Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 5/1 bl. 29-30
  • Jy word genooi na die “Goddelike vrede”-Byeenkomste

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jy word genooi na die “Goddelike vrede”-Byeenkomste
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom jy die “Goddelike Vrede”-Byeenkoms moet bywoon
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Die “Goddelike Vrede”-Streekbyeenkoms—Net wat ons nodig gehad het!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Byeenkomste—bewys van ons broederskap
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Hoe jy goddelike vrede in groter mate kan geniet
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 5/1 bl. 29-30

Jy word genooi na die “Goddelike vrede”-Byeenkomste

HOE gretig sien elke Christengetuie van Jehovah tog nie uit na die jaarlikse streekbyeenkomste nie! Dit is ongetwyfeld ’n hoogtepunt van elke kalenderjaar. Die goeie toesprake, die Bybeldramas, die nuwe publikasies, die omgang​—en soms ook die groot opkoms—​maak hierdie byeenkomste inderdaad baie spesiaal.

Beskou byvoorbeed party van die “Handhawers van onkreukbaarheid”-Byeenkomste wat verlede jaar gehou is. Die twee in São Paulo en Rio de Janeiro, Brasilië, het ’n hoogtepunt in bywoning van 249 351 gehad en 2 645 het hulle toewyding aan Jehovah God deur waterdoop gesimboliseer. Die byeenkoms in Montreal, Kanada, wat deur 78 804 bygewoon is, was uitsonderlik weens sy woonwapark sowel as die feit dat dit in 11 verskillende tale gehou is. Diegene wat die byeenkoms in Zürich, Switserland, bygewoon het, het berig dat hulle nog nooit sulke entoesiasme en oorvloedige vreugde ervaar het nie. Afgevaardigdes wat een of meer van die byeenkomste in Pole bygewoon het, was soortgelyke menings toegedaan.

’n Onvolledige wêreldrapport toon ’n opkoms van 5 653 689 by 754 “Handhawers van onkreukbaarheid”-Byeenkomste waartydens 75 202 nuwe Getuies gedoop is. Hoe wonderlik het Jehovah tog nie hierdie byeenkomste van sy volk geseën nie!

Anders as wat soms in die wêreld die geval is, het die byeenkomste die verwagtinge van die byeenkomsgangers oortref. So te sê almal het saamgestem dat hierdie byeenkomste die beste ooit was. Al Jehovah se Getuies sal dus gretig uitsien na vanjaar se “Goddelike vrede”-Streekbyeenkomste wat wêreldwyd gehou sal word​—daar word 130 vir die Verenigde State beplan.

Wat ’n uitstekende tema vir ons streekbyeenkoms: “Goddelike vrede”! Die mensegemeenskap is vandag vol tweedrag. Dit is nie net letterlike oorloë wat tans oor die aarde gevoer word nie, maar daar is ook ander soorte gevegte: ekonomiese oorlogvoering en struweling tussen huweliksmaats sowel as tussen ouers en kinders. Maar in sterk teenstelling hiermee is daar vrede onder Jehovah se toegewyde volk. Hulle besit goddelike vrede wat kom van die goddelike wese, Jehovah God, die God van vrede wat vrede gee. Hulle geniet vrede met hom as gevolg van geloof en werke en geniet dus vrede met mekaar, in die gemeente en in die gesin.​—Filippense 4:7; Romeine 16:20.

Let ook op dat hierdie goddelike vrede nie bloot die afwesigheid van tweedrag is nie. Die Hebreeuse woord vir vrede is sha·lohmʹ, en dit beteken nie net vreedsaamheid nie, maar welstand en voorspoed. Ja, Jehovah se Getuies geniet voorspoed sowel as die afwesigheid van tweedrag omdat hulle in ’n geestelike paradys is. Hierdie byeenkoms sal almal wat dit bywoon in staat stel om meer bewus te wees van vrede en dit ’n saak van erns te maak om vrede na die beste van hulle vermoë te bevorder.​—Romeine 12:18.

Hierdie byeenkomste sal, soos vorige jare, op Donderdagmiddag om 1:30 begin. Daar is ’n tema vir elke dag wat met vrede verband hou. Die tema vir die eerste dag is “God sal sy volk seën met vrede”, gebaseer op Psalm 29:11. Sinvolle gebed sal bespreek word, en die hoogtepunt van die sessie sal ’n toespraak wees oor hoe Jehovah te werk gaan om alles nuut te maak.

Op Vrydag sal die programrede, “Goddelike vrede vir dié wat deur Jehovah geleer word”, die bron van ons vrede beklemtoon. Daar sal ook ’n hartverblydende drama wees wat die ou tyd en ons dag in verband sal bring.

Benewens die dooptoespraak sal die program Saterdagoggend klem lê op ons Christenverantwoordelikhede teenoor mekaar en op die feit dat ons steeds as Christengetuies van Jehovah vooruitgang moet maak. In die middag sal daar goeie raad vir gesinslede en aangestelde opsieners wees.

Sondagoggend sal daar ’n reguit en treffende hedendaagse drama aangebied word. Die kragtige openbare toespraak, “Eindelik vrede!​—Wanneer God spreek”, wat in die middag gehou sal word, sal een van die byeenkoms se hoogtepunte wees. Die byeenkomsbywoners sal ongetwyfeld met die gevoel vertrek dat hulle ten volle deur die God van vrede toegerus is om sy wil te doen.

Woon dus al vier dae met ’n goeie geestelike aptyt by, ten volle bewus van jou geestelike behoefte (Mattheüs 5:3, NW). Beplan om elke dag betyds te wees vir die openingslied en -gebed. Wees ook toegerus om aantekeninge te maak, want as jy hoofgedagtes neerskryf, sal dit jou help om te konsentreer op wat die spreker sê. Daarbenewens sal die gedagtes dieper op jou hart en verstand ingeprent word.

Maar ons moet nooit vergeet dat ware aanbidding van Jehovah God meer behels as om net te ontvang nie. Dit behels ook mededeelsaamheid. Ons moet die Bybelbeginsel in gedagte hou: “Wie volop saai, sal ook volop maai” (2 Korinthiërs 9:6). Aangesien Jesus gesê het dat ‘dit saliger is om te gee as om te ontvang’, moet ons die grootste vreugde moontlik by die byeenkoms smaak deur soveel moontlik te gee en ons dienste vrywillig aan te bied (Handelinge 20:35). Dit behoort werklik nooit nodig te wees om vrywilligers om hulle dienste te vra nie.

Verder moet ons die voorsiening om Vrydagmiddag aan velddiens deel te neem ernstig opneem. En laat ons al vier dae wakker wees vir geleenthede om informeel te getuig. Dit herinner ons aan ’n ander Bybelbeginsel: Die vrygewige siel sal voorspoedig wees, en hy wat laaf, sal self ook gelaaf word (Spreuke 11:25, vgl. NW). Ja, laat ons soveel mense moontlik uitnooi om self te kom leer hoe Jehovah se Getuies hulle inderdaad verlustig in goddelike vrede.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel