Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 4/15 bl. 15-20
  • Aanvaar God se hulp om verborge foute te bowe te kom

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Aanvaar God se hulp om verborge foute te bowe te kom
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Verborge fout weens geslagsdrang
  • Kom hierdie privaat fout te bowe
  • Die stryd teen alkoholmisbruike
  • God beloon heimlike dade
  • Hoe kan ek die masturbasiegewoonte oorkom?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
  • Behou God se beskouing van seks
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Jy kan daardie swakhede te bowe kom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Word gelei deur God se beskouing van alkohol
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 4/15 bl. 15-20

Aanvaar God se hulp om verborge foute te bowe te kom

„Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”​—Filippense 4:13, NAV.

1. Watter versoek het ’n bekommerde vader gerig?

DIE seun het aanvallende siekte gely.a Hy het skuim om die mond en stuiptrekkings gekry en soms in die water of die vuur geval. Sy bekommerde vader het na ’n man gegaan wat daarvoor bekend was dat hy die siekes genees. Toe dit wil voorkom dat daar ’n gebrek aan vertroue in daardie vermoë is, het die vader uitgeroep: „Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!”

2. Hoe kan ons seker wees dat God ons wil help om foute te bowe te kom?

2 Ons kan iets leer van hierdie vader wat Jesus om hulp gevra het. Die man het erken dat hy miskien geloof kortgekom het; hy was ook seker dat Jesus wou help. Dit kan met ons die geval wees as ons ons eie foute erken​—selfs verborge foute—​en ons daarop toelê om dit te bowe te kom. Ons kan daarop staatmaak dat Jehovah God ons wil help, soos wat hy ander in die verlede gehelp het. (Vergelyk Markus 1:40-42.) Hy het die apostel Paulus byvoorbeeld gehelp om foute te bowe te kom wat as gevolg van ’n oorvloed of ’n gebrek aan middele kan ontstaan. ’n Arm persoon begeer dalk rykdom; ’n ryk persoon se tekortkoming kan wees dat hy selfvoldaan op sukses vertrou en op diegene neersien wat minder het (Job 31:24, 25, 28). Hoe het Paulus sulke foute te bowe gekom of vermy? Hy sê: „Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”​—Filippense 4: 11-13, NAV.

3. Waarom is dit verstandig vir ons om ons swakhede te probeer oorwin?

3 Dit sal verstandig wees om op Jehovah se krag staat te maak en ons daarop toe te lê om ons foute te oorwin en hulle nie te ignoreer net omdat hulle tans verborge is nie. Die psalmis het van Jehovah gesê: „Hy ken die geheime van die hart” (Psalm 44: 22). As ons nie ons foute te bowe kom nie, duik hulle dalk met nadeliger gevolge vir ons op. Die beginsel is van toepassing: „Party mense sondig so openlik dat hulle sondes hulle vooruitloop na die oordeel toe. By ander kom die sondes eers later aan die lig” (1 Timotheüs 5:24, NAV). Kom ons beskou twee algemene foute van nader waaraan Christene wat Jehovah wil behaag aandag moet skenk.

’n Verborge fout weens geslagsdrang

4, 5. (a) Watter gebalanseerde beskouing bevat die Bybel oor die geslagsdrang? (b) Watter waarskuwings vind ons in die Skrif aangaande die geslagsdrang?

4 Een van God se beste gawes is die huwelik, sowel as die vermoë en begeerte om voort te plant (Genesis 1:28). Wanneer daar in die huwelik uiting gegee word aan die geslagsdrang is dit natuurlik en rein. Die Bybel beveel dit aan dat ’n persoon genot uit geslagsomgang met sy huweliksmaat put (Spreuke 5:15-19). Maar die geslagsdrang moet beteuel word. Beskou ter vergelyking ons begeerte na kos. Die feit dat ons aptyt altyd terugkeer, beteken nie dat ons ’n buitensporige drang na kos moet ontwikkel nie, of dat ons geen beheersing nodig het wanneer, waar en hoe ons eet nie.​—Spreuke 25:16, 27.

5 Paulus was dalk eens getroud en het geweet dat normale geslagsuitinge tussen huweliksmaats gepas is (1 Korinthiërs 7:1-5). Hy moes dus na iets anders verwys het toe hy geskryf het: „Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid” (Kolossense 3:5). Hy moes geslagsuitinge buite die geoorloofde huweliksband en -middele bedoel het. Die apostel het ook gesê: „Elkeen van julle moet weet om in heiligheid en eer in besit te kom van sy eie vat, nie in hebsugtige seksuele begeerte . . . nie” (1 Thessalonicense 4:4, 5, NW). Hierdie reguit, geïnspireerde raad is nuttig vir getroude sowel as ongetroude Christene.

6. Waarom vermy Christene tereg selfbevlekking?

6 Een manier waarop hierdie „begeerte na ’n vleeslike lus” (The New Testament for English Readers deur Henry Alford) dikwels geopenbaar word, is wanneer ’n persoon sy of haar eie geslagsorgane vir die genot daarvan stimuleer. Dit word masturbasie, of selfbevlekking, genoem. Dit is baie algemeen onder ongetroude mans en vroue. Maar talle getroude persone doen dit ook. Die algemeenheid daarvan laat talle dokters sê dat dit normaal en selfs voordelig is. Maar hierdie gebruik is in stryd met God se raad teen „hartstogtelike begeerlikheid”. Ons kan die rede hiervoor, en waarom Christene die gewoonte te bowe moet kom, beter besef as ons kyk na raad wat Jesus gegee het.

7. Watter bykomende redes bied Mattheüs 5:28 ’n persoon om nie masturbasie te beoefen nie?

7 Jesus het gesê: „Elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, [het] reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg” (Mattheüs 5:28). Hy het geweet dat hartstogtelike gedagtes aan egbreuk dikwels die voorloper van onsedelike dade is. Maar selfs diegene wat masturbasie verskoon, erken dat seksuele fantasieë gewoonlik daarby betrokke is. Nadat dit gepraat het van jeugdiges se „bewuste aandag aan die genot wat masturbasie kan verskaf”, voeg die boek Talking With Your Teenager by: „Hulle stel hulle voor in losbandige seksuele situasies of saam met maats van dieselfde geslag of met ouer mense soos met onderwysers, familielede, selfs [ouers]. Hulle kan fantasieë oor geslagsgeweld koester. Dit is alles heeltemal normaal.” Maar is dit? Hoe kan Christene sulke fantasieë en masturbasie as „normaal” beskou in die lig van Jesus se waarskuwing oor ,egbreuk in die hart’ of Paulus se maning teen „hebsugtige seksuele begeerte”? Nee, sulke fantasieë en selfbevlekking​—hetsy deur ’n jeugdige of deur ’n volwassene, deur ’n ongetroude persoon of deur ’n getroude persoon—​moet te bowe gekom word.

Kom hierdie privaat fout te bowe

8, 9. Waardering vir watter feite kan ’n persoon help om met die masturbasiegewoonte te breek?

8 Hoe kan ’n Christen, as hy hierdie verborge fout het, dit te bowe kom, „om in heiligheid en eer in besit te kom van sy eie vat”? (1 Thessalonicense 4:4, NW). God verleen waardevolle hulp deur middel van sy Woord.

9 Dit is eerstens belangrik om te besef dat Jehovah wel standaarde het. Hy stel dit duidelik dat buite-egtelike geslagsomgang, hoerery sowel as egbreuk, verkeerd is (Hebreërs 13:4). As ons glo dat Sy weë die beste is, sal ons dus bevredigende geslagsuiting slegs in die huwelik soek (Psalm 25:4, 5). Die boek Adolescence, deur E. Atwater, wys daarop dat jeugdiges dikwels ,terughoudendheid, verleentheid en bedenkinge’ oor masturbasie openbaar. Een rede wat aangegee is, is dat ,die intiemheid van ’n liefdesverhouding wat gepaardgaan met geslagsomgang by masturbasie ontbreek’. Ja, dit is voordelig om geslagsdrange te beheers totdat daar uiting daaraan gegee kan word in liefdevolle huweliksverhoudinge.

10. Watter stappe kan ’n persoon doen om hom te help om die gebruik te laat staan?

10 God se Woord verleen bykomende hulp deur te maan: ,Alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is​—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit’ (Filippense 4:8). Erotiese rolprente en onsedelike romans is duidelik nie ,rein en lieflik of loflik’ nie. En tog is dit dikwels die dinge waarmee masturbeerders hulleself voed. Iemand wat vasbeslote is om hierdie fout te bowe te kom, moet derhalwe sulke erotiese stof heeltemal vermy. Die ondervinding het getoon dat as ’n persoon se begeertes na die erotiese se kant toe begin neig op ’n manier wat voorheen tot masturbasie gelei het, doelgerigte bepeinsing oor regverdige en rein dinge die begeertes kan laat afkoel. Dit is veral belangrik as ’n persoon alleen of in die donker is, waar die verborge fout van selfbevlekking die algemeenste voorkom.b​—Romeine 13:12-14.

11. Meld bykomende dinge wat gehelp het om hierdie fout te bowe te kom.

11 ’n Verwante hulpmiddel is om besig te bly in ooreenstemming met die vermaning: „Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is” (Efesiërs 5:15, 16). Vra ’n volwasse Christenvertroueling om wenke oor positiewe dinge wat jy kan doen (Jesaja 32:2). Baie wat hierdie fout te bowe gekom het, erken dat die wete dat ’n besorgde Christen hulle sou uitvra oor hulle vordering hulle gehelp het om selfbeheersing aan te kweek. Jehovah behoort natuurlik ons intiemste vertroueling te wees. Dit is gevolglik noodsaaklik om jou tot hom te wend in gebed en sy hulp te vra (Filippense 4:6, 7). As iemand wat al ’n ruk met hierdie fout sukkel, sou „struikel”, kan hy God om krag vra, dan hernieude pogings aanwend en sal waarskynlik vir ’n selfs langer tydperk weer suksesvol wees.​—Hebreërs 12:12, 13; Psalm 103:13, 14.

Die stryd teen alkoholmisbruike

12. Wat is die Christenbeskouing van sterk drank?

12 ,Wyn maak God en die mense vrolik’, sê een Bybelteks (Rigters 9:13, NW). Jy stem moontlik saam, want alkohol help talle om te ontspan en verskaf genot aan baie (Psalm 104:15). Min sal egter ontken dat die gebruik van alkohol fisiese sowel as morele gevare inhou. Volslae dronkenskap is ’n groot probleem. Hierdie fout is so ernstig dat God waarsku dat dronkaards uit die gemeente gesit en uit die Koninkryk uitgesluit kan word (1 Korinthiërs 5:11-13; Galasiërs 5:19-21). Christene is bewus hiervan en sal saamstem dat hulle nie dronk moet word nie. Maar hoe kan alkoholgebruik, benewens in die geval van dronkenskap, ’n verborge fout word?

13. Verduidelik hoe afhanklikheid van alkohol kan ontstaan.

13 ’n Christen kan slegs matig drink, maar nog steeds ’n ernstige fout hê. Beskou die ondervinding van ’n man wat ons Heinz sal noem.

Hy en sy vrou en kinders het ware Christene geword en was baie bedrywig in die plaaslike gemeente. Later is Heinz as ’n ouere man aangestel en is beskou as ’n ,pilaar’ in die gemeentes in die stad (Galasiërs 2:9). Hy het begryplikerwyse druk ervaar in die grootmaak van sy gesin asook kommer in verband met die kudde (2 Korinthiërs 11:28). Maar sy werk het groot druk op hom geplaas, want die maatskappy waarvoor hy gewerk het, het gegroei en sy baas wou hê dat hy talle probleme en besluite moes hanteer.

Heinz was saans dikwels baie gespanne. Hy het gevind dat een of twee drankies hom gehelp het om te ontspan. Omdat hy ’n volwasse Christen was, het hy oormatigheid of dronkenskap natuurlik sorgvuldig vermy. Hoewel hy ’n paar drankies gemaak het om saans te ontspan, het hy alkohol nie gedurende die dag nodig gehad nie, en hy het ook selde tydens ’n ete gedrink. Hy was nie bekend as iemand wat ,verslaaf is aan wyn nie’.​—1 Timotheüs 3:8.

Heinz moes onverwags hospitaal toe gaan vir ’n doodgewone operasie. Buitengewone simptome het verskyn. Wat was hulle oorsaak? Dit het die mediese personeel nie lank geneem om vas te stel dat Heinz onttrekkingsimptome ervaar nie. Ja, sy liggaam het afhanklik geword van alkohol. Dit was ’n skok vir die gesin, maar hulle het hom bygestaan en ondersteun in sy besluit om sterk drank heeltemal te vermy.

14. Wat kan daartoe lei dat ’n persoon deur sterk drank bespot word?

14 Party kom agter dat sterk drank ’n besondere rol in hulle lewe speel en daarom probeer hulle hulle drinkery wegsteek, want hulle wil nie hê dat hulle gesin en vriende moet besef hoeveel of hoe dikwels hulle drink nie. Ander dink miskien nie dat hulle afhanklik is van alkohol nie, en tog het drank ’n belangrike deel van hulle dag geword. Diegene in enige van die twee kategorieë loop groot gevaar om by die een of ander geleentheid te veel te drink of om in die stilligheid alkoholiste te wees. Beskou hierdie spreuk: „Die wyn is ’n spotter, en sterk drank ’n lawaaimaker; en elkeen wat daardeur bedwelmd raak, is nie wys nie” (Spreuke 20:1). Die punt is dat oormatige drinkery ’n persoon luidrugtig kan maak en verspot laat optree. Wyn kan iemand egter in ’n ander opsig bespot. ’n Persoon verdien om bespot te word as hy dink dat sy drinkery vir God verberg is.

15. Hoe is Paulus se woorde in 1 Korinthiërs 9: 24-27 van toepassing op ’n Christen se gebruik van sterk drank?

15 Een van die vrugte van God se gees is selfbeheersing, en ons het dit in alle aspekte van die lewe nodig (Galasiërs 5:22). Paulus vergelyk die Christen met ’n wedloper. In ’n gewone wedloop beoefen die hardloper „selfbeheersing in alle dinge” net om „’n verganklike kroon te verkry”. Die Christen moet eweneens „selfbeheersing in alle dinge” aan die dag lê ten einde ’n baie waardevoller prys te verkry​—die LEWE. Paulus het dit benadruk dat ons ,ons liggaam diensbaar moet maak’ om seker te maak ,dat ons nie, nadat ons vir ander gepreek het, self verwerplik is nie’, byvoorbeeld as gevolg van ’n verborge fout in verband met sterk drank.​—1 Korinthiërs 9: 24-27.

16. Hoe kan ’n persoon vasstel of sterk drank in sy geval ’n fout geword het?

16 Wat kan ’n Christen help om werk te maak van hierdie fout? Dit is nuttig om te besef dat hoewel ’n drinker sy patroon miskien vir ander mense kan verberg, hy dit nie vir God kan wegsteek nie (1 Korinthiërs 4:5). ’n Persoon moet dus opreg​—voor God—​oor sy drinkgewoontes nadink. (Ons praat van drink vir die lekkerte of effek en nie net van ’n bietjie as ’n gewone drankie saam met etes nie.) Sommige sê dalk: ,Maar ek hoef nie te drink nie. Ek geniet dit net; dit laat my ontspan. Ek kan daarsonder bly as ek wil.’ Wel, in die lig van die potensiële gevare van onmatige drinkery of die afhanklikheid van alkohol, waarom doen jy dit dan nie vir ’n maand of twee nie? Of, aangesien daar ’n sterk neiging is om te ontken dat daar ’n probleem bestaan, kan jy jou voorneem om ’n maand lank nie te drink op die tye wanneer jy normaalweg ’n drankie maak nie. ’n Persoon wat byvoorbeeld gewoonlik na werk, voor hy bed toe gaan of by ’n geselligheid ’n drankie maak, kan dit vermy. Hy kan dan kyk hoe hy voel. As dit moeilik is, of as hy ,eenvoudig nie kan ontspan nie’, het hy ’n ernstige fout.

17. Waarom moet ’n Christen wat ’n verborge fout in verband met sterk drank het dit probeer oorwin?

17 As ’n opregte Christen eers voor God besef dat hy ’n fout het wat met sterk drank verband hou, sal dit makliker wees om dit te bowe te kom. Hy weet dalk reeds dat die Bybel sê dat dit ,’n dwase persoon’ is wat redeneer ,dat gesteelde water soet is en brood [of sterk drank] wat in die geheim geneem word lekker is’. Maar Spreuke sê dat sulke persone magteloos in die dood sal beland. In teenstelling hiermee het die verstandige persoon teregwysing lief, en hy is bly om ,die onkundiges te laat staan en te bly lewe deur die weg van verstand te betree’ (Spreuke 9:1, 6, 8, 13-18). Ja, God verleen bykomende hulp om verborge foute te bowe te kom deur ons te vertel wat voorlê en wat die uitslag sal wees.

God beloon heimlike dade

18. Waarvan kan ons seker wees wanneer ons ons verborge foute oorkom? (Spreuke 24:12; 2 Samuel 22:25-27)

18 Party mense lewe in vrees dat mense of God hulle slegte weë te wete sal kom. Laat dit nie met ons die geval wees nie. Laat ons eerder lewe met die wete dat ons nie dinge vir Hom kan wegsteek nie, want „God sal rekenskap eis oor alles wat gedoen word, ook oor wat in die geheim gedoen word, of dit goed is of kwaad” (Prediker 12:14, NAV). Laat ons God se hulp aanvaar om ons foute, selfs die wat verborge is, te bowe te kom. Dan kan ons uitsien na die tyd wanneer „die verborge dinge van die duisternis” in die lig gebring word en „die bedoelinge van die harte” openbaar gemaak word. „Dan sal elkeen lof van God ontvang.”​—1 Korinthiërs 4:5; Romeine 2:6, 7, 16.

[Voetnote]

a Mattheüs 17:14-18, Markus 9:17-24 en Lukas 9:38-43 toon dat sy toestand deur besetenheid veroorsaak is. Die Bybel onderskei tussen hierdie epilepsie en die weens natuurlike oorsake.​—Mattheüs 4:24.

b Soms vind ’n onwillekeurige saadstorting gedurende slaap plaas. Hierdie natuurlike verskynsel is nie dieselfde as bewuste selfbevlekking nie.

Onthou jy?

◻ Hoe voel God oor verborge foute wat ons moontlik te bowe probeer kom?

◻ Watter Skriftuurlike raad toon dat selfbevlekking vermy moet word?

◻ Hoe kan ’n Christen die gewoonte van selfbevlekking te bowe kom?

◻ Hoe kan die gebruik van sterk drank ’n verborge fout word, aangesien die Bybel dit nie veroordeel nie?

◻ Watter verstandige stappe kan gedoen word om ’n privaat fout in verband met sterk drank te bowe te kom?

[Venster op bladsy 17]

Hy het selfbevlekking te bowe gekom

AS ’N JONGMAN het C​——— normale geslagsemosies gehad, maar hy het ook ’n probleem gehad. Van die ouderdom van 13 af het hy, gewoonlik in die privaatheid van sy slaapkamer, selfbevlekking beoefen. Hoewel hy hom ’n bietjie daaroor geskaam het, het hy gemeen dat dit niemand anders benadeel nie.

Teen die tyd dat hy 19 was, was die gebruik diep gewortel. By geleentheid het C​——— by sy priester daaroor gebieg, maar daar is vir hom gesê dat hoewel dit verkeerd is dit nie te ernstig is nie. Toe C​——— by die leër aangesluit het, het hy nie veel privaatheid gehad nie. Hy het derhalwe selde sy toevlug tot selfbevlekking geneem, wat, terloops, toon dat sy vorige gewoonte nie as gevolg van onbeheerste hartstog was nie.

Toe C​——— die leër verlaat het, het hy teruggekeer huis toe. Hy het pornografiese tydskrifte begin koop en omdat hulle sy geslagsdrang geprikkel het, het hy weldra in sy vorige weë verval. Toe hy op sy eie begin woon het, was dit maklik om seksueel prikkelende materiaal te bekom. Hy het dikwels verskeie kere per dag gemasturbeer.

Later het hy die Bybel saam met ’n bedienaar van Jehovah se Getuies begin bestudeer. Toe hy God se beskouing van onsedelikheid leer ken het, het hy hom daaroor geskaam dat hy pornografiese stof gekoop het en wou hy met die gewoonte van selfbevlekking breek. Hy het probeer. Maar na ’n week of twee was hy seksueel gespanne. Hy het by ’n koerantstalletjie gestop en is geprikkel deur die onsedelike materiaal. By die huis het hy gevoel dat aangesien hy reeds gefaal het hy net sowel een stap verder kon gaan. Daarna het hy berou gehad. Sou hy ooit met hierdie slegte gewoonte kon breek?

C​——— het uiteindelik met ’n geestelike ouere man in die gemeente gepraat. Hierdie bedienaar het begrip getoon en hom gehelp om Bybelverwante materiaal na te slaan wat hom sou help om sy selfbeheersing te verbeter. Die bedienaar het ook verduidelik:

,Stel jou voor dat die begeerte soos ’n ketting is. Die eerste skakel is klein en swak. Maar elke daaropvolgende skakel word groter en harder. Dit is die geval met drange wat tot masturbasie lei. Jy moet die impuls dus so gou moontlik keer. Hoe langer dit voortduur, des te intenser word jou begeerte. Dit sal uiteindelik feitlik onkeerbaar wees. Ja, probeer om die ketting by die eerste skakel te breek. DOEN IETS sodra jy die drang voel ontstaan! Staan op en verander van posisie, poleer jou skoene, maak die vullisblik leeg​—enigiets om die skakel te breek. Jy kan miskien begin om iets hardop te lees, soos die Bybel of ’n Christenpublikasie wat jou gedagtes op rein dinge sal vestig.’

Hierdie bedienaar het C​——— by die vergaderinge gevra hoe dinge vorder en hom gereeld geprys en aangespoor in sy voorneme. C​——— het sewe weke lank geslaag. Toe het hy weer geswig en erotiese lektuur gekoop omdat hy gefrustreerd en ontmoedig was oor ’n ander probleem. Dit het tot ’n terugval gelei. Sulke voorvalle was terugslae, maar die bedienaar het hom aangemoedig om te volhard in die stryd. Die tussenpose het geleidelik gerek tot 9 weke, toe 17 weke, toe selfs langer. Sy vertroue dat hy die verborge probleem sou baasraak, het stadig toegeneem.

C​——— het uiteindelik die feit onder die oë gesien dat Jehovah alles weet wat hy doen. As hy God dus met ’n volkome rein gewete wou dien, sou hy hierdie gebruik heeltemal moes laat staan. Hy het dit gedoen! Nou kan hy nie eens meer onthou hoe lank gelede dit was nie. As ’n voorbeeldige Christen het C​——— verantwoordelikheid in die gemeente ontvang, en hy beplan om sy diens tot lof van God uit te brei. Hy is ’n ander mens.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel