Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 4/1 bl. 16-21
  • Dien die God van waarheid in onkreukbaarheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dien die God van waarheid in onkreukbaarheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die wonder van die menseverstand
  • Hou vas aan die waarheid
  • Het aapmense bestaan?
  • ’n Profetiese Parallel
  • Bevorder die waarheid
  • Meningsverskille oor evolusie—Waarom?
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Waarom aanvaar baie evolusie?
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Is evolusie versoenbaar met die Bybel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Evolusie
    Redenering uit die Skrif
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 4/1 bl. 16-21

Dien die God van waarheid in onkreukbaarheid

“Leer my, HERE, u weg: ek sal in u waarheid wandel.”​—PSALM 86:11.

1, 2. (a) Hoe kan God se voorsienings vir die mensdom toegelig word? (b) Hoe beskryf die Skrif God se handewerk en die mens se eiesinnigheid?

STEL jou voor dat jy deur ’n dorre woestyn loop waar daar geen teken van lewe is nie. Skielik kom jy op ’n pragtige huis af. Daar is lugversorging, verwarming, lopende water en elektrisiteit. Die yskas en kaste is vol kos. Die kelder bevat brandstof en oorgenoeg ander voorrade. Sou jy sê dat dit alles per toeval daar gekom het? Sou jy dankbaar wees as die eienaar jou nooi om in daardie huis te bly en dit te geniet?

2 Wel, hierdie genotvolle aarde waarop ons woon, is net soos daardie huis. Lank voordat die mensdom geskape is, het ons liefdevolle God hierdie aarde voorberei om ons tuiste te word en alles voorsien wat ons nodig sou hê om gelukkig te wees (Jesaja 45:12, 18). Behoort ons nie dankbaar te wees teenoor hierdie vrygewige Voorsiener nie? Hy is die Een wat die Bybel se woorde in Hebreërs 3:4 geïnspireer het: “Elke huis word deur iemand gebou, maar Hy wat alle dinge gebou het, is God.” Die jammerte is dat selfsugtige mense God se handewerk op aarde geskend het en steeds ruïneer.​—Deuteronomium 32:3-5.

3. Wat sê die Bybel oor Jehovah se teenwoordige en toekomende vrygewigheid?

3 Selfs vir teenstanders van die waarheid kon die apostel Paulus aangaande God sê: “Hy [het] Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul” (Handelinge 14:17). Hoeveel te meer kan Jehovah tog nie diegene seën wat hom in onkreukbaarheid dien nie! Hoewel die ontberinge en laste van hierdie “laaste dae” swaar op ons druk, is daar die wonderlike hoop dat die Soewereine Heer Jehovah eersdaags ’n ware feesmaal van goeie dinge gaan voorsien vir diegene wat hom liefhet en dat hy die trane van alle aangesigte gaan afvee.​—2 Timotheüs 3:1; Jesaja 25:6-8.

Die wonder van die menseverstand

4. (a) In watter dilemma bevind sommige rekenaarwetenskaplikes hulle? (b) Wat sê Jeremia 33:2, 3 oor die Maker van die mensebrein?

4 Wetenskaplikes probeer al etlike jare lank om rekenaars te maak wat self dink. Maar nou erken hulle dat hulle nie verder kom as die eerste stap nie. Waarom nie? Wel, hulle erken dat die struktuur van die mense-oog hulle dronkslaan. Hoe kan hulle ooit met die brein begin as hulle nie die oog kan namaak nie. En hoe gaan hulle ooit die denkvermoë namaak? Watter wonder is die mensebrein tog nie! Elke sekonde stroom honderdmiljoen brokkies inligting hierdie orgaan binne om gesif, gesorteer en toegepas te word in die lewe van intelligente wesens. Die mees gesofistikeerde rekenaar bly baie ver agter in vergelyking daarmee. Watter puik bewys tog van die voortreflike wysheid van die liefdevolle God wat ons gemaak het! Ons kan bly wees dat ons Maker en Formeerder, Jehovah God, ons met intelligensie begaaf het en dat ons ons verstande kan gebruik om die “groot en ondeurgrondelike dinge” wat hy op sy bestemde tyd en manier aan ons openbaar te wete te kom.​—Jeremia 33:2, 3.

5. (a) Watter ontwikkelingswonderwerk vind slegs in mense plaas? (b) Hoe is Elihu se woorde gepas?

5 Die wonder van die mensebrein begin in die baarmoeder, waar breinselle slegs drie weke na bevrugting begin vorm. Hulle vermenigvuldig in vlae, soms tot ’n kwartmiljoen selle per minuut. Binne die eerste jaar na geboorte verdriedubbel die baba se brein in grootte, iets wat toon dat dit hemelsbreed verskil van die brein van enige dier, die aap inkluis. Dit duur nie lank voordat die kind tale kan baasraak, oor sake kan redeneer, sedelike kwessies en geestelike waardes kan begryp nie. Hoe kon hierdie vermoëns ooit uit redelose diere geëvolueer het? Elihu het gepas oor ons God en groot Maker gesê: “[Hy] wat aan ons meer verstand gegee het as aan die diere, meer insig as aan die voëls.”​—Job 35:10, 11, NAV.

6. (a) Hoe verklaar die Skrif die mens se wonderlike bou? (b) Hoe kan ons ons Godgegewe vermoëns liefdevol gebruik?

6 Hierdie wonder, die menseverstand, strook met Genesis 1:27, wat sê: “God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.” Moet ons nie dankbaar wees vir die manier waarop God ons gemaak het nie? Dawid was. Hy het Jehovah geloof en gesê: “Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering” (Psalm 139:14, NAV). Loof ons ons God nie om dieselfde rede nie? Ons kan daarbenewens ons Godgegewe verstand en liggaam gebruik om die aantyging wat Satan in ons God se aangesig geslinger het vals te bewys. Ons kan Jehovah as handhawers van onkreukbaarheid dien.​—Spreuke 27:11.

Hou vas aan die waarheid

7, 8. (a) Watter teenstellings bestaan daar tussen waarheid en teorie? (b) Wat sê goed ingeligte mense nou oor evolusie? (c) Waarom moet evolusie eerder met liggelowigheid as geloof verbind word?

7 Die waarheid moet seëvier! As liefhebbers van Jehovah moet ons aan die waarheid vashou terwyl ons ons geestesvermoëns gebruik om die weg van onkreukbaarheid te kies. Die waarheid oor die skepping is bevestig. Dit staan vas. Dit het die toets van millenniums deurstaan. Na minder as ’n eeu is daardie groot leuen, die evolusieteorie, gereed om verwerp te word. Dit is nie net ons mening nie. Dit is die algemene opinie van talle onbevooroordeelde wetenskaplikes, regsgeleerdes, navorsers en ander kundiges. Waar dit praat van die uitdaging aan “die beginsels van evolusie, soos deur Darwin en ander bepaal”, het The New York Times die situasie soos volg opgesom: “Daar is ’n opskudding op die terrein.” ’n Goed ingeligte wetenskaplike skryf: “Ons erken dat daar groot leemtes in die bewyse vir evolusie is. . . . Ja, evolusie is net ’n teorie. As ’n mens aan evolusie glo, is dit dus ’n geloofsdaad.”

8 Maar is geloof in evolusie werklik ’n geloofsdaad? Ons sou eerder sê dat dit liggelowigheid is. Geloof het ’n vaste grondslag. Volgens Hebreërs 11:1 is dit “’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie”. Die bewys dat die Bybelverslag op feite gegrond en die waarheid is, is oorweldigend (2 Timotheüs 3:16, 17; Romeine 15:4). Hoe meer navorsing evolusioniste andersyds doen, des te meer kom hulle af op weersprekings wat hulle vir die liggelowiges probeer regverdig.

Het aapmense bestaan?

9. Hoeveel fossiele van aapmense is daar, en waar hoort hulle?

9 In die 130 jaar wat evolusioniste al na fossiele van die ontbrekende skakel tussen aap en mens soek, het hulle met ’n skamele hopie bene te voorskyn gekom. Volgens die tydskrif Science Digest kan “al die fisiese bewyse wat ons van die evolusie van die mens het steeds in ’n enkele doodkis gesit word, en dan sal daar nog plek daarin oorbly!” Dit is ongetwyfeld waar sulke sogenaamde bewyse hoort​—met die deksel van die doodkis dig toegespyker!

10. Hoe eerlik is kunstenaars se rekonstruksies van aapmense?

10 Daardie tydskrifprente van aapmense wat ter stawing van die evolusieteorie gebruik word, is bloot verbeeldingsvlugte, geteken op grond van ’n paar fragmente van ’n skedel of kakebeen. Op bladsy 1 van The New York Times van 16 Augustus 1985 was daar byvoorbeeld ’n “kunstenaar se rekonstruksie van Amphithecus, die vroegste hoër primaat waarvan ons weet . . . waaruit mense geëvolueer het”, wat sy harige kop en hande toon. Waaruit is dit gerekonstrueer? Die bygaande artikel sê: “Die agterste deel van ’n onderkaak . . . en die fragment van ’n voorkaak wat ’n half eeu tevore gevind is.” Maar kan die hele kop, hare en alles werklik gerekonstrueer word op grond van twee sulke fragmente? Die artikel het ’n antropoloog aan die Harvard-Universiteit aangehaal wat hierdie fossiele ’n “poel van lig in hektare van duisternis” genoem het. Maar kan dit werklik met lig gelykgestel word?

11. Hoe kan Jesaja 59:15 toegepas word op sogenaamde aapmense?

11 Ander sou weer die skedel van die Piltdown-mens so ’n “poel van lig” genoem het. Dit was ongeveer 40 jaar lank in die kalklig van die evolusieverhoog, maar is in 1953 ontmasker as ’n versameling beenskerwe, sommige van ’n dier en sommige van ’n mens, wat oneerlik saamgevoeg is om mense om die bos te lei! Die woorde van die profeet Jesaja kan op hierdie teoretiese aapmense toegepas word: “Die waarheid word vermis.”​—Jesaja 59:15.

’n Profetiese Parallel

12. Watter gruwels het Esegiël gesien?

12 Die goddelose Christendom van vandag is afgeskadu deur ontroue Jerusalem van die ou tyd. Dit was in die jaar 612 v.G.J. dat die Soewereine Heer Jehovah Esegiël ’n gesig gegee het waarin Hy Sy profeet van Babilon na Jerusalem oorgebring het. Daar, in die voorhof van die tempel, het Esegiël ’n gruwelike simbool van afgodediens gesien. Jehovah het hom vervolgens ’n gat deur die muur laat breek en vergroot. Toe het hy vir Esegiël gesê: “Gaan in, en kyk na die growwe gruwels wat hulle hier doen.” Wat het hy gesien? Daar in die binnevertrekke van Jehovah se huis van aanbidding was daar sowaar “allerhande afbeeldinge van afskuwelike kruipende en viervoetige diere, en allerande drekgode van die huis van Israel wat al rondom op die muur uitgesny was”.​—Esegiël 8:1-10.

13. (a) Watter parallele situasie bestaan vandag in die valse Christendom? (b) Hoe het Jesus die Bybel se skeppingsverhaal beskou?

13 As ’n parallel van hierdie gesig tref ons vandag ’n skokkende situasie onder die Christendom se geestelikes aan. Hierdie “wettelose mens” het merendeels die Bybel se skeppingsverhaal die rug toegekeer (2 Thessalonicense 2:3, NAV). Of, net soos daardie afvalliges van Esegiël se dag sukkel die geestelikes om evolusie met die Bybel te versoen en sê hulle dat die eerste hoofstukke van Genesis uit mites of sinnebeeldige voorstellings bestaan. Hulle verwerp die wetenskaplike grondwaarheid dat die eenvoudigste verklaring dikwels die ware is en sê dat die Bybelverhaal vir hulle te naïef is. Hulle opgeblase verstande vereis iets meer gesofistikeerds en ingewikkelds. Hulle verhef hulle bo Jesus Christus, wat die letterlike Genesisverhaal “die waarheid” genoem het.​—Johannes 17:17; Mattheüs 19:4-6.

14. Hoe versuim “oudstes” nou om hulle kuddes te lei, en wat sal die gevolg wees?

14 In sy gesig het Esegiël gesien hoe “sewentig manne uit die oudstes van die huis van Israel” voor daardie afbeeldinge van “afskuwelike kruipende en veelvoetige diere” aanbid (Esegiël 8:10, 11). Dit is vergelykbaar met die hedendaagse geestelikes wat openlik sê dat die mensdom uit sulke diere geëvolueer het! Hierdie “oudstes” behoort hulle kuddes op die weg van die waarheid te lei. Is Jesus se beskrywing in Mattheüs 15:14 nie op hulle van toepassing nie? Jesus het gesê: “Hulle is blinde leiers van blindes. En as ’n blinde ’n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val.” Hulle kan so ’n sloot in die “hektare van duisternis” vind waar die evolusioniste rondtas.

15. Hoe lewer evolusionistiese geestelikes verdere bewys dat hulle ’n deel van “die wettelose mens” is?

15 Jehovah het vervolgens vir Esegiël gevra: “Het jy gesien, mensekind, wat die oudstes van die huis van Israel in die duisternis doen, elkeen in sy kamers met beeldwerk? Want hulle dink: Die HERE sien ons nie; die HERE het die land verlaat” (Esegiël 8:12). Geestelikes wat menslike filosofieë onderskryf, lewer soortgelyke bewys dat hulle ’n deel is van “die wettelose mens”. Hulle keer God se wet, wat die boek Genesis insluit, die rug toe (Handelinge 7:53). Hulle lei hulle kuddes in die duisternis van wêreldse denke in, waarvan die onbewese en onbewysbare evolusieteorie ’n voorbeeld is. Hulle “het die duisternis liewer gehad as die lig” van die waarheid.​—Johannes 3:19.

16. Watter ooreenkoms kan waargeneem word tussen “die oudstes” van Esegiël se dag en baie geestelikes van vandag?

16 Net soos daardie Joodse oudstes hulle valse aanbidding in die tempel te Jerusalem ingebring het, probeer valse godsdiensleiers vandag om die naam “Christen” aan te hang. Maar geloof in evolusie is nie Christelik nie. Die aanvaarding van hierdie teorie het baie God die rug laat toekeer. Dit het in ’n groot mate bygedra tot die onafhanklikheid, gewelddadigheid en terrorisme van ons 20ste eeu, daar nasies en individue die evolusionistiese beginsel van “die oorlewing van die geskikste” aanvaar. Evolusie leer dat die mens geen aanspreeklikheid teenoor ’n Skepper het nie (Romeine 9:28, NW). Mense meen dus dat dit hulle vrystaan om ‘hulle eie kop te volg’, sonder om God hoegenaamd in aanmerking te neem.

17. In watter opsigte het evolusionistiese geestelikes hulle aan growwe dwaling skuldig gemaak?

17 Godsdiensleiers wat evolusie aanneem, sê in werklikheid: “Die HERE sien ons nie; die HERE het die land verlaat.” Omdat hulle hierdie filosofie aangeneem het, meen hulle dat hulle geen aanspreeklikheid teenoor hom het nie. Trouens, hulle begrip van God word vertroebel deur hulle geloof in ’n geheimsinnige, onverklaarbare Drie-eenheid van gode. In ooreenstemming hiermee wil hulle graag ontslae raak van die naam van die een ware God, Jehovah, deur die naam glad nie te gebruik nie en dit angsvallig uit hulle Bybelvertalings te verwyder. Hulle is bang om in stryd met die gewilde, wêreldse evolusieleerstelling op te tree.

18. Watter afrekening wag op die evolusieteorie en die ondersteuners daarvan?

18 Jehovah sê gepas deur ’n ander profeet: “Omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My ’n aangeleerde mensegebod is, daarom sal Ek voortgaan om wonderlik te handel met hierdie volk, wonderlik en wonderbaar; en die wysheid van hulle wyse manne sal vergaan, en die verstand van hulle verstandige mense sal wegskuil” (Jesaja 29:13, 14). Daar sal op die laatste met die God-onterende evolusieteorie en die sogenaamde Christene wat dit aanhang, afgereken word in die dag van Jehovah se toorn.​—Sefanja 3:8.

Bevorder die waarheid

19. (a) Waarom het baie mense evolusie aanvaar? (b) In watter blydskap kan sagmoediges nou deel?

19 Ons lewe voorwaar in ’n goddelose wêreld! Valse godsdiens en misplaaste wetenskaplike trots het daartoe bygedra. Die onsinnigheid van die leerstellings van “die wettelose mens”, die geestelikes van die Christendom, het talle mense godsdiens die rug laat toekeer. Baie van hulle het na evolusie gegryp, soos ’n drenkeling na ’n strooihalm gryp. Ander het evolusie aanvaar omdat die godloosheid daarvan hulle skynbaar van aanspreeklikheid teenoor ’n Skepper-God onthef. (Vergelyk Romeine 1:21-23.) Maar die nederige, sagmoedige lede van die mensdom is nou verheug om te leer van die Soewereine Heer Jehovah, van die heersende Koning Jesus Christus en van God se Koninkryksvoornemens wat binnekort ’n heerlike werklikheid gaan word.​—Romeine 16:20; 1 Korinthiërs 15:25, 26.

20. (a) Watter wonderlike belofte word selfs nou vervul? (b) Hoe is bewys hiervan in 1985 gelewer?

20 Hoe bly is ons, as Jehovah se Getuies, tog nie om die waarheid eensgesind en ywerig dwarsoor die aarde te verkondig nie! God se gees werk kragtig op sy organisasie in, sodat ons reeds die vervulling sien van die belofte: “Die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9). Die wêreldwye getuienis wat Jehovah se volk gedurende 1985 gelewer het, het gelei tot die verspreiding van 339 351 170 Bybels en publikasies wat die Bybel verklaar, in meer as 200 tale. Meer as driemiljoen van ons het die voorreg gehad om ’n aandeel in hierdie wonderlike, wêreldwye predikingswerk te hê, “in die openbaar en van huis tot huis” (Handelinge 20:20, NW). Mag Jehovah voortgaan om ons ryklik te seën terwyl ons daarna streef om onkreukbaarheid te handhaaf in die diens van die God van waarheid.

Wat sê jy?

◻ Watter wondere van die mensebrein dui op ’n alwyse Maker?

◻ Waarom is dit verkeerd om te sê dat geloof in evolusie ’n geloofsdaad is?

◻ Hoeveel bewys is daar dat aapmense werklik bestaan het?

◻ Hoe kan Esegiël 8:7-12 op sommige hedendaagse godsdiensleiers toegepas word?

◻ Watter vrugte werp onkreukbaarheid in die diens van die God van waarheid af?

(c) Hoe kan jy onkreukbaarheid toon in jou diens aan die God van waarheid?

[Venster op bladsy 21]

Lewe​—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?

Die boek met die bogemelde titel is in 1985 en 1986 by baie van Jehovah se Getuies se “Handhawers van onkreukbaarheid”-byeenkomste rondom die aarde uitgereik. Dit is reeds in die volgende tale uitgegee: Afrikaans, Chinees, Deens, Duits, Engels, Fins, Frans, Italiaans, Japannees, Nederlands, Portugees en Spaans.

[Prent op bladsy 19]

Is dit eerlik van kunstenaars om aapmense uit ’n paar beenfragmente te rekonstrueer?

[Prent op bladsy 20]

Jehovah se Getuies het ‘die aarde gevul’ met die kennis van Jehovah

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel