Moenie deel hê aan die sondes van ander nie
“Ek sit nie by valse mense nie, en met slinkse mense gaan ek nie om nie.”—PSALM 26:4.
1. Waarom het Judas besluit om oor iets anders aan mede-Christene te skryf?
NEGENTIEN eeue gelede wou die dissipel Judas aan medegelowiges skryf oor ‘hulle gemeenskaplike saligheid’. Maar hy het dit nodig gevind om hulle te vermaan “om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is”. Waarom? Omdat sekere “goddelose mense” in die gemeente ingesluip het en “die genade van onse God verander [het] in [’n verskoning vir] ongebondenheid”.—Judas 3, 4, vgl. NW.
2. Waar aan moet ons soms biddend aandag skenk, al is dit verkwikkend om ons saligheid te bespreek?
2 Hoe verkwikkend tog om die gemeenskaplike saligheid te bespreek! Dit verskaf groot genoegdoening wanneer ons oor daardie boodskap peins, en ons verheug ons wanneer ons al die seëninge van daardie saligheid antisipeer. Daar is nietemin tye wanneer ons ander ernstige sake in plaas van ons saligheid moet bespreek. Indien hierdie sake nie reggestel word nie, kan dit ons geloof aftakel en meebring dat ons nie die wedloop om die lewe voltooi nie. Net soos Judas se waarskuwing teen verkeerde gedrag sterk en kragtig was, moet Christene vandag soms biddend aandag skenk aan Skriftuurlike raad wat reguit en baie pertinent is.
Ons eie sondes
3. Waarom het ons dissipline nodig, en hoe moet ons dit ontvang?
3 Die psalmis Dawid het gesê: “In ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang” (Psalm 51:7). Ons is almal as sondaars gebore (Romeine 5:12). Die apostel Johannes het geskryf: “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie” (1 Johannes 1:8). As sondaars het ons soms dissipline nodig om ons koers aan te pas. Ons ontvang sulke dissipline van Jehovah af deur sy Woord, die Bybel, en sy organisasie. Sy dissipline wys ons tereg en help ons om in opregtheid voor hom te wandel. Dit is soos die apostel Paulus gesê het: “Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ’n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ’n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is” (Hebreërs 12:11). In die lig van die vredevolle vrug van sulke dissipline, moet ons dit beslis met dank ontvang.
4. Wanneer kan iemand dissipline ontvang, en wat kan die gevolg daarvan wees?
4 Ons kan dissipline van Jehovah af ontvang wanneer ons net begin om ’n weg te bewandel wat tot groter oortreding kan lei (Galasiërs 6:1). Ander kere kan ons die dissipline ontvang wanneer ons klaar so ’n verkeerde weg ingeslaan het. Sulke dissipline kan streng wees, soos toe die apostel Paulus die Korinthiërs sterk vermaan het om teen ’n hoereerder in die gemeente op te tree (1 Korinthiërs 5:1-5). In iedere geval word die oortreder gedissiplineer sodat hy berou kan hê, hom kan bekeer en ’n koers kan inslaan wat hom reguit sal wegneem van die sondige begeertes wat tot ernstige oortreding lei. (Vergelyk Handelinge 3:19.) Knegte van Jehovah is dankbaar oor sulke dissipline, net soos die bestrafte persoon in eertydse Korinthe daarby baat gevind het en klaarblyklik tot liefdevolle omgang met die gemeente herstel is.—2 Korinthiërs 2: 5-8.
5. Wat doen Christene wat hulle aan ernstige sonde skuldig gemaak het gewoonlik?
5 Die oorgrote meerderheid van diegene wat aan Jehovah toegewy is, is terdeë bewus van die nodigheid om opreg voor God te wandel. Indien hulle hulle aan ernstige sonde skuldig maak, keer hulle hulle gou van die slegte weg af, gaan hulle na die aangestelde ouere manne en lewer hulle blyk van opregte berou (Jakobus 5:13-16). Die feit dat betreklik min van Jehovah se Getuies elke jaar uitgesit word, is bewys dat hulle die kwaad haat en wil doen wat goed is.—Psalm 34:15; 45:8.
Die sondes van ander
6, 7. Hoe probeer sommige oortreders om ander te beïnvloed?
6 Maar sommige wat oënskynlik lief is vir wat reg is, het skynbaar hulle harte toegelaat om hulle te bedrieg, want dit lyk nie of hulle die kwaad haat nie (Psalm 97:10; Amos 5:15). Hulle maak hulle gevolglik skuldig aan sonde en volhard nie in die stryd om te doen wat reg is nie. Soms gaan hulle selfs verder en probeer hulle om ander by hulle sondige weg te betrek. Hoe belangrik is dit tog dat ons sulke voorstelle verwerp!—Vergelyk Spreuke 1:10, 15.
7 Soms is die slegte praatjies van diegene wat blykbaar nie die kwaad haat nie so verleidelik dat ’n sterk begeerte om te doen wat verkeerd is, kan ontstaan in die harte van diegene wat na hulle luister. Hulle spoor ander aan om onsedelik te wees of om iets te doen wat grens aan gedrag wat deur God afgekeur word. Of ’n persoon word dalk aangespoor om betrokke te raak by ’n situasie wat geestelik potensieel gevaarlik is. Diegene wat ander op hierdie wyse probeer oorreed, beweer moontlik dat Jehovah ’n liefdevolle God is wat barmhartig sal wees wanneer ons sondig. Sulke bedrog van die hart kan blywende skade aanrig (Jeremia 17:9; Judas 4). Ons moet beslis ons ‘voet van hulle pad terughou’!—Prediker 1:15.
Aandadigheid aan die sondes van ander
8. Watter vrae verdien ons aandag?
8 Maar gestel ons besef dat ’n voorgestelde handelwyse verkeerd is. Word ons van alle verdere verantwoordelikheid in die saak bevry wanneer ons daardie handelwyse verwerp? Wat moet ons doen as ons weet dat diegene wat verkeerde dinge voorstel dit beoefen?
9. Waarom meld sommige nie ander se oortreding aan nie, maar waarom is dit ’n ernstige saak?
9 Sommige wat kennis dra van oortreding deur ander is geneig om nie ’n woord daaroor te rep teenoor diegene wat die hoofverantwoordelikheid het om die gemeente skoon te hou nie. Waarom? Hulle wil moontlik nie as verklikkers beskou word nie. Òf hulle verswyg die saak uit ’n valse lojaliteitsin, òf hulle vertel slegs vir diegene daarvan wat beloof om dit geheim te hou. Dit is baie ernstig. Waarom? Omdat dit in werklikheid kan meebring dat ’n mens deel het aan die sondes van ander.
10, 11. (a) Wat het die apostel Johannes oor gemeenskap aan ander se sondes gesê? (b) Wat kan ons ons afvra as ons bewus is van oortreding deur ’n lid van die gemeente?
10 Die apostel Johannes het getoon dat dit moontlik is om deel te hê aan ’n ander persoon se sonde. Hy het geskryf: “Elkeen wat ’n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. . . . As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke” (2 Johannes 9-11). Iemand wat van “die leer van Christus” afvallig geword het, is nie ’n waardige metgesel nie, en deur hom nie eens te groet nie sal die lojale Christen voorkom dat hy gemeenskap aan sy boosheid het.
11 Aangesien dit die geval met ’n afvallige is, wil ons beslis nie deel hê aan die goddeloosheid van ander wie se onsedelike dade onder ons aandag kom nie. Gestel dus ons weet dat ’n lid van die gemeente ’n dief of ’n dronkaard geword het. Is ons heeltemal sonder blaam as ons versuim om daardie individu aan te spoor om Jehovah se vergifnis te vra en sy sonde aan die ouere manne te bely? Nee, want ons het ’n ernstige verantwoordelikheid.
Reinheid en beskerming noodsaaklik
12. Waarom moet ons besorg wees oor die geestelike reinheid van die gemeente?
12 Ons moet individueel ons besorgdheid oor die geestelike reinheid van die gemeente toon. Hoe goed is dit tog beklemtoon toe die Joodse ballinge op die punt gestaan het om Babilon in die sesde eeu v.G.J. te verlaat! Die Godgegewe bevel was: “Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, raak nie aan wat onrein is nie; gaan uit [Babilon se] midde uit, reinig julle, draers van die heilige voorwerpe van die HERE!”—Jesaja 52:11.
13. Hoe het Judas getoon dat dit ons begeerte moet wees om Jehovah se volk teen oortreders te beskerm?
13 Dit moet ook ons begeerte wees om Jehovah se volk te beskerm teen diegene wat hulle wil verlei. Die “goddelose mense” van Judas se dag het probeer om ‘die genade van God te verander in ’n verskoning vir ongebondenheid’, maar daardie lojale dissipel het medegelowiges daadwerklik gewaarsku en hulle aldus beskerm. Hy het hulle herinner aan waarskuwende voorbeelde wat deur die ontroue Israeliete, die ongehoorsame engele en ander gestel is. Lees sy goddelik geïnspireerde brief en jy sal sien dat lojale Christene nie passief kan toekyk wanneer die reinheid van die gemeente bedreig word of God se volk beskerming nodig het teen onsedelike persone met onrein beweegredes nie.
14. Hoe kan Psalm 26:4 ons help om te besluit wat om te doen wanneer ’n oortreder nie sy sondes aan die ouere manne wil bely nie?
14 Maar gestel ons het ’n oortreder aangespoor om God se vergifnis te vra en sy sondes aan die ouere manne te bely, maar hy bly dit afstel of sien geen nodigheid vir hierdie stappe nie. Kan ons die saak net daar laat? Sommige redeneer dalk dat hulle nie betrokke wil raak nie. Hulle wil dalk nie die gevaar loop om die vriendskap van die sondaar te verloor nie. En hulle wil moontlik nie hê dat ander hulle moet beskou as persone wat vertroue skend deur vir die ouere manne daarvan te vertel nie. Maar dit is verkeerde redenering. Die psalmis Dawid het gesê: “Ek hou my nie met skelm of skynheilige mense op nie” (Psalm 26:4, LB). Ons sal dan beslis nie die medepligtiges wil word van “skynheilige mense” nie.
15. Hoe toon Levitikus 5:1 wat ons verantwoordelikheid is nadat ons ’n oortreder ’n redelike tydperk gegee het om die ouere manne oor sy oortreding te nader?
15 Nadat ons die oortreder ’n redelike tydperk gegee het om die ouere manne oor sy oortreding te nader, is dit derhalwe ons verantwoordelikheid voor Jehovah om nie deel aan sy sonde te hê nie. Ons moet die verantwoordelike opsieners daarvan verwittig dat die persoon ernstige oortreding onthul het waarop hulle moet ingaan. Dit strook met Levitikus 5:1 (NAV), wat sê: “Wanneer iemand hoor of te wete kom dat ’n vervloeking uitgespreek is en hy verswyg dit, sondig hy. Hy was ’n getuie daarvan, en daarom rus daar skuld op hom.” Ons moet natuurlik nie oorhaastig optree op die blote vermoede dat oortreding plaasgevind het nie.
16. Wat is verreweg belangriker as lojaliteit aan ’n vriend wat weier om sy ernstige oortreding aan die aangestelde ouere manne bekend te maak?
16 In die hedendaagse wêreld is dit ’n algemene gebruik om ander se oortreding te bedek. Baie swyg soos die graf waar dit kom by die onthulling van die oortreding van ander aan diegene wat van sulke dade moet weet. Dit verg Christelike karaktervastheid om vir aangestelde ouere manne van die ernstige sonde van ’n medegelowige te verwittig. Maar as ons Jehovah se goedkeuring wil wegdra, moet ons nie toelaat dat persoonlike vriendskap ons vir die oortreding van ’n ander individu verblind nie. Ons verhouding met God is verreweg belangriker as lojaliteit aan ’n vriend wat aan ernstige oortreding skuldig is en weier om die saak aan die aangestelde ouere manne bekend te maak.
’n Probleem waaraan almal aandag moet skenk
17. Wat toon dat sekere jongmense onder ons moet oppas dat hulle nie deel het aan die sondes van ander nie?
17 Die probleem van gemeenskap aan die sondes van ander bestaan soms onder sekere jongmense in ons midde. Hulle swyg of weier om vir diegene wat ingelig moet word daarvan te vertel wanneer ander dinge doen wat die gemeente nadelig kan beïnvloed en Jehovah se misnoeë kan meebring. In die wêreldlike skoolstelsels is dit baie algemeen om die oortreding van ander te bedek. Maar wanneer hierdie beskouing na die gemeente versprei, kan dit baie probleme tot gevolg hê. Daar was selfs berigte van jongmense wat saamgespan het om verkeerde dinge te doen terwyl hulle mekaar plegtig laat belowe het om dit geheim te hou sodat die ouere manne en ouers nie van sulke bedrywigheid te wete sou kom nie. Wanneer hierdie jongmense geswig het voor die druk van hulle portuurs en ’n begeerte om deur die groep aangeneem te word, het dit vir hulle, hulle ouers en ander in die gemeente baie hartseer veroorsaak wanneer die oortreding aan die lig gekom het. Ons moet onthou dat daar niks verborge is wat nie openbaar sal word nie, en een van ons vernaamste verantwoordelikhede voor Jehovah is om te help om sy organisasie skoon te hou.—Lukas 8:17.
18. Wat moet Christenouers doen wanneer hulle kinders oortree?
18 Al Jehovah se knegte moet oppas dat hulle nie deel het aan die sondes van ander nie. Sommige ouers probeer om die verkeerde gedrag van hulle kinders te regverdig in ’n poging om hulle te beskerm. Maar Christenouers moet nie die houding inneem dat almal teen hulle kinders gekant is wanneer hierdie jongmense oortree nie. Godvresende ouers moet eerder hulle dwalende kinders help om enige nodige dissipline wat in God se Woord uiteengesit word te ontvang, te aanvaar en daarby baat te vind.
19. (a) Waarvoor moet Christenegpare oppas waar dit by ernstige sondes kom? (b) Wat moet ouere manne doen as een van hulle of ’n bedieningskneg hom aan ’n ernstige sonde skuldig gemaak het?
19 Christenegpare moet ook oppas dat hulle nie God se wette skend deur mekaar se ernstige sondes te bedek nie. Hulle moet die geval van Ananias en Saffira onthou. Die egpaar het saamgesweer, maar tevergeefs probeer om ernstige sonde te bedek (Handelinge 5:1-11). Ouere manne moet ook oppas dat hulle nie mekaar of bedieningsknegte beskerm as een van hulle ’n ernstige sonde gepleeg het wat tot uitsetting kan lei nie. Hulle moet die beginsel volg wat deur Paulus gestel is: “Moenie haastig iemand die hande oplê nie, en moet ook nie met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein.”—1 Timotheüs 5:22.
Die wysheid daarvan om onberispelik te bly
20. Wat moet ons doen in plaas van die growwe sondes van ander te bedek of daaraan deel te hê?
20 Knegte van Jehovah moet nie deel hê aan die slegte weë van hierdie wêreld of dit navolg nie. Toe die apostel Johannes aan Gajus geskryf het, het hy gesê: “Geliefde, moenie navolg wat kwaad is nie, maar wat goed is. Hy wat goed doen, is uit God; maar hy wat kwaad doen, het God nie gesien nie” (3 Johannes 11). Hoe goed is dit tog om deur die gewisse Woord van God gelei te word en aldus te doen wat goed is! In plaas van die growwe sondes van ander te bedek of daaraan deel te hê, moet dit ons voorneme wees om soos ligte te skyn deur onberispelik en onskuldig te wees (Filippense 2:14, 15). Elke kneg van God is daarvoor verantwoordelik om die gemeente rein te hou terwyl hyself onberispelik bly (2 Petrus 3:14). Maar gestel jy kwel jou oor die korrektheid van iets wat iemand gedoen het. Dit staan jou vry om die saak met die ouere manne te bespreek en leiding te kry oor wat die regte handelwyse is.
21. (a) Hoe is Christus se liefde vir sy gemeente vir ons ’n voorbeeld? (b) Watter verantwoordelikheid rus op ons ten opsigte van die oortreding van ander?
21 Ons liefde vir Jehovah se organisasie moet wees soos Jesus Christus se liefde vir sy geestelike bruid, die gemeente. Hy het “die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee . . . om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die Woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Efesiërs 5:25-27). Ons liefde vir Jehovah se organisasie moet ons eweneens beweeg om ons bes te doen om dit rein te hou. Mag ons nooit iets doen wat God of sy organisasie smaad aandoen of die oortreding van ander in die gemeente vergoelik nie. Laat ons oortreders eerder aanspoor om hulle gedrag reg te stel en die hulp van die ouere manne in te roep. As hulle dit nie binne ’n redelike tydperk doen nie, moet ons ons verantwoordelikheid nakom deur die aangestelde opsieners in te lig. Sodoende sal ons nie deel hê aan die sondes van ander en ’n mate van verantwoordelikheid vir hulle verkeerde gedrag dra nie.
22. (a) Wat moet ons doen om die saligheid te beërwe? (b) Watter vrae moet nog beantwoord word?
22 Ons gemeenskaplike saligheid is ’n onvergelyklike skat. Om dit te verkry, moet ons aanhou om opreg voor Jehovah te wandel. Laat ons mekaar dus help om dit te doen deur nooit deel te hê aan die sondes van ander nie. Jehovah het liefdevol ’n organisatoriese reëling voorsien om ons te help om dit te doen, en in hierdie verband speel aangestelde ouere manne ’n belangrike rol. Maar hoe volg hulle Jehovah en sy Seun, die Goeie Herder, na? Watter hulp kan die ouere manne ons op die pad na die lewe verleen? Die volgende artikel sal hierdie vrae beantwoord.
Kan jy onthou?
◻ Hoe moet jy dissipline beskou?
◻ Wat moet jy ’n medegelowige aanspoor om te doen as hy vir jou sê dat hy hom aan ’n ernstige sonde skuldig gemaak het?
◻ Wat moet jy doen as jy weet dat ’n oortreder nie sy sonde aan die aangestelde ouere manne bely het nie?
◻ Hoe kan ons voorkom dat ons deel het aan die sondes van ander, hetsy ons ouere manne, huweliksmaats of kinders is?
[Prent op bladsy 20]
Die apostel Johannes het gewaarsku teen gemeenskap aan die sondes van ander