Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 7/15 bl. 28-31
  • Die pioniergees bespoedig die oes in die Filippyne

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die pioniergees bespoedig die oes in die Filippyne
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Die pioniergees bevorder groei
  • Hulle moes aanpassings maak
  • Blind, maar tog ’n voltydse bedienaar
  • Voltydse diens as ’n loopbaan
  • Jonk en oud dien met gewilligheid
  • Blydskap oor die vooruitgang
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 7/15 bl. 28-31

Die pioniergees bespoedig die oes in die Filippyne

AS JY toentertyd, in 1935, in Manila was en met Jehovah se Getuies in aanraking wou kom, sou jy na ’n woonstelletjie te Rizallaan 1134 moes gaan. Daar het ongeveer 20 mense gereeld byeengekom om die Bybel te bestudeer. Daardie woonstel was die eerste takkantoor van die Wagtoringgenootskap in die Filippyne.

Vandag is daar 103 gemeentes van Jehovah se Getuies, met meer as 9 000 Koninkryksverkondigers, in en om Manila! Vyftig jaar gelede was daar ook geen Getuies in die stad Davao in die verre suide van die Filippyne nie. Nou is daar meer as 2 800 Getuies in die 41 gemeentes in daardie stad.

Die vermeerdering in hierdie twee groot stede vorm ’n deel van die bewys dat daardie vroeë Getuies hulle naam gestand gedoen het (Jesaja 43:10-12). Hulle het hulle predikings- en onderrigtingswerk na alle dele van die Filippyne uitgebrei. Ondersoek die bygaande tabel en jy sal die vrug van die Christelike dissipelmaakwerk gedurende die laaste halfeeu kan sien. Wat bespoedig die groei in die Filippynse veld?

Die pioniergees bevorder groei

As die vroeë Filippynse Getuies nie ’n ywerige pioniergees aan die dag gelê het nie, sou dit onmoontlik gewees het om die honderde bewoonde eilande met die goeie nuus te bereik. Daardie gees is nog baie lewendig. Die rapport vir Februarie 1986 het byvoorbeeld getoon dat daar, buiten 758 spesiale pioniers, nie minder nie as 9 090 gewone pionierbedienaars in alle dele van die Filippyne gedien het. Dit was meer as dubbel die getal wat net twee jaar tevore gerapporteer het! In April 1985 het 26 630​—een derde van al die Getuies in die land—​aan die een of ander vorm van voltydse predikingswerk deelgeneem.

Ja, Jehovah se volk in die Filippyne besef die dringendheid van die tyd. Dit beweeg hulle om soveel tyd moontlik daaraan te bestee om God se Woord aan hulle medemens te verkondig. Jy sal seker daarin belangstel om te hoor hoe sommige hulle sake reël sodat hulle die voltydse diens kan betree, asook watter aangename ondervindinge hulle geniet.

Hulle moes aanpassings maak

Felipe Ventura van Binalonan, Pangasinan, het 13 jaar van sy jeug in die voltydse diens deurgebring voor hy ’n gesin gehad het. Toe sy kinders begin grootword, het hy begeer om tot die pionierdiens terug te keer, maar as gevolg van suikersiekte het hy blind geword in een oog. Omtrent vier jaar later het hy heeltemal blind geword.

Ondanks hierdie terugslag het Felipe ’n klein onderneming aan die gang gehou om sy gesin te onderhou, en met die hulp van sy vrou en kinders het hy daarin geslaag om sy sake so te reël dat hy op 1 April 1985 weer ’n pionier geword het. Ondanks sy gebrek neem hy aan die bediening van huis tot huis deel, bygestaan deur sy seun wat die Bybeltekste vir hom lees. Broer Ventura hou ook verskeie tuisbybelstudies en is ’n aangestelde ouere man in die gemeente. Een van sy seuns dien saam met hom as ’n gewone pionier, en sy dogter is van tyd tot tyd ’n hulppionier.

Clodualdo Quiohilag, ’n ouere man in Biñan, Laguna, was in die sestigerjare ’n pionier en reisende opsiener tot hy en sy vrou ’n kind gehad het. Maar, soos hy sê, “as jy eers die vreugde van die voltydse diens gesmaak het, hunker jy altyd daarna”. Hoewel hy ’n suksesvolle sakeman geword en ’n gerieflike lewe saam met sy vrou en dogter geniet het, het hy dit nooit as sy werklike lewensdoel beskou nie. Hy sê: “Al my besittings sou sinloos wees as my langgekoesterde droom, naamlik om tot die voltydse diens terug te keer, nie verwesenlik is nie.” Om ’n pionier te word, het hy sy sakebedrywighede tot die helfte van die dag ingekort, en nou gebruik hy die oggende vir die velddiens. Sy droom is op 1 Oktober 1984 verwesenlik toe hy weer as ’n gewone pionier begin dien het. Hoewel sy inkomste met die helfte verminder is, is sy uitgawes ook laer. Nou het sy vrou by hom aangesluit in die gewone pionierdiens, en sy dogter dien van tyd tot tyd as ’n hulppionier.

Blind, maar tog ’n voltydse bedienaar

Omdat hy as kind Duitse masels gehad het, is Pantaleon Tatoy blind vandat hy drie jaar oud is. In 1972 het hy vir die eerste maal die waarheid gehoor en die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe begin studeer. Dit het hom gou gehelp om sy verslaafdheid aan tabak en drank te bowe te kom, en hy het op 29 Julie 1973 sy toewyding aan Jehovah deur doop laat simboliseer.

Toe Pantaleon vir sy bure begin getuig het, het sy ouer suster hom berispe: “Hoe kan jy ’n bedienaar wees as jy blind is en net een broek het?” Maar dit het hom nie ontmoedig nie. Omdat hy die buurt rondom sy huis goed geken het, het hy alleen uitgegaan en die waarheid aan mense in die omgewing verkondig. In 1984 was hy verheug om sy neef en broerskind te kon help om die waarheid te leer, en hulle is in September van daardie jaar gedoop.

Pantaleon het ook ’n Bybelstudie gehou met sy tweelingniggies, Lorna en Luz, wat albei doofstom is. Hoe studeer ’n blinde pionier met sulke persone? Met die hulp van iemand wat kan sien, maak hy deeglik gebruik van die illustrasies in die publikasies. Wanneer hy die waarheid verduidelik, tolk sy niggie Roquina in gebaretaal vir die tweeling. Lorna en Luz is albei op 20 April 1985 gedoop, ondanks hulle gestremdheid. Wat Pantaleon betref, nadat hy ’n jaar lank as hulppionier gedien het, is hy op 1 Maart 1985 as ’n gewone pionier aangestel.

Voltydse diens as ’n loopbaan

By ’n hoërskoolgraduering het ’n sekere leerling vir ’n Getuie-klasmaat gesê: “Elke keer as ek julle mense vra watter loopbaan julle gaan volg, sê julle altyd: ‘Die pionierdiens’. Wat se loopbaan is dit?” Die jong Getuie het verduidelik wat pionierdiens is. Die ander leerling het begin belangstel en ’n Bybelstudie aanvaar, en eerlank was dit ook haar doelwit om ’n pionier te word.

Ander het gevind dat universiteitsopleiding nie ’n mens se geestelike behoeftes bevredig nie. In Bohol het ’n jong suster wat in haar laaste jaar op universiteit was, gevind dat sy tyd het vir pionierdiens terwyl sy haar studies voltooi het. Later het sy die Pionierdiensskool bygewoon en gesê dat die universiteit nie vergelyk kan word met die skool en die vreugde wat sy in die voltydse diens van Jehovah smaak nie. Sy dien nou as pionier op ’n plek waar predikers dringend nodig is.

Jonk en oud dien met gewilligheid

Die boek Psalms het voorspel dat God se volk ‘hulle gewillig sal aanbied’ in die dae van Koninkryksheerskappy. Dit het ook gesê dat ‘jongelinge, jongedogters, oues en jonges’ Jehovah se naam sou loof (Psalm 110:3, NW; 148:12, 13). Dit was inderdaad die geval onder God se volk in die Filippyne.

By die laaste telling was 1 159, of 13 persent, van die gewone pioniers in die Filippyne jonger as 20 jaar. Wat ’n vreugde om te sien hoe jongmense soos hierdie onselfsugtig ‘dink aan hulle Skepper in die dae van hulle jonkheid’, in plaas van hulle jeug in selfsugtige of wêreldse strewes te verkwis!​—Prediker 12:1.

Sommige wat in hulle jeug die voltydse diens betree het, is nou al gevorderd in jare, maar dien nog getrou. Broer Leodegario Barlaan en sy vrou Natividad het op 1 April 1938 pioniers geword. Hulle het die moeilike oorlogsjare deurgemaak en in verskillende hoedanighede gedien, onder meer in die reisende bediening. Broer Barlaan is nou 72 en dien nog ywerig saam met sy vrou as ’n spesiale pionier in San Carlos, Pangasinan.

Ander het die voltydse diens later in die lewe betree en tot op hulle oudag daarmee volgehou. Leoncio Sabandal het byvoorbeeld op die ouderdom van 52 die pionierdiens betree en is op 92 nog ’n spesiale pionier. Hy en sy vrou het 118 mense gehelp om hulle lewe aan Jehovah toe te wy. Cipriano Sepulveda sr. het ’n pionier geword toe hy 72 jaar oud was, en was ’n gewone pionier tot met sy dood op die ouderdom van 88 in 1985. Paula Mariano het op die ouderdom van 71 ’n pionier geword en is vandag, op 88, nog in die voltydse diens ondanks kwale. Watter uitmuntende voorbeelde van geloof en toewyding is hierdie en ander oues van dae tog nie!

Blydskap oor die vooruitgang

Wanneer ’n mens terugkyk oor die laaste halfeeu is dit duidelik dat Jehovah die ywerige werk van sy Getuies geseën het. Watter vreugde om die vermeerdering van ’n handjievol in 1935 tot 88 113 verkondigers in Februarie te sien! Die een gemeentetjie in Rizallaan in Manila het nou gegroei tot 2 454 gemeentes landwyd, ingedeel in 120 kringe.

En hoe lyk vooruitsigte vir die toekoms? ’n Bemoedigende aanduiding is die uitstekende opkoms van 268 526​—meer as drie maal die getal Getuies in die land—​by die Gedenkmaalviering op 4 April 1985. Daarbenewens is daar in Februarie 1986 altesaam 63 248 tuisbybelstudies met belangstellendes gehou. En dit ly geen twyfel dat daar met Jehovah se seën en goedkeuring volgehoue groei sal wees nie.

Ons is bly dat Jehovah die werk wat sy vroeë gesalfde getuies meer as 50 jaar gelede op die eilande begin het, baie vrugbaar gemaak het. Met sy seën en leiding stel sy knegte in die Filippyne hulle dit ten doel om hulle predikings en onderrigtingswerk in die dae wat voorlê nog verder uit te brei.

[Tabel op bladsy 29]

Vyftig jaar van vermeerdering in die Filippyne

1935 20

1940 222

1950 10,055

1960 31,608

1970 54,789

1980 61,164

1986 88,113

[Kaart op bladsy 28]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Die Filippyne

San Carlos

Manila

Biñan

Zamboanga

Davao

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel