Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 1/15 bl. 26-30
  • Mattheüs kondig aan: ‘Die Messias het gekom!’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Mattheüs kondig aan: ‘Die Messias het gekom!’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • KENMERKE
  • MATTHEÜS SE UITBEELDING VAN DIE MESSIAS
  • DIE LAASTE DAE VAN JESUS SE BEDIENING
  • Bybelboek nommer 40—Mattheüs
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Bybelboek nommer 42—Lukas
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Wie is Jesus Christus?
    Wat kan die Bybel ons leer?
  • Jesus Christus–die sleutel tot die kennis van God
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 1/15 bl. 26-30

Mattheüs kondig aan: ‘Die Messias het gekom!’

WAT was die allerbelangrikste gebeure wat nog ooit in die mensdom se geskiedenis plaasgevind het? Dit was sonder enige twyfel die geboorte, bediening, dood, opstanding en hemelvaart van Jesus Christus, die Seun van God.

Ooreenkomstig die goddelike beginsel dat ‘elke woord in die mond van twee of drie getuies sal vasstaan’, het Jehovah God toegesien dat vier verslae van die lewe van Jesus Christus opgeteken word om die waarheid van hierdie gebeure te bevestig (Deut. 17:6; 2 Kor. 13:1). Die vier persone wat Hy gebruik het, was Mattheüs, Markus, Lukas en Johannes. Daar is al tereg van hierdie vier skrywers gesê dat elkeen sy eie bepaalde tema, sy eie oogmerk het, sy eie persoonlikheid weerspieël en sy onmiddellike lesers in gedagte hou.

Van Mattheüs, die eerste van hierdie skrywers, weet ons baie min. Ons kan egter aflei dat hy ’n beskeie man was, want dit is slegs uit sy verslag dat ons leer dat hy ’n veragte tollenaar was (Matt. 9:9). En geen wonder dat tollenaars verag is nie! Om maar een rede te noem, hulle het die Romeinse juk verteenwoordig op ’n gebied waar mense dit baie gevoel het, naamlik in die beursie! Daarbenewens was hulle berug daarvoor dat hulle hulle regte misbruik het en afpersers geword het. Die woorde van die tollenaar Saggeüs getuig hiervan. Nadat Jesus na sy huis gekom het, het Saggeüs ’n gemoedsverandering ondergaan en gesê: “As ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug” (Luk. 19:8). Maar daar kan min twyfel bestaan oor die feit dat Mattheüs ’n eerlike belastinggaarder was; anders sou Jesus hom nie sommer daar by sy werk genooi het om Sy volgeling te word nie.

Reeds met Adam se ongehoorsaamheid in Eden het Jehovah God die koms van die Messias in beeldspraak voorspel en na hom verwys as die vrou se “saad”. En reeds in koning Dawid se dag is daar na hierdie een as God se “Gesalfde” verwys. Die profeet Daniël in die besonder het die Messias se koms voorspel (Gen. 3:15; 22:17, 18; Ps. 2:2; Dan. 9:24-27). Die feit dat die langverwagte Messias uiteindelik gekom het, was sulke opwindende nuus dat Mattheüs geen tyd verspil het om dit deur middel van sy Evangelie te verkondig nie. Uit die beste beskikbare getuienis wil dit voorkom of hy sy verslag reeds in 41 G.J. kon geskryf het.

KENMERKE

Dit is baie duidelik dat Mattheüs bedoel het dat sy Evangelieverslag ’n skakel moes wees tussen die gebeure wat in die Hebreeuse Skrifte opgeteken is en dié wat met die lewe van die Messias in verband staan. Volgens die getuienis van vroeë kerkgeskiedskrywers het Mattheüs dit eers in Hebreeus geskryf en later ’n Griekse afskrif van sy Evangelie gemaak. Hierdie beskouing word gesteun deur die feit dat al sy aanhalings uit die vroeëre Skrifte nie uit die Griekse Septuaginta kom soos dit dikwels die geval met die ander Evangelieskrywers is nie, maar uit die Hebreeuse teks. En in ooreenstemming met sy tema dat Jesus Christus inderdaad die voorspelde Messias is, het Mattheüs meer as die ander getoon hoe Jesus se lewe en dade Bybelprofesie vervul het. (Vergelyk Mattheüs 8:16, 17 met Markus 1:34 en Lukas 4:40.) Mattheüs het ook die tema van die “koninkryk van die hemele” meer as enige van die ander Evangelieskrywers beklemtoon, en daarom word sy evangelie die “Koninkryksevangelie” genoem.—Matt. 4:17; 5:3; 11:12; 22:2.

Mattheüs se vorige beroep as tollenaar skyn deur in sy geskrif. Hy is byvoorbeeld terdeë bewus van die groot onverdiende goedheid wat aan hom as ’n tollenaar betoon is om ’n apostel van die Messias te word. Ons vind dus dat hy al een is wat ’n aantekening gemaak het van die wyse waarop Jesus die feit beklemtoon het dat barmhartigheid vereis word, en nie net offerande nie. Dit is interessant dat slegs Mattheüs vir ons van daardie vertroostende woorde van Jesus vertel wat begin met die uitnodiging: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.”—Matt. 9:9-13; 11:28-30; 12:7; 18:21-35.

Die feit dat Mattheüs ’n tollenaar was, skyn ook deur in die aandag wat hy aan syfers skenk. Hy is al een wat vir ons vertel dat Judas Jesus vir 30 silwerstukke verraai het (Matt. 26:15). En waar ander net een ding meld of die enkelvoud gebruik, is Mattheüs meer spesifiek en meld hy twee of gebruik hy die meervoud. (Vergelyk Mattheüs 4:3; 8:28; 20:29, 30 met Markus 5:2; 10:46, 47; Lukas 4:3; 8:27; 18:35-38.) Trouens, dit wil voorkom of Mattheüs baie lief was vir syfers. Ons vind dus in hoofstuk ses dat hy sewe versoeke in die Onse Vader meld (vergeleke met Lukas se vyf), sewe gelykenisse in hoofstuk 13, en sewe weë wat deur Jesus in hoofstuk 23 uitgespreek is teen die Joodse geestelikes van sy dag. En Mattheüs verdeel Jesus se geslagsregister in drie groepe van 14.—Matt. 1:1-17.

Die kenmerke van Mattheüs se evangelie word ook duidelik wanneer ons oplet hoe sy verslag Lukas s’n aanvul. Dit is wat ons verwag as ons in aanmerking neem dat ’n tollenaar en ’n geneesheer heeltemal anders dink. Ons kan ook nie die rol van die heilige gees in hierdie saak buite rekening laat nie. Daarbenewens het Mattheüs geskryf om getroue Jode te oortuig dat Jesus die langbeloofde Messias is, terwyl Lukas Jesus as die Verlosser van die hele mensdom voorstel. Mattheüs spoor Jesus se geslagsregister gevolglik slegs tot by Abraham deur Dawid terug, terwyl Lukas dit terugspoor tot by ‘Adam, die seun van God’ (Matt. 1:1-16; Luk. 3:23-38). Mattheüs spoor klaarblyklik Jesus se wetlike afkoms deur Sy pleegvader Josef terug, terwyl Lukas dit terugspoor deur die natuurlike afkoms van Sy moeder Maria. Mattheüs sê dat ’n engel aan Josef, Jesus se pleegvader, verskyn het. Lukas vertel van die engel Gabriël se verskyning aan Maria, Jesus se moeder. Mattheüs vertel eweneens van die sterrewiggelaars wat die kind Jesus ‘die koning van die Jode’, besoek het en duur geskenke gebring het, terwyl Lukas vertel van nederige herders wat genooi is om die pasgebore Verlosser te kom sien.

MATTHEÜS SE UITBEELDING VAN DIE MESSIAS

Toe Mattheüs Jesus se lewe beskryf het, het hy geen geleentheid laat verbygaan om te bewys dat Jesus inderdaad die voorspelde Messias is nie. Hoe het hy dit gedoen? Deur nagenoeg 100 keer na die Hebreeuse Skrifte te verwys vir steun vir sy tema. Wanneer hy byvoorbeeld die besonderhede van Jesus se geboorte verstrek, onderstreep hy die feit dat Jesus se geboorte uit die Joodse maagd Maria die vervulling van profesie is (Jes. 7:14; Matt. 1:21-23). Wanneer hy Josef en sy gesin se trek beskryf om aan die wrede bevel van koning Herodes te ontkom, meld Mattheüs dat dit plaasgevind het sodat die skrif vervul kon word: “Uit Egipte het Ek my seun geroep” (Hos. 11:1; Matt. 2:14, 15). Die smart wat veroorsaak is deur Herodes se bevel om al die baba-seuntjies van twee jaar en daaronder in Betlehem en in al die omstreke dood te maak, is eweneens voorspel, soos Mattheüs toon.—Jer. 31:15; Matt. 2:16-18.

In hoofstukke drie en vier stel Mattheüs Jesus se voorloper, Johannes die Doper, voor en vertel hy hoe Johannes Jesus gedoop het en hoe God self Jesus as Sy Seun erken het. Dan volg die drievoudige versoeking van Jesus in die woestyn en die aanvang van Jesus se bediening waartydens hy verkondig dat ‘die koninkryk van die hemele naby gekom het’ en baie genesingswerke verrig. Hy toon dat Jesus se predikingswerk nog ’n vervulling van profesie is.—Jes. 8:23-9:1; Matt. 4:13-17.

Benewens sy laaste 10 hoofstukke probeer Mattheüs nie eintlik om sake chronologies aan te bied nie. Aangesien Jesus se Bergpredikasie so ’n vername leer is, teken Mattheüs dit op onmiddellik nadat hy van die begin van Jesus se bediening vertel het, alhoewel Jesus dit in werklikheid eers omtrent ’n jaar later gehou het. Dit is ongetwyfeld die grootste preek wat ooit gelewer is, en Mattheüs gee ons die volledigste verslag daarvan. Dit begin met die nege ‘saligsprekinge’ wat waarlik vertroostend is vir alle liefhebbers van waarheid en geregtigheid.

Daar word vertel dat Mahatma Gandhi die volgende vir ’n eertydse onderkoning van Indië, lord Irwin, oor die Bergpredikasie gesê het: “Wanneer jou land en my land die leerstellings toepas wat deur Christus in die Bergpredikasie gemeld is, dan sal ons nie alleen die probleme van ons lande nie, maar ook dié van die hele wêreld opgelos het.” Daardie Predikasie bevat ook die Gulde Reël. In ooreenstemming met Mattheüs se tema vertel hy dat Jesus nie gekom het om die wet van Moses te ontbind nie, maar om dit te vervul en dat die Gulde Reël in werklikheid die Wet en die profete opgesom het.—Matt. 5:17; 7:12.

Dit lyk of Mattheüs veral deur Jesus se leer beïndruk is. Vergeleke met die ander Evangelies is nie alleen sy verslag van die Bergpredikasie vollediger nie, maar ook sy verslag van Jesus se woorde toe hy Sy 12 apostels uitgestuur het (hoofstuk 10), sy verslag van die sewe Koninkryksgelykenisse (hoofstuk 13) en sy verslag van Jesus se raad oor hoe nodig dit is om barmhartigheid te betoon en bereid te wees om “sewentig maal sewe” keer te vergewe.—Hfst. 18.

In hoofstukke 8, 9, 11, 12 en 14-17 lewer Mattheüs hoofsaaklik verslag oor Jesus se baie wonderwerke, soos die keer toe hy 5 000 gevoed het, en die ander keer “vierduisend manne buiten die vroue en kinders”. Hierdie hoofstukke bevat ook Jesus se veroordeling van die skynheilige Joodse godsdiensleiers wat willens en wetens goddeloos was en wat die onvergeeflike sonde gedoen het. In hierdie hoofstukke vind ons ook Petrus se belydenis: “U is die Christus, die Seun van die lewende God”, en ’n beskrywing van die gedaantewisseling waar Jehovah God weer getuig het dat Jesus Christus inderdaad Sy Seun is.—Matt. 16:16; 17:1-9.

DIE LAASTE DAE VAN JESUS SE BEDIENING

Wanneer ons by die laaste gebeure van Jesus se bediening kom, vind ons dat Mattheüs dinge neergeskryf het in die orde waarin dit gebeur het. Die meeste van die dinge wat Mattheüs vantevore neergeskryf het, het in Galilea plaasgevind, maar nou beskryf hy Jesus se latere bediening in Perea. Godsdiensteenstanders vra Jesus uit oor egskeiding in die hoop om hom in die verleentheid te stel. Maar hulle trek aan die kortste end as gevolg van Jesus se wysheid en groter kennis van die Skrif: Die enigste grond vir egskeiding is “hoerery”. ’n Selfvoldane jong owerste kom na Jesus en vra wat hy moet doen om die ewige lewe te verkry, maar hy gaan weg met ’n baie laer dunk van homself, want sy rykdom is vir hom belangriker as die ewige lewe. Die gees van wedywer verdeel die apostels en laat Jesus hulle daaraan herinner dat hy gekom het, ‘nie om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie’.—Matt. 19:1-20:34.

Tydens Jesus se laaste week as ’n mens op aarde, verskuif gebeure na Bethanië en Jerusalem, en ons lees van sy triomfantelike intog in daardie stad. Daarna gaan Jesus na die tempel en reinig dit deur al die godsdiensuitbuiters uit te jaag. Dan vertel hy ’n gelykenis oor die landbouers wat die erfgenaam van die wingerd vermoor het en laat sy vyande verstaan dat hy besef wat in hulle gedagtes omgaan.—Matt. 21:1-46.

Alhoewel Jesus se godsdiensteenstanders herhaaldelik die onderspit gedelf het in hulle vorige gesprekke met hom, probeer hulle weer om hom in die verleentheid te stel deur strikvrae te stel oor die betaling van die ongewilde Romeinse belasting, oor die opstanding en oor watter die grootste gebod is. Sy wyse en Skriftuurlike antwoorde lê hulle die swye op. Toe het Jesus sy dissipels vermaan om nederig te wees. Hy het ook sy skynheilige godsdiensteenstanders skerp bestraf deur sewe weë oor hulle uit te spreek. Weens hulle teenstand sou hulle huis woes gelaat word.—Matt. 22:1-23:39.

Kommentare deur sekere van sy apostels oor die prag van Herodes se tempel bied Jesus die geleentheid om sy groot profesie oor die einde van die Joodse stelsel en oor sy wederkoms, sy parousia, te uiter, woorde wat veral sedert 1914 ’n treffende vervulling gehad het. Vervolgens het hy drie gelykenisse vertel wat in ons dag vervul word, die gelykenis van die verstandige en dwase maagde, van die talente en van die skape en die bokke.—Matt. 24:1-25:46.

Mattheüs gee dan vir ons die enigste ooggetuieverslag wat ons het van Jesus se instelling van die Here se Aandmaal ter herdenking van sy dood. Mattheüs verhaal vervolgens Jesus se ondervinding in Getsemane, sy inhegtenisname. Petrus se verloëning, Christus se verhoor, Pilatus se weifeling en hoe hy sy hande gewas het, en dan hoe Jesus tussen twee misdadigers as Koning van die Jode op die heuwel Kalvarie aan ’n paal genael is.—Matt. 26:1-75.

Toe Jesus in hegtenis geneem is, het al sy apostels gevlug, en hulle was beslis terneergedruk oor die verloop van sake. Maar nie lank nie. Op die derde dag hoor hulle van Jesus se opstanding uit die dode. Later ontmoet hulle Jesus in Galilea, waar hy hulle, ongetwyfeld kort voor sy hemelvaart, hierdie opdrag gee: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle . . . En kyk. Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”—Matt. 28:19, 20.

Dit ly geen twyfel dat Mattheüs sy tema dat Jesus van Nasaret inderdaad die Messias, die Seun van God, is, bewys nie. Mattheüs doen dit deur die aandag te vestig op die talle profesieë wat Jesus vervul het, op die wonderwerke wat Jesus gedoen het en op die waarhede wat Jesus geleer het. Mattheüs het ongetwyfeld ’n wakker verstand vol waardering gehad wat deur God se heilige gees opgewek is. Omdat God se gees hom gerig het en die dinge by hom laat opkom het wat Jehovah God neergeskryf wou hê, was hy in staat om ’n volledige en kragtige verslag van Jesus se lewe neer te pen.

Hoe dankbaar kan ons Jehovah God tog wees dat Hy so ’n nederige, eerlike en onselfsugtige dienaar van hom en volgeling van sy Seun geïnspireer het om so ’n geloofversterkende verslag van Jesus se aardse bediening neer te skryf! Laat ons waarlik vertroud raak met hierdie verslag sodat ons kan lewe volgens die beginsels wat Jesus uiteengesit het en by elke geleentheid vir ander die “goeie nuus” kan vertel dat die langbeloofde Messias op God se vasgestelde tyd gekom het ter vervulling van baie profesieë wat in die Hebreeuse Skrifte opgeteken staan.—Matt. 24:14, NW

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel