Jesus se lewe en bediening.
Die roeping van Mattheüs
KORT nadat Jesus die verlamde man genees het, gaan hy van Kapernaüm na die see van Galilea. Daar kom die skare weer na hom toe, en hy begin hulle leer. Toe hy verder gaan, sien hy Mattheüs, wat ook Levi genoem word, by die tolhuis sit. “Volg My”, is Jesus se uitnodiging.
Mattheüs is waarskynlik reeds vertroud met Jesus se lering, net soos Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes was toe hulle geroep is. En soos hulle, reageer Mattheüs onmiddellik op die uitnodiging. Hy staan op, sê sy verantwoordelikhede as ’n tollenaar vaarwel, en volg Jesus.
Later gee Mattheüs ’n groot feesmaal in sy huis, moontlik om sy roeping te vier. Benewens Jesus en Sy dissipels, is voormalige metgeselle van Mattheüs teenwoordig. Hierdie manne word gewoonlik deur ander Jode verag omdat hulle vir die gehate Romeinse owerheid tol insamel. Hulle vorder dikwels ook op oneerlike wyse meer geld van die mense as die gewone belastingkoers.
Die Fariseërs sien Jesus saam met sulke mense by die feesmaal en vra vir sy dissipels: “Waarom eet julle Meester saam met tollenaars en sondaars?” Jesus hoor die vraag en antwoord: “Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Maar gaan leer wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie; want Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.”
Mattheüs het hierdie tollenaars klaarblyklik na sy huis genooi om na Jesus te luister en geestelike genesing te ontvang. Jesus gaan dus met hulle om ten einde hulle te help om ’n gesonde verhouding met God te verkry. Jesus verag sulke mense nie soos die eiegeregtige Fariseërs doen nie. Hy word eerder deur meegevoel beweeg om in werklikheid ’n geestelike geneesheer vir hulle te wees.
Jesus se betoning van barmhartigheid teenoor sondaars is derhalwe nie ’n vergoeliking van hulle sondes nie, maar ’n blyk van dieselfde tere gevoelens wat hy teenoor die liggaamlik siekes getoon het. Dink byvoorbeeld aan hoe hy medelydend sy hand uitgesteek, die melaatse aangeraak en gesê het: “Ek wil; word gereinig!” Laat ons eweneens barmhartigheid toon deur behoeftige mense te help, veral deur hulle geestelik by te staan. Mattheüs 8:3; 9:9-13; Markus 2:13-17; Lukas 5:27-32.
♦ Waar is Jesus wanneer hy Mattheüs sien?
♦ Wat is Mattheüs se nering, en waarom word sulke mense deur ander Jode verag?
♦ Watter klag word teen Jesus ingedien, en hoe reageer hy?
♦ Waarom gaan Jesus met sondaars om?
[Volbladillustrasie op bladsy 9]