Staan die waarheid voor in ’n goddelose wêreld
“U woord is die waarheid.”—JOHANNES 17:17.
1. (a) Wanneer en hoe het die waarheid ’n geskil geword? (b) Watter wonderlike nuwe waarheid is in Eden geuiter?
DIE waarheid is al lank in geskil! Hierdie geskil, wat so oud soos die geskiedenis van die mensdom is, is destyds in Eden geopper toe die ou Slang die waaragtigheid van die Soewereine Heer Jehovah bevraagteken het. Toe ons eerste ouers versoek is, het hulle verkies om onafhanklik te dink en hulle eie selfsugtige weg in te slaan. Hulle was nie onkreukbare voorstanders van die waarheid nie. Maar God het daar die allerwonderlikste nuwe waarheid bekend gemaak, naamlik dat ’n Koninkryk-“saad” voortgebring sou word om die werke van die Duiwel tot niet te maak.—Genesis 3:1-6, 14, 15.
2. (a) Hoe is die waarheid in die antediluviaanse wêreld aangeval? (b) Waarom het Noag en sy gesin Jehovah se guns geniet?
2 Die waarheid is nou aangeval. Die Aartsbedrieër het die steun van ander opstandige geesseuns van God gewerf om die aarde te verderf. Die onsedelike antediluviaanse geslag het so opgegaan in die najaging van hulle eie belange dat hulle nie ag geslaan het op God se waarskuwing wat deur Noag gerig is nie. Hulle het vergaan. Maar Noag en sy gesin het behoue gebly weens hulle onberispelike onkreukbaarheid. Toe hierdie voorstanders van die waarheid die ark van behoud verlaat het, was hulle eerste gedagte om dankoffers te bring—’n “lieflike geur” vir Jehovah.—Genesis 6:4-12; 8:18-21; Lukas 17:26, 27; 2 Petrus 2:5.
Die skade wat onwaarheid aangerig het
3. Wat is Babilon die Grote, en hoe het dit ontstaan?
3 Die ou Slang, die Duiwel, het nietemin voortgegaan met sy pogings om die waters van die waarheid te vertroebel. Dit was ongetwyfeld onder sataniese leiding dat eertydse Babilon gebou is. Die ‘verborgenhede van Babilon’ het die grondslag geword vir ’n wêreldryk van valse godsdiens, wat in Openbaring 17:5 beskryf word as “die groot Babilon [“Babilon die Grote”, NW], die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde”. Die talle gedeeltes daarvan, met hulle botsende sektariese leringe, het tot vandag toe behoue gebly as ’n yslike reservoir van godsdiensdwaling.—Genesis 10:8-10; Jeremia 51:6.
4. Hoe het Jesus die waarheid voorgestaan, en met watter gevolg?
4 Toe Jesus Christus op aarde was, het hy die waarheid moedig voorgestaan. Hy het vir die godsdienshuigelaars van sy dag gesê: “Julle het die duiwel as vader . . . Hy . . . staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie.” Jesus, die beloofde “saad”, het daarbenewens die belangrikheid van die waarheid beklemtoon toe hy vir Pontius Pilatus gesê het: “U sê dat Ek ’n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig.” Jesus het sy menselewe afgelê om die waarheid—Koninkrykswaarheid—voor te staan.—Johannes 8:44; 18:37; Genesis 3:2-5.
5, 6. (a) Hoe het Satan sy stryd teen die waarheid voortgesit? (b) Watter besoedeling het dit tot gevolg gehad, en watter onwaarhede het daaruit voortgespruit? (c) Waarom moet dit ons begeerte wees om ywerige voorstanders van die waarheid te wees?
5 Onwaarheid gaan hand aan hand met wetteloosheid. Dit is dus nie verbasend dat Satan, in sy volgehoue stryd teen die waarheid, ’n afvallige klas geestelikes verwek het wat in 2 Thessalonicense 2:3 (NAV) as “die wettelose mens” beskryf word nie. Na die dood van die apostels van Jesus Christus het hierdie wettelose afvalliges hulself bo die leke verhef en suiwer Christenleerstellings besoedel deur dit te versmelt met Babiloniese “verborgenhede” en Griekse filosofie, veral Plato se teorie dat die mensesiel onsterflik is.
6 Hierdie onwaarheid het die grondslag gelê vir ander onwaarhede, soos ‘alle goeie mense gaan hemel toe’, ‘die minder goeies gaan na die vaevuur’ en ‘die slegtes word vir ewig in ’n hel van foltering gebraai’. Aangesien daar soveel dwaalleerstellings in die ryk van Babiloniese godsdiens is, kan ons waarlik bly wees dat Jesus beloof het: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” Dit behoort ons begeerte te wees om ywerige voorstanders van bevrydende waarheid te wees.—Johannes 8:31, 32.
’n Groot onwaarheid broei uit
7. (a) Wat is Satan se doelwit, en hoe probeer hy dit bereik? (b) Watter valse leerstelling het in die 19de eeu op die voorgrond getree?
7 Die Duiwel laat egter geen steen onaangeroer in sy teenkanting van die waarheid nie. Dit maak hom woedend dat enigiemand enige geloof in God se Woord van waarheid, die Heilige Bybel, stel. Sy doel is om ‘die sinne van die ongelowiges te verblind sodat hulle nie die heerlike evangelie oor die Christus kan ken nie’. Die Duiwel probeer om die waarheid te diskrediteer, nie net deur die Christendom se “wettelose mens” valse godsdiensleerstellings aan die Bybel te laat koppel nie, maar ook deur te beweer dat die Bybel op mites en legendes gebaseer is. Gedurende die 19de eeu het die ou Slang gevolglik nog ’n valse en bedrieglike leer uitgebrei. Dit word die evolusieteorie genoem.—2 Korinthiërs 4:4.
8. Wat is Darwin se teorie?
8 In 1859, toe die Bybelse “tyd van die einde” nader gekom het, het Charles Darwin sy boek met die titel On the Origin of Species by Means of Natural Selection, or the Preservation of Favoured Races in the Struggle for Life uitgegee (Daniël 12:4). Darwin het bespiegel dat lewende dinge nie geskep is nie, maar eerder uit ouer lewensvorme geëvolueer het deur “natuurlike teelkeuse as gevolg van die stryd om voortbestaan”. Eindelik het die mens uit ’n soort aap geëvolueer. Darwin het beweer dat dit ’n geval van “die oorlewing van die geskikste” was.
9. (a) Watter Bybelwaarhede wat deur Jesus geleer is, sou sinloos word indien evolusie ’n feit was? (b) Hoe het die hipotetiese “oorlewing van die geskikste” die mensdom groot skade berokken?
9 Hierdie teorie kom neer op ’n skreiende loëning van die Bybelverhaal van die skepping en die mens se sondeval. Dit maak Jesus se losprysoffer en die Bybel se leerstellings oor die Koninkryk, die opstanding, die ewige lewe en ’n paradysaarde sinloos. En indien die evolusieteorie waar was, sou dit die mensdom bevry van enige morele aanspreeklikheid teenoor die Skepper.a Deur “die oorlewing van die geskikste” te leer, het die teorie ongetwyfeld die weg gebaan sodat Marxisme, Fascisme en ander ideologieë wortel kon skiet.b Die voorstanders van evolusie is verantwoordelik vir baie van die goddeloosheid en lyding in die hedendaagse wêreld.—Psalm 14:1-4.
Voorstanders van onwaarheid
10. Hoe was die geestelikes, waar dit by Darwin kom, voorstanders van onwaarheid?
10 Het die geestelikes van Darwin se dag weerstand gebied teen sy God-onterende teorie? ’n Professor van die Cambridge-universiteit skryf verbasend genoeg: “Darwin se teorie is aanvanklik hoofsaaklik deur wetenskaplikes teëgestaan op grond van bewyse, en nie deur die teoloë op grond van die Skrif nie.” ’n Ander doktor voeg by: “Op ’n paar uitsonderinge na het die toonaangewende Christendenkers in Groot-Brittanje en Amerika Darwinisme en evolusie baie geredelik aanvaar.” In 1882 is Darwin, met die spesiale toestemming van die Anglikaanse deken van Westminster-Abdy, selfs tussen konings in daardie abdy begrawe!—Vergelyk Handelinge 20:30; 2 Timotheüs 4:3.
11. Wat het geestelikes oor Darwin se ateïstiese teorie gesê?
11 Baie van die geestelikes van die Christendom aanvaar nou Darwin se ateïstiese teorie as “die heilige waarheid”. Die aartsbiskop van York, die tweede hoogste kerkvors in die Anglikaanse Kerk, meen dat die teorie oor biologiese evolusie so deeglik gestaaf is dat dit “die enigste denkbare grondslag vir die moderne biologie” is. By ’n onlangse Vatikaanse vergadering het 12 vakkundiges wat die hoogste wetenskaplike liggaam van die Katolieke Kerk verteenwoordig, gesê: “Ons is daarvan oortuig dat die oorvloedige bewyse die toepassing van die evolusiebegrip op die mens en ander primate bo ernstige twyfel verhef.” En die New Catholic Encyclopedia voeg hierby: “Algemene evolusie, selfs van die menseliggaam, blyk die waarskynlikste wetenskaplike oorsprongverhaal te wees.” Maar is dit waarlik wetenskaplik? Word evolusie deur betroubare, wetenskaplike bewyse gesteun? Jy moet vasstel wat die waarheid in hierdie saak is, want jou lewe hang daarvan af.—Johannes 14:6; 16:13; 17:17.
12. Waarom moet ons sê dat “die skeppingsleer” onskriftuurlik sowel as ongelooflik is?
12 Sekere fundamentalistiese godsdienste het onlangs aan die hand gedoen dat “die skeppingsleer” die oplossing vir evolusie is. Maar dan maak hulle ’n bewering wat onskriftuurlik sowel as ongelooflik is. Dit is dat God die hemele, die aarde en alles op die aarde in 6 dae van 24 uur elk geskep het—ja, in net 144 letterlike ure! Hierdie leer het daartoe gelei dat baie met die Bybel spot. Maar is ’n “dag” in die Bybel altyd 24 uur lank? Genesis 2:4 praat van “die dag toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het”. Hierdie een dag sluit al ses die ‘skeppingsdae’ van Genesis hoofstuk 1 in. Volgens die Bybel beteken ’n “dag” bloot ’n afgemete tydperk. ’n “Dag” by Jehovah kan duisend jaar of etlike duisende jare wees—soos in die geval van die ‘skeppingsdae’. Wat hierdie punt betref, is die Bybelverhaal dus redelik en verenigbaar met die ware wetenskap.—2 Petrus 3:8.
Die oorsprong van lewe
13. (a) Hoe verduidelik die voorstanders van evolusie die oorsprong van lewe? (b) Waarom is dit belaglik om te sê dat die lewende sel homself per toeval geskep het?
13 Hoe verduidelik voorstanders van evolusie die eintlike oorsprong van lewe? Hulle sê dat die oseaan wat die aarde oordek het miljarde jare gelede moontlik ’n “organiese sop” geword het, hoewel dit nog leweloos was. Toe, so verduidelik hulle, ‘is ’n besonder merkwaardige molekule deur ’n uiters onwaarskynlike toeval gevorm’. Dit het op wonderbaarlike wyse ander molekules voortgebring wat saamgetros het om ’n lewende sel te vorm. Kan enigiets meer vergesog klink? Die skrywer wat hierdie beskrywing gegee het, het in die voorwoord van sy boek gesê: “Hierdie boek moet gelees word amper asof dit ’n wetenskapsroman is.” ’n Roman, ja, maar nouliks wetenskaplik! National Geographic het gesê dat die geprogrammeerde instruksies (DNS) in een selletjie “duisend boeke met 600 bladsye elk sal vul as dit uitgeskryf sou word”. Hoe belaglik is dit tog om te sê dat die lewende sel homself per toeval in die een of ander oersop geskep het!
14. Watter fundamentele Bybelleerstelling moet ons as voorstanders van die waarheid verdedig?
14 Die verduideliking van die Bybelskrywer Dawid in Psalm 36 vers 6 en 10 is verreweg redeliker en verstaanbaarder: “o HERE, . . . by U is die fontein van die lewe.” As voorstanders van die waarheid moet ons daardie fundamentele Bybelleerstelling steun.—Kyk ook Psalm 100:3, NW; Jesaja 42:5, 8.
Progressiewe evolusie—of direkte skepping?
15. (a) Hoe sou die fossielverslag evolusie steun indien evolusie waar was? (b) Wat toon die verslag, en aan watter erkenning van Darwin verleen dit krag?
15 Maar is dit nie tog moontlik dat, nadat lewe ontstaan het, verskeie spesies geleidelik tot ander spesies kon geëvolueer het nie? Wel, as dit gebeur het, sou die fossielverslag van vergange eeue dit getoon het. Maar is dit die geval? Beskou die sogenaamde Kambriese tydperk. Hier maak die fossiele van die hoofgroepe van ongewerwelde diere hulle eerste verskyning in ’n skouspelagtige “ontploffing” van lewensvorme. Hoe kon hierdie heeltemal verskillende groepe ooit uit mekaar geëvolueer het as hulle almal op dieselfde tyd in aansyn gekom het? Darwin self het ruiterlik erken: “As talle spesies . . . werklik meteens ontstaan het, sou die feit dodelik wees vir die evolusieteorie.” Absoluut dodelik!—1 Korinthiërs 3:19, 20.
16. (a) Hoe weerspreek die fossielverslag evolusie waar dit by die verskyning van lewensvorme kom? (b) Hoe stel Genesis 1:25 die feitlike waarheid?
16 Die fossielverslag toon dat verskillende en uiters ingewikkelde lewensvorme skielik verskyn het en ten volle ontwikkel was. Soos een professor in die natuurwetenskap gesê het: “Walvisse, vlermuise, perde, primate, olifante, hase, eekhorinkies, ens., is almal so uniek by hulle eerste verskyning as wat hulle nou is. Daar is geen spoor van ’n gemeenskaplike voorouer nie, nog minder van ’n skakel met enige reptiel, die vermeende voorsaat.” Is daar enige fossiele van kameelperde met nekke wat twee derdes of driekwart van die aanvaarde lengte is? Nee, daar is nie. Die waarheid is opgeteken in Genesis 1:25: “God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens hulle soorte en die vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die grond kruip, volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was.” Ja, baie goed!
17. Watter pragtige verskeidenheid en ontwerp kan onder lewende dinge waargeneem word, en by wie alleen kon dit ontstaan het?
17 Dink ook aan die opwindende verskeidenheid wat daar onder die lewende dinge hier op aarde te sien is! Het die roos, die skoenlapper, die kolibrie, die pou en duisende ander lewensvorme hulle kenmerkende skoonheid per toeval in ’n stryd om die oorlewing van die geskikste verkry? Of is hulle die meesterlike ontwerp van ’n liefdevolle God wat wil hê dat die mensdom genot uit Sy werke moet put? Wanneer ons die asemrowende skoonheid aanskou wat dwarsoor hierdie wonderlike aarde voorkom, moet ons beslis uitroep: “Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!”—Psalm 104:24.
18. Waarom sal jy sê dat die eendbekdier slegs deur God ontwerp kon gewees het?
18 Ontwerp verg altyd ’n intelligente ontwerper. En daar is verbasende ontwerp in lewende dinge. Beskou die eendbekdier wat in Australië aangetref word. Hy is so groot soos ’n konyn, het ’n pels soos dié van ’n otter, ’n bek soos dié van ’n eend, spore soos dié van ’n haan, en swempote met kloue. Die wyfie lê eiers soos ’n reptiel en soog haar kleintjies soos ’n soogdier. Hy is ewe tuis op land en onder water. Waaruit het die eendbekdier geëvolueer? Aangesien hy net snags uitkom, kan die eendbekdier die evolusionis se nagmerrie genoem word. ’n Bioloog aan die Harvard-Universiteit beskryf dit as “’n voortreflik ontwerpte dier met ’n bepaalde, en buitengewone, lewenswyse”. Wie was die voortreflike Ontwerper? Dit kan net die God wees wat sê: “Al die wilde diere van die bos is myne.”—Psalm 50:10.
19. (a) Watter verbasende prestasie behaal ’n klein sangvoëltjie? (b) Hoe kry hy dit reg?
19 En wat van die instink wat ’n inherente deel van soveel lewende dinge is? Daar is byvoorbeeld ’n voëltjie, die Nieu-Engelandse sangvoëltjie, wat net 21 gram weeg. Hy weet hoe om die regte herfsweer te kies om van Alaska na Nieu-Engeland te vlieg. Daar voer hy homself vet met goeie kos en wag hy vir ’n koue front. Dan vertrek hy en vlieg hy teen ’n hoogte van 6 100 meter en hoër om deur die snelwinde wat na Afrika waai, geskep te word, totdat hy deur ’n heersende wind meegevoer word na sy bestemming in Suid-Amerika. Die sangvoeltjie se instinktiewe kennis is geprogrammeer in ’n brein wat so groot soos ’n ertjie is. Kan die evolusionis verduidelik waar sulke instink vandaan kom? Hy kan nie. Maar die Bybel wys daarop dat Jehovah die alwyse Skepper is “wat hemel en aarde gemaak het, die see en alles wat daarin is”, onder meer daardie skepsele wat “instinktief wys” is.—Psalm 146:5, 6; Spreuke 30:24-28, NW.
Is jy dankbaar?
20. (a) Wat moet die verklaring wees vir die wondere om ons? (b) Hoe word ons Skepper se goedertierenheid teenoor ons betoon? (c) Hoe moet ons as voorstanders van die waarheid reageer?
20 Die feit van die saak is: Daar is soveel dinge in die hemel en op die aarde rondom ons wat lieflik, prakties en ontsagwekkend is dat skepping deur ’n liefdevolle, almagtige Ontwerper die enigste verklaring is! Hoe wonderlik smelt ons Godgegewe sinne onder normale toestande met ons natuurlike omgewing saam om die lewe aangenaam te maak! Die pragtige sonsondergange wat ons sien, die geurige blomme wat ons ruik, die smaaklike vrugte wat ons proe, die strelende briese wat ons voel, die musiek van die woude wat ons hoor—hoe getuig hierdie dinge tog nie van die goedertierenheid van ons Skepper en God nie! (Psalm 136:1-6, 25, 26). Dit behoort ons opregte begeerte te wees om ons dankbaarheid te betuig deur die waarheid in hierdie goddelose wêreld voor te staan! Ja, waarlik, God se “woord is die waarheid”!
[Voetnote]
a Vergelyk Bybelwaarheid soos deur Jesus Christus geleer in Openbaring 4:11; Mattheüs 19:4; Lukas 24:46, 47; Mattheüs 20:28; 6:10; Johannes 5:28, 29; 17:3; Lukas 23:43, NW.
b Karl Marx het gesê: “Darwin se boek is baie belangrik en dit bied vir my ’n grondslag vir die klassestryd in die geskiedenis.”
Hoe sou jy antwoord om die waarheid voor te staan?
◻ Hoe het die waarheid ’n geskil geword?
◻ Hoe lê Bybelwaarheid Babiloniese dwaling bloot?
◻ Slegs hoe kan die oorsprong en verskeidenheid van lewe verklaar word?
◻ Wat sê die ontwerp in lewende dinge vir ons?
◻ Hoe kan ons ons Skepper dank?
[Prent op bladsy 10]
Jesus het onomwonde vir teenstanders van die waarheid gesê: “Julle het die duiwel as vader”
[Prent op bladsy 12]
Charles Darwin—voorstander van die aapmensteorie
[Prent op bladsy 13]
Die Anglikaanse Kerk het Darwin in Westminster-Abdy begrawe
[Foto-erkenning op bladsy 15]
U.S. Fish & Wildlife Service
[Prent op bladsy 15]