Die glorieryke werk wat volg op die tog van die ruiters
1. Hoe is dit duidelik dat die Tye van die Nasies vir die vertrapping van dit wat die stad Jerusalem voorgestel het in 1914 geëindig het?
DIE “Koning van die konings en die Here van die here”, Jesus Christus, is teenwoordig (Openbaring 19:11, 16). Ons het “die teken” hiervoor. Hy is sedert die einde van “die tye van die nasies” in die jaar 1914, 69 jaar gelede, teenwoordig in sy Godgegewe Koninkryk (Lukas 21:24). Toe het die vertrapping van die Koninkryk van Jehovah God soos eens verteenwoordig deur die koninkryk van Israel in Jerusalem in die koninklike geslag van koning Dawid geëindig. In die Midde-Ooste het die stad Jerusalem geen koning in die geslag van Dawid nie, maar is dit die hoofstad van die Republiek van Israel, met ’n Joodse eerste minister. Maar wat van die “hemelse Jerusalem”? (Hebreërs 12:22). Dit is daarbo in die bomenslike, bo-Heidense ryk dat “die Seun van Dawid”, Jesus Christus, sedert die Tye van die Nasies in 1914 verstryk het as die “Koning van die konings en die Here van die here” heers. Die heidense nasies hier op aarde staan die Koninkryk en sy verkondiger teë, maar hulle kan nie daarby uitkom nie. Hulle kan dit nie oorheers soos die laaste vyf wêreldmoondhede van wêreldgeskiedenis, naamlik Babilonië, Medo-Persië, Griekeland, Rome en die Anglo-Amerikaanse wêreldmoondheid wat uit Brittanje en die Verenigde State bestaan, eens gedoen het nie.—Openbaring 21:1, 2.
2. Wat het Jesus in antwoord op die vraag oor die teken van sy teenwoordigheid en die voleinding van die stelsel gesê wat ooreenkom met die gesig in Openbaring 6:1-8?
2 Die gesig wat aan die apostel Johannes gegee is en in Openbaring 6:1-8 uiteengesit word, toon profeties wat gepaard sou gaan met die begin van die tog van die “Koning van die konings en die Here van die here” op die simboliese wit perd na die beslissende botsing op die slagveld te Armageddon. Daardie gesig kom ooreen met wat Jesus Christus self vir sy dissipels gesê het in antwoord op hulle vraag: “Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u teenwoordigheid [parousia, Grieks] en van die voleinding van die stelsel?” (Mattheüs 24:3, NW). In verband met die “smarte” wat “die teken” van sy teenwoordigheid of parousia en van “die voleinding van die stelsel” sou kenmerk, het Jesus gesê: “Want die een nasie sal teen die ander opstaan [in oorlog], en die een koninkryk teen die ander; en daar sal aardbewings wees op verskillende plekke, en daar sal hongersnode wees en beroeringe. Hierdie dinge is ’n begin van die smarte [wat die geboorte van ’n nuwe stelsel kenmerk]” (Markus 13:8). “Toe sê Hy vir hulle: Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander. En daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees en hongersnode en pessiektes; en daar sal verskriklike dinge en groot tekens van die hemel kom.”—Lukas 21:10, 11; Mattheüs 24:7, 8.
DIE VUURROOI PERD
3. Waardeur sou die begin van Christus se teenwoordigheid gekenmerk word, en wat toon die gesig wanneer die tweede seël oopgemaak word dus?
3 Die begin van Christus se “teenwoordigheid” of parousia vanaf die einde van die Tye van die Nasies in 1914 sou dus nie deur vrede in die hemel of op aarde gekenmerk word nie. Die gesig wat in Openbaring hoofstuk 6 aan Johannes gegee is, staaf hierdie feit. Wat sou dus vir ons onthul word wanneer die tweede seël oopgemaak word? Ons kyk saam met die apostel Johannes: “En toe Hy die tweede seël oopgemaak het, hoor ek die tweede lewende wese sê: Kom kyk! En ’n ander perd, ’n vuurrooie, het uitgekom, en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en ’n groot swaard is aan hom gegee.”—Openbaring 6:3, 4.
4. Wat het daardie tafereel getoon, en waarom?
4 Wat het hierdie tafereel aangedui? Wat anders as die uitbreek van oorlog, en dit op ’n aardwye skaal, aangesien die ruiter op die vuurrooi perd ‘die vrede van die aarde af sou wegneem’.
5. Beteken dit dat die ruiter op die wit perd verantwoordelik was vir die uitbreek van wêreldoorlog, en wat toon Openbaring 12 sou volg wanner hy begin heers?
5 Beteken die feit dat die vuurrooi perd en sy strydlustige ruiter die ruiter op die wit perd gevolg het dan dat die eerste ruiter die Eerste Wêreldoorlog na sy kroning in 1914 veroorsaak het en aldus begin het om sy “boog” te gebruik? Glad nie! Openbaring hoofstuk 12 beskryf wat op die geboorte van die Koninkryk van die eerste ruiter in 1914 sou volg: ’n onsigbare, bomenslike oorlog. “En daar het oorlog in die hemel gekom: Migael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hul kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp. Toe hoor ek ’n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag. . . . Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; en weë die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.”—Verse 7-12.
6. Wat beeld die verskillende kenmerke van die tweede ruiter gevolglik af?
6 Daardie verslag plaas die skuld vir die Eerste Wêreldoorlog wat vanaf 28 Julie 1914 meer as 8 miljoen menselewens geëis het vierkant op die Duiwel en sy demone. Die ruiter op die tweede simboliese perd het die strydkragte van die wêreld, waarvan Satan die Duiwel “die god” is, afgebeeld; en die vuurrooi perd het ooreengekom met die vurige furie en aard van daardie oorlog en van sy nadraai, die Tweede Wêreldoorlog. Die “groot swaard” van ’n berede soldaat is aan hierdie militaristiese ruiter gegee sodat hy sy slagoffers daarmee kan afmaai. Die grootheid van hierdie oorlogswapen sou ook die grootheid van die soort oorlog aandui waarmee daar nou aardwyd begin is—totale oorlogvoering, oorlog op ’n wêreldskaal. Daar was nog nooit tevore so iets nie! Die geskiedenisboeke is daar in die biblioteke om vir ons die besonderhede van die Eerste en Tweede Wêreldoorlog te gee! Oorlog met wêreldwye afmetings het inderdaad aan die einde van die Tye van die Nasies in 1914 uitgebreek.—Lukas 21:24.
7. Wat het in 1914 begin plaasvind wat ooreenkom met Openbaring 6:1-8 en met wat Jesus vir sy dissipels gesê het oor die teken van sy teenwoordigheid?
7 Die een wat die tekens van Openbaring hoofstuk 6 aan sy apostel Johannes gegee het, was dieselfde persoon wat in 33 G.J. die informasie verstrek het in antwoord op sy apostels, Johannes inkluis, se vraag: “Wat is die teken van u koms [teenwoordigheid, NW] en van die voleinding van die wêreld?” Die feit dat die volgorde van gebeure wat hy kort voor sy dood uiteengesit het, ooreenkom met die volgorde van gebeure wat hy in Openbaring hoofstuk 6 uitbeeld, toon dat die dinge wat in die 6de hoofstuk beskryf word, bewys dat die einde van die Tye van die Nasies in 1914 en die uitbreek van oorlog op ’n wêreldskaal die begin van sy “teenwoordigheid” in sy hemelse Koninkryk en die begin van “die voleinding van die wêreld” gekenmerk het. Net soos Jesus in Mattheüs 24:7, 8 en Lukas 21:11 voorspel het, het nasie teen nasie en koninkryk teen koninkryk opgestaan om die begin van sy onsigbare “teenwoordigheid” te kenmerk, of anders gestel, dat hy begin het om aandag te skenk aan die aangeleenthede van die aarde noudat dit die gebied van sy pasopgerigte Koninkryk geword het. Maar wat van “hongersnood” en “pessiektes . . . op verskillende plekke”? Dit is ook afgeskadu deur die tog van die vier ruiters wat in Openbaring 6:1-8 uitgebeeld word.
DIE SWART PERD
8. Wat was die kenmerke van die gesig wat gevolg het nadat die derde seël oopgemaak is?
8 Wat beskryf die gesig vir ons na die tog van die ruiter op die vuurrooi perd? “En toe Hy die derde seël oopgemaak het, hoor ek die derde lewende wese sê: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ’n swart perd; en hy wat daarop sit, het ’n skaal in sy hand. En ek het ’n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: ’n Rantsoen koring vir ’n penning en drie rantsoene gars vir ’n penning; en moenie die olie en die wyn beskadig nie.”—Openbaring 6:5, 6.
9. Wat dui die kenmerke van daardie gesig duidelik aan, en waarom was die kleur van die perd gepas swart?
9 Dit dui duidelik voedseltekorte, gebrek aan kos, aan. En het dit nie “op verskillende plekke” met die Eerste Wêreldoorlog gepaard gegaan nie? Sou dit nie honger oor groot gebiede veroorsaak met min of niks om dit te stil, wanneer boere van hulle plase en tuine af weggeneem is om hulle op te roep vir die leër, wat uit miljoene manne bestaan het nie? Dit is tog logies! Geen wonder dat miljoene mense van die honger omgekom het nie. Met sulke inflasie het die pryse van kos die hoogte ingeskiet sodat tallose hongeriges dit nie kon bekostig nie! Dink net daaraan—’n dagloon, “’n penning”, vir slegs ’n rantsoen koring! En ’n dagloon vir net drie rantsoene minderwaardige, eetbare gars, die stapelvoedsel van die armes! Diegene wat ryk geword het deur leërberoepe en wapen-vervaardiging kon die olie en wyn op die mark bekostig. “Die olie en die wyn” is dus om hulle ontwil nie beskadig nie. Hoë lone kon hoë pryse betaal! Al hierdie dinge skep ’n donker beeld in verband met globale oorlog wat so baie manne uit produktiewe beroepe, soos boerdery, geneem het vir vernietigende bedrywighede. Dit verbaas ons dus nie dat die perd met die ruiter met die simbool vir die afmeet van voedsel teen buitensporige pryse en die rantsoenering van voedsel ’n swart perd was nie! Daardie draer van dodelike hongersnood was inderdaad ’n somber, droefgeestige gesig!
DIE VAAL PERD
10. Hoe was ’n derde getuie in die gesig van Johannes voorsien om te bewys dat die teenwoordigheid van die ruiter op die wit perd begin het?
10 Die ruiters van die vuurrooi perd en die swart perd was twee getuies van die feit dat Koning Jesus Christus gekroon is en begin het met sy seëvierende tog deur “die voleinding van die wêreld” heen tot aan die einde daarvan by Armageddon. Maar ’n derde getuie te dien effekte word vir ons in die getuiebank geplaas. Meer as 60 jaar voor die gesig aan Johannes het die gekroonde ruiter op die wit perd gesê dat “in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan” (Mattheüs 18:16). Wat dan van hierdie derde getuie? Nee, hy is nie ’n ruiter wat iets afbeeld wat in die aarde sou plaasvind, naamlik aardbewings nie; dit is iets wat oor die oppervlak van die aarde getrek en die dood van 20 miljoen slagoffers in 1918-1919 aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog veroorsaak het. Laat getuie nr. 3 nou binnekom: “En toe Hy die vierde seël oopgemaak het, hoor ek die stem van die vierde lewende wese sê: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ’n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk [Hades] het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde.”—Openbaring 6:7, 8, vgl. NW
11. Waarom was die kleur van hierdie vierde perd gepas vaal, en watter soort dood beeld sy ruiter af?
11 ’n Vaal perd sal na ’n siek dier lyk, en Die Dood sal ’n gepaste naam vir sy ruiter wees. Die dood wat hier bedoel word, sal ’n ontydige dood wees, nie ’n dood as gevolg van bejaardheid nie. Dit is ’n dood wat ’n mens ontydig in Hades, die graf, plaas. Hoe so? Omdat dit ’n onwelkome dood is as gevolg van die “swaard” van ’n verskriklike oorlog, as gevolg van voedselskaarste tot die punt van hongersnood of as gevolg van “pes”, ’n aansteeklike siekte wat oor ’n groot bewoonde gebied versprei en ’n vinnige einde vir die baie slagoffers daarvan beteken. En het “die griep”, die Spaanse griep, wat die wêreld aan die einde van die Eerste wêreldoorlog getref het, nie aan so ’n beskrywing voldoen nie? Inderdaad! En Hades het sy honger mond geopen om ’n geraamde 20 miljoen te verslind. God was nie daarvoor verantwoordelik nie, maar hy het dit toegelaat. Daar kon sonder oordrywing gesê word dat die dood en Hades “mag gegee [is] oor die vierde deel van die aarde”. God het nie ingegryp nie, maar toegelaat dat daardie voorspelde, dodelike faktore verwoesting op die oorloggeteisterde aarde saai, al het daardie dinge sommige van sy getroue dienaars as slagoffers geëis. Daar is geen verslae van die dood as gevolg van “wilde diere” wat hulpelose mense afmaai nie.
12. Wat bewys die verwoestende tog van daardie drie latere ruiters aangesien dit plaasgevind het toe dit wel plaasgevind het?
12 Die verwoestende tog van daardie drie getuies, naamlik die ruiter op die vuurrooi perd, die ruiter op die swart perd en die ruiter op die vaal perd met die doderyk, Hades, op sy hakke, kan nie geïgnoreer of uit eietydse geskiedenis uitgewis word nie. Aangesien hulle sedert die einde van die Tye van die Nasies in 1914 voorgekom het op die skaal wat hulle wel voorgekom het, moet hulle iets van wêreldbelang afbeeld. Wat? Dat die Koninkryk, waarvoor Jesus se dissipels in die Onse Vader geleer is om tot God te bid, in die hemele opgerig is noudat “die tye van die nasies”, waartydens God se Koninkryk in die hande van sy Messias (Christus) vertrap sou word, geëindig het (Lukas 21:10, 11, 24). Die Koninkryk is dus nou hier. Die Koning daarvan is as God se Heerser op die troon gesalf en gekroon. Sy “teenwoordigheid” in die Koninkryk het begin. “Die voleinding van die wêreld” het begin. Jehovah het die koninklike septer van sy krag uit die hemelse Sion uitgestrek en gesê: “Heers te midde van u vyande” (Psalm 110:1, 2). Die tyd het dus aangebreek vir die Heerser om op sy wit, koninklike perd te begin ry en voort te snel na die finale en algehele oorwinning oor sy vyande op aarde sowel as in die hemel.
’n Eerbare voorreg
13. Hoe moet die dissipels van die ruiter op die wit perd op hierdie informasie reageer, en watter voorspelde diensvoorreg moet vir hulle ’n eer wees?
13 Wat moet die dissipels van die ruiter op die wit perd hier op aarde doen gedurende hierdie “voleinding van die wêreld”, met die oog op daardie vier ruiters wat in Openbaring 6:1-8 uitgebeeld word? Hulle moet eensgesind as sy woordvoerders dien ter vervulling van ’n besondere kenmerk van “die teken” van sy teenwoordigheid in die Koninkryk, naamlik: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” (Mattheüs 24:14). Hierdie aardwye getuienis moet deur sy ‘predikers’ gelewer en voltooi word voordat die finale “einde” van hierdie gedoemde “wêreld” aanbreek. Aangesien 69 jaar verstryk het sedert die gekroonde ruiter op die wit perd met sy tog begin het om die teenstanders van sy Koninkryk volkome te oorwin, en aangesien wêreldtoestande intussen so versleg het, moet daardie finale “einde” ophande wees. Die “min tyd” wat Satan die Duiwel hier op aarde gegun is, het klaarblyklik so te sê verstryk (Openbaring 12:12). Wie sal dus die eerbare voorreg aanvaar om die laaste deel van die aardwye getuienis aangaande die opgerigte Koninkryk van God in die hande van sy Christus te lewer? Die verenigde getuies van Jehovah rondom die aardbol antwoord: “Ons sal!” Mag Jehovah hulle daarmee help, tot sy regverdiging as Universele Soewerein!
14. Waarom moet die ruiter op die wit perd aanhou ry?
14 Die tog van die gekroonde ruiter op die wit perd het nog nie die seëvierende punt bereik waar hy ‘sy oorwinning voltooi nie’, en hy sal nie versuim om sy doelwit te bereik nie. Hy moet dus aanhou ry. Twee wêreldoorloë is reeds geskiedenis, maar oorlogsvoorbereidings op ’n ongehoorde skaal versteur steeds die mensdom se vrede.
15. (a) Het die tog van die swart perd en die vaal perd ten einde geloop? (b) Waarom is die gebeure sedert 1914 opwindend en glorieryk?
15 Miljoene ondervoede persone moet hulle gordels stywer trek om die hongerpyne te stil terwyl hulle tevergeefs wag dat voedseltekorte oorwin word en dat opgedrewe pryse moet daal tot ’n matige vlak waar die armes in hulle basiese behoeftes kan voorsien. Die mediese wetenskap word dronkgeslaan deur nuwe siektes en die kwaadaardige kwale kry ’n houvas op al hoe meer slagoffers, sodat die ruiter genaamd Die Dood nog nie sy vaal perd tot stilstand gebring het nie, en gevolglik moet die doderyk of Hades op sy hakke volg. Maar al hierdie dinge, wat sedert die einde van die Tye van die Nasies in 1914 plaasvind, het iets opwindends, ja, iets glorieryks, aangedui! Op hierdie laat stadium nader ons die einde van “die voleinding van die wêreld” wat sedert die vloed van Noag se dag, 2370 v.G.J., of 4 352 jaar gelede, in aansyn gekom het. Dit is inderdaad goeie nuus.
’n Glorieryke werk volg
16. Beteken dit die einde van ons bewoonde aarde of nie?
16 Die einde van hierdie “voleinding van die wêreld” beteken nie die einde van hierdie aardse tuiste van die mensdom nie. Glad nie! Dit beteken die begin van ’n nuwe stelsel, ja, vir hierdie selfde ou aarde wat die gevalle mensdom dreig om in ’n verlate woesteny om te skep. Die Skepper op die troon sê: “Kyk, Ek maak alles nuut.”—Openbaring 21:5.
17. Watter diensvoorreg het ons nou die eer om tot in die nuwe stelsel te doen?
17 Watter glorieryke werk wag op diegene wat die einde van hierdie “voleinding van die wêreld” oorleef en wat daardie nuwe stelsel ingaan waar die vuurrooi perd, die swart perd en die vaal perd wat deur die doderyk gevolg word nooit weer oor die aarde sal ry nie—veral met die opstanding van alle vrygekoopte mense aan die kom! Maar selfs nou, voordat die tog van die vier ruiters verby is, is die werk van Jehovah se Getuies om die allerbeste nuus te verkondig glorieryk. Dit is die nuus oor Jehovah se koninklike regering in die hande van Christus wat die nuwe stelsel sal verfraai met ’n paradys wat die hele aarde sal oordek en dit sal vul met vrygekoopte mense wat die vrede handhaaf, geseën met die ewige lewe in menslike volmaaktheid wat die beeld en gelykenis van God weerspieël (Genesis 1:26-28). En ons het nou die eerbare, Godgegewe voorreg om aan daardie glorieryke werk deel te neem!
Watter verwante dele van ’n samegestelde “teken” word beskryf in
Watter voorreg geniet Jehovah se Getuies nou, en met watter werk in die vooruitsig?