Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 4/8 bl. 5-8
  • Waarom verloor die kerk sy invloed?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom verloor die kerk sy invloed?
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vrees nie meer ’n faktor
  • ’n Gesagskrisis
  • Die Kerk en die Staat —Die band word verbreek
  • Stem die geestelikes se woorde en dade ooreen?
  • Die kloof tussen geestelikes en leke
  • Onverstaanbare leerstellings
  • Die Katolieke Kerk in Spanje—Waarom die krisis?
    Ontwaak!—1990
  • Die kerk—veranderinge en verwarring
    Ontwaak!—1993
  • Waar Is die gelowiges?
    Ontwaak!—1996
  • Waarom die verdeeldheid?
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 4/8 bl. 5-8

Waarom verloor die kerk sy invloed?

“Elke Stoïsyn was ’n Stoïsyn; maar waar is die Christen in die Christendom?”

RALPH WALDO EMERSON, 19DE-EEUSE AMERIKAANSE ESSAYIS EN DIGTER.

“EK IS ’n Katoliek—maar net in naam”, verduidelik ’n jong moeder. “Godsdiens kan my nie skeel nie”, voeg ’n tiener by. Hulle kommentare is tipies van die jonger geslag Europeërs. Hoewel hulle ouers—of miskien eerder hulle grootouers—nog kerk toe gaan, het godsdiens nie die generasiegaping oorbrug nie.

Waarom is daar afgesien van die godsdiensgebruike waaraan geslagte van Europeërs soveel waarde geheg het?

Vrees nie meer ’n faktor

Eeue lank het ’n vrees vir die helse vuur of vaevuur ’n kragtige invloed op Europeërs uitgeoefen. Vurige preke en grafiese kerkskilderye van ’n onuitblusbare brandende hel het die leke oortuig dat slegs pligsgetroue kerkbywoning hulle van verdoemenis kon red. Verder sê die Catechism of the Catholic Church dat “die Kerk die gelowiges verplig ‘om op Sondae en feesdae aan die Goddelike Liturgie deel te neem’”.a In landelike gebiede was sosiale druk ook redelik groot—daar is van almal verwag om Sondag in die kerk te wees.

Maar tye het verander. Mense voel nou vry om te doen wat hulle wil. Vrees is nie meer ’n faktor nie. Die hel is stil-stil van die toneel verwyder, aangesien die meeste Europese Katolieke in elk geval nie daarin glo nie.

In die praktyk is dit nie so ’n ernstige “sonde” om nie die Sondagmis by te woon nie. Tirso Vaquero, ’n Katolieke priester in Madrid, Spanje, erken: “As ’n Christen [Katoliek] nie Sondag na die Mis toe kom nie, is ons opreg jammer omdat hy hierdie geleentheid van kommunikasie met God en sy broers laat verbygaan het, nie omdat hy gesondig het nie. Dít is van minder belang.”

Vrees wek dus nie meer toegewydheid nie. Wat van die sedelike gesag van die kerk en sy leiers—kan hulle op die lojaliteit van hulle kuddes aandring?

’n Gesagskrisis

Die einde van godsdienstige vrees het met ’n opmerklike agteruitgang in die kerk se sedelike stand gepaardgegaan. “Ons het eeue lank . . . so baie sedepredikers en so min sedelike predikers gehad”, verduidelik die Italiaanse geskiedskrywer Giordano Bruno Guerri. Hierdie gebrek aan sedelike leierskap is toegelig deur die twee wêreldoorloë wat soveel verwoesting in die Christendom aangerig het. Die Europese kerke was magteloos om gelowiges te verhoed om aan die bloedvergieting deel te neem. En nog erger, die kerke het daadwerklik by die oorlogspogings betrokke geraak—aan albei kante.

“Die Eerste Wêreldoorlog, ’n burgeroorlog tussen die Christensektes, het ’n tydperk van tragedie en skande vir die Christendom ingelei”, sê die geskiedskrywer Paul Johnson. “Die Tweede Wêreldoorlog het die sedelike stand van die Christelike geloof selfs groter skade aangedoen as die Eerste. Dit het die onvermoë van die kerke in Duitsland, die bakermat van die Hervorming, en die lafhartigheid en selfsug van die Heilige Stoel blootgelê.”

Konkordate tussen die Vatikaan en die Nazi-regime van Hitler asook die Fascistiese regerings van Mussolini in Italië en van Franco in Spanje het ook die kerk se sedelike gesag ondermyn. Uiteindelik was ’n verlies aan geloofwaardigheid die godsdienstige prys vir sulke politieke opportunisme.

Die Kerk en die Staat —Die band word verbreek

Gedurende die 20ste eeu het die meeste Europese lande uiteindelik die band tussen die Kerk en die Staat verbreek. Daar is trouens nou nie een groot Europese land wat Rooms-Katolisisme as sy amptelike godsdiens erken nie.

Hoewel die grootste kerke miskien nog steeds deur die staat gesubsideer word, het hulle nie meer die politieke invloed wat hulle eens gehad het nie. Nie al die geestelikes het hierdie nuwe realiteit aanvaar nie. Die vooraanstaande Spaanse Jesuïet José María Díez-Alegría glo dat “die leiers van die [Katolieke] kerk dink—baie van hulle in alle opregtheid—dat hulle nie hulle herderlike plig sonder ’n menslike platform van ‘mag’ kan uitvoer nie”.

Maar hierdie “menslike platform van ‘mag’” het in duie gestort. Spanje, wat tot 1975 ’n “Nasionaal-Katolieke” regering gehad het, is ’n voorbeeld hiervan. In die laaste jare het die Spaanse geestelikes ’n voortdurende stryd met die Sosialistiese regering gehad oor fondse vir die kerk. Die biskop van Teruel, Spanje, het onlangs by sy gemeentelede gekla dat hy “as ’n Katoliek verdruk” voel omdat die Spaanse regering nie voldoende finansiële ondersteuning aan die kerk gee nie.

In 1990 het die Spaanse biskoppe aangekondig dat ’n “ernstige krisis van gewete en sedelikheid” die Spaanse gemeenskap beïnvloed. Wie het hulle vir hierdie ‘sedelike krisis’ geblameer? Die biskoppe het beweer dat een van die vernaamste redes die “dubbelsinnige denkwyse [was] wat dikwels deur die openbare administrasie [die Spaanse regering] bevorder word”. Die biskoppe verwag blykbaar dat die regering die Katolieke ideologie moet bevorder en ook nog subsidies moet voorsien.

Stem die geestelikes se woorde en dade ooreen?

Die ontsaglike rykdom van die Katolieke Kerk was nog altyd ’n verleentheid vir priesters wat in verarmde gemeentes werk. Dit was nog ’n groter verleentheid toe die Vantikaanse Bank betrek is by wat die tydskrif Time “die ergste finansiële skandaal in naoorlogse Italië” genoem het. In 1987 is lasbriewe deur Italiaanse magistrate uitgereik vir die inhegtenisneming van ’n aartsbiskop en twee ander Vatikaanse bankbeamptes. Maar as gevolg van die Vatikaan se spesiale soewereine status het die beskuldigde geestelikes inhegtenisneming vrygespring. Die Vatikaanse Bank het volgehou dat geen misdaad gepleeg is nie, maar het nie daarin geslaag om die indruk uit te wis dat die kerk se woorde en dade nie ooreenstem nie.—Vergelyk Matteus 23:3.

Die wye publisiteit wat seksuele wangedrag ontvang het, het selfs nog meer skade aangerig. In Mei 1992 het ’n Ierse biskop, bekend vir sy ondersteuning van die selibaat, sy bisdom gevra om “hom te vergewe” en “vir hom te bid”. Hy is gedwing om sy amp neer te lê nadat dit aan die lig gekom het dat hy die vader van ’n 17-jarige seun is en dat hy kerkfondse gebruik het om vir sy skoolopleiding te betaal. ’n Maand vroeër het ’n Katolieke priester saam met sy “vriendin” en hulle twee kinders op die Duitse televisie verskyn. Hy het gesê dat hy “’n gesprekvoering wou open” oor die aangeleentheid van geheime verhoudings waarby baie priesters betrokke is.

Dit is onvermydelik dat die skandale hulle merk laat. Die geskiedskrywer Guerri beweer in sy boek Gli italiani sotto la Chiesa (Die Italianers onder die Kerk) dat “die Kerk Italianers al eeue lank aanstoot gee”. Een gevolg hiervan, sê hy, is die “ontwikkeling van wydverspreide antiklerikalisme, selfs onder die gelowiges”. Verontwaardigde Katolieke sal miskien dieselfde vrae aan hulle geestelikes wil vra as wat die apostel Paulus aan die Romeine gevra het: “Jy preek byvoorbeeld teen diefstal, maar is jy seker van jou eie eerlikheid? Jy veroordeel egbreuk, maar is jy seker van jou eie reinheid?”—Romeine 2:21, 22, Phillips.

Die kloof tussen geestelikes en leke

’n Minder opmerklike maar moontlik ’n ernstiger probleem is die kloof tussen die geestelikes en die leke. Dit lyk asof herderlike briewe van die biskoppe die gemeentelede eerder irriteer as onderrig. In ’n Spaanse opname het slegs 28 persent van dié met wie ’n onderhoud gevoer is “met die biskoppe se stellings saamgestem”. ’n Gelyke aantal “gee nie ’n flenter om nie”, en 18 persent het gesê hulle “verstaan nie waarvan hulle [die biskoppe] praat nie”. Aartsbiskop Ubeda van Majorka, Spanje, het erken: “As biskoppe moet ons ook ons deel van die verantwoordelikheid aanvaar vir die proses van ontkerstening—wat ’n feit is.”

Die leke word verder vervreem deur die gebrek aan ’n duidelike skriftuurlike boodskap. Volgens die Catholic Herald “het baie priesters [in Frankryk] politieke optrede gekies sodat hulle ‘van belang’ kan wees”, al sou die meeste van hulle gemeentelede verkies dat hulle op geestelike sake konsentreer. Die Italiaanse priester en sosioloog Silvano Burgalassi erken: “Miskien het hulle [die jongmense] van God weggedryf as gevolg van ons slegte voorbeeld. Ons het vir hulle ’n ‘potpourri’ van kompromisse gegee, godsdiens en besigheid, selfsug en valsheid.” Dit is nie verbasend dat die priesters hulle sosiale aansien verloor nie. “Ek is ’n Katoliek, maar ek glo nie in die priesters nie”, is ’n uitdrukking wat dikwels by Spaanse Katolieke gehoor word.

Party Katolieke vind dit moeilik om die geestelikes in hulle vertroue te neem, en ander twyfel sterk aan die kerkleer—veral daardie leerstellings wat hulle as onredelik of onprakties beskou.

Onverstaanbare leerstellings

’n Goeie voorbeeld is die amptelike Katolieke leer oor die hel. Die Catechism of the Catholic Church sê: “Die leer van die Kerk bevestig die bestaan van die hel en die ewigheid daarvan.” Onlangse opnames dui nietemin daarop dat minder as ’n kwart van die Franse Katolieke en ’n derde van hulle Spaanse geloofsgenote aan die bestaan van die hel glo.

Wanneer dit by sedelike kwessies kom, is Europeërs eweneens geneig om “doen-dit-self-Christene” te wees. Mimmi, ’n tienderjarige Lutheraan van Swede, glo dat sedelike kwessies, soos om kinders buite die eg te hê, iets is “waaroor ’n mens self moet besluit”. Die meeste Franse Katolieke sou met haar saamstem. Wanneer hulle voor belangrike besluite in hulle lewe te staan kom, het 80 persent gesê dat hulle eerder die leiding van hulle gewete sou volg as dié van die kerk.

In die verlede het die kerk genoeg gesag gehad om enige andersdenkende stem te onderdruk. Uit die Vatikaan se oogpunt is daar min wat verander het. Die Catechism sê onversetlik dat “alles wat gesê is oor die manier waarop die Skrif geïnterpreteer word uiteindelik aan die uitspraak van die Kerk onderworpe is”. Daar is egter baie min steun vir die outoritêre benadering. “Die argument oor gesag duur ongehinderd voort”, kla Antonio Elorza, ’n Spaanse professor van politieke studies. “Die Kerk verkies om hom te verskans en die geldigheid van sy tradisie onskendbaar te maak ondanks die feite van die geskiedenis.” Buite hierdie ‘skanse’ neem die kerk se invloed en sy gesag steeds af.

Buiten die geestelike verval is maatskaplike oorsake ’n ander belangrike faktor wat tot godsdiensonverskilligheid bydra. Die verbruikersgemeenskap bied ’n duisternis van vermaaklikheids- en ontspanningsgeleenthede aan—en die meeste Europeërs wil en kan dit geniet. In vergelyking hiermee lyk kerkbywoning na ’n baie vervelige manier om ’n Sondagoggend deur te bring. Boonop vervul kerkdienste selde die geestelike behoeftes van mense.

Dit lyk onwaarskynlik dat tradisionele godsdiens sy houvas op die Europese kudde sal herwin. Is godsdiens ’n krag wat tot die verlede behoort—wat dieselfde paadjie as die dinosourus sal loop?

[Voetnoot]

a Die Catechism of the Catholic Church is vir die eerste keer in 1992 uitgegee en is bedoel as ’n amptelike verklaring van leerstellings vir Katolieke regoor die wêreld. In die inleiding beskryf pous Johannes-Paulus II dit as ’n “sekere en egte verwysing vir die onderrigting van die katolieke leer”. Die vorige keer dat so ’n universele Katolieke kategismus uitgegee is, was in 1566.

[Lokteks op bladsy 6]

Die ontspanningskultus het die hartland van die Christendom verower

[Prent op bladsy 7]

Wanneer hulle tussen ’n preek of ’n sonbad moet kies, sit die meeste Europeërs sonder huiwering af na die strand

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel