Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 9/1 bl. 23-27
  • Godvrugtige eerbied vir bloed

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Godvrugtige eerbied vir bloed
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die bloed van die Christus
  • Bloed​—’n morele geskil
  • In die Christengemeente
  • ‘Rein van die bloed van almal’
  • Heg die regte waarde aan jou gawe van lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Red jou lewe met bloed—Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Bloed—Noodsaaklik vir lewe
    Hoe kan bloed jou lewe red?
  • ’n Goddelike beskouing van lewe
    Wat leer die Bybel werklik?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 9/1 bl. 23-27

Godvrugtige eerbied vir bloed

“Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal.”​—HANDELINGE 20:26

1. Hoe weerspieël Paulus se woorde in Handelinge 20:26 Jehovah se beskouing van bloed?

DAARDIE woorde van die apostel Paulus as ’n Christen weerspieël sy gesonde eerbied vir bloed, die lewensvog. Later in hierdie bespreking sal ons ondersoek wat Paulus met daardie woorde bedoel het. Maar laat ons eers kyk wat die Skepper van diere- en mensesiele oor bloed te sê het. Ons het reeds gesien dat Jehovah God bloed as heilig beskou omdat dit die lewe verteenwoordig. Die wat onverskillig of roekeloos bloed vergiet, en veral mensebloed, word bloedskuldig voor God. Maar is daar nie maniere waarop bloed tot voordeel van die mensdom gebruik kan word nie?

2. (a) Waarom was dit vir mense in Israel ’n halsmisdaad om bloed te eet? (b) Hoe is die Israeliete bevoordeel deur daardie wet te onderhou?

2 God se wet aan Israel in verband met bloed het uitdruklik bepaal: “Julle mag die bloed van enige vlees nie eet nie, want die siel [lewe, NAV; King James Version; American Standard Version] van alle vlees is in sy bloed; elkeen wat dit eet, moet uitgeroei word.” Dit was ’n halsmisdaad vir Israeliete of vreemdelinge onder hulle om bloed te gebruik, selfs vir noodsaaklike voeding. Voor hulle die vleis geëet het, moes hulle die bloed laat uitloop en dit met grond toemaak, ’n handeling waardeur die lewe figuurlik aan God teruggegee is (Levitikus 17:13, 14). Dit was ’n goddelike wet. Deur dit te hou, het daardie Israeliete ’n gesonde geestelike verhouding met Jehovah, die Bron van lewe, bewaar. En hulle het ook bykomstige voordele geniet, soos die behoud van liggaamlike gesondheid.

Die bloed van die Christus

3. (a) Waarom is Jesus se bloed by uitstek “kosbaar”? (b) Hoe wys die Hebreeuse Skrifte heen op Jesus se offer?

3 Jehovah het egter een belangrike gebruik van bloed in gedagte gehad. Dit was om die mensdom van sonde en die dood los te koop deur middel van die “kosbare bloed” van Christus Jesus. Nog voor “die grondlegging van die wêreld” (toe sondige Adam en Eva loskoopbare kinders voortgebring het) het Jehovah reeds geweet hoe hy die mensdom sou verlos (1 Petrus 1:18-20; Romeine 6:22, 23). Dit is “die bloed van Jesus Christus, sy Seun, [wat] ons van alle sonde [reinig]” (1 Johannes 1:7). So belangrik is hierdie gebruik van bloed dat God in die Hebreeuse Skrifte talle tipes en skaduwees laat opteken het wat heenwys op Jesus se volmaakte offer.​—Hebreërs 8:1, 4, 5; Romeine 15:4.

4. Watter skaduwees bied die drama wat in Genesis hoofstuk 22 opgeteken is?

4 Eeue voor hy die Wet aan Israel gegee het, het Jehovah Abraham beveel om Isak op die berg Moria te offer. So het God toegelig hoe hy sy eniggebore Seun, Jesus, sou offer. Isak se gewillige onderwerping in hierdie dramatiese episode was ’n skaduwee van Jesus se gehoorsaamheid aan sy Vader se wil in die uitgieting van sy lewensbloed as offerande.​—Genesis 22:1-3, 9-14; Hebreërs 11:17-19; Filippense 2:8.

5. Hoe is die offerandes van die Mosaïese Wet ryk aan geestelike betekenis?

5 Die Mosaïese Wet was ook “’n skadubeeld van die weldade wat sou kom” en het heengewys op Jesus se offer ten behoewe van die mensdom. Die Wet het net een gebruik van bloed toegelaat​—in diereoffers aan Jehovah. Daardie offers was nie bloot ritueel nie. Hulle was ryk aan geestelike betekenis. Hulle het Jesus se offer en alles wat daardeur bereik sou word tot in die fynste besonderhede afgebeeld.​—Hebreërs 10:1, NAV; Kolossense 2:16, 17.

6. Watter twee groepe se verlossing word deur die Versoendagoffers afgeskadu? In watter opsig?

6 Die manier waarop Aäron die Versoendagoffers gebring het, het byvoorbeeld afgeskadu hoe die groot Hoëpriester, Jesus, die verdienste van sy eie kosbare lewensbloed gebruik om verlossing te voorsien, ten eerste vir sy priesterlike “huis” van 144 000 gesalfde Christene, sodat geregtigheid aan hulle toegeskryf kan word en hulle ’n erfdeel as konings en priesters saam met hom in die hemel kan ontvang. Die daaropvolgende offer ten behoewe van “die volk” beeld af hoe Jesus al die mense loskoop wat die ewige lewe hier op aarde sal beërwe. ’n “Groot menigte” van hulle word nou reeds as regverdig gereken om die naderende groot verdrukking te oorleef. Dit is omdat ‘hulle hul klere gewas en hul klere wit gemaak het in die bloed van die Lam’ en hulle geloof toon deur heilige diens voor God te verrig.​—Levitikus 16:6, 15, 18-22; Hebreërs 9:11, 12; Openbaring 14:1, 4; 7:4, 9, 14, 15.

7. Waarom kan ons ons verheug oor die vervulling van daardie ou afbeeldings?

7 ‘Die lewe is in die bloed.’ Jesus se bloed was volmaak, sodat sy offer daartoe lei dat volmaakte lewe geskenk word aan almal wat geloof beoefen. Hoe bly kan ons tog wees dat daardie ou afbeeldings in Jesus se liefdevolle offer vervul is!​—Levitikus 17:14; Handelinge 20:28.

Bloed​—’n morele geskil

8, 9. (a) Meld sommige van die wonderlike funksies van bloed. (b) Hoe kan ons, soos Dawid, godvrugtige eerbied getuig vir die manier waarop ons geskep is?

8 Die ontwerp van bloed spreek van verstommende wysheid. Evolusioniste, wat nog steeds nie die oorsprong van lewe kan verklaar nie, wil ons wysmaak dat ons lewensbloed op die een of ander manier geëvolueer het. Hoe ongelooflik tog!

9 Ons komplekse bloed verrig inderdaad wonderlike funksies. Dit vervoer lewe-onderhoudende suurstof en voedingstowwe na alle dele van ons liggaam. Dit verwyder afvalstowwe. Dit vervoer wit bloedselle om siekte te bestry, en plaatjies wat klein en groot beserings herstel. Dit help om liggaamstemperatuur te reguleer. Ons bloed is eie aan elkeen van ons; genetici in Engeland praat selfs daarvan om “DNA-vingerafdrukke” uit bloedmonsters te gebruik om misdadigers te identifiseer. Bloed is ’n orgaan onder talle liggaamsdele wat koning Dawid laat uitroep het: “Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep”!​—Psalm 139:1, 14, NAV.

10. (a) Wie moet bepaal hoe bloed gebruik mag word? (b) Watter duidelike bevele het God aan Noag en Israel gegee? (c) Watter voorbeeld toon dat bloed heilig is selfs wanneer ’n noodgeval ontstaan?

10 Moet die regverdige Skepper van die mensdom, die Ontwerper van ons bloed, nie die Een wees wat bepaal hoe daardie lewenstroom tereg gebruik mag word nie? (Job 36:3). Dit het hy onomwonde gedoen. Hy het vir ons voorvader Noag gesê: “Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie” (Genesis 9:4). En waar hy sy Wet aan Israel herhaal het, het hy reguit gesê: “Bly daar net vas by dat jy die bloed nie eet nie, want die bloed is die siel, en jy mag die siel nie saam met die vleis eet nie. Jy mag dit nie eet nie; op die grond moet jy dit uitgooi soos water” (Deuteronomium 12:23, 24). Dawid het ongetwyfeld hierdie gebod in gedagte gehad toe drie van sy krygsmanne hulle lewens gewaag het om vir hom drinkwater uit die put van Betlehem te bring. Hy “het dit tot eer van die HERE uitgegiet” omdat dit hulle lewensbloed verteenwoordig het (2 Samuel 23:15-17). Nie eens in ’n noodgeval mag die heiligheid van bloed geïgnoreer word nie.​—Kyk ook 1 Samuel 14:31-34.

In die Christengemeente

11, 12. (a) Watter geesgerigte liggaam het in die eerste eeu uitspraak gegee oor leerstellige vraagstukke? (b) Op watter godsdiensvlak het hierdie liggaam die gebruik van bloed geplaas? (c) Waarom word bloedoortappings gelykgestel met die eet van bloed deur die mond?

11 Kan jy jou ’n groot vertrek in eerste-eeuse Jerusalem voorstel? Jesus se apostels en ander ouere manne van die Christengemeente is daar byeen. Waaroor gaan die bespreking? Paulus en Barnabas het van Antiochië gekom om aan hulle ’n probleem voor te lê wat aldaar ontstaan het in verband met die besnydenis. Daardie raad besluit dat pasbekeerde Christene nie nodig het om in die vlees besny te word nie.​—Handelinge 15:1, 2, 6, 13, 14, 19, 20.

12 Toe hulle hierdie besluit bekend gemaak het, het die destydse bestuursliggaam die vereistes opgesom wat nog vir Christene geld. Hulle het gesê: “Die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is [sodat die bloed nog daarin is] en van hoerery. As julle jul hiervan onthou, sal julle goed doen. Vaarwel!” (Handelinge 15:28, 29). Afgodediens, die gebruik van bloed en hoerery word derhalwe op dieselfde godsdiensvlak geplaas. Christene moet hulle van al hierdie dinge onthou as hulle geestelik gesond wil bly en deel wil hê aan die vervulling van God se beloftes. Wat bloed betref, maak dit geen verskil of dit geëet word deur die mond of oorgetap word deur die are nie. Die doel is dieselfde​—om die liggaam te onderhou en te voed. Soos die bestuursliggaam duidelik getoon het, is die versuim om jou van bloed te onthou ’n skending van die wet van God.

13. (a) Watter bykomende beskerming geniet Jehovah se Getuies omdat hulle hul van bloed onthou? (b) Hoe het ander goddelike wette God se volk beskerm?

13 Die huidige verspreiding van VIGS, hepatitis en ander siektes deur bloedoortappings toon dat die onderhouding van God se wette dikwels ook met liggaamlike gesondheid verband hou. In Bybelse tye het God aan Israel bepaalde wette gegee oor dieet, kwarantyn, higiëne en sanitasie wat goed gepas het by hulle omswerwinge deur die woestyn (Levitikus 11:2-8; 13:2-5; Deuteronomium 23:10-13). Deur daardie verordeninge te onderhou, het Israel nie net ’n hegte, geestelike verhouding met hulle God bewaar nie, maar is hulle ook fisies beskerm teen siektes wat hulle buurvolke geteister het. Dit is eers in die laaste eeu dat geneeskundiges begin het om die praktiese wysheid agter sommige van daardie wette in te sien. Baie kom ook tot die besef dat God se wet oor bloed sin het.

14. Watter genesing en seëninge was vir die Israeliete beskikbaar wanneer hulle gehoorsaam was?

14 Wanneer Israel gehoorsaam was, het God teenoor hulle die belofte vervul: “As jy getrou na die stem van die HERE jou God luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die HERE wat jou gesond maak.” Nog belangriker, gehoorsaamheid het Israel in aanmerking laat kom vir toekomstige Koninkrykseëninge.​—Exodus 15:26; 19:5, 6.

15. Watter onlangse voorbeeld toon hoe ons geseën kan word deur God se verordeninge te gehoorsaam?

15 Jehovah se Getuies waardeer die talle voordele wat die moderne geneeskunde bied. Byvoorbeeld: toe ’n Koninkryksaal naby Sydney, Australië, verlede jaar deur ’n terroristebom vernietig en meer as 50 beseerde Getuies na ’n nabygeleë hospitaal geneem is, was hulle dankbaar dat die dokters ’n goeie voorraad bloedlose vloeistowwe beskikbaar gehad het om oor te tap. Al die beseerdes het herstel. Hulle kan dankbaar wees vir hierdie oortappings wat in harmonie met Jehovah se verordeninge is. As ’n verdere voordeel het geeneen van hulle gevaar geloop om siektes op te doen wat deur bloed oorgedra kan word nie.

‘Rein van die bloed van almal’

16. Watter gesindheid moet ons teenoor heilige diens toon, soos Paulus ook getoon het?

16 Laat ons egter terugkeer na die eerste eeu. ’n Stuk of sewe jaar het verloop sedert Paulus en Barnabas gehoor het hoe Jakobus die verbod op afgodediens, bloed en hoerery aankondig. Gedurende daardie tyd het Paulus twee sendingreise deur Klein-Asië tot in Oos-Europa onderneem. Nou, met sy terugkeer deur Milete, kry hy die geleentheid om met die Efesiese ouere manne te praat, wat hom daar kom ontmoet het. Hy herinner hulle daaraan dat hy geen moeite ontsien het terwyl hy onder hulle was nie, maar dat hy “die Here gedien het met alle nederigheid en baie trane en beproewinge”. Is ons vandag so selfopofferend dat ons alles gee wat ons het in Jehovah se diens? Ons behoort te wees.​—Handelinge 20:17-19.

17. Hoe moet ons ons diens verrig, soos Paulus dit ook verrig het?

17 Hoe het Paulus daardie diens verrig? Hy het oral getuig waar hy mense gevind het, veral by hulle huise, en dit ongeag hulle godsdiensagtergrond. Hy het nie geaarsel om daardie ouere manne te onderrig nie, en hulle het hom ongetwyfeld vergesel terwyl hy “in die openbaar en van huis tot huis” gepreek het. Hulle was nie die enigstes wat by Paulus se ywerige diens baat gevind het nie, want hy het ‘deeglik vir sowel Jode as vir Grieke getuig oor berou teenoor God en geloof in die Here Jesus’. Let op daardie woord “deeglik”. Is ons vandag deeglik in ons werk deur toe te sien dat alle soorte mense, alle volksgroepe, die getuienis ontvang?​—Handelinge 20:20, 21, NW; Openbaring 14:6, 7.

18. (a) Hoe moet ons, soos Paulus, ons siel by God se diens betrek? (b) Hoe moet ons, soos Paulus, voortgaan ondanks toenemende druk?

18 Die woord “deeglik” kom ook in Paulus se volgende verklaring voor: “Ek heg nie die minste waarde aan my siel asof dit vir my dierbaar is nie, indien ek maar net my loopbaan en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, kan voleindig, om deeglik getuienis af te lê van die goeie nuus van die onverdiende goedheid van God” (Handelinge 20:24, NW). Sy siel, of lewe, sou geen waarde hê as hy nie sy bediening op hierdie manier vervul het nie. Het ons daardie beskouing van ons bediening? Toon ons, noudat hierdie laaste dae haas verstryk het en terwyl ons gebuk gaan onder druk, vervolging, siekte of die ouderdom, steeds ’n gees soos dié van Paulus deur deeglik na ‘waardige’ huisgesinne te soek?​—Mattheüs 10:12, 13; 2 Timotheüs 2:3, 4; 4:5, 7.

19. Waarom kon Paulus sê: ‘Ek is rein van die bloed van almal’?

19 Paulus het nie verwag om daardie Efesiese ouere manne weer te sien nie. Maar hy kon met volle oortuiging vir hulle sê: “Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal.” Hoe so? Paulus het nie bloed in oorloë vergiet nie. Hy het nie bloed geëet nie. Maar hy het opreg belanggestel in die lewens van ander, soos verteenwoordig deur hulle bloed. Hy wou nie sien dat hulle hulle lewe in God se Oordeelsdag verloor weens sy versuim om ’n deeglike getuienis af te lê nie. Hy het nie nagelaat om aan daardie ouere manne en ander “die hele raad van God” te verkondig nie.​—Handelinge 20:26, 27.

20. (a) Watter verantwoordelikheid moet ons vandag nakom, in ooreenstemming met Jehovah se herhaalde waarskuwing aan Esegiël? (b) Wat sal die gevolg wees vir onsself en die wat na ons luister?

20 Namate die “groot verdrukking” nader kom, word dit al dringender om die hele raad van God te verkondig. Die situasie is soortgelyk aan die situasie nagenoeg 2 600 jaar gelede toe Jerusalem se vernietiging ophande was. Die woord van Jehovah het tot sy profeet Esegiël gekom en gesê: “Mensekind, Ek het jou as wag vir die huis van Israel aangestel; en as jy ’n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku. As Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe​—en jy waarsku hom nie en spreek nie om die goddelose vir sy goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis” (Esegiël 3:17-21; 33:7-9). Jehovah se gesalfde knegte en die “groot menigte”, hulle metgeselle, het vandag ’n soortgelyke verantwoordelikheid. Ons getuienis moet deeglik wees. So kan ons op die dag van God se wraak gered word tesame met die wat na ons luister.​—Jesaja 26:20, 21; 1 Timotheüs 4:16; Openbaring 7:9, 14, 15.

21. Op watter maniere kan ons godvrugtige eerbied vir bloed toon, en met watter gevolg?

21 Laat elkeen van ons vasbeslote wees om die hele raad van God te gehoorsaam ten opsigte van Christelike neutraliteit, die onthouding van bloed, die aflê van ’n deeglike getuienis en die beoefening van geloof in Jesus se kosbare offer. Dan sal ons kan deel in die blye vervulling van Psalm 33:10-12: “Die HERE vernietig die raad van die nasies, Hy verydel die gedagtes van die volke. Die raad van die HERE bestaan vir ewig . . . Welgeluksalig is die nasie wie se God die Here [Jehovah] is.”

Hoe sal jy antwoord?

◻ Watter enkele gebruik van bloed lei tot blywende seëninge?

◻ Hoe word ons bevoordeel deur ons van bloed te onthou?

◻ Hoe kan ons ‘rein wees van die bloed van almal’?

◻ Watter voorbeeld van deeglikheid moet ons volg?

[Lokteks op bladsy 26]

The Wall Street Journal van 20 Maart 1986 het ’n artikel bevat met die titel: “Bloedbanke nie veilig teen VIGS”. Die eerste paragraaf lui: “Die V.S.A. se bloedvoorraad is minder veilig as wat bloedbankorganisasies ons wil laat glo. Bloedoortappings is potensieel ’n belangrike manier waarop Verworwe Immuungebreksindroom van die huidige hoërisikogroepe na die algemene bevolking versprei kan word. Die teenliggaamtoets vir VIGS wat gebruik word om bloedskenkings te keur, kan nie waarborg dat alle besmette eenhede uitgewys sal word nie. Nog erger, bloedbankiers is teësinnig om stappe te doen wat die veiligheid van bloedoortappings sal verhoog.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel