Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 5/15 bl. 4-7
  • Die Bybel en jou toekoms

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Bybel en jou toekoms
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Profesieë wat in die verlede vervul is
  • Profesieë wat nou in vervulling gaan
  • Die aarde se toekoms​—Sal jy daar wees?
  • Maak dit jou toekoms
  • Is die Bybel werklik deur God geïnspireer?
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Wanneer sal die voorspelde wêreldvernietiging kom?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Profesieë wat bewaarheid is
    Die Bybel—God se woord of die mens s’n?
  • Die Bybel—’n Boek van akkurate profesie, Deel 7
    Ontwaak!—2012
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 5/15 bl. 4-7

Die Bybel en jou toekoms

WAAROM kan die Outeur van die Bybel, Jehovah God, die toekoms akkuraat voorspel terwyl die mens nie kan nie? Daar is twee redes. Jehovah is alvermoënd. Hy is ook alwetend. Die mens is nie.

“Ek is God, die Almagtige”, het Jehovah sowat 4 000 jaar gelede aan Abram (Abraham) gesê.a “Wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees. En Ek wil my verbond sluit tussen My en jou, en jou buitengewoon vermeerder.” Toe Abraham 99 jaar oud en sy onvrugbare vrou Sara 10 jaar jonger was, het Jehovah voorspel dat Abraham die vader van “’n menigte van nasies” sou word (Genesis 17:1-4). Omdat Jehovah almagtig​—alvermoënd—​is, het hy sy mag gebruik om enige struikelblok te oorkom wat die vervulling van sy belofte aan Abraham kon verhinder en daardie aartsvader derhalwe in staat gestel om die vader van Isak te word. Mettertyd het Abraham inderdaad die stamvader van die Israeliete en ander geword.​—Genesis 21:1-3; 25:1-4.

Jehovah is ook alwetend. Hy kan voorsien wat hy graag wil voorsien. Daar word van hom gesê: “Daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.”​—Hebreërs 4:13.

Weens sy alvermoëndheid en alwetendheid is God onfeilbaar. Sy voorspellings oor die toekoms is altyd akkuraat. Gevolglik kon hy sê: “Waarlik, soos Ek gedink het, so gebeur dit; en soos Ek besluit het, kom dit tot stand” (Jesaja 14:24). Laat ons ’n paar van die talle Bybelprofesieë ondersoek wat uitgekom het.

Profesieë wat in die verlede vervul is

Babilon was eens op ’n tyd bloot ’n satelliet van die Assiriese Ryk. Teen die sewende eeu v.G.J. het die stad egter die oënskynlik onneembare hoofstad van die Babiloniese Ryk geword. Maar wat sou van hom word? “Babel . . . [sal] wees soos toe God Sodom en Gomorra omgekeer het. Mense sal daar in ewigheid nie woon nie, en dit sal van geslag tot geslag nie bewoon word nie.” Dit is wat God se Woord voorspel het byna 100 jaar voordat Babilon ’n magtige wêreldryk geword het en sowat 200 jaar voor dit deur die Mede en die Perse verower is. Niemand kan vandag die vervulling van daardie woorde ontken nie. Talle eeue lank al is die stad Babilon niks meer as puinhope nie. Babilon bestaan eenvoudig nie meer nie.​—Jesaja 13:19, 20.

Jerusalem van die eerste eeu G. J. was die plek waar ’n luisterryke tempel vir die aanbidding van Jehovah gebou is. Tog bevat die Bybel die volgende woorde van Jesus Christus aangaande Jerusalem en die geslag wat sy woorde gehoor het: “Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ’n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie” (Lukas 19:43, 44). Jesus het dit in 33 G. J. gesê, maar dit was eers in 66 G.J. dat die Romeinse leër teen Jerusalem opgetrek het. Hoewel oorwinning skynbaar ophande was, het die Romeine om ’n onverklaarbare rede teruggetrek. In 70 G.J. het die Romeinse leër egter weer die stad, wat toe gewemel het van Pasgavierders, beleër en ’n skans daarom gebou. Sowat vyf maande later het Jerusalem in puin gelê en was ’n geraamde 1 100 000 van sy inwoners dood.

Profesieë wat nou in vervulling gaan

Sal jy meer hou van hedendaagse voorbeelde van vervulde Bybelvoorspellings? Wel, Jesus het gebeurtenisse voorspel wat ’n tydperk bekend as “die laaste dae” sou kenmerk (2 Timotheüs 3:1). Hierdie profesieë maak ’n samegestelde “teken” uit​—die teken van die laaste dae van die huidige goddelose stelsel (Mattheüs 24:3). Bewyse dat Jesus se profesie in vervulling gaan, het sedert 1914 toegeneem. Trouens, jy het self die vervulling gesien. Hier volg ’n paar belangrike aspekte van “die teken”.

Die aarde se toekoms​—Sal jy daar wees?

Wat lê voor? Die Bybel bevat ander profesieë wat nog vervul moet word. Onder hulle is dié aangaande ’n aarde wat van boosheid gereinig gaan word en geregtigheid gaan weerspieël. Vind jy daardie toekoms aantreklik? Glo jy dat Jehovah die wysheid en mag het om dinge op hierdie planeet reg te stel? Indien wel, sal jy belangstel in wat die Bybel omtrent die aarde se toekoms voorspel.

Maak dit jou toekoms

Indien jy so ’n toekoms verlang, moet jy nou optree. Jehovah gaan weldra, voordat die voormelde profesieë heeltemal vervul is, ‘die verderwers van die aarde verderf (Openbaring 11:18). Die Bybel vermaan in Sefanja 2:3: “Soek die HERE, o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou; soek geregtigheid, soek ootmoedigheid​—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE.” Gebruik dus nou jou tyd wyslik om tot ’n juiste kennis van die Bybel en sy profesieë te kom sodat jy tot voordeel van jouself en jou dierbares kan handel. Jehovah se Getuies is alte gewillig om jou te help om verdere kennis te verkry van die toekoms soos in God se Woord, die Bybel, geopenbaar word.

[Voetnote]

a In die Hebreeuse Skrifte word daar 48 keer van Jehovah gepraat as “Almagtig” (Shad·daiʹ), 7 keer as “die almagtige God” (’El Shad·daiʹ), en in die Griekse Skrifte word hy 10 keer as “Almagtig” (Pan·to·kraʹtor) bestempel.

[Venster/Prente op bladsy 5]

“Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander” (Mattheüs 24:7). Die Eerste Wêreldoorlog het in 1914 uitgebreek, en uiteindelik was sowat 93 persent van die wêreldbevolking daarby betrokke. Vandag is die wêreld se strydkragte 106 000 000 man sterk, wat beteken dat daar een soldaat vir elke 43 mense is. Een verslag het gesê: “Niks in die verlede vergelyk met die huidige opbou van vernietigingskrag in die wêreld en met die bedreiging wat dit vir die mensdom inhou nie.”​—World Military and Social Expenditures 1985.

[Erkenning]

Foto: V.S.A.-leër

“Daar sal hongersnode wees . . . op verskillende plekke” (Mattheüs 24:7). ’n Verslag in 1985 vir die Onafhanklike Kommissie oor Internasionale Humanitêre Aangeleenthede sê aangaande hongersnood: “Met die laaste groot hongersnood in Afrika in die vroeë 1970’s is daar gemeen dat chroniese honger en ondervoeding die gewone toestand van tagtigmiljoen Afrikane is. Daardie syfer staan nou op 100 miljoen.”

[Erkenning]

VLO-foto/B. Imevbore

“Daar sal groot aardbewings . . . wees” (Lukas 21:11). Dit is beslis sedert 1914 vervul. Die Kanto-aardbewing in Japan in 1923 het byvoorbeeld 142 800 lewens geëis. In 1935 was daar sowat 60 000 aardbewingslagoffers in Quetta, Pakistan. In 1970 het 66 700 omgekom in ’n aardbewing in Noord-Peru. En in 1976 het sowat 800 000 in ’n aardbewing in Tangsjan, China, gesterf.

“Die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word” (Markus 13:10). In 1985 het Jehovah se Getuies meer as 590 000 000 uur in die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk in 205 lande en eilandgroepe gerapporteer. Hulle het 2 379 000 tuisbybelstudies gehou en meer as 350 000 000 Bybels en publikasies ter verduideliking van die Bybel by belangstellendes gelaat.

[Venster/Prente op bladsy 6]

“Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:4). God se hemelse Koninkryk sal die grondslag lê vir algehele ontwapening op aarde. Vrede sal heers!

“Die HERE van die leërskare sal . . . vir al die volke berei ’n maaltyd van vetspyse, ’n maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg” (Jesaja 25:6). Met God se leiding en seën sal die aarde ’n ryk oorvloed oplewer. Daar sal nie meer honger wees nie!

“Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee.” “En geen inwoners sal sê: Ek is siek nie” (Jesaja 25:8; 33:24). Geen siekte of gesondheidsprobleem sal teen God se genesing bestand wees nie. Hy is selfs voornemens om die graf van sy slagoffers te ledig. Hoe wonderlik sal dit tog nie wees om verrese dierbares te verwelkom nie!

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel