Die geheim van die ruiters
WIE kan die geheim van die ruiters van Openbaring ontrafel? In die Bybel, in Daniël 2:47, word Jehovah God “die Openbaarder van geheimenisse” genoem. Aangesien hy die een is wat die Bybel, met inbegrip van die gesig oor die ruiters, geïnspireer het, kan hy die antwoorde gee wat ons nodig het. As ons derhalwe sy geopenbaarde Woord vir inligting ondersoek, kan ons die betekenis van die gekleurde perde en hulle ruiters ontsyfer.—Amos 3:7; 2 Timotheüs 3:16; 2 Petrus 1:21.
Die eerste drie verse van Openbaring voorsien ’n sleutel om die geheim te help opklaar. Hulle toon dat hierdie reeks gesigte oor toekomstige gebeure handel, dit wil sê, gebeure na die jaar 96 G.J. toe die apostel Johannes al hierdie dinge gesien en dit neergeskryf het. Dit kom ooreen met sy verklaring in Openbaring 1:10 dat die dinge wat in hierdie gesigte gesien is eers ná die aanvang van “die dag van die Here” sou plaasvind.—Vergelyk 1 Korinthiërs 1:8; 5:5.
Hiermee in gedagte, sal ons die perde en hulle ruiters ondersoek. Dit is noodsaaklik om eers die korrekte begrip van die wit perd en sy ruiter te hê. Dan sal die betekenis van die ander ruiters maklik inpas.
Verskillende uitlegginge
In die vorige artikel is daar gemeld dat een uitleg van die wit perd en sy ruiter was dat hulle ‘òf die oorwinning van die evangelie òf imperialisme’ voorgestel het. Maar die wêreld is nie bekeer tot die evangelie (goeie nuus) oor Christus en God se voornemens in verband met hom nie. En imperialisme het beslis nie seëvierend voortbeweeg nie. Dit het eerder in hierdie eeu verbrokkel, versplinter.
Wat van die uitleg dat die wit perd die oorwinning van die evangelie en die suiwerheid van die geloof in die eerste eeu voorstel? Dit verontagsaam die feit dat die gesig oor toekomstige dinge was. En aangesien Johannes die gesig in die jaar 96 van ons Gewone Jaartelling as ’n gevangene in ballingskap op die eiland Patmos neergeskryf het, kan dit onmoontlik iets voorstel wat met die eerste eeu te doen het.
’n Ander verklaring was dat die wit perd die saak eerder as die persoon van Christus bekendstel en dat sy Koninkryk ‘in ons midde is’, dit wil sê, in ons harte. Maar die saak van Jesus Christus en die Christelike godsdiens het nie ná die skrywe van Openbaring begin nie. Hierdie saak was eerder reeds voor Johannes geskrywe het duidelik op die voorgrond onder eerste-eeuse Christene.
Toe Jesus gesê het dat ‘die koninkryk van God in jul midde is’, het hy buitendien met die skynheilige, godsdienstige Fariseërs gepraat in antwoord op ’n vraag wat hulle gestel het. Jesus het nie met sy getroue volgelinge gepraat en vir hulle gesê dat die Koninkryk iets ‘in hulle midde’ is in die sin dat dit in hulle harte is nie. Hy het eerder vir die ongelowige Fariseërs gesê dat hy, Jesus, as die verteenwoordiger van die toekomstige Koninkryk van God, by daardie geleentheid onder hulle teenwoordig was.—Lukas 17:21, NW; kyk ook die nuwe Afrikaanse vertaling, The Jerusalem Bible en The New English Bible.
Wat van die gedagte dat die ruiter op die wit perd die Antichris is? Die Bybel sê nerens dat die Antichris so sal floreer dat daar gesê kan word dat hy ‘uitgegaan het as ’n oorwinnaar en om te oorwin’, soos wat daar van die ruiter op die wit perd gesê is nie (Openbaring 6:2). Dit is duidelik dat wie ook al op die wit perd ry volkome seëvierend sal wees. Sy oorwinning sal nie faal nie. AI sy vyande sal vernietig word.
Bybelleidrade help met identifikasie
Die “Openbaarder van geheimenisse” voorsien later in dieselfde reeks gesigte onmiskenbare identifikasie van die ruiter op die wit perd. In Openbaring 19:11-16 word ’n wit perd weer gesien, hierdie keer met duidelike identifikasie van die ruiter.
Die feit dat ’n wit perd twee keer in hierdie profetiese gesigte gesien is, dui daarop dat dit dieselfde perd is, en dat verskillende pligte of dade van die ruiter uitgebeeld word. In die tweede toneel word die ruiter name gegee. Hy word “Getrou en Waaragtig”, “Die Woord van God” en “Die Koning van die konings en die Here van die here” genoem.
Hierdie benamings laat geen twyfel oor die identiteit van die ruiter op die wit perd nie. Dit is niemand anders as die Here Jesus Christus self nie! (Vergelyk Openbaring 17:14.) Maar op watter stadium van sy lewe? Dit moet die een of ander tyd na die einde van die eerste eeu wees, toe die gesig van Openbaring gegee is. Let ook op dat hy nou ’n koninklike kroon ontvang het. Op die een of ander tyd in die toekoms sal Jesus Christus dus ’n spesiale rol as Koning, of Heerser, aanvaar. En in daardie hoedanigheid word hy ook uitgebeeld as ’n krygsman wat met ’n boog gewapen is en uitgaan as “’n oorwinnaar en om te oorwin”.
Nog ’n feit wat toon dat dit in die toekoms móés gebeur, is: Teen die tyd dat die gesig van Openbaring gegee is, het meer as 60 jaar verstryk sedert Jesus sy aardse loopbaan voltooi het, uit die dood opgewek is en na die hemel opgevaar het. Met sy terugkeer na die hemel is Jesus aangesê om aan die regterhand van God te wag totdat sy vyande “’n voetbank van sy voete” gemaak sou word.—Hebreërs 10:12, 13.
Die tog begin
Die tog van die wit perd sou dus op die een of ander toekomstige tyd begin wanneer Jesus Christus as die hemelse Koning van God se Koninkryk gekroon sou word. Dan sou God hom uitstuur met die bevel: “Heers te midde van u vyande” (Psalm 110:2). Maar wanneer vind dit plaas?
Jesus Christus se kroning as hemelse Koning word in Psalm 45:4-8 beskryf. Die apostel Paulus haal in Hebreërs 1:8, 9 uit hierdie psalm aan en pas verse 7 en 8 op die Seun van God, Jesus Christus, toe. Gedetailleerde inligting en Skriftuurlike bewyse wat deur Jehovah se Getuies uitgegee is, toon dat Jesus Christus se kroning in die hemel aan die einde van die Heidense Tye, “die tye van die nasies”, in die jaar 1914 plaasgevind het.—Lukas 21:24.a
Enige uitleg wat sê dat die ruiter se tog voor 1914 begin het, kan gevolglik nie korrek wees nie. Aangesien die ruiter van die wit perd voor was, sou die ander perde en ruiters agter hom ook gebeure voorstel wat gedurende sy tog, of ’n ruk na sy tog begin het, sou plaasvind. Die tog van hierdie vier ruiters moet gevolglik vanaf die begin van “die tyd van die einde” in 1914 geskied. Die getuienis dui aan dat “die laaste dae” toe begin het.—Daniël 12:4; 2 Timotheüs 3:1-5, 13.
Die ander perde en ruiters
Die tweede perd is ‘vuurrooi’ (Openbaring 6:3, 4). Aan sy ruiter “is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak”. “’n Groot swaard” is aan hom gegee. Dit is bewaarheid toe die ergste oorlog in die hele mensegeskiedenis, die eerste globale oorlog, in 1914 uitgebreek het. Dit is destyds die Groot Oorlog genoem. Die Tweede Wêreldoorlog het net 21 jaar later uitgebreek, en dit was selfs vernietigender as die Eerste Wêreldoorlog. Sedertdien was daar voortdurend oorloë. Oorloë het sedert 1914 altesaam sowat honderdmiljoen lewens geëis.
Die derde perd is swart, en sy ruiter het ’n skaal in sy hand (Openbaring 6:5, 6). ’n Stem roep uit dat dit ’n hele dag se loon sou kos om ’n rantsoen (1,1 /) koring of drie rantsoene van die goedkoper gars te koop. Dit is ’n gepaste beskrywing van groter voedseltekorte as ooit. Dit is van 1914 af bewaarheid. Sedert die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het voedselpryse die hoogte ingeskiet. Miljoene het van honger omgekom. Voedseltekorte het sedertdien ononderbroke voortgeduur. Daar word geraam dat daar nou sowat 450 miljoen mense is wat deur ’n hongerdood in die gesig gestaar word, en tot eenmiljard wat nie genoeg het om te eet nie. Van tyd tot tyd word die sombere beeld beklemtoon deur hongersnode en groot lewensverlies soos wat in onlangse jare in Ethiopië berig is.
Ons let op dat die vierde perd ’n sieklike “vaal” of bleek kleur het. Die ruiter se naam is “die dood” (Openbaring 6:7, 8). Dit stel gepas die ontsettende aantal sterftes sedert 1914 weens onnatuurlike oorsake soos voedseltekorte en hongersnode, oorloë en geweld, plae en siektes voor. Die Spaanse griep wat aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog wêreldwyd uitgebreek het, het meer as 20 miljoen lewens geëis. Nou veroorsaak hartkwaal, kanker en talle ander siektes miljoene ontydige sterftes.
Die gebeure wat deur hierdie perde en ruiters voorgestel word, word ook vervat in ’n parallelprofesie wat Jesus oor ons tyd gegee het. Hy het gesê dat daar in “die voleinding van die wêreld”, waarin ons nou lewe, wêreldwye oorlog sou wees, “want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander”. Hy het ‘die vermeerdering van die ongeregtigheid’ en ‘hongersnode en pessiektes op verskillende plekke’ voorspel.—Mattheüs 24:3-12; Lukas 21:10, 11.
Was daar ’n vyfde perd?
Openbaring 6:8 lui: “En ek het gesien, en kyk, daar was ’n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg.” Op grond hiervan het party aan die hand gedoen dat aangesien daar gemeld word dat die eerste vier figure op perde ry, die vyfde dalk ook op ’n perd is.
Maar die Bybel sê dit nie. In die Griekse teks verskyn die woord vir “perd” nie in Openbaring 6:8 in verband met die doderyk nie. Gevolglik sluit die meeste Bybelvertalings nie die woord “perd” met betrekking tot die vyfde figuur in nie. Dit is dus genoeg om daarop te let dat die doderyk, die mensdom se gemeenskaplike graf, die vorige drie perde en ruiters volg en al hulle slagoffers bymekaarmaak.
Hoe raak die gesig jou?
Dit is gewis opwindend om te lewe in die tyd wanneer hierdie gesig van die tog van die vier ruiters van Openbaring sy dramatiese vervulling ondergaan. Maar dit is ook ’n baie ernstige tyd en verg selfondersoek. Waarom? Omdat elke persoon op aarde deur hierdie simboliese tog geraak word. Ja, jy en jou dierbares is almal daarby betrokke. Hoe?
Hierdie vraag opper ’n ernstige aspek van die saak wat beantwoord sal word in die volgende nommer van Die Wagtoring: “Hoe hulle tog jou raak.” Moenie die boeiende antwoord misloop nie.
[Voetnote]
a Kyk Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, bladsye 134-141, uitgegee deur die Wagtoring-Bybel- en Traktaatgenootskap.
[Prent op bladsy 5]
1914—Die “Koning van die konings” begin sy tog op sy wit perd
[Prent op bladsy 7]
Sedert 1914 het die doderyk ’n skrikwekkende oes op die hakke van die ruiters Oorlog, Hongersnood en Pessiekte gemaai