Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 5/15 bl. 21-23
  • Bid voor ander met ’n nederige hart

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bid voor ander met ’n nederige hart
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Met ’n nederige hart
  • Waarskuwende raad
  • Hoe lank moet gebede wees?
  • Hef lojale hande op in gebed
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Kom nader aan God deur gebed
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Hoe om tot Jehovah te bid om verhoor te word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Jehovah waardeer jou “amen”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 5/15 bl. 21-23

Bid voor ander met ’n nederige hart

DIT was ’n genoeglike dag in die Israelitiese geskiedenis. Koning Dawid het gereël dat die Ark van Jehovah na die nuwe hoofstad, Jerusalem, gebring word. Hy het Jehovah vreugdevol voor die hele volk geprys en ’n innige gebed met hierdie woorde afgesluit: “Geloofd sy die HERE, die God van Israel, van ewigheid tot ewigheid!” Die luisteraars het heelhartig gesê: “Amen! en: Prys die HERE!”​—1 Kronieke 16:36.

Dit was in vervloë tye nie ongewoon vir ’n bekwame persoon onder God se volk om ander op hierdie manier in gebed voor te gaan nie. En Jehovah se dienaars doen dit vandag nog. Gemeentelike vergaderinge, byeenkomste, gesinsmaaltye en tuisbybelstudies is van die geleenthede wanneer Christenmanne​—en soms vroue—​die voorreg het om ander in gebed voor te gaan (1 Korinthiërs 11:4, 5). Die gevolg? Soos in Dawid se dag word diegene wat luister en “Amen” sê, opgebou en hulle meen dat hul verhouding met Jehovah versterk word.

Dit is ’n gewigtige verantwoordelikheid om ander in gebed voor te gaan. Die persoon wat bid, moet gedagtes uitdruk wat behoorlik weergee wat in die harte van die luisteraars is. Sy gebed raak hulle geestelikheid. Diegene wat hierdie voorreg geniet, kan dus gerus Dawid se versoek hul eie maak: “Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig staan.”​—Psalm 141:2.

Hoe kan ons ons gebede voorberei sodat hulle so geurig soos reukwerk voor Jehovah is? Deur vooraf na te dink oor wat ons gaan sê in die lig van die leiding wat Jehovah voorsien het. Die Bybel bevat talle voorbeeldige gebede asook goeie raad oor die onderwerp van gebed. ’n Ondersoek van hierdie inligting sal ons belangrike beginsels leer wat veral nuttig is wanneer ons ten aanhore van en namens ander bid.

Met ’n nederige hart

Een sodanige beginsel is dat Jehovah na die gebede van nederige mense luister (2 Kronieke 7:13, 14). Die psalmis sê vir ons: “Want die HERE is verhewe; nogtans sien Hy die nederige aan, en die hoogmoedige ken Hy uit die verte” (Psalm 138:6). Dink byvoorbeeld aan die nederigheid van koning Salomo in sy openbare gebed by die inwyding van die tempel. Hy het kort tevore die bouwerk voltooi aan een van die indrukwekkendste geboue wat ooit op die aarde gesien is, maar dit het hom nie hoogmoedig gemaak nie. Hy het eerder gebid: “Sou God werklik by die mense op die aarde woon? Die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het!”​—2 Kronieke 6:18.

Ons moet ook nederig wees, veral wanneer ons namens ander bid. Nederigheid word deels deur die stemtoon getoon. Christene moet natuurlik skynnederigheid of huigelary vermy. Maar nederige gebede klink nie bombasties of teatraal nie (Mattheüs 6:5). Nederigheid word ook getoon deur wat ons sê. As ons in nederigheid bid, sal ons nie eis dat Jehovah sekere dinge doen nie. Ons sal eerder versoek dat hy instem om in ooreenstemming met sy wil op ’n sekere manier op te tree.​—Vergelyk Psalm 118:25.

Nederigheid sal ook voorkom dat ons gebede gebruik om ’n punt aan te voer of persoonlike raad aan individue te gee. Anders sal ons blyk gee van die gees van die Fariseër in een van Jesus se gelykenisse. Jesus het vertel van ’n Fariseër en ’n tollenaar wat op dieselfde tyd in die tempel gebid het. Die Fariseër het gesê: “o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie​—rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry.” Maar die tollenaar het op sy bors geslaan en gesê: “o God, wees my, sondaar, genadig!” Jesus se gevolgtrekking? “Hierdie laaste een [die tollenaar] het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een [die Fariseër].”​—Lukas 18:9-14.

Jehovah se dienaars wat waarlik nederig is, erken ook hulle posisie voor hom. Hulle is weinig minder as die engele, terwyl Jehovah die ewige, allerhoogste Soewerein van die heelal is (Psalm 8:4-6, 10; 90:1-4). Wanneer individue die geleentheid het om met konings en heersers van hierdie wêreld te praat, doen hulle dit gewoonlik eerbiedig en met waardigheid, met die hoogste waardering vir die voorreg. Moet ons dan minder eerbiedig en waarderend wees wanneer ons met “die lewende God en . . . ewige Koning” praat? (Jeremia 10:10). Natuurlik nie. Uitdrukkings soos “Goeiemiddag, Jehovah” of “Ons wil met u praat, Jehovah” is derhalwe onvanpas in gebed, en dieselfde geld vir omgangstaal soos “Hoe gaan dit vandag?” “Stuur groete vir Jesus”, of “Geniet die dag”.​—Vergelyk Prediker 5:1, 2.

Maar het die apostel Paulus nie gesê dat ons Jehovah “met vrymoedigheid” moet nader nie? (Hebreërs 4:16; vergelyk 1 Johannes 3:21, 22.) Gee dit ons nie die vryheid om te praat soos ons goeddink nie? Nie regtig nie. Paulus se woorde het geslaan op die feit dat ons, ten spyte van ons sondige toestand, Jehovah danksy Jesus se offerande kan nader. Ons kan hom te eniger tyd en oor enige onderwerp in gebed nader. Maar selfs wanneer ons met vrymoedigheid bid, moet ons nederig ons eie nietigheid erken. Jehovah het derhalwe gesê: “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.”​—Jesaja 66:2.

Waarskuwende raad

Jesus het in sy Bergpredikasie verdere raad oor gebed gegee. Hy het daarin gewaarsku dat ons nie in ons gebede “’n ydele herhaling van woorde soos die heidene” moet gebruik nie (Mattheüs 6:7). Dit beteken nie dat ons nie herhaaldelik oor dieselfde onderwerp moet bid (mits ons seker is dat dit die regte ding is om voor te bid) nie. Daar word vir ons gesê: “Bly vra, en dit sal vir julle gegee word; bly soek, en julle sal vind; bly klop, en vir julle sal oopgemaak word” (Mattheüs 7:7, NW). Jesus se waarskuwing het eerder beteken dat ons dinge nie so dikwels moet herhaal dat hulle sinloos word nie. Met ander woorde: “Moenie leë herhalings uiter nie.”​—Mattheüs 6:7, voetnoot in NW-naslaanuitgawe.

Sekere mense het die gewoonte om gebedsformules oor en oor op te sê sonder dat hulle enigsins aan die woorde dink. Soms is die formules in ’n taal wat die bidder nie verstaan nie. Dit is een voorbeeld van ‘leë herhaling’. Hier is ’n ander: Stel jou voor dat ’n Christen uit nalatigheid in die gewoonte verval om elke dag outomaties dieselfde woorde te gebruik wanneer hy Jehovah dank. Die woorde word uiteindelik sinloos. Selfs die goddelike naam, Jehovah, kan op hierdie manier gebruik word. Ons word weliswaar aangespoor om Jehovah se naam aan te roep (Psalm 105:1). Maar as ons daardie naam aan die einde van feitlik elke sin in ons gebed gebruik, word dit ’n aanwensel of ’n ‘leë herhaling’.

Paulus het ’n ander belangrike beginsel genoem toe hy geskryf het: “Want as ek in ’n taal bid, dan bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar. . . . Anders, as jy met die gees dank, hoe sal hy wat die plek van ’n onkundige inneem, amen sê op jou danksegging, aangesien hy nie weet wat jy sê nie?” (1 Korinthiërs 14:14-16). In Paulus se dag het sekere Christene die wonderdadige gawe van tale ontvang, en blykbaar het sommige van hulle in hierdie tale voor die gemeente gebid. Maar soos Paulus getoon het, het die res van die gemeente hulle nie verstaan nie.

Vandag het ons nie so ’n wonderdadige gawe nie. Maar Christene wat namens ander bid, moet op ’n verstaanbare manier bid. Aan die begin van ’n openbare toespraak nooi ons lede van die publiek byvoorbeeld om saam met ons te bid. In so ’n gebed is dit ongetwyfeld redelik om woorde of ’n onderwerp te vermy wat die besoekers nie sal verstaan nie.

Hoe lank moet gebede wees?

Private gebede kan so lank wees as wat ons wil hê hulle moet wees. Voordat Jesus sy 12 apostels gekies het, het hy die hele nag gebid (Lukas 6:12). Maar hoe lank moet ’n openbare gebed wees? Wel, voordat Jesus die embleme omgestuur het toe hy die Herdenking van sy dood ingestel het, het hy ‘die seën gevra’ en ‘die dankgebed uitgespreek’, klaarblyklik in kort gebede (Mattheüs 26:26-28, NAV). Salomo se gebed by die inwyding van die tempel was andersyds redelik lank. So ook Jesus se gebed die nag voor sy dood.​—2 Kronieke 6:14-42; Johannes 17:1-26.

Daar is derhalwe geen reël oor die lengte van ’n openbare gebed nie. Maar daar is geen spesiale deugsaamheid in lang gebede nie. Trouens, Jesus het die skrifgeleerdes gekritiseer wat ‘die huise van die weduwees opeet en vir die skyn lang gebede doen’ (Lukas 20:46, 47). Gebede namens ander moet hulle omstandighede of behoeftes duidelik noem en die lengte daarvan moet by die geleentheid pas. Ons hoef nie lang, onsamehangende gebede te doen wat talle onverwante punte dek nie. Wanneer ’n mens by ’n ete bid, kan ’n gebed redelik kort wees. ’n Openingsgebed by ’n Christenvergadering hoef ook nie lank te wees nie. Die persoon wat ’n gesin aan die begin of einde van die dag in gebed voorgaan, of die een wat ’n byeenkoms met gebed afsluit, sal moontlik meer punte wil dek wat vir die geleentheid gepas is.

Gebed namens ander sal ’n goeie uitwerking hê as dit uit ’n nederige hart kom en met die gepaste balans en bedagsaamheid gedoen word. Dit sal die geestelikheid van die luisteraars opbou en sal hulle verhouding met Jehovah versterk. Gevolglik sal al die luisteraars, soos diegene wat in daardie innige gebed van Dawid gedeel het toe die verbondsark na Jerusalem gebring is, beweeg word om “Amen!” te sê en Jehovah te loof.​—1 Kronieke 16:36.

[Venster op bladsy 22]

Is dit gepas dat luisteraars aan die einde van ’n openbare gebed hoorbaar “Amen”sê?

Ja, as hulle wil of gedwonge voel om dit te doen. Paulus het gepraat van die ‘Amen’ wat gesê word deur diegene wat na ’n gebed luister, hoewel hy nie spesifiek gesê het of dit hoorbaar, of stil in hulle hart was nie (1 Korinthiërs 14:16). Onder die Mosaïese Wet was daar egter ’n geleentheid toe die Israeliete uitdruklik beveel is om hardop “Amen” te sê (Deuteronomium 27:14-26). Wanneer die persoon wat bid dus die einde van sy gebed aandui deur “Amen” te sê, is dit gepas dat die luisteraars in hulle hart of hoorbaar met ’n sagte stem “Amen” sê. Ouers moet hulle kinders leer om die gepaste waardering te toon deur die manier waarop hulle ’n gedempte “Amen” sê.

[Venster op bladsy 23]

Is dit oneerbiedig as ’n luisteraar ’n noodgeval tydens ’n gemeentegebed hanteer, byvoorbeeld as ’n baba begin huil, ’n telefoon lui of daar ander steurnisse is?

Nee. Trouens, dit sal ’n blyk van liefde wees as ’n bedieningskneg die biddende gemeente stil verlaat en die noodgeval ordelik hanteer (1 Korinthiërs 14:40). Sodoende kan die res van die gemeente onversteurd aanhou bid. Die persoon wat die noodgeval behartig, kan daarna weer by die bidders aansluit.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel