Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 8/15 bl. 20-21
  • Die psalmis besing Jehovah se lof

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die psalmis besing Jehovah se lof
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Onderwerping aan Jehovah se voornemens
  • Die weergalose God
  • Jehovah se groot mag
  • “Geloofd sy Jehovah”
  • Glanspunte uit die Eerste Boek van Psalms
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Bybelboek nommer 19—Psalms
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • “Seën Jehovah”—Waarom?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 8/15 bl. 20-21

Bybelglanspunte Psalm 1 tot 41

Die psalmis besing Jehovah se lof

“Lofprysinge.” Dit is die betekenis van die Hebreeuse naam vir die boek Psalms, en hoe gepas is dit tog nie! Die hele boek is in werklikheid een lang lofkreet aan Jehovah God. Die Psalms vertel van Jehovah se eienskappe en magtige dade. Hulle bevat profesieë en vertel ons ook van die gevoelens van die geïnspireerde skrywers terwyl hulle vervolging, verraad, ontmoediging en selfs ’n gekwelde gewete verduur het. Baie Christene het al tydens soortgelyke beproewinge krag geput uit die woorde van die Psalms.

Die boek Psalms word in vyf dele verdeel. Hier bespreek ons die eerste deel, Psalm 1 tot 41.

Onderwerping aan Jehovah se voornemens

Lees asseblief Psalm 1 tot 14. Hierdie groep Psalms lei sommige van die hooftemas van die boek Psalms in: die belangrikheid van die Wet, profesieë oor die komende Messiaanse Koning, en gebede om hulp wanneer swaar druk ondervind word. Daarbenewens leer ons dat die regverdiges geseën sal word ten spyte van die tydelike oorheersing van die goddeloses.

◆ 2:1​—Watter “nietige dinge” het die nasies “bedink”?

Die nasies het die voortbestaan van hulle eie gesag “bedink” (of daaroor “gemompel”), in plaas van Jehovah se Gesalfde te aanvaar. Hierdie woorde het ’n toepassing in die eerste eeu G.J. gehad, toe Romeinse en Joodse owerhede saamgewerk het om Jehovah se gesalfde Koning, Jesus Christus, dood te maak (Handelinge 4:26-28). Die grotere vervulling was egter sedert 1914, toe al die nasies God se gekroonde Koning verwerp het en probeer het om hulle eie soewereiniteit te bevorder.

◆ 2:12​—Waarom die bevel: “Kus die Seun”?

In die Bybelse tyd was ’n kus ’n vriendskapsbetuiging en is dit gebruik om gaste in die herbergsaamheid van jou huis te verwelkom. In hierdie vers beveel Jehovah die nasies om sy Seun as sy gesalfde Koning te kus of te verwelkom.​—Psalm 2:2, 6-8.

◆ 9:13​—Waarom ‘soek Jehovah die bloed’?

Soos ’n regter wat regspreek, soek Jehovah diegene uit wat bloedskuldig is omdat hulle die bloed van sy onskuldige volk vergiet het (Genesis 9:5, 6; Lukas 11:49, 50). Hy straf ook die skuldiges. Maar sy strafgerigte is nie willekeurig nie. Die psalmis Dawid verseker ons: “Hy vergeet die geroep van die ellendiges nie.”​—Vergelyk 2 Petrus 2:9.

◆ 11:3​—Wat is “die fondamente” wat omgegooi word?

Die fondamente is geregtigheid, wet en orde​—die fondamente waarop die samelewing berus. Wat moet die godvresende persoon doen wanneer daar ’n ineenstorting in die sosiale orde is, met geen moontlikheid van geregtigheid nie? Vertrou op Jehovah. Hy is op sy hemelse troon, sien alles wat gebeur, en sal ons nie in die steek laat nie.

Les vir ons: Psalm 4:6 spoor godvresendes aan om “offerandes van geregtigheid” te offer. In Dawid se dag moes die Israeliete offerandes op Jehovah se altaar offer. Maar hulle moes ook die regte beweegredes hê en opreg berouvol wees (Jesaja 1:11-17). Wanneer Christene hulle geestelike offerandes offer, moet hulle ook die regte beweegredes hê en aan Jehovah se hoë standaarde voldoen.​—Hebreërs 13:4, 5, 15, 16; 1 Petrus 2:1, 5.

Die weergalose God

Lees Psalm 15 tot 24. Hierdie groep psalms bevat ’n aantal lofbetuiginge aan Jehovah. Hy is die Beskermer van sy volk (18), Skepper en Wetgewer (19), Verlosser (20), Beskermer van sy uitverkore Koning (21), die Groot Herder (23), en die Erekoning (24).

◆ 16:10​—Wie is die “gunsgenoot”, of “troue dienaar” (NAV), wat hier gemeld word?

Sommige Bybelkenners pas hierdie vers toe op getroues in die algemeen, en haal ter stawing die feit aan dat die woord vir “troue dienaar” in sommige Hebreeuse manuskripte in die meervoud is. Maar wanneer hierdie vers in die Christelike Griekse Skrifte aangehaal word, is die woord in die enkelvoud, wat slegs een “troue dienaar” aandui. Wie is hy? In die eerste plek, waarskynlik Dawid self. Maar beide Petrus en Paulus het hierdie vers profeties op Jesus toegepas.​—Handelinge 2:25-32; 13:35-37.

◆ 21:4​—Wat was die “kroon van fyn goud”?

Miskien was dit ’n letterlike kroon, soos die een wat van die afgod Milkom afgeneem is. (Vergelyk 2 Samuel 12:29, 30.) Of miskien is die kroon eenvoudig figuurlik, ’n simbool van die feit dat Dawid se oorwinning sy glorieryke koningskap verder versier het. Tog dui hierdie psalm profeties aan hoe Jehovah in 1914 die kroon van heerskappy aan Jesus gegee het. Die “kroon van fyn goud” dui op die feit dat sy heerskappy van die hoogste kwaliteit is.

◆ 22:2​—Het God Dawid verlaat?

Nee, maar toe Dawid onder groot druk van sy vyande was, het dit so gelyk. Dawid se menslike reaksie op sy verknorsing het egter nie gebrek aan geloof weerspieël nie, aangesien hy voortgaan om met vrymoedigheid om verlossing te bid (vers 17-20). Dit is interessant dat Jesus uit hierdie psalm aangehaal het voordat hy aan die folterpaal gesterf het. Deur te vra “waarom?”, het Jesus uiting gegee aan die geweldige druk waaronder hy verkeer het, terwyl hy terselfdertyd sy onskuld verkondig het op die valse aanklagte wat tot sy teregstelling gelei het.

Les vir ons: Die apostel Paulus haal Psalm 22:23 aan en pas dit toe op die manier waarop Jesus Christus die leiding onder sy gesalfde broers neem in die verkondiging van Jehovah se naam (Hebreërs 2:11, 12). Psalm 22:28 dui op die tydperk wanneer “al die geslagte van die nasies” sal aansluit by Jehovah se volk om hom te loof. ’n Groot, internasionale menigte aanbid God vandag saam met Jesus se broers (Openbaring 7:9). Ons moet digby hierdie goddelik georganiseerde reëling bly.

Jehovah se groot mag

Lees Psalm 25 tot 34. In Psalm 25 en 26 verklaar Dawid sy begeerte om in sy onkreukbaarheid te wandel. Daar volg dan betuiginge van moedige vertroue op Jehovah en, in Psalm 33, ’n grootse beskrywing van Jehovah se mag.

◆ 28:8​—Wie is Jehovah se “gesalfde” (NAV)?

In hierdie vers is die “gesalfde” Jehovah se uitverkore volk, soos gesien kan word uit die parallelle woorde “[Jehovah] is ’n sterkte vir sy volk”. Hierdie woorde het ’n profetiese betekenis soortgelyk aan dié van Habakuk 3:13. Hulle dui op Jehovah se redding van sy gesalfde oorblyfsel by die oorlog van Armageddon.

◆ 29:5, 6​—Hoe breek die stem van Jehovah die seders?

In hierdie psalm word die krag van Jehovah aanskoulik uitgebeeld deur sy stem met ’n donderstorm te vergelyk. Die storm trek van Libanon in die noorde tot by die suidelike woestynstreke en boesem gesag in soos dit beweeg (vers 9b). Die stormwinde skud die seders van Libanon, laat hulle “opspring soos ’n kalf”, en die weerlig slaan party bome plat en ‘breek hulle’. Net so laat die stormwinde “die woestyn bewe” (vers 8) deur die woestynsand op te jaag sodat dit lyk of dit bewe in angs.

◆ 33:6​—Wat is ‘die gees van Jehovah se mond’?

Die gees, of asem, wat hier bedoel word, is Jehovah se heilige gees, of werkende krag. Soos ons woorde en asem gelyktydig uit ons monde voortkom, so word Jehovah se woord, of bevel, hier verbind met sy asem, of gees. God het sy heilige gees gebruik toe hy die son, maan en sterre geskep het, dit wil sê, die ganse figuurlike leërskare van die stoflike hemele.​—Vergelyk Genesis 1:1, 2.

Les vir ons: In Psalm 26:5 het Dawid gesê dat hy die vergadering van kwaaddoeners gehaat het. Jehovah se Getuies vermy vandag eweneens omgang met kwaaddoeners (1 Korinthiërs 15:33). Net soos Dawid groot belangstelling in God se huis getoon het, is hierdie ware Christene verheug om in Jehovah se organisasie met mekaar te assosieer.​—Psalm 26:6-8; 122:1.

“Geloofd sy Jehovah”

Lees Psalm 35 tot 41. Opvallend in hierdie groep is Psalm 36, wat Jehovah identifiseer as die Bron van die lewe, en Psalm 37 wat ons verseker van die uiteindelike belonings vir die ontvanklikes. Veral ook opmerklik is Psalm 40, wat profesieë oor Jesus Christus bevat.

◆ 35:19​—Waarom sal Dawid se vyande “met die oë knip”?

Die Hebreeuse teks noem hulle letterlik “my vyande [in] bedrog”. Dit wil sê, hulle haat het uit valse beweegredes gespruit. Dawid het niks gedoen om hulle vyandskap te verdien nie, en hy het gebid dat hulle geen geleentheid sal hê om oor hom bly te wees of te jubel nie (vers 19a). Toe het hy gevra dat sy bose vyande geen rede sal hê om ‘met die oë te knip nie’, want so ’n letterlike oogknip sou daarvan getuig dat hulle hulle verlustig in die sukses van hulle bose planne (Spreuke 10:10; 16:29, 30). Jesus het hierdie vers aangehaal en dit toegepas op die wat hom haat.​—Johannes 15:24, 25.

◆ 36:4​—Was sulke goddeloses verstandig?

Die implikasie is dat daar ’n verandering in so ’n persoon se gedrag was en dat hy nie meer was wat hy eens beweer het hy is nie. Miskien het hy eens verstandigheid aan die dag gelê en dinge gedoen wat goed was. Maar hy het dit laat vaar en afvallig geword. Koning Saul het byvoorbeeld die weg van verstandigheid verlaat en Dawid met haat bejeen (1 Samuel, hoofstuk 18). Sommige geleerdes meen selfs dat Dawid hierdie verwysing in Psalm 36 met Saul in gedagte gemaak het.

◆ 40:7​—Wat word bedoel met die woorde: “Ore het U vir my gegrawe”?

Dit kan beteken dat Jehovah Dawid se ore ingestel het op God se voorskrifte, of selfs dat Jehovah ore geskep het waarmee Dawid Sy bevele kon hoor. Dit is interessant dat hierdie woorde in die Septuaginta so weergegee word: “U het vir My ’n liggaam berei.” Wat ook al die bron van hierdie vertaling, dit bevat dieselfde basiese gedagte as die Hebreeus. Met ander woorde, dit benadruk die noodsaaklikheid van gehoorsaamheid. (Vergelyk 1 Samuel 15:22; Hosea 6:6.) Paulus het hierdie vers op Jesus Christus toegepas (Hebreërs 10:5-10). Aangesien Paulus die Septuaginta-lesing gebruik het, is die uitdrukking “U het vir My ’n liggaam berei” nou ’n deel van “die hele Skrif” wat “deur God ingegee” is.​—2 Timotheüs 3:16.

Les vir ons: Psalm 37 bevat baie lesse vir ons wat te midde van ’n goddelose geslag lewe. Hoewel kwaaddoeners voorspoedig is, moet ons nooit afgunstig wees en hulle probeer navolg nie. Ons moet eerder “swyg voor [Jehovah]”, en nie krities wees nie, maar liewer kalm op hom vertrou om op sy tyd ten behoewe van ons op te tree.​—Psalm 37:5, 7.

Ja, die Psalms bevat veel aansporende en bemoedigende woorde. Hierdie eerste 41 psalms toon egter herhaaldelik dat Jehovah ons nooit in die steek sal laat nie, hoe moeilik ons omstandighede ook mag wees. Nadat ons hulle gelees het, behoort ons waarlik beweeg te word om die woorde waarmee Psalm 41 afsluit ons eie te maak: “Geloofd sy [Jehovah], die God van Israel, van ewigheid tot in ewigheid! Amen, ja amen.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel