Bileam—Feit of mite?
VOLGENS die Bybelboek Numeri was Bileam, die seun van Beor, ’n profeet wat sy dienste teen vergoeding aangebied het (Numeri, hoofstukke 22-24). Trouens, sy naam kom voor in agt verskillende Bybelboeke, onder meer briewe deur die Christenskrywers Petrus en Judas. Bileam het in die 15de eeu v.G.J. in die boonste deel van die Eufraatvallei gewoon. Hy het homself verhuur aan Balak, die koning van Moab, wat wou hê dat hy die nasie Israel moes vervloek. Was Bileam egter ’n geskiedkundige persoon of net ’n Joodse verdigsel?
Soos berig in Biblical Archaeology Review (September/Oktober 1985) het argeoloë wat in die midde-Jordaanvallei werk vorendag gekom met merkwaardige bevestiging dat Bileam werklik bestaan het. Hulle was besig met opgrawings by Tell Deir Alla, net noord van die rivier wat in die Bybel die Jabbok genoem word, toe hulle afgekom het op pleisterfragmente met antieke Semitiese skrif daarop. Gedurende die laaste paar jaar is hierdie fragmente noukeurig gedateer, saamgevoeg en ontsyfer.
Franse navorser André Lemaire verduidelik dat die fragmente aan radiokoolstofdateertoetse onderwerp is en sê: “Volgens hierdie toetse moet die inskripsies gedateer word c. 800 v.C., plus of minus 70 jaar.” En wat sê hulle? Volgens Lemaire se herstelwerk lui die teks ten dele (die letters in hakies word voorsien waar fragmente ontbreek):
“[1]1. Inskripsie van [Bi]leam, [seun van Beo]r, die man wat ’n siener van die gode was. Kyk, die gode het in die nag na hom gekom en [tot] hom [gespreek] 2. Volgens hierdie woor[d]e, en hulle het vir[Bilea]m, seun van Beor, gesê . . . en hy het geween 4. Bitterlik en sy volk het na hom gekom en vir Bileam, seun van Beor, ges[ê]: ‘Waarom vas jy en waarom ween jy?’”
Die teks kon waarskynlik sowat 2 800 jaar gelede deur die publiek gelees word, aangesien dit ’n deel van ’n taamlik lang muurinskripsie was. Hoewel daar leemtes in die teks is, word Bileam duidelik gemeld. Al is die inskripsie sowat 700 jaar na die gebeure gemaak, is Bileam klaarblyklik as ’n geskiedkundige persoon en ’n profeet aanvaar.
Hierdie muurinskripsies is etlike honderde jare nader aan die gebeure wat in die Bybel beskryf word as die oudste manuskripte wat op die oomblik beskikbaar is. Dit is nog ’n stukkie getuienis wat gevoeg is by die bewys dat die Bybel ’n betroubare verslag van antieke geskiedenis bevat.—2 Timotheüs 3:16, 17.