdompeling in water, maar dit dui ook aan dat een manlike kneg van God die doop moet behartig.
Daar was moontlik een of meer getuies toe Filippus die Ethiopiese eunug in “water” gedoop het, maar Filippus was al een wat die doopwerk gedoen het (Handelinge 8:36-39). Die Bybelse verslae van ander doopplegtighede dui boonop nie aan dat twee of drie broers saam ’n persoon onder die water gedruk het en dan die nuwe broer of suster uitgelig het nie. Maar in baie gevalle was daar klaarblyklik waarnemers, of getuies, van die doopplegtighede.
Oor die jare heen was daar natuurlik sommige spesiale situasies wat in ag geneem moes word wanneer persone gedoop is. Wanneer die enigste water wat beskikbaar is byvoorbeeld ’n stroom is wat vinnig vloei en potensieel gevaarlik is, kan eerbied vir veiligheid dit wenslik maak dat twee broers saam werk. Of die fisiese toestand van die kandidaat, soos verlamming of groot broosheid, kan dit nodig maak dat meer as een broer die doopwerk doen. Dit is egter buitengewone gevalle wat hanteer moet word soos die wysheid voorskryf. Die norm onder Jehovah se Getuies is dat slegs een man die doopkandidaat onderdompel.