Die begin van die koningshuis in Israel—Die twee boeke van Samuel
„HET julle dan nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger gekry het nie? Hy het die huis van God binnegegaan en die offerbrode geneem en geëet en ook aan sy manne gegee. Tog is niemand behalwe die priesters toegelaat om daardie brood te eet nie” (Lukas 6:3, 4, NAV). Met hierdie woorde het Jesus party Fariseërs wat sy dissipels van Sabbatskending beskuldig het omdat hulle ’n paar are op die Sabbat gepluk en geëet het die swye opgelê.
Hy het ook iets anders toegelig. Die geskiedkundige verslag van Dawid en die „heilige brood” is in die eerste boek van Samuel opgeteken (1 Samuel 21:1-6). Jesus se verwysing daarna ten einde ’n beswaar te weerlê, toon hoe goed hy die boek geken het en dui daarop dat dit ook vir ons goed sal wees om daarmee vertroud te raak. Saam met Tweede Samuel bevat dit inligting wat vir Jesus waardevol was en wat vandag vir ons waardevol is.—Romeine 15:4.
Wat is die twee boeke van Samuel? Hulle is geskiedkundige boeke in die Hebreeuse Skrifte wat ’n keerpunt in die geskiedenis van God se volk beskryf. Die Israeliete is voorheen deur ’n reeks rigters regeer. Hierdie twee boeke beskryf die einde van daardie tydperk en die begin van die bewind van die Israelitiese koningshuis. Hulle is vol opwindende gebeure en fassinerende mense. Ons ontmoet Samuel self, die laaste rigter, en die eerste twee konings, Saul en Dawid. Ons ontmoet ook ’n menigte ander onvergeetlike karakters: die ongelukkige Eli, die verstandige en taktvolle Abigail, die dapper maar vriendelike Jonatan, sowel as die broers Abisai en Joab, wat ywerig vir Jehovah maar wreed in hulle persoonlike vetes was (Hebreërs 11:32). Die twee boeke leer ons beginsels wat steeds belangrik is en beskryf gebeure wat verreikende gevolge vir God se volk, trouens, vir die hele mensdom, gehad het.
’n Koning wat gefaal het
Die eerste persoon wat deur Jehovah as koning oor Israel gesalf is, was Saul. Hy het goed begin, maar later versuim om tydens ’n dreigende aanval deur die Filistyne die gepaste vertroue in Jehovah te stel. Samuel het gevolglik vir hom gesê dat sy seuns nie die koningskap sou erf nie. Samuel het eerder gesê: „Die HERE het vir hom ’n man na sy hart gesoek; en die HERE het hom as vors oor sy volk aangestel” (1 Samuel 13:13, 14). Maar Saul het tot sy dood toe koning gebly.
Later is hierdie eerste koning beveel om ’n strafoorlog teen die Amalekiete te voer. Saul het Jehovah se bevele nie getrou uitgevoer nie en homself dus verdere misnoeë op die hals gehaal. Samuel is beweeg om te sê: „Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme” (1 Samuel 15: 22). Dit is steeds ’n noodsaaklike beginsel vir diegene wat Jehovah in posisies van leierskap dien. Omdat Saul nie gehoorsaam was nie, het Samuel die profeet bygevoeg:„Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp” (1 Samuel 15:23). Later het Saul getoon hoe ver hy van reine aanbidding afgedwaal het toe hy ’n spiritis geraadpleeg het.—1 Samuel 28:8-25
’n Suksesvolle koning
Die een wat koning Saul opgevolg het, was Dawid, die seun van Isai. Dawid was anders as Saul. In sy jeug het hy sy vertroue in Jehovah getoon toe hy die Filistynse reus, Goliat, doodgemaak het. En toe hy weens Saul se jaloesie met lewensgevaar vir hom moes vlug, het hy Jehovah nietemin in alles bly gehoorsaam. Dawid het meer as een geleentheid gehad om Saul dood te maak. Maar hy het nie. Hy het gewag tot dit Jehovah se tyd was vir hom om koning te word. Dit was gedurende hierdie moeilike tyd dat Ahimeleg die priester hom die offerbrood gegee het om te eet in die voorval wat Jesus vir die Fariseërs gemeld het.
Later het Saul gesterf en het Dawid begin regeer. Maar aanvanklik het slegs sy eie stam, Juda, hom aanvaar. Die ander stamme het steeds ’n oorlewende seun van Saul, Isboset, gevolg. Dawid was egter nie wraaksugtig teenoor sy mededinger nie. Toe Isboset later vermoor is, het Dawid die moordenaars tereggestel. En toe Isboset se groot generaal, Abner, vermoor is, het hy almal beveel om te rou (2 Samuel 3:31-34; 4:9-12). Jehovah se knegte moet sulke nederigheid, geduld, verdraagsaamheid en vertroue op Jehovah openbaar, ongeag in watter tyd hulle lewe.
Die „Seun van Dawid”
Toe Dawid eindelik koning oor ’n verenigde nasie geword het, was een van sy eerste gedagtes om ’n verbondsark, die simbool van Jehovah se teenwoordigheid in Israel, te bou. Jehovah het nie sy goedkeuring hiervoor gegee nie, maar ter erkenning van Dawid se uitsonderlike getrouheid het hy ’n merkwaardige verbond met hom gesluit: „Jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid.”—2 Samuel 7:16.
Dawid het derhalwe ’n skakel in die lang, ongebroke geslagslyn geword wat van Adam, deur Abraham, Isak, Jakob en Juda tot die beloof de Messias gelei het (Genesis 3:15; 22:18; 26:4; 49:10). Wanneer die Messias eindelik sou kom, sou hy ’n afstammeling van Dawid wees. Jesus was dit aan die kant van sy pleegvader sowel as sy moeder (Mattheüs 1:1-16; Lukas 3:23-38). Hy word dikwels in die Evangelieverslae die „Seun van Dawid” genoem.—Markus 10:47, 48.
As die amptelike „Seun van Dawid” was Jesus Dawid se erfgenaam. Wat het hy geërf? Die engel Gabriël het vir Maria gesê: „Hy [Jesus] sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie” (Lukas 1:32, 33). Dawid het God se hele volk onder een koninkryk verenig, soos die boek Tweede Samuel beskryf. Jesus het dus heerskappy oor die hele Israel geërf.
Let ook op ’n ander feit omtrent Dawid, soos opgeteken in die eerste boek van Samuel: „En Dawid was die seun van die Efratiet, uit Betlehem-Juda, met die naam van Isai” (1 Samuel 17:12). Hierdie verklaring is nie net ’n interessante geskiedkundige voetnoot nie. Die Messias, as die „Seun van Dawid”, is ook in Betlehem gebore: „En jy, Betlehem Efrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ’n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid” (Miga 5:1). Jesus het natuurlik hierdie vereiste van Messiasskap vervul.—Mattheüs 2:1, 5, 6.
Dade wat die geskiedenis verander het
Talle van Dawid se heldedade het blywende gevolge gehad. Dawid het byvoorbeeld ’n paar kilometer van Jerusalem af groot geword. Toe hy ’n seun was, was die stad in die besit van die Jebusiete, en Dawid moes seker dikwels die feitlik onneembare posisie daarvan op ’n steil klipbank bekend as die berg Sion bewonder het. As koning was hy nou in ’n posisie om meer te doen as om dit te bewonder. Die tweede boek van Samuel gee ’n lewendige beskrywing van hoe Dawid, ten spyte van die spot van die Jebusitiese inwoners, „die bergvesting Sion ingeneem [het]; dit is die stad van Dawid” (2 Samuel 5:7). Sodoende het Jerusalem die kollig van wêreldgeskiedenis betree, waar dit sedertdien merendeels gebly het.
Die stad het Dawid se koninklike hoofstad geword en honderde jare lank die hoofstad van God se aardse konings gebly. In die eerste eeu het die „Seun van Dawid”, Jesus, daar gepreek. Dit was Jerusalem wat Jesus op ’n esel binnegery het om homself as Koning vir die Jode aan te bied (Mattheüs 21:1-11, Mattheüs 21:42–22:13; Johannes 7:14). En dit was buite die poorte van Jerusalem dat hy sy lewe vir die mensdom opgeoffer het, waarna hy opgewek is en in die hemel opgevaar het waar hy—soos Dawid voor hom—geduldig vir Jehovah gewag het om te sê wanneer hy as Koning moet begin regeer.—Psalm 110:1; Handelinge 2:23, 24, 32, 33; Hebreërs 13:12.
Dawid se heerskappy in Jerusalem herinner ons ook daaraan dat sy afstammeling, Jesus, nou ook in ’n Jerusalem, die „hemelse Jerusalem”, regeer (Hebreërs 12: 22). En die ligging van daardie hemelse Jerusalem word die „berg Sion” genoem, en dit laat ons dink aan die klipbank waarop die oorspronklike stad geleë was.—Openbaring 14:1.
Naby die einde van sy bewind het Dawid ’n onwettige sensus van die nasie gehou. As straf het Jehovah ’n plaag onder die nasie veroorsaak, en die engel wat die verwoesting aangerig het, het eindelik gestop by ’n dorsvloer wat aan ’n Jebusitiese grondeienaar genaamd Arauna behoort het. Dawid het die grond van Arauna gekoop en ’n altaar vir Jehovah daar gebou (2 Samuel 24:17-25). Hierdie daad het ook blywende gevolge gehad. Daardie stuk grond het die terrein vir Salomo se tempel geword, en later, vir die herboude tempel. Dit was dus eeue lank die wêreldsentrum van ware aanbidding. Jesus self het in Herodes se tempel gepreek, wat ook gebou was om wat eens die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet, was.—Johannes 7:14.
Ja, die twee boeke van Samuel vertel ons van ware mense en verduidelik belangrike beginsels. Hulle toon waarom Israel se eerste koning ’n mislukking was en waarom sy tweede koning, ondanks tragiese foute, uitsonderlike sukses behaal het. Hulle dek ’n belangrike tyd in die geskiedenis, naamlik die begin van mensekonings onder God se volk. Ons sien hoe Jerusalem die hoofstad van daardie koningshuis word en let op die koop van die plek wat etlike eeue lank die wêreldsentrum van ware aanbidding sou word. En dit gee ons ’n belangrike leidraad om die Messias te help identifiseer. Hy moes ’n „Seun van Dawid” wees.
Dit is waarlik merkwaardige boeke. Elke Christen behoort hulle self te lees.
[Venster op bladsy 30]
‘Hy gedra hom soos ’n profeet’
Wat bedoel die Bybel wanneer dit sê: „Die gees van God kom oor [Saul], ja oor hom, en aldeur gedra hy hom soos ’n profeet”?—1 Samuel 19:23, NW.
Wanneer Jehovah se profete Sy boodskappe oorgedra het, het hulle gespreek onder die invloed van die heilige gees wat ,hulle met krag gevul’ en hulle ongetwyfeld met waarlik buitengewone intensiteit en gevoel laat spreek het (Miga 3:8; Jeremia 20:9). Hulle gedrag het waarskynlik vir ander vreemd—miskien selfs irrasioneel—voorgekom. Maar wanneer daar eers vasgestel is dat Jehovah hulle gestuur het, het Godvresende persone hulle boodskappe ernstig opgeneem.—Vergelyk 2 Konings 9:1-13.
By hierdie geleentheid het Saul dus op ’n buitengewone manier begin optree, sodat dit waarnemers laat dink het aan die beroering van ’n profeet wat ’n boodskap van Jehovah gaan oordra. Terwyl hy so opgetree het, het hy sy klere uitgetrek en die hele nag lank naak gelê (1 Samuel 19: 23, 24). Dit kon gewees het om te toon dat hy bloot ’n man is wat geen koninklike mag of gesag het wanneer hy in stryd met Jehovah God se voornemens optree nie. By ’n vorige geleentheid toe koning Saul hom ,soos ’n profeet gedra het’, het hy Dawid met ’n spies probeer doodmaak.—1 Samuel 18:10, 11, vgl. NW.
[Venster op bladsy 31]
‘’n Bose gees deur die Here gestuur’
„Maar die Gees van die HERE het van Saul gewyk, en ’n bose gees, deur die HERE gestuur, het hom verskrik” (1 Samuel 16:14). Weet jy wat dit beteken?
Dit beteken nie dat Jehovah letterlik ’n bose gees gestuur het om Saul te verskrik nie. Maar toe Jehovah sy heilige gees verwyder het, is Saul vervul met ’n bose gees, of ’n innerlike drang om verkeerd te doen. (Vergelyk Mattheüs 12:43-45.) Waarom word daar na Jehovah verwys as die bron van hierdie bose gees? Omdat hy dit moontlik gemaak het dat Saul vervul word met verkeerde drange, of impulse, toe hy sy heilige gees verwyder het. Hierdie „bose gees” het Saul sy gemoedsrus ontneem en hom soms irrasioneel laat optree.
[Prente op bladsy 29]
GOLIAT
DAWID
SAUL
SAMUEL