Keur God godsdienskonsilies goed?
DIE woord “konsilie” word in woordeboeke omskryf as “’n algemene kerkvergadering” of “’n verteenwoordigende kerkvergadering met beraadslagende en dikwels wetgewende gesag in aangeleenthede rakende geloof, sedes en kerklike tug”.
Van die talle godsdienskonsilies wat deur die eeue gehou is, beskou die Rooms-Katolieke Kerk 21 as ekumenies, en hulle strek vanaf die Konsilie van Nicea in 325 G.J. tot die Tweede Vatikaanse Konsilie van 1962-1965. Volgens The Encyclopedia Americana “word ekumeniese konsilies byeengeroep deur die pous, wat as voorsitter optree, die agenda opstel, die konsilie afsluit en die geloofsbelydenisse afkondig. . . . Saam met die pous vorm die ekumeniese konsilie die kollegiale liggaam van die kerk, en saam met hom verteenwoordig dit die onfeilbare onderrigtingsgesag van die kerk in sake rakende geloof en sedes.”—Deel 8, bladsy 85.
Die oorsprong van konsilies
Talle geestelike leiers glo dat die godsdienskonsilies van die Christendom vergelyk kan word met die eerste-eeuse vergadering van die apostels en ouderlinge in Jerusalem. Na hulle mening het die latere kerkkonsilies dus soortgelyke gesag om oor aangeleenthede rakende geloof en sedes te besluit (Handelinge 15:2, 6, 22). Maar is sulke godsdienskonsilies deur God gemagtig? Keur hy hulle goed?
Dit is interessant dat die uitdrukking ‘om raad te hou’ in Markus 3:6 van ’n Griekse woord kom wat beteken ‘’n vergadering mense wat hulle menings lug en raad gee’. In daardie vers lees ons dat die Fariseërs met die Herodiane ‘raad gehou’ het om Jesus dood te maak. God het beslis nie daardie konsilie goedgekeur nie! En Jesus het sy dissipels gewaarsku om nie sulke manne te vertrou nie (Markus 8:15). Beteken dit dat die Christendom se godsdienskonsilies met soortgelyke wantroue bejeen moet word?
Jesus het ook gesê: ‘Julle sal hulle aan hul vrugte ken’ (Mattheüs 7:20). Laat ons dus die vrugte van verskeie kerkkonsilies ondersoek.
Waardeur word hulle oorheers?
Volgens The Encyclopedia Americana is streekkonsilies wat bygedra het tot die organisering van Katolieke kerke in Spanje, Brittanje en elders “dikwels deur die sekulêre owerheid byeengeroep en oorheers”. Algemene konsilies van geestelike leiers in die hele Romeinse ryk “was onbekend voor die Konsilie van Nicea (325 n.C.)”, wat deur keiser Konstantyn byeengeroep is. Britse geskiedskrywer H. G. Wells het beweer dat Konstantyn politiek en outokrasie in ’n reeds skerp verdeelde Christendom ingebring het. Wells het geskryf: “Nie alleen die Konsilie van Nicea is deur Konstantyn die Grote byeengeroep nie, maar al die groot konsilies, die twee by Konstantinopel (381 en 553), Efese (431) en Chalcedon (451) is deur die keiserlike mag byeengeroep.” Maar hoe kon God dit goedkeur, aangesien ware Christene nie probeer om hulle godsdiens met politiek te vermeng nie, maar eerder hulle neutraliteit streng handhaaf?—Johannes 17:16; Jakobus 1:27.
The Encyclopedia Americana voeg by: “Latere algemene konsilies is dikwels oorskadu deur keiserlike kerkpolitiek en die wedywer tussen die groot aartsbiskopsetels [gebiede wat deur ’n biskop of ’n aartsbiskop beheer word].” Aangesien sulke kerkkonsilies gekenmerk is deur kerklike politiek en wedywer het hulle geen vrugte van God se gees soos liefde en vrede voortgebring nie. Hulle is eerder geskend deur vleeslike werke wat “vyandskap, twis, jaloersheid, . . . naywer, tweedrag, partyskap” ingesluit het. Die apostel Paulus het na die werke van die vlees verwys toe hy gewaarsku het dat “die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie” (Galasiërs 5:19-23). Hoe kan daar derhalwe gesê word dat God die Christendom se kerkkonsilies goedkeur?
Skokkende wandade!
H. G. Wells het aangevoer dat die gees van Konstantyn kerkaangeleenthede oorheers het, en het gesê: “Die idee om alle teenstrydigheid en verdeeldheid uit te roei, alle denke uit te roei, deur een dogmatiese geloofsbelydenis vir alle gelowiges voor te skryf, . . . is die idee van die een man wat gemeen het dat om enigsins te werk hy vry van teenstand en kritiek moes wees. Die geskiedenis van die Kerk onder [Konstantyn se] invloed word dus nou ’n geskiedenis van die gewelddadige stryd wat noodwendig sou volg op sy skielike en bombastiese oproep tot eenstemmigheid. Die Kerk het van hom die gesindheid gekry om gesaghebbend en onaantasbaar te wees, om ’n sentrale organisasie te ontwikkel en om parallel met die ryk te wees.”
Beskuldigings van kettery was ’n meedoënlose manier om teenstanders uit te roei wat dit gewaag het om met die Christendom se kerkkonsilies te verskil. Enigeen wat meningsverskille uitgespreek het of selfs probeer het om Skriftuurlike bewys voor te lê om die dogmas en kanons (kerkwette) van die konsilies te weerlê, is as ketters gebrandmerk.
Die vasberadenheid om teenstand uit te roei, het tot vreeslike wandade gelei. Die meeste van dié wat skuldig bevind is aan kettery teen die aanvaarde dogma van die konsilie is na die brandstapel gestuur en het die pyn van ’n stadige dood as ’n openbare skouspel ondervind—kwansuis in die naam van Christus!
Die Konsilie van Konstanz (1414-18) is byvoorbeeld byeengeroep om die twis te beëindig oor wie die regmatige pous is en om die ketterye van Wycliffe en Hus te bespreek. Dertigduisend perde het glo mense na Konstanz geneem vir hierdie groot gebeurtenis. Gedurende die konsilie is Johannes Hus verhoor en veroordeel, toe aan die sekulêre owerheid oorhandig, wat hom op die brandstapel tereggestel het.
Wat van leerstellings?
Alle ware Christene is weliswaar “eenstemmig”. Maar dit is nie weens onbuigsame kerklike druk nie. Dit is eerder omdat hulle geloof en gebruike heeltemal op God se geïnspireerde Woord gebaseer is (1 Korinthiërs 1:10; Handelinge 17:10, 11; 2 Timotheüs 3:16, 17). Maar hoe vaar kerkkonsilies wanneer ons hulle besluite oor leerstellings beskou?
Hoewel kerkkonsilies goedgepraat word as mylpale in die teologie, beskou talle hulle as grafstene wat die vernietigende aanslae teen suiwer Christelike leerstellings aandui. Ter toeligting: In 325 G.J. het die Konsilie van Nicea die leerstelling van die Vleesgeworde Christus, of Godmens, aanvaar. Hierdie ontkenning dat Jesus eintlik ’n mens was, het een van die misleidendste leerstellings van die Christendom geword. (Vergelyk 2 Johannes 7.) Dit het veroorsaak dat miljoene Jehovah God die rug toekeer en hulle tot ’n verwarrende Drie-eenheid wend! Geen konsilie wat daarna gehou is, het ’n poging aangewend om hierdie dwaling reg te stel nie. Tog is die Drie-eenheid duidelik onskriftuurlik, want Jesus het gesê: ‘My Vader is groter as Ek’ (Johannes 14:28). Kan God ooit ’n konsilie goedkeur wat die waarheid omtrent sy identiteit en die van sy Seun verdoesel?
’n Leerstelling wat deur een konsilie aanvaar is, kan deur ’n ander verwerp word. Soos daar in die bygaande tabel aangedui word, is die gebruik van beelde in aanbidding byvoorbeeld gedurende ’n konsilie in Konstantinopel in 730 G.J. verwerp. Maar hulle gebruik is later weer deur ’n konsilie ingestel. Die Bybel toon natuurlik dat die maak en gebruik van godsdiensbeelde afgodies en onchristelik is.—Exodus 20:4-6; 1 Johannes 5:21.
Dit blyk ook uit die tabel dat kinderdoop, opgelegde en verlangde selibaat, die vaevuur en helse vuur onder die leerstellings is wat by die Christendom se kerkkonsilies onderskryf is. Die Bybel steun egter nie kinderdoop, sulke selibaat en ‘n brandende hel nie en maak ook nêrens melding van ’n vaevuur nie (Mattheüs 28:19; 1 Timotheüs 4:1-3; Job 14:13). Hoe kan Jehovah goedkeuring heg aan sulke konsilies wat valse leerstellings bevorder, aangesien diegene wat sy guns wil wen hom “in gees en waarheid” moet aanbid?—Johannes 4:23, 24.
Die vergadering in Jerusalem
Otto Karrer het aangaande godsdienskonsilies geskryf: “Buiten die sogenaamde Apostoliese Konsilie [van omstreeks 49 G.J.], waarvan die besluit deel uitmaak van die oorlewering van die goddelike, apostoliese verkondiging, is alle konsilies produkte van die na–apostoliese kerk. Hulle behoort nie tot die stigtingstydperk van die kerk nie.”—The Councils of the Church.
Al die kerkkonsilies van die Christendom het sonder twyfel hemelsbreed verskil van die eerste-eeuse vergadering van die apostels en ouere manne in Jerusalem. Geen magshonger geestelikes was toe teenwoordig om ’n swaar juk op die nekke van ander te plaas of om die vlamme van brandstapels aan te stook nie. Die vrug van God se gees is eerder geopenbaar. Die besprekings is deur daardie gees gerig en was in ooreenstemming met God se Woord. En daardie voorbeeld vir die beslegting van Bybelgeskille word vandag deur die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies gevolg.
Die brief wat die apostels en ouderlinge in Jerusalem aan medegelowiges gestuur het, het onder andere gesê: “Die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery” (Handelinge 15:22-29). Dit was nie wette wat hulle oorsprong by mense gehad het nie, maar vereistes wat gebaseer was op vroeëre bevele van die groot Wetgewer.—Genesis 9: 3, 4; Deuteronomium 5:8-10, 18; Jesaja 33: 22, NW.
Die eerste-eeuse vergadering van die apostels en ouere manne in Jerusalem het Jehovah God se goedkeuring weggedra, want hy het hulle besluite geseën, en dit het die Koninkrykspredikingswerk bevorder wat talle nie-Jode na die Christengemeente gerig het. Die geskiedenisfeite toon egter duidelik dat die kerkkonsilies van die Christendom nooit deur God goedgekeur is nie.
[Tabel op bladsy 26]
LEERSTELLING AANVAAR KONSILIE DATUM
Beelde verwerpa Konstantinopel 730 G.J
Beelde heringestel Konstantinopel 842 G.J
. Nicea 787 G.J
Drie-eenheid Nicea 325 GJj
Egskeiding weens egbreukb Arles 314 G.J
Egskeiding verbode Trente 1545 G.J
Geen preekstoelprediking
deur leke Konstantinopel 681 G.J
Helse vuur Lyon 1274G.J
. Florence 1573G.J
Kinderdoop Carthago 253 G.J
Onbevlekte Ontvangenis Avignon 1457 G.J
Selibaat Trente 1545 G.J
Vaevuur Florence 1573 G.J
Trente 1545 G.J
Vleeswording van Christus Nicea 325 G.J
. Chalcedon 451 G.J
[Voetnote]
a Slegs hierdie leerstellings stem met die Bybel ooreen
b Slegs hierdie leerstellings stem met die Bybel ooreen