Hoe om swakheid, goddeloosheid en berou te onderskei
SONDE is iets wat Christene haat—dit is om aan Jehovah se regverdige standaarde tekort te skiet (Hebreërs 1:9). Ongelukkig sondig ons almal van tyd tot tyd. Ons almal worstel met inherente swakheid en onvolmaaktheid. Maar in die meeste gevalle kan ons Jehovah met ’n skoon gewete nader as ons ons sondes teenoor hom bely en hard probeer om hulle nie te herhaal nie (Romeine 7:21-24; 1 Johannes 1:8, 9; 2:1, 2). Ons dank Jehovah dat hy, op grond van die losprysoffer, ons heilige diens ondanks ons swakhede aanvaar.
As iemand weens vleeslike swakheid in ernstige sonde val, het hy geestelike hulp dringend nodig in ooreenstemming met die prosedure wat in Jakobus 5:14-16 uiteengesit word: “Is daar iemand [geestelik] siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep . . . As hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word. Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.”
Gevolglik is ’n persoonlike belydenis teenoor Jehovah nie genoeg wanneer ’n toegewyde Christen growwe sonde pleeg nie. Die ouere manne moet sekere stappe doen, aangesien die reinheid of die vrede van die gemeente bedreig word (Mattheüs 18:15-17; 1 Korinthiërs 5:9-11; 6:9, 10). Ouere manne moet moontlik vasstel: Is die persoon berouvol? Wat het aanleiding tot die sonde gegee? Was dit die gevolg van ’n enkele oomblik van swakheid? Was dit ’n beoefening van sonde? Die bepaling hiervan is nie altyd eenvoudig of duidelik omlyn nie en vereis aansienlike onderskeidingsvermoë.
Maar gestel die sonde is gepleeg omdat ’n weg van oortreding en goddelose gedrag gevolg is? Dan is dit duidelik wat die ouere manne se verantwoordelikheid is. Toe die apostel Paulus leiding gegee het oor hoe ’n ernstige saak in die gemeente in Korinthe hanteer moes word, het hy gesê: “Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit” (1 Korinthiërs 5:13). Goddelose mense hoort nie in die Christengemeente nie.
Is dit swakheid? Is dit goddeloosheid? Is daar berou?
Hoe weet ouere manne wanneer iemand berouvol is?a Dit is nie ’n eenvoudige vraag nie. Dink byvoorbeeld aan koning Dawid. Hy het owerspel gepleeg en daarna, in werklikheid, moord. Tog het Jehovah hom toegelaat om te bly lewe (2 Samuel 11:2-24; 12:1-14). Dink vervolgens aan Ananias en Saffira. Hulle het die apostels deur leuens probeer bedrieg en hulle op skynheilige wyse as vrygewiger voorgedoen as wat hulle werklik was. Ernstig? Ja. So erg soos moord en owerspel? Nouliks! Nogtans het Ananias en Saffira met hulle lewe geboet.—Handelinge 5:1-11.
Waarom die uiteenlopende beslissings? Dawid het weens vleeslike swakheid in ernstige sonde geval. Toe hy met sy dade gekonfronteer is, het hy berou getoon en Jehovah het hom vergewe—hoewel hy swaar gestraf is wat probleme in sy huis betref. Ananias en Saffira het gesondig deurdat hulle op skynheilige wyse leuens vertel en die Christengemeente probeer bedrieg het en dus ‘oneerlik teenoor die heilige gees en teenoor God opgetree het’ (NW). Dit was op stuk van sake ’n blyk van ’n goddelose hart. Daarom is hulle swaarder geoordeel.
In albei gevalle het Jehovah die oordeel gevel, en sy oordeel was reg omdat hy harte kan ondersoek (Spreuke 17:3). Menslike ouere manne kan dit nie doen nie. Hoe kan ouere manne dus onderskei of ’n ernstige sonde ’n blyk van swakheid eerder as van goddeloosheid is?
Eintlik is alle sonde goddeloos, maar nie alle sondaars is goddeloos nie. Soortgelyke sondes kan ’n blyk van swakheid in een persoon en goddeloosheid in ’n ander wees. Trouens, sonde behels gewoonlik ’n mate van swakheid sowel as goddeloosheid van die sondaar. Een beslissende faktor is hoe die sondaar sy daad beskou en wat hy van plan is om daaromtrent te doen. Openbaar hy ’n berouvolle gesindheid? Ouere manne het onderskeidingsvermoë nodig om dit te kan sien. Hoe kan hulle daardie onderskeidingsvermoë verkry? Die apostel Paulus het Timotheüs beloof: “Dink voortdurend aan wat ek sê; die Here sal jou werklik in alles onderskeidingsvermoë gee” (2 Timotheüs 2:7, NW). As ouere manne in nederigheid ‘voortdurend dink’ aan die geïnspireerde woorde van Paulus en die ander Bybelskrywers, sal hulle die nodige onderskeidingsvermoë verkry om die regte beskouing te hê van dié wat in die gemeente sondig. Dan sal hulle besluite Jehovah se denke weerspieël en nie hulle eie nie.—Spreuke 11:2; Mattheüs 18:18.
Hoe word dit gedoen? Een manier is om te ondersoek hoe die Bybel goddelose mense beskryf en te sien of die beskrywing van toepassing is op die persoon met wie daar gehandel word.
Word verantwoordelikheid vir die daad aanvaar en is daar berou?
Die eerste mense wat ’n goddelose weg ingeslaan het, was Adam en Eva. Al was hulle volmaak en heeltemal vertroud met Jehovah se wet, het hulle teen Goddelike soewereiniteit in opstand gekom. Toe Jehovah hulle met hulle optrede gekonfronteer het, was hulle reaksies opmerkenswaardig—Adam het Eva blameer en Eva het die slang blameer! (Genesis 3:12, 13). Vergelyk dit met Dawid se intense nederigheid. Toe sy ernstige sondes voor hom gestel is, het hy die verantwoordelikheid daarvoor aanvaar en om vergifnis gesmeek en gesê: “Ek het gesondig teen die HERE!”—2 Samuel 12:13; Psalm 51:6, 11, 12.
Dit sal goed wees as ouere manne hierdie twee voorbeelde in ag neem wanneer hulle met gevalle van ernstige sonde te doen het, veral dié van ’n volwassene. Aanvaar die sondaar—soos Dawid toe hy van sy sonde oortuig is—sonder meer die skuld en wend hy hom berouvol tot Jehovah om hulp en vergifnis, of probeer hy sy daad verklein, miskien deur iemand anders te blameer? Die persoon wat sondig, sal weliswaar miskien wil verduidelik wat aanleiding tot sy dade gegee het, en daar is moontlik omstandighede, in die verlede of hede, wat die ouere manne dalk in ag moet neem wanneer hulle besluit hoe om hom te help. (Vergelyk Hosea 4:14.) Maar hy moet aanvaar dat hy die een is wat gesondig het en dat hy voor Jehovah aanspreeklik is. Onthou: “Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees.”—Psalm 34:19.
Die beoefening van die kwaad
In die boek Psalms is daar baie verwysings na goddelose mense. Sulke tekste kan ouere manne ook help om te onderskei of ’n persoon in werklikheid goddeloos of swak is. Beskou byvoorbeeld die geïnspireerde gebed van koning Dawid: “Ruk my nie weg saam met die goddelose en saam met die werkers [“beoefenaars”, NW] van ongeregtigheid nie; wat van vrede spreek met hulle naaste, maar daar is kwaad in hulle hart” (Psalm 28:3). Let op dat goddelose mense met “beoefenaars van ongeregtigheid” gelykgestel word. Iemand wat weens vleeslike swakheid sondig, sal waarskynlik ophou sodra hy tot besinning kom. As iemand egter die kwaad ‘beoefen’ sodat dit ’n deel van sy lewe word, kan dit ’n blyk van ’n goddelose hart wees.
Dawid het nog ’n kenmerk van goddeloosheid in daardie vers genoem. Soos Ananias en Saffira praat die goddelose persoon goeie dinge met sy mond, maar het slegte dinge in sy hart. Hy is dalk ’n huigelaar—soos die Fariseërs van Jesus se dag wat ‘van buite vir die mense wel regverdig gelyk het, maar van binne vol geveinsdheid en ongeregtigheid was’ (Mattheüs 23:28; Lukas 11:39). Jehovah haat geveinsdheid (Spreuke 6:16-19). As iemand sy ernstige sondes op geveinsde wyse probeer ontken selfs wanneer hy met die regterlike komitee praat, of as hy teësinnig erken slegs wat ander reeds weet en weier om ten volle te bely, kan dit heel moontlik ’n blyk van ’n goddelose hart wees.
Trotse minagting vir Jehovah
Ander dinge wat ’n goddelose persoon kenmerk, word in Psalm 10 uiteengesit. Daar lees ons: “In sy trotsheid vervolg die goddelose die ellendige. . . . Hy verag die HERE” (Psalm 10:2, 3). Hoe moet ons ’n toegewyde Christen beskou wat trots is en Jehovah verag? Dit is beslis goddelose geestesgesindhede. Iemand wat uit swakheid sondig, sal, sodra hy sy sonde besef of dit onder sy aandag gebring word, berou toon en hard probeer om sy lewenswyse te verander (2 Korinthiërs 7:10, 11). Maar wat sal iemand wat, in teenstelling hiermee, weens ’n fundamentele minagting vir Jehovah sondig, verhinder om herhaaldelik tot sy sondige weg terug te keer? Hoe kan hy die nodige nederigheid hê om opreg en werklik berouvol te wees as hy trots is ondanks raad wat hy in ’n gees van sagmoedigheid gegee is?
Beskou nou Dawid se woorde effens later in dieselfde psalm: “Waarom het die goddelose God geminag? Hy het in sy hart gesê: ‘U sal geen rekenskap eis nie’” (Psalm 10:13, NW). Binne die raamwerk van die Christengemeente ken die goddelose mens die verskil tussen reg en verkeerd, maar hy aarsel nie om verkeerd te doen as hy dink dat hy skotvry daarvan kan afkom nie. So lank as wat daar geen gevaar van ontmaskering is nie, gee hy vrye teuels aan sy sondige neigings. Anders as Dawid sal hy, as sy sonde wel aan die lig kom, planne beraam om tugtiging te ontduik. So iemand toon groot minagting vir Jehovah. “Daar is geen vrees van God voor sy oë nie. . . . Wat sleg is, verfoei hy nie.”—Psalm 36:2, 5.
Ander word benadeel
Gewoonlik word meer as een persoon deur ’n sonde geraak. Byvoorbeeld, ’n egbreker sondig teen God; hy veronreg sy vrou en kinders; as die persoon wat medepligtig is aan sy sonde getroud is, veronreg hy haar gesin; en hy werp ’n klad op die goeie naam van die gemeente. Hoe beskou hy dit alles? Toon hy hartgrondige spyt tesame met opregte berou? Of openbaar hy die gees wat in Psalm 94 beskryf word: “Almal wat onreg doen, spog daarmee. Hulle vertrap u volk, Here, hulle verdruk die volk wat aan U behoort; hulle vermoor weduwees en vreemdelinge, hulle maak weeskinders dood en dink die Here sien dit nie, die God van Jakob merk dit nie”?—Psalm 94:4-7, NAV.
Die sondes waarmee ’n gemeente te doen het, sal waarskynlik nie moord en doodslag insluit nie. Tog kan die gees wat hier geopenbaar word—’n gees wat ander maklik vir persoonlike voordeel veronreg—duidelik word namate die ouere manne oortredings ondersoek. Ook dit is trotsheid, die kenmerk van ’n goddelose mens (Spreuke 21:4). Dit verskil hemelsbreed van die gees van ’n ware Christen, wat bereid is om homself vir sy broer op te offer.—Johannes 15:12, 13.
Die toepassing van Goddelike beginsels
Hierdie paar riglyne is nie bedoel om reëls neer te lê nie. Dit gee ’n mens egter ’n idee van sommige dinge wat Jehovah as waarlik goddeloos beskou. Word daar geweier om verantwoordelikheid te aanvaar vir die oortreding wat begaan is? Het die een wat gesondig het vorige raad oor hierdie selfde saak skaamteloos geïgnoreer? Is daar ’n ingewortelde beoefening van ernstige oortreding? Openbaar die oortreder flagrante minagting vir Jehovah se wet? Het hy berekende pogings aangewend om die oortreding te verberg en ander miskien terselfdertyd verderf? (Judas 4). Word sulke pogings bloot verskerp wanneer die oortreding aan die lig kom? Toon die oortreder volslae minagting vir die skade wat hy ander berokken het en die smaad wat hy Jehovah se naam aangedoen het? Wat van sy gesindheid? Is hy, nadat goeie skriftuurlike raad gegee is, trots of hooghartig? Ontbreek dit hom aan ’n hartgrondige begeerte om nie weer die oortreding te begaan nie? As die ouere manne sulke dinge bespeur, wat ’n sterk aanduiding van ’n gebrek aan berou is, kan hulle moontlik tot die slotsom kom dat die sondes wat gepleeg is ’n blyk van goddeloosheid eerder as bloot swakheid van die vlees is.
Selfs wanneer daar met ’n persoon gehandel word wat blykbaar goddelose neigings het, hou ouere manne nie op om hom te vermaan om regverdigheid na te streef nie (Hebreërs 3:12). Goddelose persone kan berou toon en verander. As dit nie die geval is nie, waarom het Jehovah dan die Israeliete aangespoor: “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik”? (Jesaja 55:7). Miskien sal die ouere manne gedurende die regterlike verhoor ’n merkbare verandering in sy hartstoestand bemerk, wat deur ’n berouvolle houding en gesindheid weerspieël word.
Selfs ten tye van iemand se uitsetting sal die ouere manne, as herders, hom aanspoor om berou te toon en om weer in Jehovah se guns te probeer kom. Onthou die “slegte mens” in Korinthe. Hy het klaarblyklik sy weg verander en Paulus het later aanbeveel dat hy herstel word (2 Korinthiërs 2:7, 8). Dink ook aan koning Manasse. Hy was inderdaad baie goddeloos, maar toe hy uiteindelik berouvol was, het Jehovah sy berou aanvaar.—2 Konings 21:10-16; 2 Kronieke 33:9, 13, 19.
Daar is weliswaar ’n sonde wat nie vergewe sal word nie—sonde teen die heilige gees (Hebreërs 10:26, 27). Jehovah alleen bepaal wie daardie sonde gepleeg het. Mense het geen gesag om dit te doen nie. Die ouere manne se verantwoordelikheid is om die gemeente skoon te hou en te help om berouvolle sondaars terug te bring. As hulle dit met onderskeidingsvermoë en nederigheid doen, en hulle besluite Jehovah se wysheid laat weerspieël, dan sal Jehovah hierdie aspek van hulle herderswerk seën.
[Voetnoot]
a Vir meer inligting, sien Die Wagtoring van 15 November 1981, bladsye 25-7; Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsye 772-4.
[Prent op bladsy 29]
Ananias en Saffira het op skynheilige wyse oneerlik teenoor die heilige gees opgetree, en dit was ’n blyk van ’n goddelose hart