Insig in die nuus
Die kerk in die politiek
Die kerke van die Christendom raak met toenemende openlikheid by ontvlambare politieke geskille betrokke. In ’n artikel met die titel “Hulle verlaat die preekstoel en betree die strate”, het The Toronto Star van Kanada die aandag gevestig op die “toenemende aantal gevalle van [politieke] ingryping deur kerkleiers”. Skrywer Jack Cahill het opgemerk dat die Rooms-Katolieke Kerk “’n kritieke rol gespeel het in die omverwerping van Ferdinand Marcos in die Filippyne” en in die beëindiging van die bewind van Jean-Claude Duvalier in Haïti. Cahill het bygevoeg: “In Suid-Afrika het Anglikaanse aartsbiskop Desmond Tutu . . . en ander geestelikes die regering gewaarsku dat hulle konfrontasie met die staat sal aanmoedig” oor die apartheidskwessie.
Sommige beskou so ’n beleid van konfrontasie as ’n gepaste Christelike aktiwiteit wanneer dit die verwydering van ongewilde regimes of wette ten doel het. Ofskoon dit waar is dat Jesus Christus sy volgelinge in die strate uitgestuur het, was dit nie om politieke veranderinge te bevorder nie. Hulle het eerder na openbare plekke en na mense se huise gegaan om ’n hemelse Koninkryk te verkondig as die middel waardeur die mensdom seëninge sal ontvang (Mattheüs 10:5-7; 24:14). Toe Jesus Christus van politieke bedrywighede beskuldig is—dat hy homself koning wou maak—het hy dit duidelik gestel dat nóg hy nóg sy volgelinge aan sulke bedrywighede sou deelneem. Hy het vir die regter gesê dat sy koninkryk ‘nie van hierdie wêreld is nie.’ In ooreenstemming hiermee het Jesus se ware volgelinge nog altyd neutraal gestaan ten opsigte van politieke aangeleenthede, want hy het van hulle gesê: ‘Hulle is nie van die wêreld nie.’—Johannes 18:36; 17:14.
Hail Mary verbied
Brasilië se President, José Sarney, het onlangs die vertoning van die omstrede rolprent Hail Mary verbied. Hierdie verrassende stap het ’n golf van protes sowel binne as buite die Katolieke Kerk ontketen. “Ek stem nie daarmee saam”, het biskop Mauro Morelli gesê, “dat die Katolieke Kerk die staat moet versoek om stappe te doen ter verdediging van die geloof, soos in die tyd van die Inkwisisie die geval was nie.” En federale verteenwoordiger Eduardo Matarazzo Suplicy het gekla dat die Brasiliaanse President “geswig het voor die druk van die konserwatiewe vleuel van die Kerk”. “Ons het teruggekeer na die eenheid van altaar en troon”, het professor Roberto Romano van die Campinas-Universiteit in die koerant Folha de S. Paulo geskryf. “Dit het gebeur selfs sonder dat daar ’n duidelike konkordaat bestaan, soos in die geval van die Latheraanse Verdrag met Mussolini en die Keiserlike Konkordaat met Hitler. Nee, dit het alles heimlik agter die geslote deure van regeringskantore gebeur.”
Sulke druk deur kerke en die reaksie daarop laat ’n mens dink aan die Bybel se beeldende beskrywing van ’n simboliese, hoeragtige godsdiensvrou “wat heerskappy voer oor die konings van die aarde”. Hierdie heersers sal, volgens die verslag, “die hoer haat en haar verlate maak en naak, . . . en haar met vuur verbrand”.—Openbaring 17:1, 2, 15-18.
“Redes tot wraak”
In sy nuwe boek Raisons de la colère (Redes tot wraak) betreur die befaamde Franse akkerboukundige René Dumont wat hy die “volslae mislukking” van ons “produksie-georiënteerde beskawing” noem. ’n Boekresensie in die Paryse dagblad Le Monde gee die volgende samevatting van sommige voorbeelde wat Dumont aanhaal: “Om in die ontsaglike vraag na koerantpapier te voorsien, kap Kanada elke jaar meer bome af as wat hy kan verbou; die Sowjet-Unie het twee derdes van sy bewerkbare grond totaal uitgeput. En selfs Frankryk is glo besig ‘om die vrugbaarheid van sy grond, wat deur eeue van bemesting en voerboerdery opgebou is, te vernietig’ deur chemikalieë in plaas van natuurlike messtof te gebruik.”
Dumont beskuldig ook die nywerheidslande daarvan dat hulle die planeet ‘verderf’ deur verkwisting en die wanverspreiding van goedere. Hy voeg by: “Ons het die wêreldekonomie so sleg bestuur dat ons dit verdien om ons oppermag te verloor.” Hy voer aan dat die Westerse model van ontwikkeling “die ekonomie van die Derde Wêreld verwoes het” en mense verplaas het van landbouontwikkeling na “aaklige stede” wat in die minder ontwikkelde nasies opgeskiet het.
As sulke toestande aan mense wat die gevaar sien kom “redes tot wraak” gee, hoeveel te meer sal hierdie faktore nie rede tot wraak gee aan die Skepper van ons planeet nie? Die Bybel gee derhalwe ’n profetiese beskrywing van die vinnig naderende tyd wanneer die mensdom se verwoestende bedrywighede God se eie wraak sal ontketen en hom sal beweeg om “die verderwers van die aarde te verderf”.—Openbaring 11:18.