Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 5/1 bl. 26-28
  • Kan jy dissipline aanvaar?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan jy dissipline aanvaar?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Is dissipline werklik so erg?
  • Hulle het dissipline verwerp
  • Party het geluister
  • Hedendaagse Christene en dissipline
  • Dissipline bring goeie vrugte voort
  • Begryp die doel van dissipline
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Dissipline – ’n Bewys van Jehovah se liefde
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2021
  • Dissipline — ’n Bewys van God se liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Dissipline lewer ’n vredevolle vrug
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 5/1 bl. 26-28

Kan jy dissipline aanvaar?

‘DEESDAE slaan ouers net die tam tam (danstrom), nie hulle kinders nie.’ Dit is wat sommige skoolmeisies in Afrika gesê het. Wat het hulle bedoel? Dat dissipline uit die mode was. Ouers wou dit nie toedien nie, en die kinders was bly om dit nie te ontvang nie.

Is dit verstandige gesindhede? Volgens ’n woordeboek is dissipline basies “opleiding wat die geesvermoëns of sedelike karakter regstel, vorm of vervolmaak”. Kan enigiemand werklik sonder daardie soort dissipline klaarkom? Waarom het daardie skoolmeisies in Afrika​—en hulle ouers—​gedink dat hulle daarsonder kon klaarkom?

’n Negatiewe gesindheid teenoor dissipline is nie beperk tot skoolmeisies in Afrika en hulle ouers nie. Dit lyk asof die meeste mense vandag enige raad of dissipline as ongeoorloofde inmenging met hulle vryheid, ’n inperking van hulle regte, beskou. So ’n gesindheid is egter nie eie aan die 20ste eeu nie. Duisende jare gelede het God self gesê: “Die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af” (Genesis 8:21). Die apostel Paulus het gewys op die eindresultaat van duisende jare van sulke slegte neigings toe hy geskryf het: “Mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand” (2 Timotheüs 3:2-4). Geen wonder dat dissipline ongewild is nie!

Is dissipline werklik so erg?

Het ’n Christen werklik dissipline nodig? Wel, Jesus het gesê dat die pad na die lewe “smal” is (Mattheüs 7:13, 14). Dit is maklik om daarvan af te wyk. Sou dit dus nie verstandig wees om dissipline, opleiding, soos die woordeboek dit stel, te aanvaar nie? Beskou die geval van ’n reisiger wat per ongeluk van sy weg afwyk en baie naby ’n gevaarlike gebied beland. Hoe sou hy reageer as ’n vreemdeling sou aanbied om hom te wys hoe om weer sy pad te vind? Sou hy die hulp grimmig verwerp en daarop staan dat hy die reg het om te gaan waar hy wil? Sou hy die vriendelike vreemdeling daarvan beskuldig dat hy op sy regte inbreuk maak? Nouliks. Hy sou dankbaar wees vir die aangebode hulp.

Die verstandige Christen is eweneens dankbaar wanneer hulp in die vorm van vriendelike dissipline aangebied word. Die woorde van die profeet is waar ongeag ons ouderdom of lewenservaring: “Ek weet, o here, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Ons almal het gevolglik dissipline nodig.

Hulle het dissipline verwerp

Kain, wat jaloers was op sy broer Abel, was een wat dissipline verwerp het. Toe Jehovah gesien het dat Kain van die regte weg begin afwyk, het Hy hom vermaan en gevra: “Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang? Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie​—die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers” (Genesis 4:6, 7). Kain het nie geluister nie. Hy het sy broer Abel doodgemaak en sodoende moord in die mensegeskiedenis ingebring.​—Genesis 4:8-16.

In die dae van Samuel het die seuns van Eli ook nie dissipline aanvaar nie. Hulle vader was die hoëpriester by Jehovah se heiligdom, maar sy seuns het hulle posisie gebruik om van die offerandes te steel en vroue oor te haal om hulle saam met hulle aan onsedelikheid skuldig te maak. Hulle vader het hulle​—taamlik flou—​tereggewys, maar hulle het nie geluister nie. Die gevolg? Hulle verwerping van dissipline het daartoe gelei dat hulle op die slagveld gesterf het, en die skok van die nuus het Eli se dood veroorsaak.​—1 Samuel 2:12-17, 22-25; 3:11-18; 4:1-4, 10-18.

Party het geluister

Ander het egter dissipline aanvaar. Dawid, ’n koning en krygsman, het ’n verskriklike misdaad begaan toe hy die dood van Uria, die man met wie se vrou Dawid egbreuk gepleeg het, bewerkstellig het. Maar Dawid het die teregwysing aanvaar wat God deur die profeet Natan gestuur het, en gevolglik het Jehovah hom nie heeltemal verwerp nie (2 Samuel 12:1-14). Ja, dissipline kan ons help om selfs van uiters ernstige sondes te herstel.

Job is deur die jongman Elihu vermaan en kon die raad driftig verwerp het. Hoewel Job verskriklik onder Satan gely het, het hy geweier om ‘God te vervloek en te sterf’. Met so ’n reputasie kon hy gemeen het dat dit nie nodig was om na die raad van hierdie jongman te luister nie. Job het egter geluister en geleer dat hy, ondanks sy onkreukbaarheid, sy gesindheid ietwat moes verander. Toe het hy die voorreg gehad om raad van Jehovah self te ontvang en is hy uiteindelik met talle seëninge beloon (Job 2:9, 10, vgl. NW; 32:6; 42:12-16). Dissipline kan dus selfs diegene met ’n uitsonderlike reputasie van volharding en getrouheid help.

Die apostel Petrus het ook dissipline ontvang. Onthou, Petrus was ’n apostel van Jesus Christus, ’n getuie van Jesus se verheerliking en die een aan wie Christus “die sleutels van die koninkryk” toevertrou het (Mattheüs 16:18, 19). En tog het die apostel Paulus, ’n betreklik nuwe volgeling van Jesus, Petrus by een geleentheid in die openbaar tereggewys oor sy gedrag in die gemeente in Antiochië. Petrus het blykbaar die dissipline aanvaar, want hy het later van “ons geliefde broeder Paulus” gepraat (2 Petrus 3:15; Galasiërs 2:11-14). ’n Christen met baie voorregte kan dus ook verwag om dissipline te ontvang.

Hedendaagse Christene en dissipline

In die gemeente moet ons nie verbaas wees as ons raad van enige ryp persoon ontvang nie. Maar die persone wat in die besonder die verantwoordelikheid het om na ons belange om te sien, is die aangestelde ouere manne. Dit is aan hierdie geestelike herders wat die Bybel sê: “Gee noukeurig ag op die voorkoms van jou skape, rig jou aandag op die troppe vee.”​—Spreuke 27:23.

Dit kan ons help om dissipline te aanvaar as ons besef dat dit opregte liefde, sowel as moed, van ouere manne verg om raad te gee. Ouere manne word dikwels afgejak wanneer hulle probeer help. ’n Ouere man in Afrika het byvoorbeeld met ’n ervare Christin gepraat en haar gewaarsku dat sy by iets onchristeliks betrokke raak. Dit was moeilik om daardie raad te gee en dit is nie makliker gemaak toe sy aanstoot geneem het nie. Die raad is uiteindelik verwerp en die een vir wie dit gegee is, het geweier om enigiets verder te doen te hê met die ouere man wat haar probeer help het. Hoeveel verstandiger sou dit tog gewees het as sy onthou het dat ‘wonde deur een wat liefhet opreg bedoel is’!​—Spreuke 27:6.

Dissipline kan ons help om ’n ander Bybelspreuk toe te pas: “’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf” (Spreuke 22:3). Daardie woorde sou ’n Christen in dieselfde land gehelp het. Hy het in die gewoonte verval om sonder sy vrou en kind na openbare restaurante te gaan. Dit het party verontrus, want in daardie gebied is die kelnerinne in talle restaurante in werklikheid prostitute wat kliënte soek. Die plaaslike ouere manne het dus verskeie kere met hierdie man oor die saak gepraat. Maar hy het die raad verwerp, dikwels heel heftig. Uiteindelik het hy in die strik van onsedelikheid beland. Hoeveel verstandiger sou dit tog gewees het om ag te slaan op die goed bedoelde raad!

As ons ons eie beskouing vir ’n oomblik vergeet en dinge probeer sien soos Jehovah dit sien, sal ons dissipline geredeliker aanvaar. Dissipline is weliswaar ’n onwelkome herinnering aan ons eie onvolmaakthede. Dit laat ons miskien ’n bietjie in die agting van ander daal. Maar dink hoe bly Jehovah is wanneer sy knegte verstandig optree en nie in sonde verval nie. “Wees wys, my seun”, sê sy Woord, “en verbly my hart, sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee” (Spreuke 27:11). As ons ons trots kan sluk en die aangebode dissipline aanvaar, sal ons onder diegene wees wat Jehovah ’n antwoord gee op die uitdagings van Satan.

Dissipline bring goeie vrugte voort

Soos ons gesien het, het ons almal dissipline nodig. Mans en vroue, jonk en oud, diegene wat al lank in die waarheid is en die nuwer persone het dit nodig. Ons moet gevolglik dissipline aanvaar, dit selfs soek. Bestudeer God se Woord en let op na wat daarin vir jou as raad dien (2 Timotheüs 3:16, 17). Woon vergaderinge by en luister aandagtig om te sien wat op jou van toepassing is (Hebreërs 10:24, 25). As jy persoonlik liefdevolle Skriftuurlike dissipline ontvang, moet jy dit aanvaar in die gees waarin dit gegee word. Benut enige korrektiewe opleiding wat van Jehovah kom.

Paulus het vir die Hebreërs gesê: “Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ’n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ’n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is” (Hebreers 12:11). Hoewel dissipline dus soms seermaak, het dit ’n goeie gevolg. As ons dissipline aanvaar, kan dit ons help om onder diegene te wees wat Jehovah behaag. Dissipline kan ons help om ‘opreg te wandel, geregtigheid te doen en met ons hart die waarheid te spreek’ (Psalm 15:1, 2). Laat ons almal derhalwe dissipline aanvaar.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel