Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 4/1 bl. 14-19
  • Vertrou op God se gees om veranderinge in die lewe te hanteer

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vertrou op God se gees om veranderinge in die lewe te hanteer
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Dawid se nederigheid—’n goeie voorbeeld
  • “Moet julle nie wreek nie”
  • “Luister na dissipline”
  • Moenie jou hoop op onsekere rykdom vestig nie
  • Stel jou goedgekeur voor God
  • Bybelboek nommer 10—2 Samuel
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Koning Dawid se sonde
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • “Leer my om u wil te doen”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Glanspunte uit die boek Tweede Samuel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 4/1 bl. 14-19

Vertrou op God se gees om veranderinge in die lewe te hanteer

“Doen jou uiterste bes om jou goedgekeur voor God te stel.”—2 TIMOTEUS 2:15.

1. Watter veranderinge raak ons geestelike welsyn?

DIE wêreld om ons verander voortdurend. Ons sien indrukwekkende vooruitgang in die wetenskap en tegnologie en terselfdertyd ’n drastiese agteruitgang in sedelike waardes. Soos ons in die vorige artikel bespreek het, moet Christene die gees van die wêreld, ’n gees wat in verset teen God is, weerstaan. Namate die wêreld verander, verander ons ook in baie opsigte. Ons ontgroei ons kinderskoene en word volwassenes. Ons verkry of verloor dalk rykdom, goeie gesondheid en geliefdes. Baie van hierdie veranderinge is buite ons beheer, en dit kan nuwe en oorweldigende uitdagings meebring wat ons geestelike welsyn raak.

2. Watter veranderinge was daar in Dawid se lewe?

2 Min mense ondervind sulke ingrypende veranderinge in hulle lewe soos wat Dawid, die seun van Isai, ondervind het. Dawid, ’n eens onbekende herderseun, het in ’n kort tydjie beroemdheid verwerf as ’n volksheld. Hy het later ’n vlugteling geword, wat soos ’n dier gejag is deur ’n jaloerse koning. Daarna het Dawid ’n koning en oorwinnaar geword. Hy het die pynlike gevolge van ernstige sonde verduur. Daar was rampspoed en verdeeldheid in sy familie. Hy het rykdom verkry, oud geword en die kwale van die ouderdom ondervind. Ondanks die vele veranderinge in sy lewe het Dawid egter deur sy hele lewe heen geloof en vertroue in Jehovah en Sy gees geopenbaar. Hy het sy uiterste bes gedoen om hom “goedgekeur voor God te stel”, en God het hom geseën (2 Timoteus 2:15). Hoewel ons omstandighede van Dawid s’n verskil, kan ons leer uit die manier waarop hy gebeure in sy lewe hanteer het. Sy voorbeeld kan ons help om te verstaan hoe ons deurentyd die hulp van God se gees kan hê wanneer ons voor veranderinge in ons lewe te staan kom.

Dawid se nederigheid—’n goeie voorbeeld

3, 4. Hoe het Dawid, ’n eens onbekende herderseun, roem onder die volk verwerf?

3 As ’n seun het Dawid nie eens in sy eie gesin aansien gehad nie. Toe die profeet Samuel na Betlehem gekom het, het Dawid se vader sewe van sy agt seuns voor hom gebring. Dawid, die jongste seun, het agtergebly om die skape op te pas. Maar Jehovah het Dawid gekies om die toekomstige koning van Israel te wees. Hulle het Dawid uit die weiveld laat kom. Die Bybelverslag sê vervolgens: “Samuel [het] die horing met olie geneem en hom in die midde van sy broers gesalf. En van dié dag af het die gees van Jehovah oor Dawid werksaam geword” (1 Samuel 16:12, 13). Dawid het deur sy hele lewe heen op daardie gees vertrou.

4 Hierdie herderseun sou weldra roem onder die volk verwerf. Hy is ingeroep om die koning te dien en musiek vir hom te speel. Hy het die krygsman Goliat verslaan, ’n reus wat so wreedaardig was dat selfs Israel se gesoute soldate bang was om teen hom te veg. Toe Dawid oor die krygsmanne aangestel is, het hy suksesvolle veldslae teen die Filistyne gevoer. Die volk het hom liefgekry. Hulle het liedere geskryf waarin hulle hom lof toegeswaai het. Vroeër het ’n raadgewer van koning Saul die jong Dawid nie net beskryf as iemand wat “’n geoefende [harp]speler” is nie, maar ook as “’n dapper, sterk man en ’n krygsman en ’n intelligente spreker en ’n welgevormde man”.—1 Samuel 16:18; 17:23, 24, 45-51; 18:5-7.

5. Wat kon Dawid verwaand laat word het, en hoe weet ons dat dit nie gebeur het nie?

5 Roem, ’n aantreklike voorkoms, jeug, welsprekendheid, musiektalent, krygsvernuf, goddelike guns—dit het gelyk of Dawid dit alles gehad het. Enige van hierdie dinge kon hom verwaand laat word het, maar nie een daarvan het nie. Let op hoe Dawid koning Saul geantwoord het toe hy sy dogter aan Dawid in die huwelik wou gee. Met opregte nederigheid het Dawid gesê: “Wie is ek en wie is my bloedverwante, my vader se familie, in Israel, dat ek die skoonseun van die koning sou word?” (1 Samuel 18:18). ’n Geleerde het kommentaar gelewer oor hierdie vers en geskryf: “Dawid het bedoel dat hy nie op grond van sy persoonlike kwalifikasies of sy sosiale stand of sy afkoms enige aanspraak kon maak op die eer om die koning se skoonseun te word nie.”

6. Waarom moet ons nederigheid aankweek?

6 Dawid het nederig gebly omdat hy erken het dat Jehovah in elke opsig ver verhewe is bo onvolmaakte mense. Dawid het hom daaroor verwonder dat God enigsins ag gee op die mens (Psalm 144:3). Dawid het ook geweet dat enige grootheid wat hy moontlik gehad het, alleenlik te danke was aan die nederigheid wat Jehovah betoon het deurdat hy hom neergebuig het om Dawid te onderskraag, te beskerm en vir hom te sorg (Psalm 18:35). Wat ’n pragtige les is dit tog vir ons! Ons talente, prestasies en die voorregte wat ons geniet, moet ons nooit hoogmoedig maak nie. “Ja, wat het jy wat jy nie ontvang het nie?” het die apostel Paulus geskryf. “As jy dit dan inderdaad ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?” (1 Korintiërs 4:7). As ons God se heilige gees wil hê en sy goedkeuring wil geniet, moet ons nederigheid aankweek en nederig bly.—Jakobus 4:6.

“Moet julle nie wreek nie”

7. Watter geleentheid het Dawid gehad om koning Saul dood te maak?

7 Dawid se roem het geen hoogmoed in sy hart laat posvat nie, maar dit het wel ’n moorddadige jaloesie gewek by koning Saul, van wie God se gees gewyk het. Hoewel Dawid niks verkeerds gedoen het nie, het hy gevlug vir sy lewe en in die wildernis gaan bly. Toe koning Saul Dawid by een geleentheid meedoënloos agtervolg het, het hy by ’n grot ingegaan, min wetende dat Dawid en sy metgeselle daar wegkruip. Dawid se manne het hom aangespoor om die geleentheid aan te gryp wat God oënskynlik voorsien het om Saul dood te maak. Ons kan ons voorstel hoe hulle daar in die donkerte vir Dawid gefluister het: “Dít is die dag waarop Jehovah vir u sê: ‘Kyk! Ek gee jou vyand in jou hand, en jy moet met hom doen net soos dit goed is in jou oë.’”—1 Samuel 24:2-6.

8. Waarom het Dawid hom daarvan weerhou om wraak te neem?

8 Dawid het geweier om Saul leed aan te doen. Hy het geloof en geduld beoefen en was tevrede om sake in Jehovah se hande te laat. Nadat die koning die grot verlaat het, het Dawid agter hom aan geroep en gesê: “Mag Jehovah tussen my en u oordeel; en Jehovah sal vir my wraak neem op u, maar my hand sal nie teen u wees nie” (1 Samuel 24:12). Al het Dawid geweet dat Saul verkeerd is, het hy nie wraak geneem nie, en hy het ook nie beledigend met of van Saul gepraat nie. By verskeie ander geleenthede het Dawid homself daarvan weerhou om sake in sy eie hande te neem. Hy het eerder op Jehovah vertrou om dinge reg te stel.—1 Samuel 25:32-34; 26:10, 11.

9. Waarom moet ons nie met gelyke munt terugbetaal as ons teenstand of vervolging ondervind nie?

9 Soos Dawid bevind jy jou moontlik ook in moeilike situasies. Dalk word jy teëgestaan of vervolg deur skoolmaats, werksmaats, familielede of ander wat nie aan dieselfde geloof as jy behoort nie. Moenie met gelyke munt terugbetaal nie. Wag op Jehovah en vra dat sy heilige gees jou help. Moontlik sal daardie ongelowiges beïndruk word deur jou goeie gedrag en gelowiges word (1 Petrus 3:1). Hoe dit ook al sy, jy kan daarvan seker wees dat Jehovah jou situasie sien en op sy bestemde tyd iets daaromtrent sal doen. Die apostel Paulus het geskryf: “Moet julle nie wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die gramskap; want daar staan geskrywe: ‘Die wraak is myne; ek sal vergeld, sê Jehovah.’”—Romeine 12:19.

“Luister na dissipline”

10. Hoe het dit gebeur dat Dawid gesondig het, en hoe het hy dit probeer verberg?

10 Jare het verbygegaan. Dawid het ’n geliefde koning geword wat baie bekendheid verwerf het. Sy lewensweg van uitmuntende getrouheid, tesame met die pragtige psalms wat hy tot lof van Jehovah geskryf het, kan maklik die indruk skep dat hierdie man hom nooit aan ernstige sonde sou skuldig maak nie. Maar hy het wel. Eendag het die koning van sy dak af gesien hoe ’n pragtige vrou bad. Hy het oor haar navraag gedoen. Toe hy hoor dat die vrou Batseba is en dat haar man, Uria, aan die oorlogsfront is, het Dawid haar laat haal en met haar geslagsomgang gehad. Later het hy uitgevind dat sy swanger is. Wat ’n skandaal sou dit tog veroorsaak het as die saak op die lappe moes kom! Onder die Mosaïese Wet was egbreuk ’n halsmisdaad. Die koning het klaarblyklik gedink dat die sonde verberg kon word. Hy het dus ’n boodskap na die leër gestuur en beveel dat Uria na Jerusalem moet terugkeer. Dawid het gehoop dat Uria die nag by Batseba sou deurbring, maar dit het nie gebeur nie. Uit desperaatheid het Dawid Uria teruggestuur na die oorlogsfront met ’n brief aan Joab, die militêre bevelvoerder. In die brief is Joab beveel om Uria tydens ’n geveg in ’n posisie te plaas waar hy sou sneuwel. Joab het gehoor gegee, en Uria het gesterf. Nadat Batseba vir die gebruiklike tydperk gerou het, het Dawid haar as sy vrou geneem.—2 Samuel 11:1-27.

11. Watter situasie het Natan aan Dawid beskryf, en hoe het hy gereageer?

11 Dit het gelyk of die plan gewerk het, maar Dawid moes geweet het dat die hele saak oop en bloot voor Jehovah was (Hebreërs 4:13). Maande het verbygegaan, en die kind is gebore. Toe het God die profeet Natan na Dawid gestuur. Die profeet het ’n situasie aan die koning beskryf waarin ’n ryk man wat baie skape gehad het, die enigste en geliefde ooilam van ’n arm man geneem en geslag het. Die verhaal het Dawid se sin vir geregtigheid na vore laat kom, maar het geen agterdog gewek dat dit ’n verskuilde betekenis gehad het nie. Dawid het die ryk man summier veroordeel. Hy het met groot woede vir Natan gesê: “Die man wat dit doen, verdien om te sterf!”—2 Samuel 12:1-6.

12. Watter oordeel het Jehovah oor Dawid uitgespreek?

12 “U is die man!” het die profeet geantwoord. Dawid het homself veroordeel. Sy verontwaardiging het ongetwyfeld gou plek gemaak vir absolute skaamte en diepe droefheid. Stomgeslaan het hy geluister terwyl Natan Jehovah se onvermybare oordeel uitspreek. Daar was geen gerusstellende of vertroostende woorde nie. Dawid het die woord van Jehovah verag deur te doen wat sleg was. Het hy Uria nie deur die swaard van die vyand doodgemaak nie? ’n Swaard sou nie van Dawid se huis wyk nie. Het hy Uria se vrou nie in die geheim geneem nie? ’n Soortgelyke onheil sou oor hom kom, nie in die geheim nie, maar in die openbaar.—2 Samuel 12:7-12.

13. Hoe het Dawid op Jehovah se dissipline gereageer?

13 Iets wat in Dawid se guns getel het, is dat hy nie sy skuld ontken het nie. Hy het nie uitgevaar teen die profeet Natan nie. Hy het nie ander geblameer of allerhande verskonings gemaak vir wat hy gedoen het nie. Toe sy sondes aan hom uitgewys is, het Dawid die verantwoordelikheid daarvoor aanvaar en gesê: “Ek het teen Jehovah gesondig” (2 Samuel 12:13). Psalm 51 toon sy groot skuldgevoel en diepe berou. Hy het by Jehovah gepleit: “Moet my nie voor u aangesig wegwerp nie; en moet tog nie u heilige gees van my af wegneem nie.” Hy het geglo dat Jehovah, in sy barmhartigheid, nie ‘’n hart sal verag wat gebroke en verbryseld’ is weens sonde nie (Psalm 51:11, 17). Dawid het op God se gees bly vertrou. Hoewel Jehovah Dawid nie teen die bittere gevolge van sy sonde beskerm het nie, het hy hom vergewe.

14. Hoe moet ons op Jehovah se dissipline reageer?

14 Ons is almal onvolmaak, en ons sondig almal (Romeine 3:23). Soms pleeg ons dalk ’n ernstige sonde, soos Dawid. Net soos ’n liefdevolle vader sy kinders dissiplineer, wys Jehovah diegene tereg wat hom wil dien. Al is dissipline voordelig, is dit egter nie maklik om te aanvaar nie. Trouens, soms is dit “bedroewend” (Hebreërs 12:6, 11). Maar as ons “luister na dissipline”, kan ons met Jehovah versoen raak (Spreuke 8:33). As ons die voortdurende seën van Jehovah se gees wil geniet, moet ons teregwysing aanvaar en ons daarop toelê om God se goedkeuring te verkry.

Moenie jou hoop op onsekere rykdom vestig nie

15. (a) Op watter maniere gebruik party mense hulle rykdom? (b) Hoe wou Dawid graag sy rykdom gebruik?

15 Daar is geen aanduiding dat Dawid van hoë afkoms was of dat sy familie welaf was nie. Maar gedurende sy koningskap het Dawid ontsaglike rykdom verwerf. Soos ons weet, is daar baie mense wat hulle rykdom opgaar, dit gierig probeer vermeerder of dit op selfsugtige wyse bestee. Ander gebruik hulle geld om hulleself te verheerlik (Matteus 6:2). Dawid het sy rykdom anders gebruik. Hy wou Jehovah graag vereer. Dawid het aan Natan sy begeerte bekend gemaak om ’n tempel vir Jehovah te bou waarin die verbondsark, wat toe in Jerusalem ‘in tentdoeke gewoon het’, gehou kon word. Al het Dawid se voorneme Jehovah behaag, het Hy deur Natan vir Dawid gesê dat sy seun Salomo die tempel sou bou.—2 Samuel 7:1, 2, 12, 13.

16. Watter voorbereidings het Dawid getref vir die bou van die tempel?

16 Dawid het materiaal bymekaargemaak vir hierdie groot bouprojek. Vir Salomo het Dawid gesê: “Ek [het] vir Jehovah se huis honderdduisend talente goud en ’n miljoen talente silwer gereedgemaak, en die koper en die yster kan nie geweeg word nie omdat daar so ’n groot hoeveelheid is; en balke en klippe het ek gereedgemaak, maar daarby sal jy nog byvoeg.” Uit sy persoonlike rykdom het hy 3 000 talente goud en 7 000 talente silwer bygedra (1 Kronieke 22:14; 29:3, 4).a Dawid se vrygewigheid was nie ’n uiterlike vertoon nie, maar ’n blyk van geloof en toegewydheid aan Jehovah God. Hy het erken wie die Bron van sy rykdom is en vir Jehovah gesê: “Alles kom van u, en uit u hand het ons aan u gegee” (1 Kronieke 29:14). Dawid se vrygewige hart het hom beweeg om alles te doen wat hy kon om ware aanbidding te bevorder.

17. Hoe is die raad in 1 Timoteus 6:17-19 van toepassing op ryk sowel as arm?

17 Mag ons ook ons materiële bates gebruik om goed te doen. En laat ons ’n materialistiese lewenswyse vermy en God se goedkeuring probeer verkry—ja, dít is die weg van ware wysheid en geluk. Paulus het geskryf: “Beveel dié wat ryk is in die teenswoordige stelsel van dinge, om nie hooghartig te wees nie en om hulle hoop nie op onsekere rykdom te vestig nie, maar op God, wat aan ons alles ryklik vir ons genot verskaf; om goed te doen, om ryk te wees in goeie werke, om vrygewig te wees, mededeelsaam, en vir hulleself ’n goeie fondament vir die toekoms veilig as ’n skat te bewaar, sodat hulle ’n stewige houvas op die werklike lewe kan kry” (1 Timoteus 6:17-19). Ons moet, ongeag ons ekonomiese situasie, op God se gees vertrou en ’n lewensweg volg wat ons “ryk . . . teenoor God” sal maak (Lukas 12:21). Niks is waardevoller as ’n goedgekeurde posisie voor ons liefdevolle hemelse Vader nie.

Stel jou goedgekeur voor God

18. In watter opsig het Dawid ’n goeie voorbeeld vir Christene gestel?

18 Deur sy hele lewe heen het Dawid Jehovah se goedkeuring probeer wegdra. Hy het in ’n lied uitgeroep: “Betoon guns aan my, o God, betoon guns aan my, want tot u het my siel sy toevlug geneem” (Psalm 57:1). Sy vertroue op Jehovah was nie tevergeefs nie. Dawid het oud geword, “versadig van dae” (1 Kronieke 23:1). Al het hy ernstige foute begaan, word Dawid onthou as een van die baie getuies van God wat uitsonderlike geloof geopenbaar het.—Hebreërs 11:32.

19. Hoe kan ons ons goedgekeur voor God stel?

19 Wanneer jy voor veranderende omstandighede in die lewe te staan kom, moet jy onthou dat Jehovah jou ook kan onderskraag, versterk en teregwys, soos hy vir Dawid gedoen het. Die apostel Paulus het, soos Dawid, voor baie veranderinge in die lewe te staan gekom. Nogtans het ook hy getrou gebly deur op God se gees te vertrou. Hy het geskryf: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee” (Filippense 4:12, 13). As ons op Jehovah vertrou, sal hy ons help om suksesvol te wees. Hy wil hê dat ons sukses moet behaal. As ons na hom luister en nader aan hom kom, sal hy ons die krag gee om sy wil te doen. En as ons op God se gees bly vertrou, sal ons ons ‘goedgekeur voor God kan stel’, nou en tot in alle ewigheid.—2 Timoteus 2:15.

[Voetnoot]

a Die huidige geldwaarde van Dawid se bydrae beloop meer as R8,3 miljard.

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe kan ons waak teen hoogmoed?

• Waarom moet ons ons nie wreek nie?

• Watter beskouing van dissipline moet ons hê?

• Waarom moet ons op God vertrou en nie op rykdom nie?

[Prent op bladsy 16, 17]

Dawid het op God se gees vertrou en Sy goedkeuring probeer wegdra. Doen jy dieselfde?

[Prent op bladsy 18]

“Alles kom van u, en uit u hand het ons aan u gegee”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel