Godvrugtige gedrag teenoor ander
“Ek skryf hierdie dinge aan jou . . . [sodat jy kan] weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente.”—1 Tim. 3:14, 15, NTP.
1, 2. Hoe kan die Bybel ons in ons handelinge met ander help?
EEN van die voordele wat Christene geniet wanneer hulle die Bybel bestudeer, is dat hulle leer hoe om ander mense op ’n godvrugtige wyse te behandel. Selfs persone wat nie met die Christelike godsdiens of die Bybel vertroud is nie, erken die wysheid en praktiese waarde van raad soos: Soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.”—Luk. 6:31.
2 Die Bybel bevat baie meer as net vae verklarings oor ons gedrag teenoor ander. Dit bevat raad oor hoe ons ons moet gedra teenoor individue wat in sekere bepaalde verhoudings tot ons is, of in sekere situasies verkeer. Dit gee byvoorbeeld raad oor ’n Christin se gedrag teenoor haar ongelowige man, en raad oor ons gedrag teenoor armes, gebreklikes en die ander geslag (1 Pet. 3:1-6; Ps. 41:2; Lev. 19:14; 1 Tim. 5:1, 2). Die Skrif gee ook veel gesonde raad oor hoe ons ons “moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente”.—1 Tim. 3:15, NTP.
3. Waarom het ons God se leiding nodig waar dit by ons gedrag kom?
3 Dit is noodsaaklik om sulke goddelike raad toe te pas, want God se Woord toon dat hy ons gedeeltelik gaan oordeel op grond van ons gedrag teenoor ander (Matt. 18:35; 25:40, 45; Openb. 2:23). In plaas daarvan om gelei te word deur wat ’n mens se ons moet doen, of deur ons emosies of wat ons “dink” behoorlik is, moet ons Dawid se gesindheid hê: “HERE, maak my u wee bekend; leer my u paaie. Lei my in u waarheid en leer my, want U is die God van my heil.”—Ps. 25:4, 5; 139:17, 21.
HANDELINGE MET SONDAARS
4. Waarom moet ons weet hoe om sondaars te behandel?
4 As afstammelinge van Adam het almal ‘gesondig en ontbreek dit hulle aan die heerlikheid van God’ (Rom. 3:23; 5:12). Ons situasie is egter nie hopeloos nie, want ‘Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te red’. Elkeen wat dit besef en wat in Christus glo, kan vergifnis ontvang selfs al het hy in die verlede ’n sondige lewe gelei.—1 Tim. 1:12-16; 1 Kor. 6:9-11; Hand. 10:43; Rom. 6:12-14.
5. Wat moet gedoen word as ’n Christen ernstige sonde doen?
5 Maar gestel dat ’n persoon, nadat hy berou getoon, geloof in Christus gestel en ’n gedoopte Christen geword het, voor swakheid swig of hom aan ernstige sonde skuldig maak? Hy kan steeds vergewe word, net soos die apostel Petrus vergewe is nadat hy Jesus verloën het. Wat sou jy doen indien jy te hore gekom het van ’n mede-Christen wat ernstige sonde gedoen het? Uit ware liefde sal jy beslis wil sien dat daardie persoon geestelike hulp ontvang. Die toegewyde geestelike ouere manne of opsieners in die gemeente is dikwels die middel waardeur daardie hulp verleen word. Met watter doel? Om die Christen wat sondig geestelik te herstel.—Gal. 6:1; 1 Joh. 5:16; 2 Tim. 2:23-26; Jud. 23.
6. Wat moet gedoen word wanneer ’n Christen wat ernstige sonde gedoen het, nie berouvol is nie?
6 Maar soms verlaat ’n persoon wat jare lank op die weg van die ware Christelike godsdiens gewandel het daardie weg, maak hy hom skuldig aan goddeloosheid en is hy nie berouvol nie ondanks die opregte pogings van die ouere manne om hom te help. Die Bybel toon dat dit in die eerste eeu gebeur het, en dit gebeur vandag (2 Pet. 2:10-20). Wat moet in so ’n geval gedoen word? In sy volmaakte wysheid en geregtigheid beveel God dat ’n ferm stap gedoen moet word om die morele en geestelike reinheid van die gemeente te beskerm, ’n stap wat ook die oortreder so kan skok dat hy tot sy sinne kom. God se Woord beveel: “Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit.” Dit beteken dat hy uit die Christengemeente gesit moet word.—1 Kor. 5:13; 1 Tim. 1:20; vergelyk Deuteronomium 17:7.
7. Watter vrae ontstaan oor ’n persoon wat uit die gemeente gesit is?
7 Dit is jammer dat ’n persoon se gedrag en gesindheid sulke optrede kan verg. Maar hoe moet die lojale lede van die gemeente hom beskou en behandel nadat hy uitgesit is? Moet hulle hulle teenoor hom gedra soos hulle hulle sal gedra teenoor enige buurman, kollega of persoon wat hulle op straat raakloop? Moet hulle “Hallo” sê of selfs ’n kort gesprek voer wanneer hulle die uitgesette persoon raakloop? Mag hulle vir hom werk of hom in diens neem? Tot watter mate moet Christenouers, of ander familielede, met die persoon kommunikeer of omgaan? Talle sulke vrae ontstaan. Hoe dankbaar kan ons tog wees dat Jehovah God vir ons leiding gee oor hoe om ’n uitgesette oortreder te behandel!
JESUS SE RAAD OOR OORTREDERS
8, 9. (a) Watter raad het Jesus gegee oor iemand wat gesondig het? (b) Na watter soort sonde het Jesus hier verwys?
8 Toe God nog met die Jode as Sy volk gehandel het, het Jesus raad gegee oor iemand wat gesondig het. Christus se dissipels, wat self Jode was, sou hierdie raad verstaan in die lig van die bestaande situasie in die Joodse gemeenskap. Ons kan ook daarby baat vind, want die raad wat Jesus gegee het, sou later van toepassing wees wanneer die Christengemeente deur God gestig is (Matt. 21:43). Christus het soos volg begin: “As jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin.”—Matt. 18:15.
9 Jesus het klaarblyklik nie gepraat van ’n ‘sonde’ in die sin van ’n klein persoonlike oortreding soos die waarvan ons in Filippense 4:2, 3 lees nie. (Vergelyk Spreuke 12:18.) Dit blyk eerder dat hy sondes soos bedrog of laster bedoel het, sondes wat ernstig genoeg is sodat dit kan meebring dat ’n persoon uit die gemeente gesit word.a As die persoon teen wie daar gesondig is die saak deur private bespreking kan oplos, sou hy ‘sy broeder gewin het’; wanneer die sondaar blyke van hartgrondige berou getoon het en probeer het om die oortreding ongedaan te maak, is dit nie nodig om die saak verder te voer nie.
10, 11. Wat was die volgende stap as daardie eerste stap misluk het?
10 Maar gestel daardie stap misluk. Jesus het voorts gesê: “Maar as hy [die sondaar] nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan.”—Matt. 18:16.
11 Die persone wat saamgeneem is, moes “getuies” wees, nie net neutrale partye wat probeer om ’n versoening te bewerkstellig nie. Dit wil voorkom of hulle individue is wat “getuies” van die oortreding is. Hulle weet miskien wat gesê is toe die finansiële ooreenkoms aangegaan is en kan dus getuig of daar bedrog was of nie. Of as die getuienis van die oortreding ’n kontrak of iets dergeliks is, kan geestelik bekwame broers met ondervinding in sulke situasies saamgeneem word. Hulle kan getuies word van die feite en van wat die beskuldigde tydens hierdie vergadering sê, indien die laaste stap gedoen moet word.
12. Wat was die laaste stap, soos Jesus verduidelik het?
12 As die laaste stap in verband met die sondaar het Jesus gesê: “As hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar” (Matt. 18:17). Ja, in ’n laaste poging om die sondaar van sy weg te bekeer, sal die saak na die geestelik ouere manne van die gemeente geneem word. Hulle kan die feite aanhoor en die getuies se getuienis verkry. En hulle sal die oortreder met God se Woord kan teregwys. Maar as hy weier om berou te toon, sal hulle ten behoewe van die gemeente optree om hom te dissiplineer en die gemeente teen sy gevaarlike invloed beskerm deur hom uit te sit.
NIE ONMENSLIK TEENOOR ANDER NIE
13, 14. Hoe kan ons daarvan seker wees dat Jesus dit nie goedgekeur het dat ons ander onmenslik behandel nie?
13 Om ons te help om vas te stel hoe ons ons teenoor so ’n persoon moet gedra, moet ons Jesus se volgende woorde verstaan: “Laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.” In latere eeue het party Joodse rabbi’s wel oordrewe menings gehuldig, byvoorbeeld dat ’n Jood selfs nie eens ’n nie-Jood moes help wat in doodsgevaar verkeer het nie. Sulke gevoelloosheid is nie alleen teenoor nie-Jode betoon nie. In Jesus se gelykenis oor wie ons naaste is, het ’n Leviet sowel as ’n priester geweier om ’n beseerde mede-Jood te help, alhoewel ’n Samaritaan hom later gehelp het.—Luk. 10:29-37.
14 Maar in Mattheüs 18:17 kon Jesus nie bedoel het dat sy dissipels moes weier om mensliewend op te tree, soos in die geval van ’n ongeluk of groot nood nie. Jesus het sulke vriendelikheid aan ’n paar nie-Jode betoon. Hy het dit byvoorbeeld aan ’n Siro-Feniciese vrou betoon. Alhoewel Jesus, sy dissipels en die vrou erken het dat haar situasie buitengewoon was omdat sy ’n nie-Jood was en Jesus na die Jode gestuur is, het Christus nietemin haar dogter genees (Matt. 15:21-28; Mark. 7:24-30). Jesus het soortgelyke mensliewendheid betoon toe ’n Romeinse hoofman hom gesmeek het om ’n verlamde dienskneg wat hewige pyne gely het, te genees. Die hoofman het erken dat hy nie verwag het dat Jesus, ’n Joodse leraar, sy huis moes binnegaan nie. Tog het die “ouderlinge van die Jode” Jesus gesmeek om barmhartigheid aan hierdie verdienstelike nie-Jood te betoon, en hy het dit gedoen (Luk. 7:1-10; Matt. 8:5-13). Deur te sê dat iemand “soos die heiden en die tollenaar” beskou moet word, het Jesus ons nie verbied om barmhartige goedheid te toon nie. Wat het hy dan bedoel?
‘SOOS DIE TOLLENAAR’
15. Hoe het die Jode tollenaars beskou en behandel?
15 Eerstens, hoe het die Jode tollenaars beskou en behandel?
‘Die tollenaars van die Nuwe Testament is beskou as verraaiers en afvalliges, as persone wat besoedel is deur hulle herhaalde omgang met die heidene, as gewillige werktuie van die verdrukker. Hulle is geklassifiseer saam met sondaars . . . met hoere . . . met die heidene. . . . Omdat hulle vermy is en mense wat ordentlike lewens gelei het hulle afsydig gehou het, is hulle enigste vriende of metgeselle gevind onder diegene wat, soos hulself, uitgeworpenes was.”—“Cyclopædia” deur M’Clintock en Strong, Dl. VIII, bl. 769.
Ja, Jesus se hoorders het goed geweet dat Jode oor die algemeen tollenaars vermy het. Jode sou slegs teësinnig selfs minimale sakekontak met hulle hê om die belasting te betaal wat deur die wet vereis is.
16, 17. Hoe het Jesus hom teenoor party tollenaars gedra?
16 ‘Maar’, sal iemand moontlik vra, ‘het Jesus nie met tollenaars omgegaan nie?’ Wel, kom ons beskou die feite.
17 As “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem”, was Jesus ’n lig vir alle mense, alhoewel hy hom gedurende sy aardse bediening op die Jode toegespits het (Joh. 1:29; 8:12; Jes. 42:1, 6, 7; Matt. 10:5, 6; 15:24). Hy was soos ’n geneesheer wat al die Jode gehelp het wat hom die meeste nodig gehad het, onder meer sondaars soos hoere, dronkaards en tollenaars, wat dikwels oneerlik was. Mattheüs Levi, ’n veragte tollenaar, het op die nuwe boodskap van redding wat Jesus verkondig het, gereageer. Mattheüs het Jesus na sy huis genooi vir ’n feesmaal, en dit het Mattheüs en ander belangstellende tollenaars die geleentheid gebied om meer van die wonderlike nuwe waarhede te hoor (Luk. 5:27-32; 19:1-10). Dit was manne wat sondes uit onwetendheid begaan het’, maar wat bereid was om stappe te doen sodat hulle sondes “uitgewis” kon word.—Hand. 3:19; 9:7.
18. Waarom was Jesus se handelinge met party tollenaars nie die voorbeeld vir wat hy in Mattheüs 18:17 gesê het nie?
18 Maar Jesus se poging om te getuig vir tollenaars wat ‘na Hom gekom en ‘Hom gevolg’ het, was nie ’n voorbeeld van hoe onberouvolle sondaars behandel moes word nie (Mark. 2:15; Luk. 15:1). Hoe kan ons seker wees? Alhoewel Christus saam met sulke tollenaars geëet het, het die apostel Paulus beveel dat Christene ‘selfs nie moet eet saam met’ die sondaar wat uit die gemeente gesit is nie (1 Kor. 5:11). En Jesus het vir sy dissipels gesê om ’n onberouvolle oortreder te behandel soos hulle tollenaars destyds beskou het. Die vertaling deur R. F. Weymouth lui: “Beskou hom soos jy ’n Heiden of ’n belastinggaarder beskou.”—Vergelyk New International Version; The New English Bible.”
HOE IS NIE-JODE BESKOU EN BEHANDEL?
19. Wat toon die Bybel oor verhoudinge tussen Jode en nie-Jode?
19 Die apostels wat Jesus se woorde in Mattheüs 18:17 gehoor het, was Jode en het geweet dat hulle landgenote nie sosiaal met die Jode verkeer het nie. Die Wet het ’n onderskeid getref tussen Jode en nie-Jode en het gehelp om die Israeliete afgeskeie te hou van die omliggende nasies (Deut. 7:14; Num. 15:37-41; Ef. 2:11-14). Op Pasgadag, 33 G.J., het die Jode geweier om die Romeinse goewerneur se paleis binne te gaan “dat hulle hul nie sou verontreinig nie” (Joh. 18:28). En die kloof tussen die Jode en die Samaritane, wat selfs die Pentateug aanvaar het, was so groot dat ’n vrou by ’n put in Samaria haar verbasing uitgespreek het dat Jesus, “wat ’n Jood is”, haar om water sou vra.—Joh. 4:9.
20. Wat kan ons uit Petrus se ondervinding met Cornelius leer oor die wyse waarop Jode nie-Jode behandel het?
20 Toe God wou toon dat onbesnede nie-Jode as erfgename van die Koninkryk aanvaar kon word, het hy die apostel Petrus in 36 G.J. na die Romeinse hoofman Cornelius gestuur. Maar Petrus het vir Cornelius gesê: “Julle weet dat dit ongeoorloof is vir ’n Joodse man om met iemand van ’n ander volk omgang te hê of hom te besoek” (Hand. 10:28). Petrus se opmerking toon hoe sterk die Jode daaromtrent gevoel het dat daar geen verbroedering met ’n nie-Jood moes wees nie. En toe dit bekend geword het dat Petrus na Cornelius gegaan het, het party Joodse Christene sterk beswaar gemaak omdat Petrus ‘by onbesnede manne in die huis gegaan en saam met hulle geëet het’. Ja, die Jode het dit as iets skokkends beskou om saam met ’n “heiden” of nie-Jood te verkeer en te eet.—Hand. 11:1-3; vergelyk Galasiërs 2:12.
21. Hoe verstaan jy dan Jesus se woorde dat ’n onberouvolle sondaar “soos die heiden en die tollenaar” is?
21 Die Skrif help ons dus om te verstaan wat Jesus bedoel het toe hy gesê het dat ’n onberouvolle oortreder wat geweier het om na die gemeente te luister “soos die heiden en die tollenaar” behandel moet word. As ons Christus se raad vandag toepas, sal dit beslis nie beteken dat ons die oortreder soos ’n gewone persoon in die gemeenskap beskou nie, want dit was nie soos Jesus se dissipels dit verstaan het nie. Ons kan dit beter verstaan as ons verdere raad in die Christelike Griekse Skrifte ondersoek, en dit sal ons help om vandag reg op te tree in situasies waar persone uit die Christengemeente gesit is.
[Voetnoot]
a Onder die wet van Moses kon party ernstige sondes, soos owerspel, homoseksualiteit, manslag en afvalligheid, nie bloot op ’n persoonlike grondslag uitgestryk word deurdat die individu teen wie daar oortree is die oortreder se droefheid en pogings om die saak reg te stel aanvaar het nie. In die geval van hierdie ernstige sondes is die sake eerder deur die oudstes, regters en priesters hanteer.—Lev. 20:10, 13; Num. 5:11-31; 35:12, 19-25; Deut. 13:6-15; 17:2-9; 19:16-19; 22:22.
WAT HET DIE WOORDE “SOOS DIE HEIDEN EN DIE TOLLENAAR” BETEKEN?
Die Jode het tollenaars as uitgeworpenes vermy
Die Jode het geweier om die paleis van ’n nie-Joodse goewerneur binne te gaan
Petrus het gesê dat dit “ongeoorloof” vir ’n Jood is om ’n nie-Jood te nader
Joodse Christene was geskok omdat Petrus saam met Cornelius geëet het
[Prent op bladsy 16]
Die Jode het tollenaars as sondaars beskou en hulle vermy. Die enigste sakekontak met hulle was om die belasting te betaal wat deur die wet vereis is