Jesus se lewe en bediening
’n Samaritaanse vrou word onderrig
OP PAD van Judea na Galilea reis Jesus en sy dissipels deur die gebied van Galilea. Hulle is moeg van die reis en stop omstreeks 12-uur om by ’n put naby die stad Sigar te rus. Jakob het hierdie put eeue tevore gegrawe, en dit staan vandag nog naby die hedendaagse stad Nabloes.
Terwyl Jesus hier rus, gaan sy dissipels na die stad om voedsel te koop. Toe ’n Samaritaanse vrou water kom skep, versoek hy: “Gee My ’n bietjie water om te drink.”
As gevolg van diepgewortelde vooroordele het Jode en Samaritane gewoonlik geen onderhandelinge met mekaar nie. Die vrou vra dus verbaas: “Hoe vra jy, wat ’n Jood is, vir my, ’n Samaritaanse vrou, water om te drink?”
Jesus sê dat as sy geweet het wie hy is sy hom om “lewende water” sou gevra het. Hierdie water, sê hy, sal “’n fontein wees met water wat opborrel en . . . die ewige lewe gee”.
“Meneer, gee vir my van daardie water”, sê die vrou.
Jesus sê nou: “Gaan roep jou man.”
“Ek het nie ’n man nie”, antwoord sy.
Jesus bevestig haar woorde. “Dis reg wat jy nou gesê het: ‘Ek het nie ’n man nie.’ Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie.”
“Meneer, ek sien dat u ’n profeet is”, sê die vrou in verwondering. Sy openbaar haar geestelike belange en meld dat die Samaritane by die berg Gerisim aanbid, maar die Jode in Jerusalem.
Maar die plek van aanbidding is nie die belangrike ding nie, toon Jesus. “God is Gees”, verduidelik hy, “en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.”
Die vrou is diep beïndruk. “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word”, sê sy. “Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak.”
“Dit is Ek, Ek wat met jou praat”, sê Jesus. Dink net daaraan! Hierdie vrou wat op die middaguur kom water skep, moontlik om kontak te vermy met vroue van die dorp wat haar weens haar lewenswyse verag, word op ’n wonderlike wyse deur Jesus begunstig. Hy vertel haar onomwonde wat hy aan niemand anders openlik erken het nie. Met watter gevolge? Die artikel in ons volgende nommer sal dit bespreek. Johannes 4:3-26, NAV.
♦ Waarom was die Samaritaanse vrou verbaas toe Jesus met haar gepraat het?
♦ Wat leer Jesus haar omtrent lewende water en waar om te aanbid?
♦ Hoe openbaar Jesus aan haar wie hy is, en waarom is hierdie onthulling so verbasend?
[Volbladillustrasie op bladsy 9]